Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Ongetiteld

Grieta Gouws

Ek verlang na jou … Ek wil langs jou in die bed lê en my regterbeen oor joune sit en my voet onder jou linkerbeen indruk sodat ek in jou kan invleg. Ek wil my regterbors op jou linkerbors sit en met jou grys borshare speel. Ek wil jou warm oksel voel en jou ruik en jou warm vel teen my koel vel voel. Ek wil hê dat jy my saggies op my voorkop soen. Ek wil met my plat hand afvryf oor jou maag wat nou effe uitbult waar daar jare gelede 'n inham was as jy op jou rug lê. Dan wil ek met die grys haartjies op jou driehoek speel en vlugtig my hand om hom en die twee ou manne vou. Ek wil hulle nie wakker maak nie, net nag sê, want die vrede is rustig. Ek wil voel hoe jy saggies met jou vingerpunte op my rug vryf. Vryf my … asseblief vryf my!

Ek wil saggies met jou gesels oor die dag. Vir jou vertel wat vir my sleg was en wat lekker. Ek wil luister na wat jy sê. Luister na wat jy gedoen het en wat jy gedink het. Ek wil jou warm asem op my voorkop voel. Dan wil ek omdraai en agteruit in jou druk as ons lepel lê. Ek wil jou swakheid teen my boude voel en jou 'n keer of wat tart deur jou vas te knyp voor jy jou been oor my gooi. Vou om my … asseblief vou om my!

Dan wil ek aan die slaap raak met jou arm om my en my lippe in die waai van jou elmboog. Hou my vas … hou my asseblief vas. Ek is bang en hartseer en ek wil nooit weer uit jou greep uit opstaan nie.

In die nag wil ek agter jou rug wakker word en na jou asemhaling luister en stywer teen jou vasdruk en voel hoe my sestig somers wyk en ons jonk is. Dan wil ek met hom vroetel tot hy groei en jy swaar en warm omdraai, my vashou en dan bo-oor my gaan lê. op my … asseblief lê op my!

Ek wil soggens in my jamies koffie maak as jy die koerant gaan haal, inkom en jou teen my rug druk terwyl jy jou arms om my vou en jy my styf vashou. Hou my vas  … asseblief hou my vas!

Dan wil ek saam met jou in die son op die bank gaan sit en koerant lees en later deur die venster kyk hoe jy hondepatats optel terwyl ek bed opmaak.

Ek wil hê ons moet gesels terwyl ek bad en jy skeer voor ons Kirstenbosch om Houtbaai toe gaan vir vis by Snoekies op die kaai. Op pad wil ek dat ons kastaiings en dennebolle vir die kaggelvuur optel. Ek wil sien hoe jy vir my glimlag en my gryp as ek op die dennenaalde gly, en my styf vashou. Hou my vas … asseblief hou my vas!

Ek wil dat jy my help en my vashou, met my hare speel en met my praat en saam met my lag!

Nou lê jy stom en lam langs my, gereduseer tot fisieke passiwiteit deur die wrede beroerte. En ek vat aan jou en ek streel jou en ek druk jou en ek soen jou en ek lê op jou en ek voer jou en ek was jou en ek hou jou vas … en ek hou jou vas. En ek huil net in die badkamer waar jy nie kan kom nie.

Ek verlang na jou, ek droom van jou, droom OOR jou!

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.