LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Karel Schoeman: Hierdie lewe

Chris van der Merwe

Schoeman verdien om vereer te word vir sy verbeeldingryke en insiggewende verbinding van geskiedenis en fiksie. Dit blyk besonder duidelik uit Hierdie lewe, die tweede roman uit sy “Stemme”-trilogie, ’n verhaal wat histories volkome oortuigend is, maar tog uitstyg bo die tydgebondenheid van die geskiedenis.

Die roman speel af in die Roggeveld rondom die eeuwending ’n honderd jaar gelede. Schoeman het hierdie tyd en ruimte deeglik ondersoek vir sy studie Die wêreld van die digter, wat handel oor die wêreld waarin die digter N.P. van Wyk Louw grootgeword het en waaruit sy voorouers ook gekom het. Gunther Pakendorf het daarop gewys dat die moeder en vader van die verteller in Hierdie lewe in baie opsigte ooreenkom met die grootouers van Van Wyk Louw, soos voorgestel in Die wêreld van die digter.

Ook die landskap van die Roggeveld, ’n eg-Suid-Afrikaanse landskap met sy weidsheid en verlatenheid, word met groot oortuigingskrag uitgebeeld. Dit is ’n barre en ongenaakbare wêreld, maar tog met ’n eie, oer-skoonheid. In die een werk ná die ander het Schoeman hom met die landskap van Afrika besig gehou, en met die mens van Europese afkoms se plek in hierdie landskap - titels soos Na die geliefde land, ’n Ander land roep duidelik hierdie tema op. Maar in geen ander werk van Schoeman word so geobsedeerd na hierdie landskap gekyk nie; dis, soos Pakendorf dit gestel het, “’n byna nostalgiese beswering van die oer-Afrikaanse wêreld van ouds” (Pakendorf 1994: 74). Veral aan die begin van die boek kom die woord “land” soos ’n refrein voor, om die worsteling van die verteller na die wese van die land aan te dui.

Die obsessie met die Suid-Afrikaanse landskap, wat so sterk in Hierdie lewe aanwesig is, is deels ’n strewe na werklikheidsgetroue weergawe, en deels ’n strewe na die vul van die leegte van die land met betekenis. Een van die herhaalde motiewe, dié van “skerwe”, suggereer dit dan ook - die verteller kan net skerwe, flenters, versamel; haar eintlike uitdaging is om hierdie skerwe tot ’n sinvolle geheel te verbind.

Soos in sy aangrypende roman ’n Ander land, so ook hier, word die realistiese landskap gelaai met simboliese betekenis. Simbole wat as ‘t ware uit die landskap groei, keer weer en weer terug, maar telkens met nuwe betekenisnuanses: lig en duister, sonlig en kerslig en die gereflekteerde sonlig op die dam; hitte en koue, water en droogte. Dit word ’n hele leesavontuur om die betekenis-ontwikkeling van die terugkerende simbole na te speur. Die Hantam groei soms tot ’n Bybelse landskap, met gevaarlike afgronde en skape wat soek raak en ’n slang wat die “paradys” ontluister (bl 75). Daar is ook ’n variasie op die gelykenis van die verlore seun, wanneer Pieter na ’n sneeustorm hartlik tuis verwelkom word, terwyl sy broer nydig is, soos die ouer broer van die gelykenis.

’n Bekende Schoeman-motief is die pad en die tema van die (fisieke en geestelike) reis. Hier is dit die reis na die verlede wat voltrek word: “Die verlede is ’n ander land: waar is die pad wat soontoe loop?” vra die verteller (bl 31). Dis ’n pad wat nie reglynig loop nie, want die verteller, op haar oudag, kyk na binne eerder as na buite, om haar herinneringe na te speur. Dit is ’n reis wat keer op keer na dieselfde plekke lei, met telkens nuwe vondste. “Oor en oor volg ek daardie bekende pad” (bl 9), wat lei tot ’n verkenning nie van net die buitewêreld van die Roggeveld nie, of die innerlike van die verteller nie, maar van die pad waar binne- en buitewêreld ontmoet.

Daarom vind ons nie hier ’n reglynige vertelling van begin tot einde nie, maar eerder ’n sirkelgang steeds om dieselfde “skerwe”, in ’n soeke na essensies. Dikwels is die sinne sonder werkwoorde, want dit gaan nie soseer om die verbygaande aktiwiteite nie as om die herinneringe wat in die geheue bly vassteek, en wat opgeroep word. Dit is liriese beelde wat die verteller gee, subjektiewe herinneringe van plek, tyd en gebeure, in ’n tipe inkantasie van die landskap. Ons het hier van die mees stemmingsvolle prosa in die Afrikaanse letterkunde - byvoorbeeld:

“Dassies wat wegglip tussen die klippe wanneer hulle my gewaar, of ’n jakkalsvoël wat opstyg van sy prooi en met wydgestrekte vlerke in die lug bly hang, die skaaptroppe waar hulle tussen die bossies beweeg of die yl rook van ’n skaapwagter se eensame vuurtjie by die skerm myle ver, of hoogstens ’n enkele ruiter onherkenbaar oor die afstand of die wit tent van ’n wa wat verbygaan op die verre pad wat deur die pas gevoer het, vreemdelinge wat aan ons afgeleë opstal verbygaan sonder om dit self te oorweeg om af te draai en ons in ons afsondering te kom opsoek” (bl 83-4).

Landskap en mense is nóú verbonde, en die landskap weerspieël die verlatenheid en die ongenaakbaarheid van die mense wat dit bewoon. Die verteller is ’n ou vrou sonder man of kinders, wat nooit in enige intieme verhouding betrokke was nie en wat op haar oudag, in totale alleenheid, haar herinneringe versamel en tot ’n sinvolle geheel probeer orden. Die leser vind nooit uit wat haar naam is nie; sy bly die totale vreemdeling en die buitestaander in alle kringe.

In baie opsigte word hierdie wêreld en “hierdie lewe” as ’n gevangenskap uitgebeeld. In dié opsig kom die plattelandse Afrikaanse wêreld ooreen met die uitbeelding in J.M. Coetzee se roman In the heart of the country. Dit sou interessant wees om die werk van hierdie twee skrywers naas mekaar te lê en te vergelyk. Albei het die kompromislose uitbeelding van die buitestaander-figuur, albei die worsteling met Afrika en die plek van die mens van Europese afkoms daarin; in albei is daar ’n diepe besorgdheid oor morele waardes.

Vaste patrone en vaste rolmodelle is in die ou-tydse Roggeveld vasgelê, en wee die een wat daaruit probeer ontsnap. Die verteller het twee broers, Pieter en Jacob - Jacob is die tipiese boer-tipe, maar Pieter is anders: hy stel belang in lees en skryf, hy is vrolik en hou van musiek en dans, en pas dikwels nie in die tipiese “manne-geselskap” nie. Daar is ’n suggestie dat Sofie, die vrou van Jacob, vir haar swaer Pieter bo haar eie man kies, en dit lyk of Pieter dalk die vader is van haar kind Maans.

Pieter en Sofie probeer wegkom uit die voorgeskrewe rolle van man en vrou, van die man as boer en die vrou as dienaar van man en kind. Hul gevoel van vasgevangenheid dryf hulle tot uiterstes: skynbaar het Pieter met die hulp van die werker Gert vir sy broer Jacob vermoor; en Sofie laat haar kind Maans agter wanneer hulle vlug. In desperaatheid word morele wette in die wind geslaan. Pieter en Sofie se vlug het hulle egter suur bekom. Jare later keer Pieter na die plaas terug, waarskynlik ná Sofie se dood, as ’n totaal gebroke en diep vernederde mens. Die Roggeveld is genadeloos.

Op die oppervlak lyk Hierdie lewe na ’n outydse plaasroman, waar sake ooreenkomstig ou Afrikaner-waardes gereël word, met ’n Christelike inslag, patriargaal, en met die blankes die baas van die plaas. Onder die oppervlak is die werklikheid egter anders:

“Dit was net saans met die huisgodsdiens dat ons almal saamgekom het om ons in die oënskynlike eenheid van ’n gemeenskaplike handeling te verenig; of in elk geval saamgekom het in dieselfde vertrek, die lede van die huisgesin by die groot tafel in die voorhuis en die bediendes eenkant in die hoek by die kombuisdeur, terwyl Vader vir ons voorlees uit die Bybel en ons voorgaan in die gebed. Saam - ja, selfs oënskynlik saam, want was ons selfs binne die mure van daardie enkele vertrek verenig?” (bl 44).

Daar is op hierdie plaas min te vind van die erbarming wat die hart van die Christelike leer vorm. Daar is weinig sprake van ’n gemeenskapsin, soos die verteller se eensaamheid bewys. “Christelike beskawing” is dikwels maar ’n dun vernis oor ’n bestaan wat gekenmerk word deur materialisme, heerssug en manipulasie van ander. Miskien as ’n oordeel van Bo, loop die familielyn op die plaas, wat tradisioneel van vader na seun oorgedra (moet) word, dood by Maans en sy vrou, Stienie. So intens verlang sy om swanger te word, dat sy haar ’n swangerskap verbeel; maar ’n swangerskap is een ding wat sy nie kan manipuleer nie.

Dit lyk of die man die baas op die plaas is, maar ook in hierdie opsig is dit skyn wat bedrieg. Dit is die vroue wat die sterkste, die heerssugtigste en manipulerendste is. Die verteller se pa is ’n sagte, vriendelike man; sy vrou daarenteen, is ’n erg dominerende karakter. Miskien as gevolg van haar armoedige afkoms, wil sy steeds meer en deftiger besittings hê, en sy dryf haar man om na haar pype te dans.

Hierdie patroon van die vrou wat haar man domineer, word herhaal in die verhouding tussen die verteller se broerskind Maans en dié se vrou, Stienie. Met hierdie twee huweliksverhoudings suggereer die boek dat die Afrikaner-patriargie dikwels onder die oppervlak matriargaal was. Dit is die man wat hier die slagoffer van die vrou is, en nie die vrou wat die slagoffer in ’n patriargale Afrikaner-gemeenskap is nie, soos wat dit dikwels simplisties voorgestel word.

In die Afrikaanse prosa was daar baie strominge. Ons het die Sestigers gehad, en die Tagtigers; daar was die moderniste en die post-moderniste; en dan was daar Schoeman. Dit is vir my een van die groot aantreklikhede van die werk van Schoeman, dat daar reeds van die begin af so ’n eie stempel op sy werk was, dat hy hom nooit met ’n mode op loop laat neem het nie. Dit sien ons ook hier. Daar was vroeë plaasromans wat die plaas verheerlik het; daar was latere plaasromans wat die plaas aan die kaak gestel het; en dan was daar die plaasromans van Schoeman, waar die plaas nie in een van hierdie twee kategorieë pas nie.

Dit lyk of ons hier die tipiese Afrikaner-plaas van die ouer prosa het, soos in die werk van C.M. van den Heever, D.F. Malherbe en Boerneef, met die blanke karakters in die sentrum en die “Kleurlinge” as newefigure, wat op die rand van die roman die situasies en kenmerke van die sentrale blanke karakters weerspieël. Tog, anders as vroeër, is daar ’n duidelike bewustheid van verontregting van die “Kleurlinge”, wat in die stryd om grond die onderspit gedelf het; en die een wat vir sy regte wil opkom, se huis word afgebrand (bl 27). Bruinmense moet apart bly; maar Pieter en Sofie, wat “anders” is, gaan ’n keer tuis by die bruinmense van Basterfontein (bl 108). Teenoor die hoofstroom van die tradisie, is daar suggesties van alternatiewe moontlikhede.

Dit sien ons ook in die uitbeelding van die belewing van godsdiens. Teenoor die oppervlakkige, harde Ou-Testamentiese godsdiens van die meerderheid, is daar die egte godsdienssin van die verteller se vader (bl 45). Verder is daar die skoolmeester wat tydelik op die plaas bly, en wat vir die verteller ’n klein kruis as geskenk agterlaat. Hy was waarskynlik Rooms-Katoliek, ’n geloof wat op hierdie plaas nie geduld sou word nie, en met groot innigheid het die meester, in die geheim, sy oortuigings uitgeleef. Die kruisie van die meester is dan ook een van die min dinge waaraan die verteller waarde heg en wat sy as kleinood bewaar.

Totaal anders as haar moeder, stel die verteller nie belang in materiële besit nie; sy bewaar die enkele tekens van liefde en toegeneentheid wat sy in haar lewe ervaar het. Daar is ’n suggestie dat die verteller verlief op Sofie was (bl 40-41). Hierdie liefde tussen vroue is vanselfsprekend nie op die plaas toelaatbaar nie. Wat sy van Sofie oorhou ná die vlug van Sofie en Pieter, is die herinneringe, en ook die ring wat Sofie vir haar agtergelaat het, waarskynlik die kosbaarste liefdesteken wat sy besit.

Liefde wat nie ontvang of gegee is nie, is die sterkste kenmerk van die verteller se lewensloop. Ook haar vermoë om moederliefde te gee, kan maar net vir ’n kort tydjie tot uiting kom, terwyl sy die opvoeding van haar broerskind Maans waarneem. Maans groei op en word in beslag geneem deur sy vrou, Stienie, met uitsluiting van die verteller.

Telkens is daar sprake van ’n driehoeksverhouding waarin een persoon uitgesluit is - Pieter en Sofie en die verteller; Pieter en Sofie en Jacob; die vader en die moeder en Coenraad; en onder die werkers, Gert en Jacomyn en Dulsie. By Schoeman is dit veral die eensames, die uitgeslotenes, wat die aandag kry, en wat in sy roman tot ’n sentrale plek verhef word.

Een van die redes hiervoor is dat die buitestaanders dikwels die oplettendste waarnemers is. Die verteller, steeds op die rand van elke geselskap, is vry om in te neem en waar te neem.

Die verteller, op die punt om te sterwe, kyk terug en soek na die essensies van “hierdie lewe”; sy soek na die dinge wat van waarde is, en sy lê hulle vas in haar verhaal. Dit is een van die dinge wat betekenis aan haar lewe gee, dat sy dinge van waarde kan vasvang en vaslê - soos Kallie in ’n ander Schoeman-werk, Verliesfontein. Die verteller, soos Kallie, is ’n skrywersfiguur, en die roman besin oor die taak van die skrywer. Dit is ’n taak wat deels waarneming is en deels omskepping. Dit wat waargeneem is, moet tot ’n sinvolle geheel omskep word; patrone moet gevind en vasgelê word; daarmee moet bestendigheid verleen word aan “hierdie lewe” wat so deurtrek is van verganklikheid.

Tydelikheid en sterflikheid oorheers die verhaal; dat die aarde die mens sal besit, en nie die mens die aarde nie, is duidelik - juis daarom is die algemene drang tot die uitbreiding van grondbesit so ironies. Ook die verteller se lewe word deur die verganklikheid bepaal. In wese was haar lewe ’n afstropingsproses, waarin almal om haar haar ontval het, en waarin haar wêreld al hoe kleiner word, tot die ruimte van die klein kamer waarin sy alleen op haar dood wag. Alleen met die dood - dit is die essensie van haar oudag. Maar vir haar wat in die lewe so min besit het en so weinig liefde ontvang het, is die dood nie ’n bedreiging nie, maar ’n bevryding, en sy verloor uiteindelik alle angs daarvoor:

    “Vir ’n oomblik was ek bang vir hierdie donker en stilte wat soveel groter is as enigiets wat ek ooit verwag het, vir ’n oomblik was ek bang vir wat ek moes onthou, maar nou is die angs oorwin, die kennis opgedoen en die wysheid verkry, en met oop oë kan ek die donker aanskou” (bl 210).

Ondanks haar lewe van eensaamheid en teleurstelling, ontwikkel die verteller se lewe en verhaal tot ’n triomf. Sy, ’n ou vrou aan wie niemand enige aandag skenk nie, ontferm haar oor ’n sterwende vrou, in ’n daad wat naasteliefde aan ’n ellendige is, maar ook ’n liefdevolle herinnering aan Sofie, wat ook in eensaamheid gesterf het. Een van haar laaste dade wat sy vertel, is ’n daad van liefde - daarmee triomfeer sy as karakter oor haar alleenheid, byna soos die hoofkarakter aan die einde van ’n Ander land hom oor ’n hulpelose sterwende ontferm. Die feit dat hierdie episode tot die einde gehou word, waar dit in ’n beklemtoonde posisie staan, dui aan dat die verteller besef dat hierdie skynbaar onbenullige gebeurtenis van wesenlike waarde is: ’n daad van liefde aan iemand in nood wat jou nie vir jou hulp kan beloon nie.

Maar in die laaste instansie lê haar grootste triomf in die vertelling self - in die vasvang, in manjifieke prosa, van die essensie van ’n landskap en sy mense; in die ontbloting van die hardheid en die ongenaakbaarheid van mens en wêreld en, daarnaas, ook die onopmerklike dinge van waarde; in die vul van die leegte met simboliese betekenis; in die skep van ’n kunswerk wat die tydelikheid oorwin.

Verwysing

  • Pakendorf, Gunther: Hierdie lewe, hierdie wêreld van die digter - Karel Schoeman lees Van Wyk Louw. In Van der Merwe, C. et al: Rondom Roy. Studies opgedra aan Roy H. Pheiffer, pp. 68-74. Universiteit van Kaapstad: Departement Afrikaans & Nederlands.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.