LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Etienne van Heerden: Kikoejoe

Chris van der Merwe

Kikoejoe, koop hierDeesdae begin ernstige skrywers al hoe meer aandag aan die storie-element in hul verhale te gee, en die ou grens tussen “hoë” en “lae” literatuur is (genadiglik) aan die vervaag. ’n Genre wat as ‘t ware “vra” om deur literêre skrywers benut te word, is dié van die spanningsverhaal en speurverhaal. Reeds in 1964 het Etienne Leroux met Een vir Azazel ’n diepsinnige roman geskryf op die patroon van die speurverhaal. En in 1996 verskyn daar weer ’n meesterlike literêre roman op die patroon van die “whodunnit”, naamlik Kikoejoe deur Etienne van Heerden.

Een van die aantreklikhede van die tradisionele speurverhaal is die duidelike onderskeid tussen goed en kwaad, en die oorwinning van die goeie aan die einde — die misdadiger word uiteindelik deur die speurder vasgetrek. Etienne van Heerden gebruik hierdie patroon, maar vul dit met allerlei ironieë en dubbelsinnighede.

Kikoejoe handel oor ’n middeljarige skrywer, Fabian, wat in New York sit en terugdink oor die somer van 1960 op Halesowen, die vakansieoord van sy ouers op hul plaas in die Karoo. Verskeie merkwaardige gaste het daardie somer op Halesowen vertoef: onder andere Pa se mannetjiesrige suster Geert, op besoek uit Amsterdam, besig met opspraakwekkende navorsing oor die familie; dr. Clark, wat Fabian se pa vir depressie behandel en onder andere met LSD as medisyne eksperimenteer; die “Veteraan” wat homself as oudgediende uit die Tweede Wêreldoorlog voordoen en Fabian se ma se hart steel met sy bekoorlike verhale; Pa se verkrampte broer Boeta uit Pretoria, met ’n bediende wat saamkom — die pragtige Sjona-vrou Tsitsi op wie Reuben, die hoofkelner van Halesowen, smoorverlief raak.

Twee groot gebeurtenisse in die geskiedenis van die omgewing val saam in hierdie somer: die besoek van dr. Verwoerd aan Cradock, en die optrede van die cowboy-sanger Charles Jacoby op die dorp. Maar Verwoerd en Jacoby word mettertyd op die agtergrond geskuif deur enkele dramatiese gebeurtenisse op Halesowen. Tydens die besoek van dr. Verwoerd word die plaashek deur een van die werkers oopgelaat sodat ’n hele aantal plaasdiere lusern vreet en vrek. ’n Kommando van boere ondervra Pa se werkers om die skuldige te ontdek en dan word die mied aan die brand gesteek waarin die hoofverdagte, die werker Windpomp, homself versteek het, en word die brandende mied ’n smeulende grafkamer vir Windpomp. ’n Tweede skrynende gebeurtenis is die nagtelike verkragting van die beeldskone Tsitsi — die vraag is, wie is die skuldige? Want “dit kon een en almal gewees het, iedereen” (bl. 244). Met hierdie vraag word die genre van die speurverhaal geaktiveer.

Die eerste vanselfsprekende verdagte is Kikoejoe, die monsteragtige dier wat in die nag op Halesowen rondsluip, vir wie die Veteraan en Fabian vergeefs probeer opspoor en doodmaak.

Die dier word “Kikoejoe” genoem omdat sy besoeke aan die werf telkens gekenmerk word deur die beskadiging van die kikoejoegrasperk. Die naam is verder gepas omdat Kikoejoe ’n grassoort is wat besonder moeilik is om uit te roei — op die simboliese vlak verteenwoordig “Kikoejoe” dus die onuitroeibare monster in elke mens. Die dier is simbolies van die onderdrukte skadukant in elke mens se psige, die donker skuilplek van gewelddadigheid en onbeteuelde seksuele drif. Simbolies gesien het almal op Halesowen dus vir Tsitsi verkrag, omdat die aggressie en seksuele veroweringsdrif wat in elke mens bestaan, vir haar dood verantwoordelik is. Kikoejoe is die skuldige, maar nie die Kikoejoe “daarbuite” nie, maar die Kikoejoe “hierbinne”.

Hiermee dan die eerste variasie op die patroon van die spanningsverhaal — nie een persoon, of enkeles nie, maar almal is skuldig. Nogtans word daar, op die realistiese vlak, wel ’n antwoord gegee op die vraag wie vir Tsitsi verkrag het. Vir die leser wat misdade wil ontrafel, is die leidrade aanwesig, en wie fyn lees, sal die skuldige persoon kan aanwys — die een wat die Kikoejoe-kant in homself so onderdruk dat hy ’n lewe van leuen lei. (Genoeg gesê — snuffel maar self vir die leidrade, en vergeet nie van bladsy 294 nie.)

Een persoon is die skuldige, maar Kikoejoe (die “skuldige”) is ook in almal. Die mens is geneig om die “Kikoejoe” in jou wat vir jouself en die gemeenskap onaanvaarbaar is, te ontken en te onderdruk, en die aanvaarbare na te streef. In die roman blyk dit dat die onderdrukking van Kikoejoe dit nie kan vernietig nie; inteendeel, dat die onderdrukking die “monster” met dubbele krag laat terugkeer. ’n Verstandiger benadering is om die “dier” te konfronteer, selfs al is dit pynlik; om dit te aanvaar as deel van die psige wat nie weggewens kan word nie; om dit te akkommodeer in plaas van om dit te probeer vernietig.

Hierdie tema word op ’n simboliese manier “verduidelik” deur die feit dat die besoekers op Halesowen oor die kikoejoegrasperk moet loop om by die ablusieblok te kom. Dit wil sê, die ontmoeting met “kikoejoe” is noodsaaklik voordat die (psigiese) reiniging kan plaasvind.

Die mens wil die rasionele, geordende kant skei van die irrasionele, impulsiewe, “primitiewe” kant van die psige; eersgenoemde is “goed”, laasgenoemde is “boos”. Maar die twee kan nie so van mekaar losgemaak word nie. Dit word pragtig geïllustreer met die aankoms van Charles Jacoby in ’n trein op die stasie van Cradock. Die kragtige swart stoomtrein is simbolies van die magte uit die onbewuste — dit is wat die mens “dryf”. Die “ordentlike” Jacoby met sy wit perd Valour is simbolies van die rasionele, die “mooie” en ordelike.

Die seun Fabian maak die aankoms van Jacoby mee. Fabian sit hoog op ’n watertoring — simbolies van die mense se strewe na die “hoë”, die “suiwere”. Maar, soos Ikaros al lank gelede uitgevind het — wie te hoog wil vlieg, kom tot ’n val. Fabian val van sy toring en verloor sy bewussyn — en word as ‘t ware as ’n nuwe mens wakker, met ’n nuwe lewensinsig. Net voor sy val het hy hom verbeel hy jaag op die rug van die perd Valour oor die vlakte; maar hierdie visioen word teruggedring deur die herinnering aan die donker dier wat oral op die plaas rondsluip (bl. 97-98). Valour en Kikoejoe, “goed” en “kwaad”, kan nie van mekaar geskei word nie — albei is deel van die mens. Wie op Valour wil wegjaag, word onvermydelik deur Kikoejoe gekonfronteer.

Die konfrontasie met Kikoejoe is nie net ’n onaangename ervaring nie; daar is ook iets positiefs aan verbonde. Die ontdekking van jou innerlike wonde, van jou verskeurdheid en onvolmaaktheid, is ’n stimulus tot kreatiwiteit, tot die vertel van verhale. Soos tante Geert dit stel: “Almal is op ’n manier in die enkel gepik” — waarop dr. Clark, die psigiater, reageer: “‘Ourselves as epic stories’ — ons moet die wond al vertellende heel. Dis terapie” (bl. 141). Of, soos hy dit later stel, “Die wond is ’n mond wat praat” (145). Daarvan is ook Kikoejoe ’n voorbeeld — ’n verhaal gebore uit die menslike gebrokenheid, uit die verlange na die volmaakte, uit die hunkering na ’n verlore paradys.

Tot dusver is alleen na die psigiese kant van die Kikoejoe-simboliek gekyk. Daar is egter ook ’n sosiale betekenis aan die dier verbonde wat van die uiterste belang is. “Kikoejoe” is nie net die naam van ’n grassoort nie, maar ook van ’n stam in Kenia wat in die vyftigerjare aktief aan die opstand teen blanke oorheersing deelgeneem het. Die opstand van swartmense is die sosiale parallel van die opstand van die skadusy in die psige van die enkeling. Fabian se pa se woedende reaksie op die bewerings van sy suster Geert dat hul voorgeslagte nie “suiwer blank” was nie, is ’n tipiese voorbeeld van die weiering om die Afrika-element in die Afrikaner te erken en die Afrikaan as medeburger van die land te aanvaar.

Terwyl Verwoerd sy droom van ’n “wit Suid-Afrika” op Cradock propageer, is swartmense besig met allerlei ondergrondse bedrywighede teen die blanke bewind — maar hiervan is die blankes onbewus. Die brandende werker in die mied is ’n aangrypende beeld van die Afrikaan wat ly buite die gesigsveld van die blanke, deur sy (die blanke se) toedoen. Soos met die indiwiduele Kikoejoe in die psige, is daar die suggestie in die roman dat die aanvaarding van Afrika in en om die Afrikaner nuwe kreatiewe kragte sou kon vrystel. Nie verniet is die naam van die lydende werker “Windpomp” nie — daar is ondergrondse water wat hy sou kon aanwys.

Fabian se naam en die manier waarop hy oor die land skryf, verbind hom met die “Fabian Society”, waarvan George Bernard Shaw die beroemdste lid was, wat hulle beywer het om deur hul geskrifte die doelstellings van die sosialisme te bevorder. Deur die oorredende mag van die taal eerder as deur die strewe na politieke mag wou hulle die samelewing verander. Van belang in dié verband is die toneel waar Fabian en sy swart vriend Willempie die beendere van Olive Schreiner uit die graf laat “opstaan”. Dis ’n toneel wat herinner aan Opperman se “Gebed om die gebeente”, en Esegiël se visioen van die herrysenis van Israel. Teenoor die steriele visioen van Verwoerd wil Fabian ’n alternatiewe visioen stel waarin hy by Olive Schreiner aansluit: van ’n land waarin die onderdruktes vry sal word — die swartmense en die vroue (van alle rasse).

Aan die een kant is daar in die roman ’n dwingende besef van ’n sosiale “werklikheid” wat gekonfronteer moet word; aan die ander kant is daar ’n grondige, postmodernistiese twyfel aan die skrywer (en die mens in die algemeen) se vermoë om “die werklikheid” te ken en in taal weer te gee. Vroeg in die roman, op bl. 12-13, word die leser gewaarsku om die werk nie as ’n realistiese teks te lees wat lewensgetrouheid probeer nastreef nie. Die somer van 1960 waarvan vertel word, is miskien nie een somer nie, maar vele somers wat geteleskopeer word. In die geheue setel nie bloot die spieëlbeelde van wat gebeur het nie; dit is ook “’n skelm opvoerder van verbeeldings, vermoedens, hunkerings”. “Waarskynlik gaan dit eintlik maar oor vrese en hunkerings wat tot verhaal gevoer word, opgevoer ... in die herinnering aan wat dalk ’n skynsomer was, daardie Halesowen-somer op Soebatsfontein” (bl. 13).

Die vertellings is dus subjektief, en Kikoejoe blyk uiteindelik ’n roman te wees wat net soveel, of meer, van Fabian openbaar as van die tyd en plek waarvan hy vertel. Wat jy in ander raaksien, wat jy jou van hulle verbeel, openbaar veel van jouself. Dit blyk dat Fabian geobsedeerd is met fundamentele aspekte van die menslike bestaan: in die worsteling met ’n sosiale en indiwiduele “kikoejoe”; in die gewonde psige; in die menslike onvoltooidheid en verlange; en in die genesende krag van vertelling en kreatiwiteit. Die roman as geheel is ’n kleurryke kaleidoskoop, nie net van die Suid-Afrikaanse landskap nie, maar ook van die psige van die verteller-karakter Fabian.

Hiermee kry die roman as speurverhaal ’n nuwe, verrassende gestalte. Want die “skuldige” agter alles, die skepper van Kikoejoe, is die skrywer-verteller Fabian (en agter Fabian is natuurlik die skrywer Etienne van Heerden). In die laaste instansie moet die skrywer-verteller die verantwoordelikheid vir alles dra, en dit word ’n boeiende spel vir die leser om Fabian oral te ontdek. Fabian is in almal en alles, en sommige van die karakters is duidelike alter ego’s van Fabian, byvoorbeeld die onrustige tante Geert, soos Fabian afwisselend afgestoot en aangetrek deur haar geboortewêreld.

’n Uiters interessante karakter is die kelner Reuben, die swart alter ego van die blanke Fabian. Reuben is die enigste een op die plaas wat weet hoe om die vuur te stook vir die “donkie” — die stoomenjin wat krag vir die plaas verskaf. Die donkie is simbolies van die kragtige energie uit die onbewuste: soos die skrywer hom met hierdie gevaarlike kragte besig hou en dit op ’n positiewe manier in sy kunswerk benut en beheer, beheer Reuben die gevaarlike stoomenjin. Wanneer Reuben die donkie “Antjie Provee” doop, die naam van die beweerde gekleurde voorsaat in die familiegeskiedenis, dan dui hy, soos Fabian, op die onderdrukte Afrikaan-skadufiguur in die onbewuste van die Afrikaner.

Reuben is, soos Fabian, ’n randpersoon, op die grens tussen twee wêrelde. Soos Fabian, is hy leergierig, gretig om te ontsnap uit die eng wêreld waarin hy deur sy geboorte beland het. Reuben se geliefde Tsitsi word verkrag, en later pleeg sy selfmoord; dit vorm ’n parallel met die toneel waarin Fabian se geliefde sterf, deur moord (of selfmoord?) — bl. 266-7 — in albei gevalle beteken dit die vernietiging van paradyslike geluk.

Die sterwe van die twee beeldskone, onskuldige jong vroue dui waarskynlik nie net op die vernietiging van die paradys nie; hulle is ook argetipiese sondebok-figure wat, soos in Etienne Leroux se Een vir Azazel, vir die duiwelse monster geoffer moet word om vir menslike skuld te betaal en die voortsetting van die lewe moontlik te maak. Die sondebok-tema is ook aanwesig in die dramatiese toneel waarin die onskuldige Reuben deur die werkers bedreig en daarvan beskuldig word dat hy die staldeur oopgelos het sodat Jacoby se perd Valour ontsnap het. Die werkers, gedagtig aan die gruwelike straf wat Windpomp gekry het vir die hek wat hy oopgelaat het, soek ’n sondebok, en die vinger word na die onskuldige Reuben gewys. Dis ’n toneel van skuld, angs en woede, waarin psigiese kragte ontplof, gesimboliseer deur Reuben wat die donkie al hoe driftiger stook totdat die stoomtenk bars en kokende water oor Reuben uitstort (bl. 283).

Fabian se ma beskerm egter vir Reuben teen die woede van die werkers en red hom van verdere verwonding en die dood. Is hierin ook ’n subtiele parallel tussen Fabian en Reuben? Vir Fabian, wat as skrywer met die gevaarlike kragte uit die onbewuste omgaan, en Reuben, wat met stoom en kookwater werk, kan die kragte buite beheer raak en hulle vernietig. Dit is die troue liefde van die werkgeefster van Reuben, wat ook die moeder van Fabian is, wat (psigiese) vernietiging voorkom.

Hierdie toneel is die ware hoogtepunt van die verhaal. Die leser wat gewag het op ’n hoogtepunt met die besoeke van Jacoby en Verwoerd aan Cradock, vind in plaas daarvan ’n swart werker in die middelpunt; die leser wat ’n realistiese streekvertelling verwag het oor die verlede op die plaas, kom bedroë daarvan af — die fokus van die roman is op die psige van die mens. Tipies van die speurverhaal is ’n spel van misleiding met die leser gespeel. Op die patroon van die speurverhaal (die soek na die verkragter) en van die jagverhaal (die soektog na die dier Kikoejoe), twee genres uit die ontspanningslektuur, ontwikkel Kikoejoe tot een van die heel sinrykste Afrikaanse romans van die negentigerjare — tot ’n diepsinnige uitbeelding van die innerlike kragte wat die mens beweeg, bedreig en red.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.