Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Berserktheid met style

Tom Dreyer en Jaco Botha gesels met Anoeschka von Meck

Anoeschka von MeckIn die Breëriviervallei kan dit soms blêrrie warm raak, en die dag toe die wit Jetta Robertson toe stoom, lê die lug loodgrys en verswelgend tussen die berge. Dalk kon Jaco ook iets van hierdie neerdrukkendheid aanvoel, want behalwe vir die keer dat hy met behulp van ’n enkele vinger sy misnoeë teenoor ’n onbedagsame lorriedrywer te kenne gegee het, was daar nog nie ’n woord oor sy lippe nie. Ook Tom is stil; en met eentonige reëlmaat word die karradio se volume harder en dan nóg harder gedraai. Albei is vervul met die eiesoortige afwagting waarmee ’n mens ’n weeshuis nader. Ja, want dit is waarheen die twee roving reporters op pad is: die Herberg Kinderhuis op Robertson, waar die jong skrywer Anoeschka von Meck die afgelope drie jaar werk en woon, en waar sy haar debuutroman, die hoog aangeskrewe Annerkant die longdrop, neergepen het. “Wat’s jy dan so stil?” vra Jaco en torring aan die moeë air conditioner. “Ek dink”, sê Tom, terwyl hy in die truspieëltjie kyk en vurig hoop dat die lorriedrywer nie gewapen is nie. “Ek dink aan moontlike vrae; aan hoe ons die storie behoort te approach. Oor die foon het dié Anoeschka na ’n weird kettle of fish geklink.” Toe grinnik hy. “Weird kettle of fish... Get it? Haar bynaam is mos Snoek, soos die hoofkarakter in haar boek, Ginkelsnoek.” Fokken irriterende mannetjie dié, dink Jaco, en beduie met die vinger naas die een wat hy flussies gebruik het dat hulle gou moet aftrek by die Rooiberg Wynkelder wat langs die pad opgedoem het.

Gewapen met twee bottels wit wyn cruise die twee jongelinge deur die Sondagmiddagse strate van die plattelandse dorpie. Jaco haal diep asem om die naderende gevoel van depressie uit sy borskas te lig, terwyl Tom onverpoos aan die geleende diktafoon op sy skoot karring. “As ek net kan uitfigure hoe die damn ding werk,” sê hy en laat deur die druk van ’n knoppie die klein kassetjie tot hoog teen die Jetta se dak spring. Kort daarna bring ’n kerktoring, wat hulle as baken gebruik, die blye nuus dat hulle by Die Herberg, ’n triestige CSV-type kompleks aangekom het. “Tannie Snoek!” roep ’n kêreltjie met ’n haaslip en stukkende knieë toe die Volkswagen tot stilstand ruk, en ’n vrolike blondine met uitgestrekte arms maak haar verskyning.

“Ja, ons is hier vir die onderhoud,” sê Jaco en gee vir Anoeschka, want dit is hoeka die uitbundige blonde, drie wynglasies om vas te hou. ’n Minuut of drie later is hulle in haar karig gemeubileerde woonstelletjie en nog ’n paar minute later het Tom die diktafoon in ’n werkende toestand. Tussendeur kort uitstappies oor die terrein om wasgoed te gaan afhaal of ’n speelgoedgeweertjie aan sy regmatige eienaar terug te besorg, vertel Anoeschka wie en wat sy is, en watter wye draaie sy al in hierdie lewe geloop het. Dis gou duidelik daar is maar bitter min plekke op hierdie Ertjie (soos ons groen-blou planeet in Annerkant die longdrop bekend staan) waar sy nog nie haar voetspore gelaat het nie. Sy is op McGregor gebore, maar haar skooldae het haar van hoek tot kant deur sonnige Suid-Afrika geneem, en selfs tot in die gespes van die “Bible Belt” in Amerika. Sy is ’n girl wat daarvan hou om dinge op haar eie manier te doen. Deur die jare het sy klandestien as deckhand op skepe gewerk, en selfs by geleentheid kaart teen swart mans gespeel om ’n begeerlike buis tandepasta in die hande te kry.

Ook in haar kop het sy getravel. Daar is min kronkelpaadjies, min vergete hoekies van die menslike psige wat die brein agter die wakker oë nog nie deurkruis het nie. Anoeschka vertel van hierdie “gap”, ’n soort leegte of holte wat ons almal in ons saamdra. Dit was dan ook die smagting na iets om hierdie geestelike vakuum te vul wat haar op haar reise voortgedryf het, nes dit in Annerkant die longdrop ook aan die hart lê van Ginkelsnoek se soeke na groter selfbegrip, breër insig in die verhouding tussen die self en die kosmos, die self en die ewig ontwykende Ander. Maklik was Anoeschka se trippies ook nie altyd nie. Aan die einde van haar studentedae — twee jaar Marinebiologie in Florida, toe ’n B.A. aan die Universiteit van Kaapstad, en daarna ’n M.A. in Egiptologie aan die Universiteit van Stellenbosch — was sy, in haar eie woorde, “ ’n bietjie in die okkulte getrap”. White magic, kristalle, sterretekens en offerandes van blomme — “niks bad nie”. Sy het deur ’n lang proses van inisiasie gegaan waarin slegs die laaste stap, die fisieke offerande van die self, nog uitstaande was.

“Maar ek was te veel van ’n wimp, wou dié selfmoord-ding nie rêrig deurvoer nie.”

In dié dae het sy haarself teruggetrek in haar ouerhuis op Hentiesbaai. “Ek het uitgeroep teen die wind en die see — nie uit wanhoop nie, maar omdat ek ’n volkomenheid wou ervaar en geweet het dit is daar vir my. Soos hulle sê: when the student is ready, the master comes. “Daardie nag droom ek dat ek voor my venster staan en uitkyk oor die oseaan. Ek het my trourok aan...” (’n swart fluweelnommertjie wat sy spesiaal vir hulle uit die hangkas gelig het) “... en toe voel ek hoe ’n man agter my kom staan en my optel. Hy dra my in ’n lang donker gang af en oral waar daar ligkolle is, sit hy my eers neer. My ma se huis is klein, daar is nie so ’n gang nie, maar alles is real.”

Op hierdie punt is selfs die babbelende Tom stil — dié girl mag maar ’n storie vertel. “Toe kom ons in so ’n quad vol rose aan en weer word ek in ’n kol lig neergesit. Toe ek my omdraai...

“Ek het sy gesig gesien en skielik begin lag, onophoudelik gelag. Want vir die eerste maal in my lewe was ek verlief, tot oor my ore, op daardie gesig — hy was so mooi.

“Jesus,” sê sy.

“Ekskuus?” kom dit soos uit een mond van Tom en Jaco. “Dit is Jesus wat aan my verskyn het. Hy het my self so vertel, maar ek wou Hom nie glo nie. Ek het gedag dis die spirit guides wat my toets.” Daar is iets sags in haar gesig, ’n stralende weerloosheid wat die ganse vertrek vul. Die grys gloom van die weeshuiswoonstelletjie lig vir ’n oomblik. “Hy het vir my ou perkamentrolle gewys waarop Sy naam verskyn ...” Vir ’n sekonde of twee is net die geluid van die diktafoon se spoeletjies in die vertrek hoorbaar. “Nee, wag,” sê Jaco dan, terwyl hy op die been kom, “nou moet ek eers gou ’n sigaret loop rook.”

“Jesus?” mymer hy wanneer hy en Tom agter die beskutting van ’n muurtjie lank en swaar aan twee Chesterfields suig. Tom vryf ingedagte teen die muur. Daar is opgefrommelde sigaretstompies tussen die bakstene ingedruk. “So, wat dink jy?” vra hy.

“Wat dink ek van wat?”

“Anoeschka. Wat dink jy van haar?”

“Ek like haar,” sê Jaco. “Genuine entjie mens.” “Sy’t gut,” knik Tom. “Gut wat skrik vir niks.” Hy tuur uit oor die oop grasperk, en oor die appelkoosboord wat anderkant ’n draadheining in die hitte bewe. “En dit wat sy gesê het? Wat dink jy van die soektog waarvan sy gepraat het, die soeke na ’n sleutel wat alles sal oopsluit, na ’n iets of ’n iemand wat mens deel van alles sal maak.”

Net toe kom ’n dosyn weeshuiskinders, so tussen agt en 14, om die draai gedrentel. Dit is hul rookplek dié, maar eintlik is hulle hier om skamerig ’n geselsie met die twee besoekers uit die verre Kaapstad aan te knoop. “Waar in die Kaap kom julle vandaan?” vra ’n meisietjie wat trots aankondig dat sy volgende jaar in standerd sewe sal wees. “My ma bly in Brooklyn,” sê sy en haar oë dwaal in die rigting van die Jetta. In Jaco se gedagtes stap Anoeschka weer by die leefkamer van haar woonstelletjie uit, net om oomblikke later met die dofgevatte wêreldkaart wat normaalweg bo haar bad pryk, terug te keer. Haar vinger beduie na ’n obskure gebied noord van Indië. “Buthan. Ek gaan volgende jaar Buthan toe,” sê sy. “Ek hou van die sound van die woord; en ’n mens kan mos nie stilsit nie.”

Die heining van Die Herberg glim in die laaste lig. Dan sing die draad soos ’n knapie wat appelkose gaan buit het, oorspring en laat spaander. Ook die res van die troppie spat uiteen. Die afgetrede gade van een van die personeellede kom sleepvoet nader, om die ondergaande son te staan en bepeins. “Ek skilder,” sê hy later. “Landskappe. Plekke ver van hier af. Ek het baie boeke.”

’n Wit vlindertjie fladder-fladder teen die draadheining, glip dan uiteindelik oor en verdwyn. Anoeschka staan op die stoep van haar woonstel, wat binnekort aan iemand anders sal behoort, en waai.

Die plaaslike KFC lê reeds ver agter hulle, wanneer Tom onthou dat hulle vergeet het om Anoeschka uit te vra oor haar kindertydse UFO experiences. “Strange kettle of fish. Jammer ons het nie verder oor die vlieënde pierings uitgevis nie.”

“Ons almal wil seker maar op ’n manier reis. Places to go, people to meet,” sê Jaco lakonies. “Shame, daai girltjie wat gevra het of ons haar kan saamneem Kaap toe en die sad character, met sy skilderye uit fotoboeke — Exploring South Africa, hmmmm.”

“So,” vra Tom, “wat dink jy maak Anoeschka anders as hulle?” Jaco trek sy skouers op. “Miskien,” sê hy, “miskien is dit omdat sy mal genoeg is om dit te doen. Om oor die draad te klim en met ’n voorskoot vol appelkose en stories terug te kom.”

“Berserktheid met style,” sê Tom. “Maar so ’n klomp appelkose kan ’n mens lelik laat kak.”

“Ja, maar daarvoor het mens tog die longdrop,” sê Jaco terwyl die reën saggies op die voorruit van die Jetta begin neersif.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.