LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Piet van Rooyen: Die olifantjagters (1997)

Chris van der Merwe

Die mans het dit moeilik, die laaste paar dekades — in die samelewing en in die literatuur. Met die sterk oplewing van die feminisme vanaf die laat sestigerjare is die man in die spervuur geplaas — vrouens het die diskriminasie teen die vrou in ’n mansgedomineerde samelewing beveg. Ook in die literatuur het die vrou as kritikus, as skrywer en as romankarakter na die sentrum beweeg. In die Afrikaanse literatuur moes die Afrikaanse vaderfiguur boonop die grootste deel van die skuld vir apartheid dra, en teen die oorheersing van die vader in die huis en buite die huis het die Afrikaanse letterkunde sterk geprotesteer. Veral vanaf die tagtigerjare was dit opvallend, onder andere in die prosa van Eben Venter en Etienne van Heerden. Ook die gay-tema het algemeen geword, byvoorbeeld in die kortverhale van Koos Prinsloo. Die sagte man het sy intrede in die Afrikaanse prosa gemaak, en die macho-man was uit, of ten minste in die moeilikheid, soos in die prosa van Alexander Strachan.

Maar in Piet van Rooyen se Die olifantjagters is daar weer ’n macho-manlike man in die sentrum, saam met ’n ou bekende “manlike” motief soos die olifantjag. In die primitiewe wêreld wat hier uitgebeeld word, word daar geveg om die vrou — die sterkste een kry haar as “besit”. Dit is die man wat op ’n innerlike ontdekkingstog gaan, en die vrou is sy hulp om hom te steun en te help. So ’n inleidende karakterisering van die boek kan dalk genoeg wees om vurige feministe, en selfs flouerige feministe, van die boek weg te hou; maar ek sal probeer aantoon dat ons hier ’n boek het vir meer as manslesers.

Die roman werk met ’n motief wat nou alreeds welbekend in die Afrikaanse prosa is, onder andere in die werk van André Brink, Wilma Stockenström en Karel Schoeman — die reis na die binneland van Afrika. Dit is ’n reis wat ’n ontdekking van Afrika inhou, maar ook ’n innerlike ontdekking van die self.

Van Rooyen se reisverhaal is egter uniek — in die eerste plek as gevolg van die skrywer se uitgebreide kennis van Afrika, van olifante en van die olifantjag. Sy olifante is eerstens herkenbare olifante, voordat hulle groei tot simbole; sy jagverhaal is volkome oortuigend as jagverhaal, voordat dit ontwikkel tot ’n sielkundige reis in die self.

Die primitiewe wêreld van Afrika word gekontrasteer met die Westerse beskawing, verteenwoordig deur Westerlinge wat die Boesmans in Namibië tot selfstandigheid wil laat ontwikkel. Hierdie Westerse raam is ’n noodsaaklike inleiding tot die storie: dit verskaf die motivering vir waarom die verteller na ’n alternatiewe leefwyse soek, weg van die oorbeskaafde, rasionalistiese Westerlinge.

Aan die hoof van die Westerse stigting staan die twee vroue Christa en Christine — hulle “gebruik ’n groot deel van hul energie om almal te opponeer wat ander sienings het oor Boesman-ontwikkeling” (bl. 8). Hulle patroniserende houding is, binne die geheel van die roman, erg ironies. Hierdie twee vroue, wat soveel van bestuur en organiseer weet, het hul vroulike seksualiteit verloor — iets wat die Boesmanvrou nog besit. Christine het ’n geskende gesig (bl. 39), waarskynlik die teken van ’n geskende innerlike, maar sy wil nie oor haar littekens, uiterlik en innerlik, nadink of praat nie.

Hulle is ateïste, ondanks hulle Christelik-klinkende name; maar hoewel hulle hewig protesteer as die verteller hulle “missionaries” noem, het hulle self veel van sendelinge weg, wat die “primitiewe” mense tot ’n “rasionele” Westerse leefwyse wil “verhef”. Christa en Christine se ateïsme is miskien nóg ’n simptoom van hul oorbeskaafdheid, van die feit dat hulle kontak verloor het met die natuur en die natuurlike kant van die self; dat hulle nie met ontsag vervul kan word vir die ontsagwekkende nie; dat hulle die wonders van die aarde miskyk; dat daar in hulle rasionalisme nie plek is vir mistiek en ritueel nie. Van hierdie dinge kan hulle veel by die Boesmans leer; dit is nie die Westerling wat die Boesman moet red nie, maar omgekeerd.

Die effek van Westerse invloed op die Boesmans is maar twyfelagtig. Plastieksakke en papier lê die wêreld vol; die “Buschmansglück” (Boesmansgeluk) wat hier op ’n houtbord uitgebrand is, is bra ironies (bl. 10). Die romantisering van die Boesmans se lewe word uit ’n valse Westerse perspektief, in ’n Westerse taal, gedoen. As dit nie Duits is nie, is dit Engels: “Departement Onderwys en Kultuur het skooltjies opgesit waar die Boesmans moet leer Engels praat en dink” (bl. 13). Wat hier aan die gang is, is die kolonisasie van die menslike gees.

Ook die kontak met ander mense van Afrika is vir die Boesmans ’n bedreiging. Deur die kontak met Capriviane versprei sifilis en vigs met rasse skrede (bl. 45). Indringers koloniseer die Boesman se gees en verwoes sy liggaam; maar die ironie van die saak is dat die Boesman wie se identiteit vernietig word, juis soveel het om te gee aan diegene wat vir hulle bedreig.

Die probleem met die kontak tussen die Boesmans en die Weste is, tipies, dat die meeste invloed uitgaan van die sterkere na die swakkere — al is dit dan dikwels nie ’n invloed ten goede nie. Die Boesmans word byvoorbeeld aangetrek deur Westerse vermaak en die uitvindings van Westerse tegnologie — hulle speel kaart en luister na musiek oor ’n bandmasjien (bl. 11).

Die verteller is ’n tussenfiguur, ’n Afrikaner met ’n gedeeltelik-Westerse afkoms, maar met ’n weersin in die mentaliteit van die Europeërs in Namibië; self nie ’n Boesman nie, maar aangetrokke tot baie van wat hulle is en weet. In dié opsig is hy soos die Duitse olifantjagter Huger, wat vir hom die Boesmanvrou / Asa as vrou geneem het. Soos Huger dit stel: “Ek het in twee jaar saam met haar meer geleer as in veertien jaar skool in Duitsland” (bl. 32).

Die verteller se reis na die binneland, saam met Huger, is ’n reis weg van Christa en Christine, weg van die Westerse mentaliteit, dieper in die hart van Afrika in, waarin hy ook ten diepste beïnvloed word deur sy metgeselle, in sonderheid die Boesmanvrou / Asa. Dis ’n reis waarin hy ’n verlore deel van die self sal herontdek:

    In my onbewuste skaar ek my seker by kop-analiseerders soos Jung wat glo dat die primitiewe rasse soos die Boesmans iets uit ons onskuldige pasgeskape natuur oorhou waarna ons kan teruggryp as die ontgogeling te dringend raak (bl. 43).

Met sy koms na Boesmanland wou die verteller van alles wegvlug, ook van homself:

    Hier in Boesmanland is ek ’n skip op die diepsee, losgeseil van alle ankers en hawens. Dit is wat ek hier kom soek het: om vry te wees, om toe te laat dat die wind my saamvat soos hy waai (...) My koms na Boesmanland is seker maar ’n poging om weg te kom van alles wat my in die beskawing aan myself herinner.

Maar aan die ander kant is daar by hom ’n sterk besef van verbondenheid aan ander:

    Tog kan ek nie wegkom van die feit dat geen mens ’n eiland, volledig in homself is nie, maar altyd deel van ’n vasteland, van ’n groter geheel (bl. 41).

Op sy jagtog, wat skynbaar ’n vlug weg van alles is, word hy met sy dieper self gekonfronteer; leer hy van die redding wat ’n vrou hom kan bied; en het hy ’n mistieke ervaring. Soos Jona wat van God wou wegvlug, maar God as ‘t ware in die groot vis ontmoet het, ontmoet die verteller God in die gedaante van ’n olifant. Hy word gedryf deur ’n obsessie om die olifant te agterhaal, maar in ’n sekere sin is dit die olifant wat hom uiteindelik inhaal. Soos die walvis in Melville se beroemde roman Moby Dick kry die olifant hier mitiese afmetinge; maar meer as in Melville se roman, bied hierdie agtervolging hoop en betekenis.

Dit is ’n jagtog wat in drie fases voltrek word.

Die eerste jag is meer van ’n toeristiese aangeleentheid, waarin hulle ’n Argentynse makelaar help om ’n olifant te skiet. Hierna maak die reusagtige, mitiese olifantbul Maxamesi sy verskyning, en van hier af word die jagtog ’n reis wat hulle tot in hul diepste innerlike raak.

Op die tweede jaagtog word Maxamesi gewond; die derde tog is die agtervolging van Maxamesi totdat hulle hom vind.

Maxamesi is ’n reusagtige olifant, wie se ivoor hulle kan ryk maak, wie se vleis genoeg sal wees vir ’n skare mense. Huger het hom een keer gesien, en daarna nooit weer opgehou om hom te soek nie. Maxamesi is half buite hom, half in hom — want van sy kinderjare droom hy oor olifante. Maxamesi is op realistiese vlak die jagter se droom; op simboliese vlak verteenwoordig hy dit wat die mens in sy diepste wese verlang: die vervulling van sy wesenlike begeerte vir innerlike heelheid.

Die wêreld waardeur hulle beweeg, is gevul met mistieke betekenis; die rituele, gebruike en verhale van die Boesmans versterk die mistieke sfeer. So is daar die Boesmansprokie van die olifant wat met die reën getroud was (bl. 92-93). Dis ’n storie vol simboliek — van ’n mistieke verbintenis, van sterwe wat lewe bring, van redding deur duister heen. Die verhaal laat die verteller “aan iets Bybels dink: Noag en sy vloed, Jona in die walvis, iets van die Verlosser en die graf, die drie dae in die Doderyk, die opstanding en die uitgestorte seën” (bl. 93). Dit herinner aan die oeroue wortels van die Christelike simboliek, en aan parallelle opvattinge van sendelinge en “heidene”.

Vir die Boesmans, anders as vir Christene, is God ver en onbetrokke by die mens (bl. 133). Nogtans het hulle maniere gevind om ’n mistieke religieuse belewenis te hê. Een daarvan is die dans, ’n middel om oor te gaan in die trans-ervaring, die verlaat van die liggaam, ’n tipe sterwe en tegelyk intens-lewende ekstase. Op die dans volg die ritueel van die sjamaan, wat sy kop in ’n vuur druk en daarna op ’n sieke gaan lê; asof die sjamaan middelaar is wat die hitte van die vuur oordra op die sieke wat dit nodig het.

Die Boesmans is besonder bewus van die geheimsinnige genesende krag wat in aardse dinge is: in water, in vuur en in heuning: “As jy weet waar om te soek, as die geluk hulle vir jou oopmaak, kan die aarde jou baie dinge gee” (bl. 205.)

Vir die Boesmans is God ver bo die mens; maar aan die ander kant het hulle goddelike kragte ontdek in die aardse dinge rondom hulle waarvan die beskaafde Westerse mens nie meer notisie neem nie.

Dit is asof elke natuurding ’n misterieuse lewe kry: die landskap en diere van Afrika word gelaai met ’n innerlike lewe. Vleis en bloed, water en vuur speel ’n besondere rol.

Dit blyk dat die olifant op wie se spoor hulle is, in der waarheid die een is wat hulle lei en red uit gevaar. Dit is die olifant wat hulle deur ’n rivier lei, byna soos die Israeliete se tog deur die Jordaan, na ’n nuwe gebied; die olifant lei hulle veilig deur die slagveld van landmyne (bl. 183); hy trap ’n gat oop waardeur hulle lewegewende heuning kan vind (bl. 202); in ’n onverklaarbare, vernietigende veldbrand is dit olifantpanne wat hulle red.

Uiteindelik loop die jagtog uit op die konfrontasie met Maxamesi, op die vernietiging van een van die indrukwekkendste diere van Afrika. Die olifant se dood is egter nie vir die verteller ’n oorwinning nie, maar eintlik die omgekeerde:

    Een lang afgemete ewigheid sien ek hoe hy op sy knieë probeer sak om my met die voorkop plat te druk, maar sy tande is te lank om behoorlik te buk. Ek lê en huil sag in my vuis. Sal so ’n dier jou genadig wees as hy sien hoe jammer jy oor alles is? Asof van kilometers weg hoor ek weer twee skote knal. Die olifant draai stadig om en begin wegstap deur die bos. ’n Ent verder hoor ek hom val, ’n dowwe slag, maar een wat die grond laat dreun” (bl. 222).

Die gebeurtenis laat die verteller met ’n diepe gevoel van leegheid en skuld:

    Op daardie oomblik, lang Huger met die geweer in sy hande, het ek die nutteloosheid van ons hele projek waerklik verstaaan, die holheid, die futiliteit van ons bestaan in Afrika, ons pogings om kamtig “alles vir die Boesmans” te doen (bl. 223).

Hierdie skuldgevoel sal hom toenemend kwel; veral nadat hy / Asa as vrou by Huger afgeneem het en Huger homself om die lewe gebring het. Innerlik leeg, en liggaamlik uitgeput, word die terugtog ’n toenemende marteling. Dit is / Asa wat sy lewe red deur haar vol water te drink en in sy mond te urineer; en deur duiwe te jag en vir hom te gee. Die duiwe, soos so baie ander dinge, kry ’n geestelike betekenis: “Duiwe is voëls met deernis; op hulle lê die bloed van die Heer” (bl. 265).

Dit is belangrik dat hierdie liggaamlike en geestelike verlossing deur die bemiddeling van die vrou / Asa plaasgevind het. / Asa, as vrou en as primitiewe mens, help hom om die verlore deel van die self te vind.

Hierna, waarskynlik as gevolg van sy uiterste liggaamlike ontberings, gaan hy in ’n trans-ervaring, waarin hy ’n staat van verhoogde persepsie bereik (hoofstuk 59). Op die vlak van die gebeure was die konfrontasie met Maxamesi die hoogtepunt; op die vlak van die innerlike reis is hierdie ervaring die klimaks. Sy visioen is van mistieke religieuse simbole deurtrek: water, bloed, kruis, duif en son. Weer eens is die Boesmanvrou / Asa die bemiddelaar tot sy verlossing. Dit is die bekende Christelike nagmaalsboodskap van bloed wat reinig, van lewe deur die dood, van skuld en bevryding; maar dis ook anders. ’n Wesenlike deel van die verlossing kom tot stand deur die vind van die verlore “primitiewe” deel van die psige, deur die herontdekking van die natuurlike aardse kragte, deur bemiddeling van ’n Boesmanvrou wat na aan die natuur leef. ’n Grootse sintese word bereik tussen die Christelike simboliek en leer en die primitiewe wysheid van die Boesmans.

Die verhouding tussen die verteller en / Asa is besonder interessant. Hulle kan nie mekaar se tale praat nie, maar wat die verteller van haar moet leer, het taal nie nodig nie — kan trouens nie in taal vasgevang word nie. Miskien is talige kommunikasie juis ’n struikelblok vir die lesse wat die verteller moet leer. Dis ’n aardse, liggaamlike kommunikasie wat tussen hulle plaasvind, die soort kommunikasie wat in ’n oorbeskaafde samelewing deur taalkommunikasie verdring kan word. Wat / Asa hom leer, dring dieper en is blywender as enigiets wat hy vantevore gehoor of gelees het. Die roman het ’n oop einde, waarin die besluit nog geneem moet word of hulle by mekaar sal bly — maar selfs al sou hulle skei, sal / Asa altyd ’n wesenlike deel van hom wees.

Dit is belangrik om te onthou dat / Asa nie ’n willose dienaar van die man is nie. Sy besluit self watter man sy wil hê — eers vir Huger, later vir die verteller. Telkens neem sy die inisiatief; en aan die einde sal sy weer eens self die besluit neem. Sy behoort net uit eie keuse aan ’n man. Die roman moet gelees word, nie as ’n manlik-gesentreerde boek nie, maar eerder as ’n erkenning van die innerlike krag van die vrou wat dié van die man oortref; dit is ’n uitroep van hulp aan haar, sodat die man se manlikheid kan herstel en hy innerlik heel kan word.

My bespreking van Die olifantjagters het — miskien ten onregte — veral gesentreer in die simboliese betekenis van die boek en het die realistiese kant daarvan verwaarloos — die oortuigende uitbeelding van die meedoënlose reis, die opwindende jag, en die glorie en verskrikking van die primitiewe Afrika-wêreld.

Dit is duidelik dat die skrywer weet waarvan hy praat, en weet hoe om ’n storie te vertel.

Ek het gehoor daar word gesoek na geskikte romans om te verfilm. Hierdie boek, met sy manjifieke uitbeelding van die onbekende Afrika, gepaard met ’n diepsinnige ontginning van religieuse en sielkundige temas — dit is nou die ideale geskenk vir ’n voornemende filmmaker!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.