Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Clinton V du Plessis is g’n ordinary person nie

Jason Lloyd

Clinton V du Plessis (of dalk Clinton du Plessis), evangelis van die nihilisme soos bestempel deur die Vlaamse letterkundige Luc Renders, is g’n ordinary mens nie. Hy het twee siele in die nie baie kort, nie baie lank, nie baie vet en nie baie maer liggaam van hom. En Renders gaan selfs verder:

Die beeld wat Clinton V du Plessis van die mens en die lewe skep is uiters negatief. Veral die banaliteit en die uitsigloosheid van die lewe gekoppel aan die wreedheid en verdorwenheid van die mens word met onbarmhartigheid oopgevlek. Terselfdertyd versterk die besef dat daar nie ’n uitkomkans is nie in ’n groot mate die gevoel van totale onmag. Met volgehoue gedetermineerdheid en volstrekte oortuiging bely en versprei die skrywer die kultus van die nihilisme. Clinton V du Plessis is ’n siniese nihilis wat in niks glo nie. Hierdie bewussyn van die absolute sinloosheid van die lewe en van die volslae boosheid van die menslike natuur maak van die digter ’n ontheemde. Hy is nêrens tuis nie want nêrens kan hy aan die beklemmende ervaring van vervreemding ontkom nie.

Of Du Plessis ’n negatiewe uitkyk op die lewe het, is altyd debatteerbaar. Maar waar is hy tuis? Of is hy werklik tuis? Sy siel wandel inderwaarheid tussen twee persoonlikhede (om nie te praat van tussen hemel en aarde nie) en ook tussen twee wêrelde: die Oos-Kaapse platteland (Cradock) en die rykmansbuurt, Sandton, in Johannesburg. Sedert verlede jaar hou hy sy lyf besig as rekenmeester in die Goudstad, maar belowe: “Aan die einde van 2004 is ek terug in die Oos-Kaap. In Cradock of dalk in PE waar daar nou baie geleenthede vir ’n mens is.”

Ons sit op die derde vloer in Kannaland (hoofkantoor van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn) en ek probeer vasstel met wie ek praat. Is dit met ’n kat met nege lewens? ’n Rekenmeester? ’n Skrywer of ’n digter? Of maar net met ’n gewone mens?

En toe pak die nuuskierigheid my voor die bors en vra: Wie is Clinton V du Plessis? Toe kom die antwoord baie kort en reguit: “ ’n Rekenmeester wat probeer om ’n skrywer te wees.” Ons lag albei ondeund, want hy en ek weet hy is net beskeie.

En toe wil ek weet wat sy filosofie is: “Basies om nie ’n filosofie te hê nie, maar om oop te bly.” Ek wil toe weet wat hy daarmee bedoel. “Om jouself nie af te kamp nie. Om heeltyd oop te wees vir nuwe idees.”

En toe hoor ek die filosoof Johann Rossouw wat hom vroeër by een van die Burger-lesingreekse soos volg uitgelaat het: “’n Filosoof is soos iemand in ’n donker vertrek wat probeer om ’n kat in ’n hoek vas te druk. Maar tot die besef kom dat dit glad nie ’n kat is nie en dat daar eintlik niks in die vertrek is nie.”

Du Plessis sê: “Filosowe is geneig om nie altyd met die realiteite reken te hou nie.” (Ironies genoeg blaai hy ewe belangstellend deur ’n kopie van die akademiese filosofietydskrif Fragmente, wat hy so pas by die Burgersentrum gekoop het.) “Ek hou wel reken met die realiteite. Ek werk met syfers. Dit is my beroep. So, een en een is twee, en dit is dit.”

En toe hoor ek uiteindelik dat ek met twee mense (met “totaal verskillende persoonlikhede”, in sy woorde) te doen het: Clinton du Plessis (die rekenmeester) en Clinton V du Plessis (die skrywer en digter).

“Clinton du Plessis is die ou wat agtuur die oggend werk toe gaan en vyfuur die middag huis toe kom. En Clinton V du Plessis is die ou wat daarna probeer skryf en dig.”

Du Plessis is op 20 Februarie 1963 te Cookhouse in die Oos-Kaap gebore. Sy vader was ’n spoorwegarbeider en sy moeder kan nie lees of skryf nie. Hy volg middelbare skoolopleiding aan die Senior Sekondêre Skool Holy Rosary op Cradock. Daarna studeer hy deeltyds aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) vir ’n graad (B Com) in die handelswetenskappe, maar voltooi nie sy studies nie.

Sedert 1979 verskyn gedigte van Du Plessis in ’n verskeidenheid tydskrifte, soos Patrys, Stet, Tagtiger en Tydskrif vir Letterkunde. In 1983 word van sy poësie opgeneem in die bundel Gedigte vir Afrika saam met die werk van nog dertien ander digters.

geloofsbelydenis van ’n kluisenaar verskyn by Perskor in Desember 1984. Daarna volg die bundels Curriculum vitae (1988) en in god’s country: no 2-21 (1991) wat by Clinton du Plessis-uitgewers in Cradock verskyn. In 1996 sien Tussentydse verslag die lig; die uitgewer is Gatsak-gedigte, Cradock. Sy werk handel veral oor dwelmhandel en prostitusie.

Dit wemel en rumoer in Kannaland nadat ons vroeër die Burger-lesingsreeks oor (Suid-) Afrikaanse Kultuur na 1994 bygewoon het. Elke VIP gryp hier aan ’n koeldrank en bestel daar ’n bier of ’n brandewyn. Nou sit ons hier rustig nadat ons by twee vorige geleenthede nie die onderhoud van die grond kon kry nie. Toe was Kirby van der Merwe by en ons het hewig gedebatteer oor die bruin issue wat vroeër die week soos ’n sweer oopgebars het tydens die Burger-lesingsreeks oor bruin identiteit.

Tydens die debat was daar hewige reaksie op vrae soos: wie is die bruin mense, wat is hul kwessies, en wie is hul leiersfigure? Dit het gevolg op ’n emosionele uitbarsting in vraetyd van die bekroonde akteur en dramaturg Anthony “Speedo” Wilson. “Ons (bruin mense) het vyf miljoen boere geruil vir 34 miljoen swartes,” het Wilson getier. “Die boere het gesteel, maar hulle het ten minste gebudget en nie alles gesteel nie. Hulle het die room gesteel, maar die darkies steel die room, melk en emmer.” Wilson het verder gesê, “Swartes is verantwoordelik vir groter polarisasie as die wittes.”

Ek vra Du Plessis wat hy dink van die bruin debat. Hy sluk-sluk aan sy koeldrank, leun vorentoe en kyk my reguit in die oë en sê: “Ek dink dit is hoogtyd dat dit gebeur. Dit is belangrik dat die bruin debat op ander forums moet voortduur.” Gevra of hy ’n bruin forum voorstel soos die Groep van 63, het Du Plessis geantwoord: “Absoluut, ja.”

En toe is die woorde van Renders wat hy oor Du Plessis geskryf het:

Terwyl die meeste bruin Afrikaanse skrywers in hul werk ’n belangrike aandeel gehad het in die stryd teen apartheid en in die ontwikkeling van die selftrots van die kleurlinggemeenskap, hou Clinton V du Plessis hom deurgaans afsydig van hierdie problematiek …

in hul moer in. En so ook die woorde:

The best writers have said very / little / and the worst, / far too
much!

van Charles Bukowski, wat Du Plessis met trots op sy business cards gedruk het.

Volgens Du Plessis is mense wêreldwyd besig om te debatteer oor identiteit. “Dit is net jammer dat ons deur apartheid gegaan het, want nou word alles in terme daarvan gemeet. Dit is nou half taboe om oor etnisiteit of ras te praat.”

Hy meen bruin mense sal die oorsaak wees as die debat doodloop. “Ons hoef nie net vir Die Burger te wag om die debat lewend te hou nie, ons moet self die nodige forums skep. Ek stel ’n informele forum voor wat mense betrek wat bereid is om insette te lewer. Die stemme wat gekant is teen die debat moet ook betrek word.”

Volgens Du Plessis is die bruin debat tans beperk tot vleisbraaivure en is dit tyd dat dit op die nasionale agenda geplaas word. En dit lyk tog of dit ook die gevoel is by baie bruin mense (ANC-lid of te not), want Hein Willemse het hom vroeër vanjaar in sy rubriek in Die Burger (14 Januarie 2003) met die opskrif “Etniese herkoms steeds ’n kwelvraag binne ANC” soos volg uitgelaat:

Op die ANC se onlangse konferensie op Stellenbosch het mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, met die verkiesing van die party se nasionale uitvoerende komitee die meeste stemme op hom verenig. Heelparty optimistiese kommentators het hierdie gebeurtenis as ’n teken van die verdraagsaamheid van etniese herkoms in die ANC vertolk.

Tog word hierdie optimisme nie oral gedeel nie, selfs nie eens deur sommige partylede nie. Uit gesprekke wat ek die laaste paar vakansieweke rondom vleisbraaivure, pieknieks en kuiertjies met vriende en kennisse gevoer het, is dit duidelik dat etniese herkoms ’n durende en kwellende kwessie is.

“Trevor is ’n tegnokraat, ’n system-man wat alles van finansies weet, maar wragtag nie meer die issues op grondvlak ken nie. Beteken dit iets dat hy bo-aan die lys is? Ek dink nie so nie. Hier by ons assosieer ons nie met Trevor nie. Trevor is daar en ons is hier op die kantlyn, gemarginaliseer.”

My gespreksgenoot is ’n gesiene ANC-lid op die platteland, man wat sy lewe lank ’n beduidende rol in sy gemeenskap — ’n groterige Karoo-dorp — speel.

“Dit maak nie saak wat ek hier in die gemeenskap doen nie, jy is ama-coloured. Non-racialism se maai, vir die comrades bly ek net ama-coloured. Ek het myself bruikbaar gemaak, want ek’t die skills, selfs die access, maar op die lange duur kry jy tog die gevoel dat jy net geduld word.”

By ’n ander geleentheid waar ons ons voete in ’n koel bergstroom in die Swartberge baai, deel ’n tweede gespreksnoot dieselfde bekommernis.

“Niemand sê dit hard genoeg nie, maar die ANC se houding oor die nasionale vraagstuk, die rol van die etniese groepe, is een van daardie dinge wat ons mense van die politiek vervreem. My bekommernis is hoe kom óns mense in die hoofstroom.”

Ook hierdie gespreksgenoot staan jare lank al sentraal in sy gemeenskap. En dit was slegs slappe party-organisasie wat hom daarvan weerhou het om die Stellenbosse konferensie by te woon.

“Ek het lankal die scare quotes rondom bruin en kleurling weggegooi. Dit is tyd dat bruin mense ’n duidelike politieke identiteit kry, een waarmee rekening gehou word, anders gaan hulle polities totaal geïgnoreer word,” sê ’n Oos-Kaapse studentevriend.

Miskien moet Valda Jansen, joernalis by Die Burger, wat haar onlangs op LitNet soos volg uitgelaat het:

Mens kry soms die indruk dat die bruin debat opgeblaas word en dat die menings van die mense gevra word wat dinge sê wat die wittes eintlik wil sê maar nie kan nie, uit vrees dat hulle as rassiste uitgekryt sal word …

haar vergewis van die uittreksels uit bogenoemde rubriek.

Du Plessis verskil met sommige bruin intellektuele se mening dat daar nie ’n bruin debat moet wees nie. “Ideaal gesproke sou dit moontlik wees, maar nie in ag genome ons verlede nie. Dit sou verkeerd wees om nie aandag aan griewe van bruin mense te gee nie. Veral in die platteland is daar ’n ongemaklikheid onder bruin mense om slegs as deel van die groter swart geheel geëien te word. Ek dink nie die intellektuele verstaan die gewone mense nie, omdat hulle te ver verwyderd is.”

Volgens Du Plessis wil hy sien dat bruin mense hulle binne ’n breë Suid-Afrika moet definieer en so ’n rol uitkap.

Terwyl die geraas van drank en bierbottels my konsentrasie so ampertjies versteur, wikkel ek gou-gou aan met die vrae (wat ek baie haastig uit my kop neergeskryf het). Uiteindelik kom ons uit by die Afrikaanse letterkunde. En toe hoor ek vir Luc Renders:

Die feit dat Clinton V du Plessis sy laaste drie bundels by sy eie uitgewery publiseer, tipeer sy posisie binne die dampkring van die Afrikaanse poësie. Hy bevind hom inderdaad op die periferie daarvan, in die yl sone waar daar skaars genoeg suurstof is om te oorlewe. Maar juis hierdie posisie bied hom ’n ekstatiese gevoel van vryheid: hy kan ongesteurd sy eie gang gaan.

En toe hoor ek (of beaam hy dalk wat Renders alreeds lankal geskryf het?) vir Du Plessis hier vlak voor my, toe ek hom vra hoekom hy destyds geweier het om in die Groot Verseboek 2000 te publiseer: “Dis lekker om op die rand te wees. Ek verkies dit daar en wou nooit deel van die hoofstroom wees nie.”

En toe hoor ek weer vir Renders:

Hy is niks of niemand enige rekenskap verskuldig nie. Resensies van sy bundels bestaan skaars.

TT Cloete verwys nogtans in ’n bespreking na die eerste publikasie van Du Plessis as:

…’n debuut.

Hierteenoor staan dan weer JC Kannemeyer se beoordeling dat die gedigte uit die bundel bly

… vassteek in ekkerigheid …

En dat hulle

… die nodige beeldende vermoë mis.

Renders gaan voort:

Vir ander kritici en akademici is Clinton V du Plessis grootliks ’n onbekende. Ondanks hierdie gebrek aan belangstelling en die uitbly van erkenning het Clinton V du Plessis met volle oorgawe bly verder skryf aan ’n eiesinnige, wederstrewige oeuvre.

Du Plessis sê (toe ek hom vra waarmee hy hom nou besig hou): “Ek is besig met ’n digbundel sowel as ’n nuwe bundel kortverhale. Wat ek ook weer self gaan uitgee.”

En dit uit die diepte van sy eie gatsak … soos altyd.

“En sê my, maak jy darem ’n paar rand?”

“Ek raak nie ryk nie en ek raak ook nie arm nie. Ek breek min of meer gelyk.”

Renders gaan voort:

Clinton du Plessis is nie net ’n randfiguur as gevolg van die min aandag wat aan sy poësie bestee is nie maar ook vanweë die aard self van sy werk. Sy eerste bundels het ontstaan in ’n periode toe die stryd teen apartheid in alle hewigheid gewoed het. Hulle kan egter nie as polities betrokke gekarakteriseer word nie, ondanks die feit dat hyself tot die verontregte, sogenaamde kleurlinggemeenskap behoort. Dit is dan ook nie verbasend nie dat sy naam onvermeld bly in Swart Afrikaanse skrywers, die verslag van ’n simposium gehou aan die Universiteit van Wes-Kaapland in April 1985.

“Binne die Afrikaanse letterkunde, dink jy kleur speel nog ’n rol?”

’n Stilte heers, behalwe op die agtergrond. Du Plessis sit agteroor en sê: “Dit is ’n moeilike vraag. As jy kyk na publikasiegeleenthede, sou ek sê daar is nog steeds nie die geleenthede wat daar moet wees vir die bruin skrywers nie.”

Toe hoor ek vir Elias P Nel by die Burger-lesingsreeks oor die Laaste (Afrikaanse) Boek:

Hoeveel van die publikasies is deur skrywers uit die histories benadeelde Afrikaanse gemeenskap?

Hierdie vraag volg nadat Nel genoem het dat Francis Galloway en Rudi Venter bevind het dat daar tot met 2001 slegs 3 455 Afrikaanse titels verskyn het. Hierdie totaal word as volg verdeel: 80% — populêre prosa; 10% — literêre prosa; 8% — literêre poësie; 2% — drama.

Ons gesprek keer terug na Du Plessis se omstrede besluit om nie sy gedigte in André P Brink se Groot Verseboek 2000 te laat publiseer nie.

“Brink het jare gelede in ’n resensie in Rapport gesê geloofsbelydenis van ’n kluisenaar (1984) moes nooit verskyn het nie. Die resensie het absoluut niks met ’n resensie te doen gehad nie. Hy het twee sogenaamde resensies op daardie stadium geskryf. Een oor Theunis Engelbrecht se boek Om ’n Laaitie te maak en een oor my boek. Ek dink dit was binne dieselfde tydperk dat die twee resensies verskyn het. En Brink het absoluut oorboord gegaan. As jy ’n boek resenseer kan jy literêre maatstawwe gebruik, maar die manier waarop die resensie oorgekom het, en ook die forum wat hy gebruik het (Rapport), het jou absoluut gemarginaliseer. Toe word ek genader om gedigte uit daardie einste boek in Groot Verseboek te laat opneem. Dit was vir my net lekker om vir Brink nee te sê.”

Volgens Du Plessis het Brink meer met dié resensie reggekry om hom te marginaliseer as wat die destydse apartheidsbase gesukkel het om oor ’n lang tydperk reg te kry. “Brink kom uit ’n sekere letterkundemilieu. Hy is soos Petrus, die hekwagter by die literêre hemel van die Afrikaanse kanon. Ek gaan eerder langsaan na Gerrit Komrij se hel. Dit was John Mellencamp wat gesê het: ‘You gotta stand for something or you’re gonna fall for anything.’”

“En as jy weer die kans sou kry om in ’n ander uitgawe van die Groot Verseboek te publiseer …?”

Hy val my in die rede, kom orent en sê: “Ek wil nooit in die Groot Verseboek publiseer nie. Dis hoe ek voel, ongeag wie dit saamstel. Groot Verseboek gaan altyd daai bagasie dra dat hy geprobeer het om polities korrek te wees op ’n stadium nadat Gerrit Komrij se versamelbundel verskyn het. Toe het die Groot Verseboek ook skielik begin bewus word van die bestaan van hierdie ander digters wat Komrij in sy bundel opgeneem het.”

Dit word laat en ons gesprek stap aan. Ek wil toe by Du Plessis weet of hy dink dat die Afrikaanse Skrywersvereniging (ASV) — waarvan hy en ek lede is — wel ’n bestaansreg het. Verlede jaar het dit behoorlik gewoel aan die skrywersfront. Eers was daar die skrywer George Weideman se gespreksdokument op LitNet wat ’n aantal probleme om uitgewers en skrywers aangeroer het, en toe was daar ’n oproep van die letterkundige Charles Malan dat skrywerstemme en -belange verenig moet word. Dalk deur ’n soort organisasie wat skrywersbelange nasionaal kan bevorder. Malan het die voortbestaan van die ASV bevraagteken “omdat dit duidelik is dat die ASV hom nie as ’n nasionale liggaam sien nie,” het hy aan Stephanie Nieuwoudt van Beeld gesê. Malan het twee alternatiewe voorgestel: die Afrikaanse Skrywersgilde kan herleef, of ’n nuwe organisasie kan gestig word.

“Ek dink in die nuwe demokrasie het enige groep ’n bestaansreg, of dit ’n splintergroep is of wat ook al. Die ASV het ontstaan uit ’n behoefte omdat bruin of swart Afrikaanse skrywers nie hul regmatige plek binne die Afrikaanse letterkunde kry nie.”

Volgens Clinton sal hy wil sien dat die ASV graag selfs sy lede se werk moet publiseer, “want vir publikasiegeleenthede werk die ASV saam met uitgewers soos Lapa. Ons moet soos die Amerikaners wees wat hul musiek self uitgegee het. Daar is te veel die idee dat ander mense ons moet help en dat ons nie self dit kan doen nie.”

En verder: “Dit is net vreeslik jammer dat wyle digter-dominee Patrick Peterson nie langer daar kon wees om die leisels te neem nie. Ek dink daar het ’n groot leierskapvakuum ontstaan na Peterson. Die manne het begin rigting verloor en nie regtig geweet waarheen nie. Ek dink die ASV het wel ’n rol om te speel, maar my probleem met skrywersverenigings is dat die werklik ernstige skrywer het nie tyd vir verenigings nie. ’n Skrywer hou hom besig met dit wat hy die beste kan doen en dit is skryf en om skeppend te wees, maar aan die ander kant is daar tog ’n behoefte om leiding te gee.”

En terwyl mense in en uit beweeg in Kannaland, ek en Du Plessis weer ons glase met koeldrank vul, ek so nou dan die bandopnemer optel om seker te maak dit is aangeskakel, kom ons uiteindelik uit by die groot vraag of die KKNK nou wel verteenwoordigend van die Afrikaanse gemeenskap is. Stories het mos hoeka rondgeloop dat die KKNK ’n “boerebasaar” is en nie die bruin gemeenskap insluit nie. En daaraan het die feeskoerant Krit ons met die opskrif “Is bruin akteurs steeds die Aspoestertjies van die KKNK?” herinner.

“Definitief nie,” sê Du Plessis, terwyl hy vorentoe leun. “As jy kyk na die produksies, is dit glad nie die geval nie. Dit was reeds een van my probleme aangesien ek nou lid is van die kunstekabinet van die KKNK. As jy die stukke moet keur wat voorgelê word, is dit maar heeltyd dieselfde bekende name wat opkom. Die poësievoorlesings reflekteer maar weer die werk van die digters met wie jy op skool kennis gemaak het. Daar is nie ’n doelbewuste poging om die horisonne te verbreed nie.

“Ons kan nie net elke jaar dat mense wat gewoond is omdat hulle met mense die afgelope tien jaar gewerk het en wat toevallig wit is en hulle vriende is, voortgaan om net saam met hulle te werk nie. Anders bereik ons niks nie. Ons bemagtig nie mense nie. Ons deel nie talente nie. En ons deel ook nie kennis nie.”

Du Plessis skryf veral oor seks in sy kortverhale. En ’n hele aantal gedigte van hom handel ook oor die seksdaad. Hieroor skryf Renders:

Daarby word seks tot ’n konsumpsieproduk verskraal of in ’n moreel laakbare konteks geplaas. In die seksuele daad vind die mens nie meer bevrediging nie. In enkele gedigte word die seksdaad eksplisiet beskryf maar van die beskrywing gaan geen prikkelend erotiese effek uit nie. Seks is immers herlei soos in “0375 / 013 / 04 / 00” uit in god’s country: 2-21 tot ’n meganistiese proses, totaal beroof van enige positiewe betekenis. Hoewel die hele maatskappy seksbehep is, bied seks, soos verdowingsmiddels, slegs ’n tydelike troos.

Ander gedigte spot ongenadiglik met die menslike tekorte, soos “penskets van sandybay (18)” (geloofsbelydenis van ’n kluisenaar) of is vol bytende sarkasme soos “ons vir jou (azania)”:

gee aan elke boer
’n roer
& ’n bakkie (isuzu kbd)
met ’n kaffer

vreedsaam agterop
gee genoeg
dosyne gewillige dooies
om patrioties
die landsgrense
te bevuilig.

“Hoekom is jy nog nie getroud nie? En vergestalt dit die algemene persepsie dat skrywers en joernaliste nooit trou nie; net dat hulle baie suip?”

Hy lag en sê humoristies: “Ag, wat die alkohol betref, ek gebruik glad geen alkohol nie. So, ek is nie ’n dronk digter nie. Ek is liewer ’n nugter digter. Ek dink die rede hoekom soveel skrywers alleenlopers is, is omdat hulle soveel verwag uit verhoudings uit en dat hulle besef dat hulle dit nooit gaan kry nie. So, hulle bly maar weg daarvan. Jy weet hulle idealiseer verhoudings. Hulle soek hierdie ding soos dit in die storieboeke sal verskyn. So, jy het vooropgestelde persepsies oor hoe dit moet wees en as dit nie realiseer nie, dan trek jy kop uit.”

En toe keer hy weer sy wickets vir al wat hy werd is. “Nie ek nie! Ek praat in die algemeen.”

En toe begin ons gesprek baie privaat word. En toe waarsku Du Plessis: “Dit is nie deel van die onderhoud nie.” En toe reply die uwe: “It’s off the record, net vir ons ore.”

En toe ons gesprek eindig, vra ek Du Plessis met watter siel van hom het ek gepraat. “Met albei ... die rekenmeester en die digter ... is dit nie uniek nie?” Mmm ... dink ek toe ... g’n ordinary person nie ...

Jason Lloyd se e-adres is toeka22@yahoo.com of jason@petech.ac.za

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.