Erotiek / EroticismArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Melt Myburgh
het op Karos langs die Oranjerivier naby Upington grootgeword. In 1992 het hy ’n MA in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf. Hy gee tans onderwys by Graeme College op Grahamstad. Hy is mede-skrywer van die internet-verhaal Die rooi rom@n — ’n webrom@n.
 

’n Fyn Kaapse draai

Melt Myburgh

Blykbaar moes die Kaapstadse simfonie-orkes inderhaas musikante invoer vir hul millenniumkonsert in die Tuine nadat die room van plaaslike musici vooraf deur die Duitse immigrant opgeraap is vir sy nuwejaarsfees in sy herehuis aan die klipmoeë voete van die Apostels.

Wanneer Die Uitgeefster (soos sy na haarself verwys) en Die Jong Skrywer teen agtuur hul opwagting in haar sportmotortjie met sy afslaandak by die gesogte adres in Kampsbaai maak, lek die son vir oulaas teen Seinheuwel se wange, salig onbewus van die Kapenaars se frenetiese geskarrel om hulself te tooi vir die verskeidenheid van partytjies wat die nuwe eeu op onvergeetlike wyse moet begroet.

’n Borselkopknaap met syhandskoene neem die sleutels van die Mercedes woordloos uit Die Uitgeefster se hand en skuif gemaklik agter die stuurwiel in. In haar hooftooisel staan ’n enkele bespikkelde ystervarkpen orent in die ligte soutbries. Die Jong Skrywer sit sy hand liggies aan die binnekant van haar voorarm, bewus van die sigaretkooltjie wat die lang koker smeulend aan die voorpunt afrond. Hulle val geluidloos in agter die gaste wat ’n tou na die witgekalkte atrium vorm. Rustelose afwagting sit in kepe om die genooides se monde soos hulle in geduldige treetjies aanskuifel. In die rigting van die oseaan, bo die herehuis se Mediterreense lyne en Moorse hoekies waarin die dag se laaste skadu’s begin broei, trek die wolke in ’n oranje melkerigheid saam.

Klassieke klanke uit die palmryke binnehof stem die skemering fluweel. Namate hulle nader aan die ingang beweeg, klink die bliepgeluide van die sekuriteitsvroue se elektroniese handspane met skerper intervalle op wanneer dit telkens oor ’n juweelgedrapeerde nek, pols of enkel gly.

“Nêrens kan mens meer kanse waag in die Kaap van bomme nie.” Die Uitgeefster se verlengde oogwimpers flikker op die sagte toon van haar falset-fluistering. Sy knip haar handsakkie oop nog voor die sekuriteitsvrou haar roetine-versoek kan opper. Die Jong Skrywer is bewus van die saaklikheid waarmee die butch sekuriteitsvrou die elektroniese spaan teen sy been opskuur en vir ’n spanningsvolle moment in sy mik laat huiwer.

In die binnehof is ’n orkes van vyftig-plus rondom die marmerfontein opgestel. Die gaste se skoensole klik op die leiklip in die rigting van die ballustrade wat oor die see uitkyk. Wanneer Die Uitgeefster en haar debutant neffens ’n Indiese palm stelling inneem om alles rondom hulle gade te slaan, betrap ’n kelnerin met ’n houtkissie hulle onverhoeds.

Die Uitgeefster is op die punt om ’n aanmerking te maak oor ’n Britse “celebrity” wanneer die kelnerin haar offerande onverwags na hulle uithou. Drie plakkers waarop “Malawi”, “Durban” en “Transkei” in lopende swart skrif gedruk is, markeer die verskeidenheid van die styfgerolde daggazolle wat in die houtkissie aan hulle gebied word. Die Jong Skrywer neem twee joints uit die “Malawi”-vakkie terwyl Die Uitgeefster haar swart koker in haar handsakkie wegdruk. Die vlammetjie weerkaats flikkerend teen die kelnerin se witgestyfde kappie as sy die aansteker voor hul gesigte hou.

Die Jong Skrywer besef dat die dagga besig is om in te skop toe hy agterkom dat die kabbeling van die fonteinwater die sagte klanke van die musiek heeltemal op die agtergrond skuif. Net onder die boonste opvangbak van die fontein merk hy ’n klein, silwer spinnerakkie op. Sou die skoonmakers dit doelbewus misgekyk het?

“Ek wonder hoeveel spoortjies van onuitgespreekte wense sit aan daardie fyn web vas. Of die oorblyfsels van gefluisterde koesterings.” Die Uitgeefster kyk na hom, haar wenkbroue opgetrek. Sy laat die rook in fyn dwarrelings uit haar mond glip nadat sy dit vir ’n paar sekondes in haar longe opgevang gehou het: “Met Herr Leuther se manewales is dit ’n genade dat spinnerakke stom is.”

“Is dit nie ...?” Die Jong Skrywer voltooi nie sy vraag nie, want die bekende Kaapse aktrise en digteres sluit skielik by Die Uitgeefster aan. Sy kan die stomme bewondering op die nuweling se gesig sien, maar sy maak of sy dit nie raaksien nie.

“Laat ek jou voorstel,” probeer sy gesellin hom uit sy penarie van verwondering red.

Voordat Die Uitgeefster egter sy naam kan noem, begin die groot digteres opgewonde te babbel: “Ek wonder watter hedonistiese verrassings wag vanaand op ons. Ek hoop nie hulle het vanaand weer die ou Overbergse Historikus in een van daai leernommertjies genooi nie — hy begin deesdae darem wragtig net soos Saartjie Baartman lyk.” Die Jong Skrywer knip-knip sy oë. Vir ’n oomblik wonder hy of hy hallusineer. Dit voel of sy ore tuit, maar sy kop draai nie. “Maar wag,” gaan die digteres voort, “ek kan nie heel aand praatjies met julle maak nie. Ek moet ’n oog op my man hou.” Met die wegstap kyk sy een keer om: “Onthou om van die crack cocaine te probeer. Dis blêrrie goeie kwaliteit!”

“Verbeel ek my, of is daar ’n effense byt in die lug?” vra Die Uitgeefster en begelei Die Jong Skrywer na die groot houtdeure wat na die binnekant van die huis lei. Op die deur aan die linkerkant is groot panele uitgekerf — naakfigure verstrengel in imbuia, wingerdblare, ferm borste en fallusse wat in alle rigtings uitstaan. ’n Deurlose kou waaruit ’n oopbek-papegaai splinterig vlieg, rond die laaste paneel af.

“Ek moes jou seker vroeër gewaarsku het,” sê Die Uitgeefster, “maar by hierdie punt moet jy van jou klere ontslae raak.” Sy begin haar sequin-toppie oopknoop en lê haar plooierige borste bloot. Sy probeer Die Jong Skrywer gerusstel toe sy agterkom dat hy aarsel: “As voyeur moet jy soms deel word van die situasie wat jy waarneem. Die kuns lê daarin om afstand en perspektief te behou”. En as nagedagte: “Terloops, as jy wil kop uittrek, moet jy nou omdraai.”

’n Kaal Dawidsfiguur neem hul uitrustings by hulle en verdwyn in ’n vertrek wat as stoorplek dien. Hy keer terug met twee silwer armbandjies wat hy behendig om hul polse knoop. “Julle nommers vir die aand,” is al wat hy sê. Die gevoel van selfbewustheid maak vinnig plek vir ’n gevoel van vryheid. Die Jong Skrywer hoop dat hy nie te gou ’n ereksie kry nie.

Wanneer hulle die sag beligte vertrek binnegaan, oorweldig die detail van die dekor Die Jong Skrywer. Hy staar onbeskaamd na die goudvissies wat in plastieksakkies vol water uit die dak hang.

’n Bejaarde man met ’n bril en ’n mengeldrankie in die hand groet Die Uitgeefster joviaal: “En watter jong talent het jy op die lyf geloop?” vra hy terwyl hy Die Jong Skrywer van kop tot tone betrag.

“Ai, Stoffel,” antwoord Die Uitgeefster, “hierdie talentvolle jong man gaan nog jou voetspore in ons letterkunde volstaan, natuurlik as hy bereid is om onder jou kundige hande deur te loop.”

“Wel, dis iets waaroor ons kan onderhandel,” merk Stoffel guitig op. “Ek hoop nie hy is die tipe wat byt na die hand wat aai nie. Jy moet hom waarsku dat die noodlot draai teen die ondankbares.” Stoffel knipoog en knyp Die Jong Skrywer aan sy regtertepel. Jagsheid, of ’n poging om die waarskuwing van so pas te onderspeel? wonder die nuweling.

“Kry vir julle drankies voor julle deurbeweeg,” doen Stoffel aan die hand voor hy omdraai en aan die gesels raak met ’n jong man wat duidelik deur VIGS en te veel son verrinneweer is.

“Ek voel lus vir ietsie sterker,” sê Die Uitgeefster en wink ’n lenige seun met ’n skinkbord nader. Sy rus haar vingers saggies teen die pubiese haartjies onder die jongeling se naeltjie terwyl sy koketterig verneem: “Watter van daardie lyntjies, dink jy, sal hierdie antie in ’n goeie bui sit?”

Die jong man hou ’n gerolde noot teenoor die langste lyn wit poeier op die skinkbord en Die Uitgeefster snuif dit met ’n enkele fyn snorkie op. Haar oë is styf toegeknyp en sy skud haar kop sodat die ystervarkpen die loom aandlug driftig karring. “Jou beurt,” sê sy en hou die noot uit na Die Jong Skrywer.

“Johanna en haar prinsesse,” kondig Die Uitgeefster aan toe hulle na ’n hoek van die vertrek beweeg waar ’n groot groep gaste in paradysgewaad saamdrom. Die Jong Skrywer probeer om nie aan iemand te raak terwyl hy homself posisioneer om verby die toeskouers te sien nie. ’n Ouerige dame met oordadige Cleopatra-grimering skuur teen hom en hy ril effens. Op ’n klein verhogie sit drie beeldskone meisies met visnetkouse en korsette op kroegstoeltjies terwyl ’n groot butch vrou tussen hulle rondbeweeg met ’n peits. Sy laat gly die peits tussen die een meisie se borste deur tot teenaan haar leerbroekie en gebied haar sonder ’n enkele woord om op te staan. Die Uitgeefster spring Die Jong Skrywer voor met ’n antwoord nog voordat hy sy vraag kan formuleer: “Nee, die butch nommer is nié Joan Hambidge nie. Deesdae is dit vir baie lesbiane mode om soos Joan te probeer lyk.” Die opgekommandeerde meisie draai haar rug na die omstanders en begin suggestiewe bewegings met haar agterlyf uitvoer terwyl sy met albei hande aan die houtstoel vashou.

“Kom ons beweeg aan,” sê Die Uitgeefster en laat die Cleopatra-vrou met ’n vuil kyk agter.

“Ek het so pas my konkurrent gesien, en hy het nog steeds sy strikdas aan,” giggel sy toe hulle uit die gemaal kom en na die uitgang beweeg.

“Hoekom is daar so baie literati hier?”

“Kliterati, bedoel jy?” Die Uitgeefster loer skalks na hom. “Herr Leuther is ons grootste weldoener, jy weet. Party mense beweer hy vlug voor die Duitse belastinggaarder uit, maar hy het ’n jarelange konneksie met ons letterkunde. Hy het destyds vir Etienne Leroux in Parys leer ken. Sedertdien is die Afrikaanse letterkunde ’n passie vir hom. Hy ondersteun jong skrywers met allerhande beurse; in ruil vir gunsies, natuurlik. Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel boeke deur die jare opgedra is aan “L”. Dit is alombekend dat hy by meer as een geleentheid die hele oplaag van sukkelende skrywers — groot name — uitgekoop het net om hulle op die publikasielys te hou. Dis natuurlik ’n móét vir enige opkomende skrywer om Herr Leuther ... uhm ... agter hom te hê.”

“O genade,” onderbreek Die Uitgeefster haarself terwyl sy na ’n dofverligte vertrek beduie, “ek dink jy moet alleen hier ingaan. Ek gaan solank vars lug soek.” Sy ignoreer Die Jong Skrywer se tam protesgebaar en druk hom in die rigting van die volgende kamertjie.

Die Jong Skrywer snak na sy asem. Die adrenalien wat die kokaïne deur sy kop jaag, manifesteer in koue hoendervleis op sy vel. In die skemer van die bedompige kamertjie waarin hy hom nou bevind, hang die onmiskenbare reuk van semen. Hy besef dat daar slegs mans in die vertrek is. Die gedempte musiek word gesmoor deur ’n verbete gesteun en gestoei van testosteroon-belaaide passie. Teen die een muur herken hy die enorme Judith en Halifernes-skildery van Marica van Dyk. Reg onder die aardse kleure van die dik olieverf stut sewe, nee agt, mans hulself teen die muur terwyl hulle driftig afgesuig word deur dieselfde aantal knielende figure. Twee van die mans teen die muur soen mekaar terwyl hul lendes bewerk word. Die enigste swart man teen die muur moedig die knielende gesant voor hom aan met ’n teervolle streling oor die skouer. Van die knielendes bevredig hulself met die een hand sonder om die orente here voor hulle vir ’n oomblik af te skeep. Tussen die toeskouers herken die Jong Skrywer vir Stoffel wat himself kreunend verlig terwyl sy hand op ’n harige skouer rus.

Die Jong Skrywer raak eers bewus van sy eie ereksie toe hy per ongeluk teen die jong Maleier voor hom skuur. Wanneer die Maleier hom met ’n uitnodigende glimlag aankyk, draai hy terstond om en loop by die vertrek uit.

Sy oë fokus op skrefies terwyl hy na Die Uitgeefster soek. Rondom hom maal gaste in verskillende stadia van opgewerktheid. Oral staan paartjies van verskillende ouderdomme en kleure in omhelsings. Uit die hoek van sy oog merk Die Jong Skrywer ’n groep van sewe mense wat mekaar in die skemer bevroetel. Hy beweeg met die gang af en stap uit onder ’n prieel op ’n balkon. Die Jong Skrywer gewaar Die Uitgeefster met haar hand op die bleek heup van Die Grensvegter. Sy fluister in dié berugte reisskrywer en fotograaf se oor terwyl hy loer deur ’n teleskoop — een van vele wat in ’n lang ry langs die balkonreling opgestel is. Vir ’n oomblik wens Die Jong Skrywer dat hy sy ereksie kon beteuel, maar hy weet dat die geringste poging om dit weg te steek, die mees opsigtelike verklaring van sy status as sosiaal oningewyde sou wees. Hy neem stelling in agter een van die vakante teleskope om te sien wat Die Grensvegter so interesseer.

In die lens van die teleskoop dobber ’n luukse seiljag op die Atlantiese Oseaan. Kleurvolle liggies hang weerskante van die middelmas af na die jag se boeg en agterstewe. Die Jong Skrywer vroetel met sy regterhand aan ’n draaiknoppie om die fokus in te stel terwyl hy die teleskoop met sy linkerhand bestendig. Aan die voet van die hoofmas sien hy hoe ’n groot, fris man in ’n seerowerskostuum ’n tingerige blonde seun met ’n sweep afransel. Die jongeling se liggaam wring elke keer in ’n vreemdsoortige ekstase wanneer die sweep in ’n ruwe haal oor sy rug val. Met kalm bewegings posisioneer die seerower die jongeling sodat sy marteling optimaal deur die anonieme aangedraaides beloer kan word.
Met haar rug teen die boegreling staan ’n vrou met stywe silikoonkannetjies wydsbeen voor ’n groepie seerowers wat aan haar voete lê. Met die wieg van die seiljag op die deining laat sy ritmies ’n goue straal urine op hulle neer. Teen die voorruit van die kajuit strek ’n figuur gebukkend uit terwyl sy — of is dit ’n hy? — van agter deur ’n matroos bestyg word. Iemand in ’n geruite kleefhemp is besig om op die dak van die kajuit voor die bukkende figuur stelling in te neem terwyl hy sy wit kniebroek oopknoop. Op die dek aan bakboordkant, kan Die Jong Skrywer sien, lê ’n groep wriemelende lywe vervleg in naakte oorgawe aan ’n primitiewe ritueel. Wanneer hy die teleskoop effens na die regterkant swaai, kan Die Jong Skrywer die naam van die seiljag in donker letters uitmaak: ROSA ROSARUM.

Die volgende oomblik verdwyn die toneel in die lens van die teleskoop. “Ken jy die see, meneer?” vra ’n laggende stem. Wanneer Die Jong Skrywer opkyk, staan die Nobelprys-benoemde met ’n breë glimlag voor hom. “Ja,” gaan die Nobelprys-benoemde voort, “as jy eers kennis van die nag opgedoen het, breek die dag nooit weer op dieselfde wyse nie.” Die Jong Skrywer staan met ’n verwarde uitdrukking terwyl ’n middeljarige blondine met ’n sjampanjebottel in die hand die Nobelprys-benoemde weglok.

’n Hand op sy rug laat Die Jong Skrywer in sy spore omdraai. Die jong Maleier se tande skitter in die aandlig. “Herr Leuther verlang jou teenwoordigheid in sy folterkamer.” Iets in die jong man se stem laat Die Jong Skrywer besef dat daar nie ’n versoek aan hom gerig word nie; eerder ’n opdrag. Hy kyk ietwat benoud of hy nie Die Uitgeefster gewaar nie. Geen teken van sy begeleidster nie.

Die ingelegde klip voel kil en klam onder Die Jong Skrywer se kaal voete soos hy sy weg vind in die villa se doolhof waardeur die jong man hom neem. Hulle vleg deur gangetjies, deur oorvol vertrekke en met stelle trappe af. Die jongeling stap gerig soos iemand wat sy weg ken. Hulle dring deur ’n volgepakte rokerige saal waarin ’n menigte om ’n tipe altaar vergader. In die verbygaan, al beurend deur ’n swetterjoel sweterige liggame, merk hy ’n jong meisie uitgestrek op die altaar lê. Haar liggaam is toegepak deur vrugte van alle kleure en geure. Twee gemaskerde figure druk die taai sap van goudgeel perskes oor haar goudbruin liggaam uit. Oor die luidsprekers eggo ’n gewyde inkantasie. Die klewerige sap drup veselrig af teen die kante van die altaar. Die laaste blik wat Die Jong Skrywer op die toneel het, is wanneer een van die gemaskerde figure ’n taai perskepit versigtig op haar voorkop plaas.

Die Jong Skrywer en die Maleier kom te staan voor ’n groot dubbeldeur wat, volgens sy berekenings, op die grondvloer van die villa moet wees. Voor die deur staan ’n groot swart figuur met ’n dun spies in sy regterhand. “Zebulon sal jou deurlaat,” sê die Maleier, nou minder selfvoldaan, en verdwyn in die donkerte.

“Zebulon Dread?” vra Die Jong Skrywer. Die swart man gee ’n snork van minagting en druk die groot deure oop. Wanneer Die Jong Skrywer se oë aan die swak lig gewoond raak, sien hy dat ’n massa-orgie rondom hom aan die gang is. Aan die einde van die vertrek, omring deur kopulerende gedaantes, sien hy ’n verrimpelde ou man in ’n rolstoel sit. Die bleek ou man beduie hom met ’n benerige vinger om nader te beweeg. Hy stamp teen ’n swetsende dwerg wat ’n skinkbord waarop ’n berg kokaïne lê, versigtig balanseer. Wanneer hy die ou man bereik, sien hy dat hy ’n suurstofmasker oor sy gesig hou. Langs hom lê ’n smeulende opiumpyp met ’n lang rubberkonneksie. “Herr Leuther?”

Die ou man skuif die suurstofmasker af met ’n moeisame beweging af sodat dit om sy nek sit.

“Hier,” hyg die ou man in ’n swaar Duitse aksent, “ek het ’n geskenk vir jou.” Hy tel ’n mes met ’n ivoorhef langs hom op en hou dit na Die Jong Skrywer uit. “Dè, gaan slyp jou metafore.” Hy neem die mes versigtig uit die hortende ou man se greep.

Herr Leuther beduie hom met ’n geïrriteerde handgebaar weg en voel-voel na die suurstofmasker wat om sy keelspek sluit.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.