LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

John Miles: Kroniek uit die doofpot (1991)

Chris van der Merwe

Ek meen dit was Tolkien wat gesê het: “If you want to know what’s news, read literature.”

Hierdie stelling geld in ’n besondere mate vir John Miles se roman Kroniek uit die doofpot, veral by die tyd van sy publikasie. Dit was voor die tyd van die Waarheids- en Versoeningskommissie, en van die aktiwiteite van die Veiligheidspolisie in die tagtigerjare was nog min bekend. Miles se roman fokus op een ontstellende geval: ’n moord gepleeg deur polisiemanne op ’n medepolisieman. Sy roman is ’n tipiese voorbeeld van “faction”, dit wil sê fiksie wat op feite gebaseer is.

Eers heelwat later, met die publikasie van Antjie Krog se verslag oor die Waarheids- en Versoeningskommissie, Country of my skull (1998), sou die feite uitkom waarop die roman gebaseer is. Dit sou blyk dat Tumelo John Moleko, die hoofkarakter van Miles se boek, die “skuilnaam” is van Richard Mutase, wat met sy vrou in November 1987 deur die polisie doodgeskiet is (vgl Country of my skull, bll 82 ev). Die skrywer verander die name van die karakters — maar ook nie altyd nie. In die roman heet die kind van Tumelo John “Tshidiso” — en dit is ook werklik die naam van die kind van die vermoorde Richard Mutase. Die boek word opgedra aan dieselfde Tshidiso, verteenwoordiger van ’n jong geslag wat gely het onder die onreg van die apartheidsjare en dit oorleef het, en wat ’n nuwe toekoms vir die land moet bou.

Die roman bevat dieselfde soort “dubbelverhaal” as die beroemde Max Havelaar van Multatuli, en net soos in die geval van Max Havelaar bevat die struktuur ’n sterk suggestie dat die boek op feitelike gegewens gebaseer is. Dit is ’n raamvertelling, waarin die skrywer met gereelde tussenposes sy verhaal as karakter binnetree en kommentaar lewer teenoor sy vriende en kennisse op dit wat so pas in die verhaalgedeelte vertel is.

In die “raam”-gedeeltes waarin die skrywer optree, is daar konstant sprake van dokumentasie: van ’n stel lêers wat die skrywer by ’n prokureur ontvang het en wat die materiaal van sy verhaal bevat; van foto’s van die karakters van wie vertel word; van plekke wat besoek word waar die verhaal afspeel, ens. Biografiese persone wat in die raam-deel voorkom, kom ook in die verhaalgedeelte voor, wat suggereer dat dit om ’n ware verhaal gaan. Die woord kroniek in die titel van die roman het ’n soortgelyke suggestie: ’n kroniek is immers die “verhaal van gedenkwaardige gebeurtenisse chronologies gerangskik” (HAT) — en dit is presies wat die leser hier vind: ’n chronologiese verhaal, met datums en plekke presies aangestip, van ’n uiters gedenkwaardige gebeurtenis.

Kroniek uit die doofpot is nie net geskiedenis nie, maar ook “teen-geskiedenis”: dit vertel wat nie in die amptelike geskiedskrywing staan nie, en wat ook nie die koerante gehaal het nie. Dit wat die koerante nie kon waag om te skryf nie, in ’n tyd van sensuur op die media, word hier verhuld vertel; wat die koerante nie wou skryf nie, omdat koerante deur ideologie gedryf word, word hier geopenbaar. Dit gaan in die eerste plek om die lotgevalle van ’n individu, nie ’n abstrakte politieke betoog nie — maar hierdie individu is een van baie.

Die roman neem geleidelik ook die vorm van ’n aanklag aan — ’n “hofsaak”, met ’n opstapeling van getuienis van mense wat verdruk, veronreg, gemartel en vermoor is. In hierdie opsig laat dit mens dink aan Elsa Joubert se roman Die swerfjare van Poppie Nongena, die verhaal van ’n doodgewone mens, een van baie wat onder rassediskriminasie gely het.

Tumelo John is ’n boorling van die Vrystaatse platteland, en wanneer hy by die polisiediens aansluit, is hy vol jeugdige idealisme. Hy wil die skelms vasvat; hy wil die onreg bestry. Met verloop van tyd verloor hy sy onskuld, soos wat die skrywer sy onskuld verloor het by die kennisname van Tumelo se verhaal, en soos wat die leser sy onskuld sal verloor by die lees daarvan.

Die werklikheid wat in die roman geopenbaar word, is skrikwekkend: dit gaan om ’n samelewing waarin verdruk en veronreg word; waarin weerloses vervolg en vernietig word; waarin die reg nie meer kan funksioneer nie; en wat sigself vernietig (b 329). Gemeet aan standaarde van geregtigheid en medemenslikheid, is dit ’n verstommende beeld wat na vore kom, “want wat kan ons meer verbyster as dit wat die een mens in staat is om die ander aan te doen?” (bl 16).

Op die buiteblad word die boek ironies ’n “polisieroman” genoem, asof dit handel oor die vervolging van misdadigers deur die polisie. Maar hier is die polisiemanne die misdadigers, en ’n sentrale ontwikkeling by Tumelo is dat hy hierdie feit erken en “van kant verander”, hom distansieer van die polisiemag en hom skaar aan die kant van die opstandelinge teen onreg en diskriminasie. Hy het leer “sien”, maar dit is ’n sien wat sy ondergang meebring: “Daar’s een gesig van die Polisiemag wat jy liewer nie moet sien nie. As jy dit eers gesien het, is dit verby met jou, dan’s dit te laat” (bl 331).

So ook het hy leer luister. Die vuishou wat hy van ’n kolonel teen sy oor kry, lei tot aanhoudende oor-infeksies, later tot doofheid, en ook tot die siekte tinnitus met ’n geraas in sy oor wat hom byna mal maak. Maar ironies laat sy doofheid hom juis hoor wat vroeër by hom verbygegaan het: dit is asof die stemme van die lydendes in sy land nou in hom kerm — hy moes “doof word om te kan luister” (bl 263).

Tumelo ondergaan ’n wesenlike identiteitsverandering. Aanvanklik is ’n belangrike deel van sy siening van homself die feit dat hy deel van die polisiemag is. Maar reeds vroeg kom die vraag by hom op wie nou eintlik “sy mense” is. Is mense wat uit armoede staak, deel van die vyand wat hy moet bestry, of moet hy hom met hulle vereenselwig omdat hy self ook uit ’n armoedige agtergrond kom? Al hoe meer sien hy homself as Afrika-mens; identifiseer hy met die verdrukte Afrika-mense in sy eie land.

Maar vir Tumelo gaan dit nie in die eerste plek om swart of wit nie, maar om geregtigheid wat teenoor alle mense moet geskied. Daarom: wanneer hy onregverdiglik deur kolonel Van Niekerk met die vuis geslaan word, maak hy ’n aanklag teen die kolonel. Want vir Tumelo John gaan dit nie om blank of swart, om senior of junior rang nie; die geregtigheid is ’n beginsel waaraan alle mense onderworpe moet wees: “Geregtigheid, Brigadier, dis die woord wat ek soek, maar as jy swart is, kan jy melk soos jy wil, jy melk en jy melk, maar hulle gee daardie woord nie vir jou nie” (bl 208).

In die loop van die verhaal vind daar twee sentrale ontwikkelinge plaas: Tumelo kom in aanraking met al hoe meer onreg, geweld en sadisme gepleeg deur die polisie en die regeringsmagte wat hulle verteenwoordig; en in sy konfrontasie met die onreg word hy al hoe meer afgetakel, word sy ondergang stap vir stap voltrek. In sy verbete stryd om reg te laat geskied, gaan hy na steeds hoër instansies in die polisiemag, tot uiteindelik na ’n generaal by die hoofkantoor. Hy probeer die “regte kanale” volg, soos wat hy steeds deur vriende en kollegas gemaan word, maar hierdie kanale blyk onregskanale te wees — deel van ’n sisteem wat deurtrek is van ongeregtigheid. Soos die hoofkarakter in Kafka se Der Prozess, word hy aangekla sonder dat hy iets verkeerds gedoen het; word hy al dieper ingetrek in ’n labirint waarin sy gesiglose teenstander onvindbaar is. Uiteindelik word Tumelo self deur die geweldsindroom aangesteek, en haat hy Van Niekerk — en waar haat is, verdwyn geregtigheid (bl 306). Voordat sy vyand ten slotte sy lewe neem, neem hulle die waardevolste wat hy het, van hom weg: sy sin vir geregtigheid.

As sentrale gebeurtenis neem die skrywer ’n insident wat nie deur almal as ’n verskriklike vorm van rassisme erken sal word nie: ’n vuishou deur ’n senior-polisieman aan sy ondergeskikte, in ’n oomblik van woede en irritasie. Maar onreg wat nie duidelik herkenbaar is nie, is des te gevaarliker: die vuishou is ’n punt van die ysberg; daaronder is ’n wêreld van onreg (bl 174). Dit gaan in die roman nie net om die onreg van apartheid nie, maar ook om die subtiele vorme van ongeregtigheid wat in elke mens is — ook die leser moet sigself in die gebeure herken (bl 176).

Die tragiek van die gebeure is onder andere geleë in die feit dat twee diskoerse teenoor mekaar staan wat mekaar nie begryp nie, en nie tot mekaar kan deurdring nie. Die een is die diskoers van mag, waarin die mag van die witman reg is; die ander is ’n diskoers van geregtigheid vir alle mense, waarin almal gelyk voor die reg is.

’n Vraag onderliggend aan die optredes van die karakters is die vraag: Hoe is dit die beste om te leef in ’n wêreld waar mag reg is?

Verskillende karakters leef verskillende antwoorde op hierdie vraag uit. Tumelo John se kompromislose verset staan direk teenoor die kruiperige onderdanigheid by swart polisiemanne soos Sithebe en Mabe. Hulle onderdanigheid is in werklikheid ’n strategie om vir hulself mag, status en rykdom te kry, binne die perke wat die blanke oppergesag dit toelaat. Tussen hierdie uiterstes is daar diegene wat ’n tussenposisie probeer vind, soos kaptein Opperman, wat reg optree en Tumelo ondersteun sover as wat hy kan, maar wat hom tog maan om nie sy stryd tot onmoontlike uiterstes te voer nie (bl 252).

Die struktuur van Kroniek uit die doofpot is gebaseer op dié van die tipiese tragedie. Soos by die ou Griekse tragedies, en ook in tragedies van die sewentiende eeu in Engeland en Frankryk, is daar ’n verandering by die hoofkarakter van ’n toestand van geluk en voorspoed tot ’n toestand van rampsaligheid. Die raam-gedeeltes in die roman funksioneer soos ’n Griekse koor wat kommentaar op die afgelope gebeure lewer. Die woord tragedie kom van die Griekse woord tragos, wat “bok” beteken, na aanleiding van die bok wat geslag is by die opvoering, maar ook na aanleiding van die tragiese held wat self ’n tipe offer is. In Kroniek uit die doofpot is Tumelo die offer, die sondebok.

Soos die klassieke tragiese held, styg hy uit bo die gewone mens, maar hy is nie sonder foute nie. Sy poging om as enkeling die totale sisteem van onreg om hom uit te daag, is ’n tipe hubris, ’n oormoed. Met verloop van tyd maak ook hy, soos die tipiese Griekse tragiese held, oordeelsfoute: hy luister byvoorbeeld nie na stemme wat hom herhaaldelik waarsku teen die dwaasheid van sy hardnekkige verset nie (bl 165 ev). Soos die hoofkarakter in Van Wyk Louw se tragedie Germanicus wil hy nie “modderig” wees nie: hy veg met wettige middele teen ’n vyand wat van geen wette weet as dit hom pas nie.

Tumelo John is naïef en misreken hom heeltemal met sy teenstander. Hy is ’n held en ’n martelaar, maar dis ’n dwase heiligheid, ’n waansinnige heroïek wat hy mettertyd openbaar. En tog behou hy ons simpatie en bewondering deur die grootsheid van sy strewe en die volharding waarmee hy dit najaag. Ook op hom is die woorde van Shakespeare se koning Lear van toepassing: “more sinned against than sinning”.

Soos by die klassieke tragedie, is ’n noodlotsmag werksaam — ’n noodlot wat deels geleë is in die aard van die held, maar deels ook in ’n “toevallige” sameloop van omstandighede wat die uiteindelike katastrofe noodwendig maak. Dit lyk asof ’n onverskillige fatum Tumelo se lotgevalle beheer en dit op ’n rampsalige wyse laat verloop. So byvoorbeeld het die hou op sy oor onvoorsiene mediese gevolge; die koors en griep wat hy opdoen, laat hom dwaashede begaan, waarby die onsimpatieke kaptein Welgemoeg “toevallig” aanwesig is (bll 237-8). Hierdie toevallige omstandighede help om ’n noodwendige patroon te voltrek: die vergeefse stryd om geregtigheid in ’n bevlekte samelewing.

Tree Tumelo John onverstandig op in sy kompromislose verset teen onreg? Die afloop van die gebeure laat dit so voorkom. Tumelo sterf; sy vrou Busi, wat hom gemaan het om nie so krities teen die polisiemag te wees nie, sterf ook; sy geliefde kind bly alleen agter. Daarteenoor gaan diegene wat nie die gesag uitgedaag het nie, skynbaar vooruit in die lewe. Was sy strewe na reg dan verkeerd? Dit lyk immers of die bestes ondergaan, en die kruiperiges oorleef. Bowendien is daar aan die einde geen vooruitsig, soos dikwels by die klassieke tragedie, op ’n toekomstige verbetering van toestande nie: die “Nuwe Suid-Afrika” wat tot stand kom, lyk in die roman nie juis reënboogkleurig nie. Die jongmense het ’n geweldskultuur geërf wat niks goeds vir die toekoms voorspel nie (bl 334); en bowendien is die nuwe kultuur skynheilig: almal praat een taal en almal dink eenders (bl 354).

Beteken dit dat Kroniek uit die doofpot ’n boek sonder hoop of uitsig is? Nie heeltemal nie. Aan die een kant gee dit wel ’n skrikwekkende beeld van ’n bose samelewing; dit beeld kompromisloos die triomf van die kwade uit. Maar die roman is nie net geskiedenis nie, maar ook teen-geskiedenis: uit die doofpot waarin die maghebbers Tumelo se verhaal gestop het, word ’n kroniek gebore: die “terroris” van die amptelike siening word ’n tragiese held in Miles se boek; die chaotiese werklikheid wat uitgebeeld word, word omskep tot ’n meesleurende roman. Die roman eindig met die sluiting van die saak van Tumelo se moord; maar die boek is tegelyk ’n heropening van die saak. Tumelo is dood; maar Tumelo het die laaste woord.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.