Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Klik hier en help ons om LitNet te verbeter!

Ongewone ontmoeting

Charlene Lategan

Ek het hom nie raakgesien toe ek in die hysbak inklim nie, want die hysbak was reeds vol mense en ek was die laaste een wat ingeglip het voordat die deure toegegaan het. Dus het ek aanvanklik heel voor met my neus teen die deur gestaan. Agter my het mense hartlik met mekaar gesels, waarskynlik kollegas wat van hul etensuur terugkeer na hul kantore in die gebou.

Kort-kort het die hysbak by ’n vloer gestop en het van die mense verby my na buite gestroom. Nie lank nadat ek in die hysbak geklim het nie, het ek ’n gevoel gekry dat iemand na my spesifiek kyk en bly kyk. Trots en skaam wou ek nie sommer omkyk nie, maar het toenemend ongemaklik gevoel.

Elke keer wanneer die deure oopgaan en mense uitklim, het ek oorgeskuif na die kante en geleidelik na regs agter in die hysbak verskuif. My afspraak is op die 23ste vloer van ’n gebou van 25 verdiepings, dus was ek van die laastes wat sou afklim.

Teen die tyd dat die hysbak by vloer 10 stop, het ek uit die hoek van my oog gesien dat die persoon wat na my bly kyk, links agter in die hoek staan. ’n Lang man in ’n grys pak en ’n swart, leer-aktetas in sy regterhand. Dit wat ek so onderlangs kon waarneem, is duur, ingevoerde, blinkgepoleerde swart skoene en ’n pak van duursame materiaal en snit. Hy het ’n fier, trotse houding en is maklik ’n koplengte langer as ek, wat self nie kort is nie. Digte, donkerbruin hare, netjies en professioneel gesny. “Hy lyk tog nie na die vrypostige tipe nie, hoekom staar hy so na my?” wonder ek in my stilligheid.

Ek maak my rug hol, trek my skouers reguit en kyk doelbewus stip na die liggies wat aandui by watter vloere die hysbak verby beweeg. “Hy moet tog die boodskap begin kry dat ek nie oogkontak wil maak nie! My lyftaal moes al lankal gewys het dat ek my vererg vir die man se vrypostigheid en ek wens hy wil anderpad kyk.”

Tot my ontsteltenis klim die laaste groep mense op vloer 16 uit die hysbak en bly net ek en die man in die hoek agter. Ek voel hoe my ongemak toeneem. Steeds weier ek om oogkontak te maak en hou nou my oë stip op die dik, luukse mat in die hysbak. Hy staan regop en stil in sy hoek van die hysbak, sy houding rustig en met sy oë steeds op my. Ek bid dat hy moet afklim! Een kyk na die enigste twee liggies wat nog op die hysbak se paneel blink, laat my hoop ’n stille dood sterf. Ek klim op vloer 23 af, en sy liggie brand by die topvloer, vloer 25. Dus klim ek voor hom af. En dis nog ses vloere ver!

Dankie tog ek is amper daar. Nog net vyf, vier, drie .... Bam!.......

Met ’n harde geluid ruk die hysbak skielik tot stilstand asof die kabel vasgehaak het aan iets. Die onverwagte slag ruk my van balans af sodat ek hande-viervoet op die vloer van die hysbak te lande kom. Half verdwaas bly ek vir ’n oomblik so staan en verbeel my ek hoor iemand van ver af praat. Ek besef dis die man in die hoek wat langs my kniel en vra of ek seergekry het. Ek draai my kop na links en kyk in die mooiste grys oë van ’n baie aantreklike man. “Hemel, maar hy het mooi oë!” dink ek heel onlogies in die omstandighede. Hy het ’n bekommerde plooi tussen sy oë toe hy weer vra: “Dame, het jy seergekry?”

“Nee, nee,” mompel ek verleë terwyl ek op my aktetas druk om op te staan. Tot my verdere verleentheid neem hy my aan die linkerarm en help my regop kom.

“Wat het gebeur?” vra ek half onnosel. Wonder of ek my kop gestamp het; ek is nie altyd so deur die mis nie.

“Dit wil voorkom asof die hysbak tussen vloere 22 en 23 gaan staan het,” antwoord hy rustig. “Sodra jy voel dat jy reg is om alleen te staan, sal ek die noodknoppie druk.”

Ek besef dat hy my steeds aan die arm vashou en ondersteun, en trek vinnig my elmboog uit sy hand uit.

“Ja, ek is reg … Dankie!”

In ’n poging om my waardigheid te behou, maak ek weer my rug reguit en rek die afstand tussen ons. Terwyl hy voor die hysbak se paneel staan en die instruksies nagaan, vryf ek met albei my hande my potloodromp plat en sien dat my sykous geleer het. “Dis nou wonderlik,” dink ek mismoedig. As ons nie gou hier uitkom nie, is ek laat vir my afspraak en my sykous is in sy kanon in. Dit gaan nie goed lyk nie, en ek wou juis ’n goeie indruk maak sodat hulle na my voorstelle sal luister. Maar gedane sake het nie keer nie. Dit sal my leer om sonder ’n spaar paar sykouse uit te gaan.

Noudat ek weer regop staan, voel ek hoe my bene liggies bewe. Ek voel koud ook, al het ek ’n kantbloes en ’n snyersbaadjie aan. Dis seker van die skrik. Ek was nog altyd doodbang om in ’n hysbak vas te sit. Gelukkig brand die ligte in die hysbak nog. Ek dink as dit donker sou wees, sal my oppervlakkige kalmte maklik wyk.

Ek kyk na die man se rug en besef iets is fout.

“Wat is dit?”

“Dit lyk asof die noodknoppie nie werk nie. Daar is geen aanduiding op hierdie paneel of die knoppie wel ’n sein uitstuur as ek hom druk nie. Dit wil voorkom asof die kragtoevoer na die hysbak se paneel onderbreek is.”

“Maar die ligte brand dan nog!”

“Gelukkig brand die ligte nog. Dis waarskynlik ’n alternatiewe bron soos ’n battery wat die ligte aan hou.”

Hy draai hom na my en ek voel asof al die lug uit my longe pers. Ek is vasgekeer in ’n hysbak iewers tussen die hemel en die aarde saam met ’n man, en bes moontlik weet niemand ons is hier nie! Al lyk hy opgevoed en netjies, bly hy ’n man. En ons is alleen.

Ek grawe in my handsak vir my selfoon en sit hom aan. Ek ignoreer die geamuseerde trek om sy mooi mond. “Hoekom is die man so aantreklik en hoekom ontsenu hy my so? Ek is tog lankal nie meer ’n bakvissie nie.” Geen sein nie! Ek sit die selfoon af en weer aan, loop rond in die hysbak, hou die selfoon hoog en laag, maar, helaas, geen sein nie!

“Agge nee! Agge nee!”

“Toemaar, ontspan net. Paniek is nie goed in hierdie situasie nie. Ontspan en haal diep asem. Gelukkig is die luik aan die bokant van die hysbak oop waardeur genoeg vars lug vir ons inkom. Ek is seker iemand gaan binnekort vir ons kom oopmaak. Hou net goeie moed!’

“Jy kan maklik praat! Ek vrees nog altyd ’n situasie soos hierdie!” My stem verloor ’n graad kalmte.

“Ek sal jou nie kwaad aandoen nie!” Die verbasing is duidelik op sy gesig en in sy stemtoon.

“Jy beter nie! Ek het ’n groot broer wat jou sal opdraande gee as jy jou hande op my lê.”

Hy gooi sy kop agteroor en skater uit sy maag uit.

“Lag maar! Dis die waarheid. Dis …”

Bam!

Die hysbak ruk en sak ongeveer ’n halwe meter voordat dit weer vashaak. En skielik is ons in totale duisternis.

Ek besef die gil wat ek hoor kom uit my eie keel uit. Nie geweet ek kan so gil nie. Dis so donker in die hysbak dat ek letterlik nie my hand voor my oë kan sien nie. Ek voel hoe die paniek my keel toetrek en sak op my hurke af.

“Waar is jy? Is jy reg?” kom sy besorgde stem na my toe. My keel is stokstyf, ek kan nie ’n geluid verder uitkry nie. Ek hoor hom vroetel iewers voor my in die donker en die volgende oomblik is daar ’n flou skynsel lig van sy selfoon. Hy bring sy gesig nader, skyn die glans van die selfoon in my gesig en kyk ondersoekend na my.

“Jou oë is so groot soos pierings. Sit liewer plat op die vloer met jou bene uitgestrek en jou rug teen die kant.” Willoos gehoorsaam ek en voel in die donker hoe hy langs my kom sit.

“Wees asseblief net rustig en probeer ontspan. Ek is seker hulle sal ons nou enige tyd kom uithaal.”

Ek probeer my bes om te ontspan en haal diep asem. Wie is die “hulle” van wie hy praat? Seker die brandweer. Wat sal my ma sê as sy moet weet ’n brandweerman dra haar dogter uit ’n donker hysbak uit? Nadat sy alleen saam met ’n aantreklike man in die hysbak vasgesit het. My reputasie sal aan skerwe wees. Die laaste gedagte laat my bietjie verder wegskuif van hom af. Ek verbeel my ek hoor ’n sagte, geamuseerde geluid van sy kant af.

“Hoekom het jy my dopgehou in die hysbak?” kom dit oor my lippe voordat ek kan keer.

“Ek vra verskoning vir my voorbarigheid! Kon nie my oë van jou afneem nie. Jy is beeldskoon, en … jy lyk vir my bekend. Ek kon net nie vasstel waar ek jou al gesien het nie.”

“Ek het jou nog nooit gesien nie!” Ek wonder of dit sy standaard aanknopingslyn is, en of hy dit opreg bedoel.

“Aangename kennis. My naam is Wian.”

Ek huiwer effens. Ons is nou eenmaal saamgegooi; basiese kennismaking is seker in orde.

“En my naam is Larissa. Bly te kenne.” Ek ontspan bietjie. Die man klink nie regtig asof hy bymotiewe kan hê nie.

“Larissa wie en van waar?”

“Larissa Cilliers van Pretoria.”

“Advokaat Larissa Cilliers?!”

“Ja.”

“My genugtig! Nou weet ek hoekom jy vir my bekend lyk. Jy was in die koerante in verband met daardie bekende moordsaak in Pretoria.”

“Ja, dis reg. Die Malan-saak. Ek is juis vandag hier in die Kaap vir die finale afronding van die strafbetoog en voorstelle wat ek daarvoor wil maak. Nou nie dat ek nog betyds vir die afspraak gaan wees nie!” En as nagedagte: “Wat is jou van en van waar is jy?”

“Wian Winterbach, tot u diens! Ek woon hier in Kaapstad.”

“Professor doktor Wian Winterbach, die medies-forensiese deskundige?”

“Einste hy, ja! Ek was ook op pad na die advokate op die boonste vloer vir die Dlamini-moordsaak wat volgende week op die rol is.”

My mond is toe. As ek nou iets kwytraak, sal ek ’n gek van myself maak. En om te dink ek het gedink die man is pervers of iets! ’n Proeslag borrel by my lippe uit. Die gerespekteerde medikus en forensiese deskundige wat groot lof verdien oral waar hy gaan, en ek was bang vir hom!

“Wat is nou so snaaks?” vra hy in die donker.

“Beter dat ek nie sê nie.”

Hy swyg. Miskien is hy ’n wyse man wat weet om nie ’n vrou te druk vir ’n antwoord as sy dit nie tender nie. Ek het al gehoor van dié Wian Winterbach. Hubare vrygesel, menige vrou se droom, maar o so onbereikbaar. ’n Versigtige man wat weet hoe om hom naby, maar ver te hou. ’n Vriendin/kollega van my by die balie in Pretoria het al saam met hom aan ’n saak gewerk, en sy kon nie uitgepraat raak oor die man nie. Haar hoop gevestig op ’n vaste verbintenis, maar helaas bedroë daarvan afgekom. “Hy is die ewige gentleman, maar is nie van plan om hom te laat vang nie,” het sy haar lot by my bekla. My antwoord was dat daar baie wonderlike ander visse in die see is. Nie dat dit gelyk het of dit haar getroos het nie. “Gelukkige vrou wat hom eendag kry!” was haar laaste opmerking. En hier sit ek saam met mnr. Gesog in die hysbak in pikdonkerte vas. Hoe vreemd kan die lewe soms nie wees nie!

Ek kom agter dat ek al hoe kouer voel. Ek slaan my arms styf om my lyf, maar dit help nie. Ek probeer om in die stilte wat tussen ons kom lê het, te luister of ek kan hoor of iemand tot ons redding kom. Maar dis doodstil. Ek begin bewe en my tande klapper opmekaar.

“Larissa, kry jy koud?” kom sy besorgde stem na my. “Sal jy my toelaat om my baadjie om jou skouers te hang?”

“Nee,” bibber ek, “dan kry jy koud!”

“Nou, skuif dan hier onder my blad in.”

Ek huiwer. Is dit ’n goeie ding? Dis bietjie naby en intiem, en ons is vreemdelinge vir mekaar. Veral na die verraad van Danie het ek geen behoefte om weer so naby ’n man te kom nie.

“Dis in orde, Larissa.” Sy stem is gerusstellend en warm.

Ek voel hoe hy na my uitreik in die donker en hoe hy per ongeluk my knie raakvat. Dis asof ’n elektriese lading deur my liggaam trek. My bene voel skoon lam en my mond voel droog.

“Ekskuus! Nie bedoel om aan jou been te vat nie.”

Hy skuif tot langs my en trek my onder sy blad in, vou sy baadjie om my. Dis heerlik warm teen sy lyf, ’n lyf wat ferm en soepel voel, en sy naskeermiddel ruik vars en heerlik. Iets soos Old Spice wat my pa gebruik het. Ek voel gemaklik en genoeglik hier onder sy blad. Wat op aarde gaan met my aan? Hier sit ek langbeen op die vloer van ’n hysbak in saligheid onder ’n wildvreemde man se blad, en dit voel asof ek tuisgekom het. Hoe is dit moontlik dat ek so by hom voel? Dit het nog nooit voorheen met my gebeur nie. Ek voel meestal ongemaklik as ’n man binne my direkte ruimte kom, behalwe natuurlik Thinus, my broer.

“Al wat ons kan doen, Larissa, is om geduldig te wag totdat hulle ons vind.”

Ek weet nie hoeveel tyd al verbygegaan het nie, maar Wian en ek gesels heerlik. Oor ons skooldae, universiteitdae, familie, politiek, musiek, flieks en alles waaraan ons kan dink. Dit voel asof ek hom al jare ken. Hy hou my styf in die sirkel van sy arms vas en ons liggame se warmte hou die koue van die donker hysbak uit. Die duisternis pla nie eens meer nie, behalwe dat ek graag in sy mooi oë sou wou kyk terwyl ons gesels. Maar sy diep, ryk en rustige stem streel my in die donkerte, en ek skaam my vir die lyflike plesiere wat ek ervaar so naby hom. “Ek wens hulle vind ons nooit. Genugtig, Larissa, het jy jou sinne verloor!”

“Wian …”

“Ja?”

“Het jy ’n vrou of ’n meisie?”

“Nee, ek is nie getroud nie. Ek het ’n vriendin wat my na funksies vergesel, maar ons verhouding is lig.”

“Hoe oud is jy?”

“Twee en dertig. En jy?’

“Agt en twintig. Hoekom het jy nog nie getrou nie, Wian?”

“Nog nie die regte vrou ontmoet nie. Ek wag vir die een wat hemel en aarde en son vir my sal wees.”

“Bestaan so iets?”

“O ja, my ouers se huwelik was so. Ek wil dieselfde hê. For ever and ever … Ek is bereid om te wag totdat ek die regte een ontmoet. Dan trou ek graag. En jy, Larissa?”

“Ek het ’n vaste vriend gehad, gedink ons sou trou. Maar hy het my een vriendin agter my rug begin sien en toe ek my oë uitvee, was hulle skielik getroud met die eersteling voortydig op pad. Daarna het ek my in my werk gewerp en die mansmense vermy.”

“So ’n skurk!”

“Ag wat, toe het dit diep seergemaak. Maar nou, na vier jaar, is ek net vir hom jammer. Hy was my nie werd nie. As hy my werklik liefgehad het, sou hy my nie so behandel het nie.”

Ek roer my bene, wat al ’n geruime tyd kriewel van die gesit op die vloer.

“Ek dink ek moet bietjie opstaan en my bene beweeg. Hulle voel dood en koud.”

“Ja, ek wou al voorstel dat ons bietjie opstaan. Kom ek help jou.” Hy trek my regop saam met hom en ons al twee hou vas aan die hysbak se kant totdat die speldeprikkels in ons bene verdwyn.

“Strek bietjie jou arms, kriewel jou tone en vingers en rol jou nek. Jy sal voel dit sal ’n groot verskil maak, Larissa.” Ek doen soos hy sê en voel dadelik beter. In die donker strek ek en rol my nek. Toe ek omdraai, draai ek reg teen sy bors vas. Ek voel hoe my tepels aan sy bors raak asof daar geen materiaal tussen hom en my is nie. Onmiddellik is die atmosfeer anders, gelaai. My tepels verhard en ek voel half duiselig van ’n opwinding wat deur my lyf trek. Sy arms gaan om my lyf en trek my styf teen sy bors vas.

“Kan ek jou soen, Larissa?”

“Ja!”

Sy lippe kom sag op myne neer, eers liggies asof hy my proe. Dan word sy soen fermer, inniger totdat ons asems jaag. Hy lig sy kop en druk my kop onder sy ken in, hou my styf teen hom vas. Sy heerlike geur is in my neus, maak my mal. Nooit het ek so by Danie gevoel nie. Hierdie man doen iets aan my wat nuut is, wat binne in my ’n vuur aansteek.

“Larissa, dit voel asof ek jou al jare ken!”

“Ek voel dieselfde. Dis vreemd, is dit nie?” Hy antwoord nie, staan net stil in die omhelsing terwyl sy asem nog onreëlmatig is.

Ek is self nog bietjie uitasem van die lang soen, en voel hoe heerlik gekneus my lippe is. My tepels staan stokstyf en my borste voel swaar. My vroulikheid voel warm en nat. “Genugtig, Larissa, gedra jouself!” raas die stemmetjie binne-in my. Maar dit help nie, ek wil meer hê.

Ek lig my mond na hom en trek sy kop laer totdat sy lippe weer aan myne raak. Hierdie keer soen hy my soos geen man my nog ooit gesoen het nie. Sy tong gly in my mond in en doen wonderlike sensuele dinge met die binnekant van my mond. Hy smaak hemels, en ek druk stywer teen hom aan, soen hom met oorgawe terug terwyl my hele lyf aan die brand raak.

“Larissa, ons moet stop.” Sy asem jaag en sy bors dein op en af. Teen my maag voel ek die hardheid van sy ereksie.

“Nee, ek wil nie!” As my ma my nou hoor, onterf sy my. Maar alles in die wêreld verdwyn, al wat saak maak is hierdie hemelse man in my arms en dit wat hy aan my doen, en nog kan doen. Ek wil meer hê.

“Larissa, wees nugter, asseblief. Ons gaan hier uitkom en bitter spyt wees as ons te ver gaan.”

“Wian, ek het nog nooit gevoel soos ek nou voel nie. Ek wil jou hê met alles in my. Ek is bereid om die risiko’s daarvan te loop.”

Hy kreun iewers van diep uit sy borskas uit.

“Jy maak dit vir my baie moeilik, Larissa. Ek wil jou net so graag hê, maar ons gaan later dalk spyt wees omdat ons haastig was.”

“Ons is volwasse mense wat behoefte het aan mekaar, Wian. Ons kan die keuse maak en daarby berus.”

“Is jy seker, Larissa, doodseker?”

“Ja, jou lyf maak my mal! Daar brand ’n vuur in my wat net jy nou kan blus. Soen my, Wian, dit smaak hemels!”

Met ’n kreun soen hy my lippe, my keel, my ore, my oë. Sy hande trek my bloes uit my romp en maak my bra los sodat sy groot hande oor my stywe borste skuif en hulle toevou. ’n Sug van genot glip oor my lippe en my hande beweeg na sy knope. Een vir een maak ek hulle los en soen sy harige borskas terwyl hy my tepels tussen sy vingers knie. Dit voel vir my asof my liggaam brand, my bloed borrel. Die plesier wat deur my wese trek, maak my lighoofdig sodat ek weer sy lippe soen en soen en soen. Hy maak my bloes los en skuif my baadjie saam met my bloes oor my skouers sodat dit agter my op die vloer val. Dan volg my bra sodat ek met my naakte borste teenaan hom aanleun. Hy maak my romp se ritssluiter los en haak sy duime tegelyk aan my romp, sykouse en onderbroekie en stroop dit saam teen my bene af, sy warm handpalms verleidelik op my vel. Sy hande teen my naakte dye maak my bene lam. Ek staan naak voor hom, my liggaam oral vol vure. Ek kry nie eens koud nie, so brand my begeerte na hom.

Ek skuif sy hemp en baadjie oor sy skouers en laat dit op die grond val. Dan reik ek vir sy belt en ritssluiter. Sy manlikheid beur teen sy onderbroek, in vol en harde ereksie. Hy kreun toe ek my hand onder sy onderbroek laat inglip en sy manlikheid in my hand neem. Hy buk om sy skoene uit te trek en skop sy broek en onderbroek uit.

Ons naakte liggame teen mekaar voel soos ’n elektriese lading toe hy my weer nader trek. Hy soen my borste, my half-oop lippe en druk met sy hande teen my boude sodat sy ereksie hard teen my maag druk. Ek kreun van plesier, en voel hoe die vogtigheid by my vroulikheid meer word.

“Larissa, Larissa!” Hy laat my stadig vloer toe sak terwyl sy sterk hande my vashou en ondersteun. Toe ek plat lê, kom lê hy styf langs my en laat sy hand oor my plat maag streel tot by my pubishaartjies. Ek snak na my asem oor die plesier wat dit my gee. Nog nooit het ’n man daar aan my gevat nie.

Sy hand beweeg oor my Venus-hoogte en gaan lê vol oor my vroulikheid. Ek kreun hardop en lig my heupe na hom toe op. Hy laat glip ’n vinger in my sagte nattigheid in en vee met die nattigheid oor my klitoris. Dit voel asof die bloed in my brein ontplof en bruis tegelyk. Oor en oor laat hy sy vingers in my ingly, net om weer met my klitoris te terg. Ek reik met my hand na sy manlikheid en begin dit ritmies vryf. Hy word voller en harder in my hand, en kreun hardop. “Wian, neem my asseblief! Ek kan nie meer hou nie.” Hy skuif homself oor my en ek maak my bene wyd oop om hom te ontvang. Eers druk hy versigtig teen my opening met sy penis se kop, maak net die voorpunt van sy penis nat in die warm vloeistof daar. Dan druk hy hard en vinnig tot binne-in my. Die plesier daarvan is meer as die bietjie seer toe hy ingaan, en dan begin hy diep in my in en uit dryf. Nog nooit het ek soveel plesier ervaar nie. Ritmies beweeg ons liggame saam, in harmonie. Ek lig my heupe hoog op om hom soveel as moontlik in my in te neem. Vinniger en vinniger stoot sy penis in my op terwyl hy my soen en soen en soen. Heerlike hemelse soene oor my gesig, my lippe, my ken, my ore, my borste.

Ek voel asof ek op ’n afgrond afstuur.

“Ek gaan kom, Wian!”

“Ek ook! Kom saam met my Larissa!”

“O jaaaaa!”

Golf na golf van verruklike plesier ruk deur my lyf terwyl Wian saam met my styftrek en uitroep. Ek voel hoe die semen oor my baarmoedermond stroom, en dit is die wonderlikste prikkelende sensasie wat ek nog ooit ervaar het. Die heerlike eenword met hierdie mooi man met die sagte hande vul my wese.

Uitasem val Wian op my bors neer en rol op sy sy terwyl hy my in sy arms saamrol. Albei van ons spook om ons asem terug te kry. ’n Heerlike geluksaligheid vul my van binne af. Al sien ek hierdie man nooit weer nie, was elke oomblik hiervan spesiaal en die moeite werd. Hy is ’n wonderlike en bedagsame minnaar. Ek kon nie beter gevra het nie.

“Is jy reg, Larissa? Ek het nie geweet dit was jou eerste keer nie!”

“Ja, ek is reg. Dit was wonderlik, wonderlik, wonderlik, Wian. Baie dankie!” Ek druk stywer teen hom vas, soek in die donker na sy lippe en soen hom lank en hard.

“Nie spyt nie, Larissa?”

“Nee, glad nie.”

“Ek ook nie. Dit wás wonderlik.”

Ons lê nog ’n rukkie so styf in mekaar se arms. Sielsgelukkig en versadig.

“Jou lyf voel koud. Kom ons trek ons klere aan.” Hy beur regop, nog met my in sy arms.

Traag sit ek regop en voel-voel in die donker vir my klere wat oor die vloer gestrooi lê. Een vir een trek ek my kledingstukke aan terwyl Wian ook aantrek.

Nadat ons aangetrek is, gaan lê ons weer langs mekaar op die mat. Hy vou my in sy baadjie toe, styf in sy arms teen sy bors. Hy soen my liggies op my hare.

“Pragtige, lieflike Larissa!” Ek nestel my styf teen hom aan en raak heerlik aan die slaap.

Hoe lank ons geslaap het, weet ek nie, maar toe ek wakker word, is ek styf gelê in een posisie. Wian haal nog diep en rustig langs my asem.

“Wian, word wakker!”

“Hmm?”

“Ek is styf gelê en wil opstaan. Ek is ook dors.”

Hy sit saam met my regop. “Ek het beskuitjies in my aktetas. My ma het my geleer om altyd TicTacs in my tas te hou vir dae wanneer ek te besig is om te eet.”

“En ek het twee mineraalwater-botteltjies in my tas.”

Langs mekaar sit ons in die donker en eet TicTacs en drink water. Na so ’n heerlike liefdesessie smaak die karige, basiese voedsel soos koningskos.

Ek reik na my handsak en haal my borsel uit. In die donker gaan dit maar voel-voel, maar ek kry my hare uitgeborsel. Wian is ook besig om in die donker sy hare te kam.

“Ons klere is seker baie gekreukel! Wonder wat sal die mense sê as ons hier uitkom?”

“Hulle sal ’n vermoede hê dat ons die tyd goed verwyl het!” Wian se stem het ’n lag in, sodat ek na hom in die donker ’n speelse hou waag. Dit vang hom in sy maag, waarop hy my vasgryp en kielie totdat ek hom smeek om my te los.

“Ek hou baie van jou, Larissa Cilliers! Ek sal jou graag beter en beter wil leer ken. Ek sou nie omgee om met jou te trou nie.”

Ek skrik my asem weg.

“Trou, Wian? Jy ken my skaars. Jy hoef nie te voel omdat jy met my liefdegemaak het, dat jy verplig is om met my te trou nie.”

“Jy is die vrou na wie ek nog altyd gesoek het, Larissa,” sê hy stil en seker in die donkerte.

“Hoe kan jy dit wéét, Wian! Ons is in ongewone omstandighede saamgegooi. Dit beïnvloed mens se realisme. Môre skyn die son weer, dan is jy spyt oor dit wat jy nou gesê het.”

“Ek ken myself, Larissa, en ek sê nie ligtelik so iets nie. Toets my maar.”

“Ek sou graag daaraan wou vasgryp, Wian, want jy is vir my ook baie spesiaal. Maar die lewe en my beroep het my geleer om versigtig te wees, veral waar die risiko’s hoog is.”

“Kom ons neem dit ’n dag op ’n slag, reg?”

Dit klink vir my na ’n redelike voorstel.

“Reg!”

Stil sit ons bymekaar in die donker hysbak, ek voor hom tussen sy opgetrekte bene met my rug teen sy bors; sy arms en sy baadjie knus om my gevou. Ek dink ek is lief vir hierdie man. Hoe is dit moontlik? Kan mens so vinnig vir iemand lief word?

Skielik lig Wian sy kop.

“Sjuut. Luister!”

Ek spits my ore en span my in om te hoor wat hy gehoor het. Dan hoor ons albei dit: duidelike stemme wat na ons toe aankom. Wian laat my los en staan op. “Hallo! Hier is ons!”

Die stemme buite word stil. Dan is daar ’n duidelike klop naby die hysbak se deur. Wian klop drie keer terug en roep weer: “Hier is ons! Tussen vloere 22 en 23!”

“Ons hoor jou! Hoeveel is julle daar?”

“Twee!” antwoord Wian.

“Goed so! Ons is amper by julle!”

Na wat voel soos ’n ewigheid, word die deur van die hysbak deur ’n staalstaaf oopgeforseer. Ongeveer ’n derde van die hysbak se deur is bokant die 23ste vloer waardeur die vriendelike gesig van ’n brandweerman loer.

Eers ek en dan Wian word deur gewillige hande deur die opening na buite getrek.

Ek knip my oë in die helder lig en sukkel om te fokus. Dan kom die beelde weer in fokus. Ek kyk op my polshorlosie: ons was vyf ure in die hysbak! Vyf ure waarin my lewe deur hierdie mooi man aangeraak is en nooit weer dieselfde sal wees nie, dit weet ek verseker. Ek kyk na Wian en glimlag vir hom. Sy mooi grys oë kyk seker en vas in myne, en die glimlag om sy mond is spesiaal vir my.

Nadat die ambulanspersoneel seker gemaak het dat ons albei in goeie gesondheid verkeer, word ons na die naburige hotel met komplimente van die gebou-eienaar geneem sodat ons kan stort en vars aantrek. Klere vanaf die winkeltjie in die hotel word na ons onderskeie kamers gebring.

Toe al die opwinding verby is, staan ek en Wian langs die fontein buite die hotel vir mekaar en kyk. My hande lê in syne, en ek glimlag vir hom.

“Larissa, bly by my en trou met my?”

“Nee, nie nou nie. Die versoeking is groot, glo my. Maar ek wil hê ons moet albei doodseker maak dat dit is wat ons wil hê. Ek gaan terug Pretoria toe en oor ’n maand kom ek terug. Dan kyk ons of dit wat tussen ons begin het, die begin van iets permanent is.”

’n Trek van teleurstelling kom lê oor sy mooi oë. Hy kyk lank en stil na my. Dan knik hy.

“Goed. Maar ek sal na jóú toe kom in Pretoria.”

“Reg!”

Hy trek my styf in sy arms in, en hou my vas teen sy bors, daar waar ek sy hart sterk en seker kan voel klop onder my oor. My arms glip onder sy baadjie om sy warm lyf en ek hou hom styf vas terwyl warm trane in my oë vorm. Hierdie maand gaan moeilik wees, dit weet ek nou al. Maar dis beter so. Hy lig my ken en soen die trane van my wange af. Dan skuif hy sy mooi mond oor my lippe en soen my lank en innig.

Later die aand staan Wian saam met my op die lughawe en wag dat my vlug geroep moet word. Ek staan styf onder sy blad en leun diep teen hom aan. My trane dreig kort-kort, die afskeid onaangenaam.

Dan roep hulle my vlug en die mense begin aanbeweeg na die uitgang toe. Wian draai my na hom toe en vee met sy duime oor my wange.

“Mooi, Larissa. Ek gaan jou mis en na jou verlang. Pas jouself op en ek sien jou oor ’n maand in Pretoria.”

Ek knik, onmagtig om ’n woord uit te kry. Ek soen hom deur my trane, druk vir oulaas my lyf styf teen hom aan en draai dan weg. By die deur gee ek my instapkaartjie, en kyk terug. Die aantreklike, lang man staan steeds op dieselfde plek en kyk stil na my. Ek lig my hand in ’n groet, en glimlag my mooiste vir hom. Hy lig sy hand en blaas liggies ’n soentjie vir my, ’n warm glimlag in sy oë en om sy mond.

Dis Oktober-maand in Pretoria. ’n Pragtige gesig van jakarandas in volblom. My hart en hande is vandag ewe onrustig, want Wian kom vandag. Dis ’n maand sedert ons op die Kaapse lughawe gegroet het, en volgens ooreenkoms nie een keer weer kontak gemaak het nie.

Hierdie maand was vir my bitter swaar. Ek het my doodverlang na hom, en besef dat ek hom liefhet. Snags het my liggaam na hom gesmag, en bedags het ek met groot inspanning my aandag by my werk bepaal.

En vandag sien ek hom weer!

Wian het gister ’n boodskap by my sekretaresse gelaat om ons afspraak vir vandag vir 16h00 te reël. Hy sal my by my kantoor kom oplaai.

Uiteindelik is dit 16h00, en toe ek opkyk, staan hy daar, net binne my kantoordeur. Hy het vandag ’n navy Christian Dior-pak aan, fier en regop met sy mooi grys oë stip op my gerig. Rondom sy mond huiwer ’n sagte glimlag, en sy oë stuur vir my die boodskap dat hy tuisgekom het.

Ek huiwer nie een oomblik nie, maar stap reguit in sy arms in en hou my mond vir sy soen. Hy druk my styf teen sy bors vas en soen my lank en innig.

“Hello, Larissa! Ek het my doodverlang.”

“Ek het ook na jou verlang. Moenie weer van my af weggaan nie!”

“Nooit nie! Sal jy met my trou, Larissa?”

“Ja! So gou as moontlik, asseblief!”


LitNet: 12 Mei 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.