Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die lewe is rêrig UNREAL

Rachelle Conradie

*Alle ooreenkomste met die werklikheid is bloot ... wel, nié toevallig nie.

Nou die dag sien ek ’n resensie oor ’n boek wat vir my na ’n regte strontstorie lyk. Dit is nou Anoeshka von Meck se Annerkant die Longdrop. Wat meer kan daar nou eintlik agter ’n sekere soort toilet lê? Wel, dit trek ten minste my aandag: Ek lees die resensie so vinnigweg: Die boek gaan oor drie susters, SywatDroom, SywatDink en SywatDoen, wat onderskeidelik gees, siel en liggaam simboliseer. Aan die einde blyk die drie susters eintlik afsplinterings van een karakter, Ginkelsnoek, te wees. Dit klink vir my maar deurmekaar, maar ek koop tog die boek , maak dit oop en lees op bladsy een: “DIE LEWE IS UNREAL.”
    En hier begin my soektog.
    Duidelik weet die LEWE hoe om snaakse draaie en ongewone paaie met ’n mens te loop. Ek het besluit om ’n werkstuk oor hierdie roman te skryf vir my honneurskursus in Afrikaans en Nederlands. Voordat ek kon keer, was ek heeltemal betrokke. Ek word deel van ’n ander verhaal, van werklikheid EN fiksie, word bewus van “The big picture” in onwerklike filmiese aksie ... Die soektog volg ’n ander spoor — dié van ’n rare karakter met die naam Ginkelsnoek én ’n outeur met die bynaam “Snoek”. Deur dié “soek” het ek vir GinkelSNOEK ontmoet. Dit is nou die karakter en die Snoek agter die boek. Ek het betrokke geraak by die verhaal van die boek én die verhaal van die skrywer ... en in die proses gevind dat daar werklik méér lê.
    Maar laat ek voor begin: Oningelig en desperaat het ek die katakombes onder die Stellenbosse Rooi Plein besoek om lig op dié onderwerp te rig. Tastend in die donker is ek toe op soek na Anoeschka von Meck se tesis oor Egiptologie. Miskien sal dié tesis vir my die lig binne hierdie warboel van ’n boek aanskakel? Needless to say — die tesis is nie in die biblioteek nie. Inligting, asb! Waar is die tesis, die resensies ... nog nie op hoogte nie? Skepties nader ek die bibliotekaresse agter die inligtingstoonbank. En toe, die onverwagse antwoord: “Maar ek ken haar! Dis my vriendin! Hoekom bel jy haar nie? Sy is juis hierdie week in Stellenbosch.” Sy stel haarself voor as Christiana en sê toe met groot oë: “Wag asseblief, moenie loop nie, ek soek vir jou haar nommer.” Hemelse woorde! Soos Ginkelsnoek sou sê: “Woorde wat my laat jump het!” Unreal? Goed, toe die gesukkel om haar in die hande te kry. Die blerrie vrou bly “currently unavailable”!
    Gefrustreerd nader ek weer die inligtingstoonbank. “Het jy al kontak gemaak?” kom dit dringend van Christiana se kant. “Jy moet my asseblief laat weet.” Sy vertel my dat sy en Anoeschka naby aan mekaar gewoon het, dat Anoeschka betrokke was by dwelms en dat sy onlangs tot bekering gekom het. En met dié begin Christiana saam soek: by haar broer, by haar pa in Gordonsbaai. Waar is Anoeshka? Die antwoord is heel eenvoudig: by haar vriendin Christine in Stellenbosch!
    Weird: van Christiana na Christine? G’n wonder die naamgewing in die boek is so interessant nie. Ek skraap moed bymekaar en bel. En uiteindelik antwoord die opgewondenheid self. “Hallo! Ja, dit is sy.” Dadelik op my gemak, lag ons oor die probleem om haar in die hande te kry: “Pay as you go” is nie altyd die vinnigste oplossing nie. Ons lag oor die toevalligheid dat ons albei kuns as ekstra vak saam met die skoolkunsstudente geneem het en albei heeltemal oorboord gegaan het met die projekte in vergelyking met die B-Prims. “Wanneer kom jy kuier?” wil sy weet. Ek voel asof ek nog my bearings moet kry, maar stem in vir Donderdag. “Hoe laat?” vra ek.
    “Enige tyd.”
    En met dié dink ek toe heel opgewonde én studentikoos hoe impressive my bronnelys nou sal lyk: “Persoonlike mededeling.”
    Gewapen met die Longdrop onder die een arm en blomme en wyn onder die ander, kom ek daar aan en word hartlik verwelkom. Natuurlik vergeet dat Ginkelsnoek glad nie wyn drink nie, maar ek en haar vriendin Christine geniet toe’n glasie by die ete, terwyl Anoeschka opgewonde oor die blomme glimlag. My gedagtes dryf en ek verwonder my van vooraf aan die manier waarop ek hier beland het. Heel gemaklik en gretig praat sy oor haar werk, al sê sy in Die Burger van 17 Desember 1998 dat skryf vir haar “’n private en spirituele oefening” is.
    Na ete gaan sit ek en sy in die sitkamer en sy begin vertel oor haar boek. Sy straal. Haar persoonlike verhouding met God is definitief die grootste inspirasiebron. Sy is egter nie ooremosioneel soos sommige geestelik-geïnspireerdes, wat neig om ’n mens af te skrik nie. Nee, sy is nugter, opgewonde en doelgerig. Daar is geen skaamte as dit by gevoelens en veral humor kom nie!
    Ek vertel haar dat ek aanvanklik skepties was oor die ai-tog-al-weer-’n-verkapte-postmodernistiese-teks wat sukkel om te lees. Tog het ek nie moed opgegee nie, om die waarheid te sê, ek het begin aanklank vind by die gedagte dat die leser, net soos die versplinterde hoofkarakter, by ’n soektog betrokke is.
    My nuuskierigheid is werklik aangewakker toe sy begin vertel oor die studentehuis in die boek, nl Dom Pedro, wat die destydse bynaam van die Stellenbosse studentehuis Kalulu was. Anoeschka vertel dat sy vir twee jaar tydens haar M.A. -studie daar gebly het. Dadelik besluit ek om daar ’n draai te maak: Op die herkenbare stoep wonder ek wat om te sê vir die een wat die deur oopmaak. Ek klop en daar word wel oopgemaak. “Hallo ek lees nou ’n boek wat in hierdie huis afspeel. Kan ek maar binnekom?” Die meisie lyk skepties, maar sê tog vriendelik ja. Onverwagse nou, donker gang met deure na links en regs — glad nie hoe ek dit voorgestel het nie. Ek sien die groot prime-kamer, die kombuis, en die solder wat nou ’n pakkamertjie is waar duiwe nesmaak, en raak al hoe meer verwonderd. Ek wonder steeds oor die solder: Mens moet buitentoe stap as jy wil sien hoe dit lyk, want niemand mag meer daar ingaan nie. Die balkon is toe met tralies. Ek dink die karakter SywatDroom sou maar ’n tawwe tyd gehad het om daar kreatief te verkeer. Miskien is dit a room with a “weeu”?
    Maar daar is iets anders wat ek moet vind: die toilet. Toe sien ek dit: “’n afskortinkie binne-in die groot badkamer met die storte” (p 9). Nou is ek geïnteresseerd. Aha! en kyk hier is die einste deksel in die lae dak van die kamertjie waarvan daar in die boek vertel word. Amper instinktief skuif ek dit oop en steek my hand dapper in die donker gat: “(sy) lig die toilet se dakplaat op. Wys hom sy steek die brief daar weg. Vir later herken.” (bl.149) Ek voel-voel grillerig rond en toe voel ek raak. Dit voel so ’n bietjie eerie, maar Anoeschka het mos gesê ek moet kom kyk of dit nog hier is: ’n ou vergeelde, motgevrete brief en voorop staan daar heel dramaties: “sacred trust.”
    Op dié oomblik wonder-hoop ek dat ek nie nou die spell ontwrig deur hierdie tipiese joernalistieke soek na die storie agter die storie nie. Ek probeer die keersy vol wondergom ontsyfer: “Do NOT remove ... author would like to ...” en op hierdie punt het die vismotte veels te gulsig geraak. Miskien het hulle gevoel dié inligting is nie meer so relevant nie.
    Ek vou die brief versigtig oop — sommer daar in die toilet. (Dit is mos ’n private plek.) Dit is geskryf op ou kladpapier van Unisa. Bo-aan is daar twee kolomme “Skryf — Write” en heel regs “Dosent se kommentaar/Tutorial comments”. Maar sy skryf oor albei kolomme. Regs bo begin sy: “Maandag 29 November 1993.” En skryf heel plegtig verder in Engels: “I leave here a note to say that it is with both sadness and joy that I pack my belongings to go ...” Nou begin ek wonder oor die intensie van hierdie brief. Ek kry die indruk dat sy met die skryf daarvan gedink of gehoop het iemand sal dit vind. Sy skryf nie vir haarself nie. Dit klink nie soos ’n dagboek nie. Ek begin al hoe beter voel oor my nuuskierigheid.
    Hierna skryf sy: “The moon was enormous, as if to greet us on our way out of one mode of living, and entering our futures.” Dan slaan die brief weer ’n ander koers in: sy groetbedank elkeen wat saam met haar in die huis gebly het. Sy noem dit ’n soort “thanksgiving” en vra uiteindelik dramaties: “Who knows what our destinies wil turn out to be?”
    Nee, magtag, is dit nou unreal of wat? Die grens tussen feit en fiksie is finaal deurbreek. Die leser raak nie net in die verbeelding betrokke by die verhaal nie. Dis wragtag ’n skattejag. En wil jy nou meer: ék kry toe die skat! So waar was ek? O ja, vreemder as fiksie. “Betrokkenheid by die teks” het nuwe betekenis gekry — en dit voel eienaardig om as ’n derde party ewe skielik betrokke te wees by ’n “ander” wêreld. Net soos Ginkelsnoek wat uit die roman ontsnap en vir Anoeshka in Oudtshoorn ontmoet. (Sien Ginkelsnoek does Oudtshoorn) voel ek asof ek vir ’n oomblik uit my eie verhaal ontsnap het om deel te word van ’n fiktiewe wêreld.
    Dit word nog eienaardiger as jy later hiervan in die koerant lees: “Toe ’n honneursstudent in Afrikaans en Nederlands onlangs hiervan te hore gekom het (dit is nou die brief), het sy dit daar gaan soek en gekry. Dit het vir Anoeschka die idee gegee: om werklik iets weg te steek en dit dan aan die leser oor te laat om dit deur leidrade self op te spoor.” (Eikestadnuus 30 April 1999). Na ’n lang soektog was ek toe die eerste “gelukkige leser”! Ons het juis hieroor gesels toe ek weer vir haar gaan kuier het om die brief vir haar te wys en dankie te sê vir die gasvryheid en al die opwinding.
    Wat my finaal laat besluit het die lewe is rêrig unreal, hou verband met my poging om dankie te sê : Soos ’n goeie gas besluit ek om vir Anoeschka ’n dankie-sê-kaartjie te maak — een van dié soort wat ek gewoonlik vir ’n spesiale dankie of geluk verf. Dit stel ’n vlieënde vroutjie met arms in die lug voor. Hierdie keer besluit ek om blou lug rondom die vroutjie te verf, maar om rondom haar arms wit stroke te laat, vir balans. Anoeschka was heeltemal oorstelp toe sy dit ontvang, en vra dadelik of ek weet dat sy altyd so ’n soort “vroutjie” onderaan haar briewe teken. Háár vroutjie reik met die een hand na ’n ster en hou die ander hand onder: Dit is hoe sy haarself teken. Ag, seker toeval? Natuurlik nie. Sy het ’n droom gehad waarin God vir haar gewys het hoe sy al hoe meer in sy rigting — sy onthou spesifiek ’n “nou wit gedeelte” — sal inbeweeg. Op my kaartjie jubel albei arms na bo!
    “Vreemd is die dinge wat mense bymekaarbring. Alledaags dit wat hul verwyder” (p109).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.