LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Beste Medelesers

Die onderskepper
Koop by Kalahari.net

Die stilte was te lank, ek weet! Jammer, dit gaan dol hier in die kuberruim! (Let asseblief op my nuwe adres.)

Stilte is egter nie altyd ’n slegte ding nie, of is dit? Dit is juis die vraag wat hierdie maand se boek, George Weideman se Die onderskepper, elkeen van die lesers vra. Ek bespreek dit op versoek van Gerda Gouws.

Die boek self laat verskeie vrae onbeantwoord. Ek gaan ook! Ek is die eerste een wat erken dat ek hierdie teks nie volledig verstaan nie, maar dat ek by elke herlees ’n nuwe faset ontdek.

Die titel

Dit is interessant dat Weideman aanvanklik die teks voorgelê het onder die titel Die dorp wat op ’n posseël pas. Titels verander gereeld na voorlegging en in hierdie geval was dit ’n positiewe skuif. Oor dít wat uiteindelik die subtitel geword het, praat ons nou-nou.

Die woord onderskep het natuurlik twee betekenisse, naamlik om iets in die hande te kry, maar ook om seker te maak dat die onderskepte artikel nie die eindbestemming bereik nie.

Ou Arend doen albei. Hy versamel inligting, maar weerhou ook nuus wat hy vermoed skadelik kan wees. So verkry die woord stilte weer nuwe betekenis. Arend moet stilbly. Hy kan nie anders nie, want hy sit met te veel inligting. Maar hy skep ook stiltes deur seker te maak dat sommige nuusbrokkies nooit by hulle regmatige bestemming uitkom nie.

Deur die titel Die onderskepper te kies, stel Weideman dus aan die lesers die moontlikheid dat hulle medepligtig mag word aan beide die ontvang van onwettige inligting, maar ook die opkroppers word, die sensureerders dus, daarvan.

Die subtitel
Ja, die langer titel word toe die subtitel. Etienne van Heerden het al gesê dat hy soms langer sukkel met ’n titel as die roman wat daardie titel die wêreld moet indra. ’n Titel moet die hele teks omvou en die leser na die regte, of verkeerde, inligting lei. In hierdie geval het die subtitel ook ’n hele paar moontlike vertakkings.

Aan die eenkant is iets wat op ’n posseël pas natuurlik baie klein – ’n beskrywing waaraan Salpeterput voldoen. Aan die ander kant is dit ’n verwysing na Arend se nie-amptelike stokperdjie, sowel as sy amptelike een.

Is Die onderskepper een van die projekte?
Was dit nie vir die nuus wat via die poskantoor kom nie, sou ons hierdie boek nie gehad het nie. Arend is die verteller van hierdie storie en hy deel met ons dít wat hy via die poskantoor kry. Arend het ’n projek geregistreer waarin hy belowe het om die dorp se geskiedenis te vertel aan die hand van ’n filatelieprojek (p 74). Is hierdie boek sy projek?

Van u mag nou protesteer en sê wag nou – dis tog nie waar nie? Presies. Dit is fiksie hierdie. Die fiktiewe aard daarvan word uitgestal.

Die uitstalling van tematiese materiaal (of: die tema as tema)
Filateliste stal hulle ware dikwels uit met verduidelikings – kort essays – oor die seëls wat aan die publiek getoon word. Vergelyk ook ou Arend se weldoener, Dokter Dennis, wat vir hom allerlei stories skryf oor seëls.

Hierdie teks is ook so gestruktureer. Elke hoofstuk handel oor ’n seël – partykeer meer direk as ander. Wie van u het opgelet hoe hierdie boek “gemaak” is? Hier is nie ’n eenvoudige reglynige vertelling nie. Nee, kyk ’n bietjie hoe die hoofstukke oor die nies naas mekaar geplaas word (pp 130-146). Hier is ’n hand aan die werk – ’n hand wat temas bymekaarplaas en vir die leser / kyker nooi om self verbande te trek. Arend (as verteller / fiktiewe skrywer?) mag langdradig wees, maar verbande kan hy trek as hy hulle sien.

So: WhoDunnit?
Kom ons raak nou prakties – indien dit moontlik is. Wie het dit gedoen?

Die volgende vraag is natuurlik: Wie het wat gedoen?

Ek gaan na Sybokkie se dood kyk, maar u kan gerus elkeen van u lede opdrag gee om één dorpsonde te gaan ondersoek en dan terug te rapporteer. Daar is so baie. Ons kan begin by die Schönau-sage. Wat het daar gebeur? Of: hoe het Ouma Ragie dit reg gekry om in die “wit” dorp te bly, terwyl Oumatula uitgeskop is? Wat van al mooi Jana se kinders? Is hierdie “prokureur” nie een van hulle wat sy herkoms kom wreek nie? Selfs Arend het daar gekuier – wat het van sy telgies geword (p 173)? Ook Oudokter het kinders wat iewers in Europa rondswerf (p 150) – wat het van hulle geword?

Onthou – en hier kom die titel weer ter sprake – ons is nou ook deel van hierdie sondes. Ons weet van hulle, ons skinder daaroor, ons skryf briewe daaroor.

Sybokkie
Ek sien die ding so:

  • Jossie het gekleurde bloed in hom, ons weet dit, want hy stam direk van Ouma Ragie af (p 236).
  • Sybokkie is die simbool van reinheid vir die hele dorp. (Is sy Aries, of is sy ’n albino soos Piet Hoed? Daar is min meisies wat “raseg blond” is as hulle begin uittrek – p 17.)
  • Sy raak swanger van Jossie (of van Basie Stroebel? p 18), “oom Jurgens”, dominee Puren of die Roomse vader? (pp 9-10), vergelyk die motorongelukke in die brief) en vra vir Oudokter om te help.
  • Hy doen dit. Hoekom? (Omdat hy vir haar jammer is? Omdat hy deel is van die geheime orde wat daar in die geheime kamer van die pastorie skuil?)
  • Die aborsie vind plaas tydens die tweede helfte van die konsert – dis gerieflik, want niemand sal haar mis, of by Oudokter sien ingaan nie. Narkose is nie nodig nie – dit vind dus daar in die spreekkamer plaas sonder dat enige ander persoon by hoef te wees. Pynstillers en ontspanningspoeiers is al wat nodig is vir so ’n operasietjie.
  • Dinge loop skeef. Medies gesproke klink dit asof die uterus geperforeer is – die gevolg is dat sy inwendig sou bloei. Daar sal niks na buite wys nie – veral nie op haar reeds bleek vel nie. (Wat dan van die skaafmerke op haar nek?)
  • Sy loop terug skool toe (saam met Oudokter?) en val flou. Hy kom agter sy is in erge skok en gooi haar in die sloot toe hy agterkom sy gaan dit nie maak nie. (Sou hy haar selfs teen die einde kon “verwurg” om die ware toedrag van sake weg te steek?)
  • Sy word gevind, Oudokter doen die lykskouing, bevind uit die aard van die saak wat hy wil hê die wêreld moet glo. (Hy het vir sersant Pienkes reeds in die sak – p 10).

Dis mý interpretasie.

Dit was dus ’n ongeluk. Sy wou die aborsie hê (of is gedwing daartoe deur daardie geheime bende) en het geweet Oudokter sou instem. Ek vermoed die bende het iets daarmee te make – dit verklaar ook die grootse toesmeerdery wat gevolg het. Die dominee, die rykste boer, dalk selfs Oumeester? – almal wat “saakgemaak” het, was dus aandadig (vergelyk ook die motto’s – later meer hieroor).

Maar ek kan verkeerd wees. Ek kan die pot totaal en al mis sit. Ek hoor graag watter ander interpretasies daar aan hierdie moord geheg is!

Allegorie
Regina Malan (in Cloete 1992: 8) gebruik ’n Goethe-sêding om die term allegorie te beskryf: dis ’n “verhaaltegniek waarin die algemene voorgestel word deur middel van die besondere.”

Dit is net mooi wat ons hier ook het. Die onderskepper is in ’n groot mate ’n kommentaar op ’n samelewing wat die hele tyd vertel word dat die verlede boos was, maar nie mooi weet wie om daarvoor te blameer nie.

Hierdie punt word teen die einde van die boek baie deeglik geïllustreer wanneer die verhoogspel vermenigvuldig en daar geen duidelike ooreenkomste meer is tussen die verhoog en die werklikheid nie. Daar is skielik meer as een Piet Hoed, daar is ’n “hele dosyn” Oudokters (p 274).

Dis ook die rede hoekom almal aan Sybokkie dink wanneer “onreg” ter sprake kom. Sy was alles vir die dorpie. Die water loop ook weer uit die put uit wanneer sy “lewendig” en vervod begin dans op die falliese simbool van die dorp se potensie (p 279). Nou is daar weer water in hulle pype.

Sybokkie die simbool
Sybokkie was:

  • skoonheidskoningin – onbestrede;
  • lusdroom vir al wat man is;
  • Ariese blondine;
  • goeie (en gewillige) fotografiese model; en
  • ontluikende verhoogster.

Maar sy was ook die hoertjie van die dorp. Hoe nou? Lees weer ’n bietjie die hoofstuk oor die meermin (pp 121-128). Dit is nie toevallig dat die idee van ’n tematiese uitstalling in hierdie hoofstuk bespreek word nie.

Die amperse volmaaktheid van Sybokkie word ook weer bespreek, asook die feit dat sy a) seksueel aktief was (“Kennis van die liggaamlike ervaring verhaas die sensualiteit”, p 27) – en die klem lê op aktief (p 9), kyk na die vergelyking met die sportman (p 27) – en b) dat sy as teelmerrie nie geskik was nie (ibid).

Hoekom was sy nie geskik nie? Sy was duidelik nie meer ’n maagd nie – dalk juis daarom? Omdat sy ’n albino was?

Kyk nou weer hoe loop die skrywende hand deur hierdie teks. Die volgende hoofstuk gaan oor die negatief van Sybokkie – lam Bertha Stroebel. Bertha is as kind aangerand en het verlam geraak (p 181), maar gebruik later Sybokkie se foto om manne aan die grens so ver te kry om vir haar te skryf. Hier is Bertha, smagtend na liefde, maar te “lelik” daarvoor. Einste Bertha wil bitter graag in Piet Hoed se toneelstuk speel – die rol van die ewige wenser.

Die toneelstuk volg in die volgende hoofstuk. In die toneelteks sit twee meisies by die put – duidelik brandarm (vergelyk die gelapte onderbroekie wat die een dra – p 144) en baie duidelik gewillig om hulle lywe te ruil vir kontant.

Onmiddellik daarna volg ’n hoofstuk oor seëls wat perfekte teenpole van mekaar is. Daar is ook so ’n klein, amper onbenullige, verwysing na die feit dat Hester en Helena ook gereeld in die aande by daardie put gesit het. Ons weet nou ook al dat hulle as kinders in die steek gelaat is (hulle ouers is vermoedelik in ’n motorongeluk dood) en dat hulle later by ouma Ragie ’n heenkome gevind het.

Wou niemand hulle hê toe hulle nog klein en lelik was nie? Is dit eers deur seksuele aktiwiteit dat Sybokkie (en ook Helena?) begin ontluik het in ’n begeerlike kind – op meer as een manier?

Daar word ook in die toneelstuk verwys na ’n ouer man wat met jong meisies gelol het. Is dit hoe Helena en Hester geïnisieer is? Is dit die rede hoekom Hester nooit sover kon kom om te trou nie? Hoekom sou Hester haar kiekies kom terugvra by Oumeester? Wou sy nie dat hy oor haar “perve” nie?

Die maagdelike hoertjie
Daar is min karakters wat die spel tussen dit wat beskikbaar en dit wat onbeskikbaar is, so mooi uitspel soos Annalind in PG du Plessis se The married man’s guide to adultery (sien ook die onderhoud met PG op “Die mond is nie geheim nie”). Annalind bly egter ’n maagd tot sy by haar geliefde uitkom. Sybokkie is beskikbaar, maar klaarblyklik vir die verkeerde mans.

Sy is so onbereikbaar soos die Lorelei (p 128), maar ook net so begeerlik.

Die vraag bly egter: waar pas Hester in hierdie prentjie in? Hoekom het Hester die sykouse in die wrak van Jossie se kar geplant? Hoekom het Arend dit weggesteek?

Ek het u aan die begin reeds gewaarsku dat ek meer vrae as antwoorde het op hierdie teks. Ek vermoed egter dat Hester ’n groot skuldgevoel dra oor sy en Helena so baklei het. Hester besef dat haar sussie in ’n penarie was en probeer om dit weg te steek. Uiteindelik wil sy ook die skuld elders pak, wil sy ook die bloedhonde op die verkeerde spoor plaas. So word sy ook aandagtig aan die daad – die dood van haar sussie en alles wat daartoe gelei het.

’n Halfklaar boek?
Ek gaan nou ’n hardekwas duiwelsadvokaat speel en sê: Hierdie boek toon tekens van oorhaastige afronding, iets wat afgejaag is om klaargemaak te word voor die afsnytyd vir ’n groot romanwedstryd. Daar is te veel los drade. Daar is te veel leidrade wat genoem word, maar nooit opgevolg word nie. ’n Goeie voorbeeld is die brief wat Arend onderskep en aan Kaptein Yvonne gaan oorhandig. Die ou en die storie verdwyn eenvoudig (p 266).

’n Bekende koerantresensent het die ander dag aan my genoem dat hy hierdie teks as ’n “verspeelde kans” sien.

Ek dink egter dat ons versigtig moet wees. Ten eerste is daar ’n baie lang proses wat deurloop word voordat enige boek verskyn – g’n uitgewer sou ’n halfklaar teks op die rak plaas nie. Ten tweede: kyk na die storie. Hierdie verhaal gaan juis oor ’n klomp ou stof wat baie lank onder ’n mat gelê het en nou weer opgerakel word. Die roman handel veel eerder oor die misterie as oor ’n moontlike oplossing – dis nie ’n ligte storie waar die vyand eenvoudig sleg en die held eenvoudig goed is nie.

In die ware lewe is daar ook ontsettend veel los drade wat opgevolg moet word, en wat op die ou end nêrens heen lei nie. Was u al ooit gefrustreerd met die Amerikaanse flieks wat altyd die leidrade so baie mooi neersit vir die held – net voor die bom ontplof en die dag voordat sy polisiewapen finaal teruggetrek word? Dan is hierdie boek die antitese. Weideman se roman gee al die los drade aan die leser, al die stories, al die gepraat, al die moontlikhede. Uiteindelik moet ons as individuele lesers, en as lede van ’n leeskring, kopkrap, gesels, moontlikhede noem, dit uitpluis…

Die waarheid bly soek
Daar is nou al baie gepraat oor die Waarheids- en Versoeningskommissie. LitNet het al daaroor berig – gaan lees gerus weer Dan Roodt se essay hier in GrasPerk. Ek het al in vorige besprekings ook daarna verwys en daarom gaan ek in hierdie bespreking nie baie sê daaroor nie.

Al wat enige intelligente wese oor so ’n proses kan sê, is dat dit altyd onvolledig sal wees. Die ANC, die AWB, die ABB (Arme BelastingBetaler), almal sal klagtes kan inbring teen die WVK. Die probleem is dat so ’n projek in sy wese soos ’n halfklaar boek moet wees. Die waarheid sal nooit vir twee mense aan die teenoorgestelde kant van die draad dieselfde lyk nie. Uiteindelik is daar vir baie dinge in die lewe geen klinkklare antwoorde nie.

Hier teen die einde van die eeu is daar baie goed waaroor mense onseker voel. Dit is die teenpool van die optimisme waarmee die twinstigste eeu begroet is. Daar is werklik geglo dat die wetenskap oplossings sal bied vir alles – van siekte tot sosiale probleme. Die eeu se einde sien ons in die greep van Vigs, en op sosiale vlak is almal, veral diegene wat al oor die tientalle oorlogsverhore van die eeu gelees het, geskok oor die sosiale “ingenieurswese” van die afgelope een honderd jaar.

Bewyse teenoor vloeibare getuienis
Die wetenskaplike ideaal is nagevolg in die modernistiese literatuur van die eerste helfte van hierdie eeu. Alles moes toe bewysbaar, meetbaar, afbakenbaar wees.

Toe kom die mensdom agter dit werk nie so nie. Die letterkunde het ingespring en hierdie onsekerhede aangegryp. Postmodernisme, poststrukturalisme en dekonstruksie het die nuwe modewoorde geword. In breë trekke het al drie begrippe ’n onderliggende onvaspenbaarheid in gemeen.

Een van die teoretici wat hierdie vloeibaarheid die deeglikste in sy eie werk vasgevang het, was die Franse teoretikus Roland Barthes. Hy het aanvanklik gepoog om die mens se sosiale bestel strukturalisties te omskryf – taalwetenskaplik dus. (Neem byvoorbeeld die manier waarop die verskillende kulture groet, dan het jy al ’n sisteem waarop jy kan navorsing doen.) Daar het egter deur die jare by hom ’n sekere wantroue posgevat in sy eie sisteme, en hy het begin kyk na maniere om daardie sisteme wat hy nie kan verstaan nie, te omskryf.

Toe hy in die vroeë sewentigs ’n boek getiteld S/Z publiseer, was die skrif, spreekwoordelik, aan die muur.

Hy het met S/Z die lesers finaal betrek by die “produksie” van ’n storie. Daar sal altyd stories wees waar die gegewens op ’n skinkbord aangedra word, maar in ’n teks soos Die onderskepper is die leser eweneens ’n produsent van moontlike betekenisse as wat die “oorspronklike outeur” is.

Die onderskepper is opsetlik “halfklaar”. Die ander helfte berus by ons, die lesers. Daar is nie ’n finale antwoord nie.

Ontologie vs epistemologie
’Skuus. Ek weet ek moenie so vloek nie, maar dis ongelukkig deel van die bespreking van hierdie teks. Die normale speurroman, waar ’n misdaad gepleeg is en die saak opgelos word, handel oor feite, die epistemologie. Die postmodernisme, die era van onsekerheid, het egter ook ’n vraagteken geplaas oor die bestaanswyse van die mensdom. Nie net word tekste nou “halfklaar” gelaat vir die leser om te ontgin nie, dit bevraagteken ook die leser se ganse bestaan.

’n Studie van die ontologie is niks anders nie as ’n soeke na die self, of die self binne ’n groepsverband. Die groep moet natuurlik ook gaan soek na ’n identiteit binne ’n groter verband.

Die “Afrikaner” is vandag in so ’n soeke gedompel. Salpeterput, met al die intriges daaraan gekoppel, se soeke na ’n eie identiteit, na rykdom en na die waarheid, is presies wat voorgehou word aan die leser as ’n mikrokosmos van dit wat in die land gebeur.

Hierdie boek “jok” vir ons. Die soeke hierin is nie na die “waarheid” nie, maar wel na ’n identiteit. Die gaan nie oor die identifikasie van ’n skuldige nie, dit handel oor die herdefiniëring van hulle wat almal op ’n manier skuldig voel oor iets waaraan hulle geen direkte skuld het nie, maar op ’n manier tog by betrokke was.

Die motto’s
Die eerste motto betrek baie deeglik die groepsgevoel – die idee dat ons hier met ’n stelletjie kuddediere te make het. Die “trop” word op die ou end ge-“drive” deur ’n kollektiewe soeke na stilte oor dít wat hulle almal kan seermaak.

Die tweede motto sê bloot dat die “trop” op die ou end altyd die skrywer, die ondersoeker dus, sal uitstoot. Stilte is belangriker as die waarheid.

Sch nau
Wie van u het raakgesien dat die plaas se naam nou sê: “Stil nou. Sjjj nou”?

Dit was eers mooi (schön) was, is deesdae vervalle en maan die omgewing tot stilte. Danksy die stilte bly die waarheid weggesteek. Die probleem is egter dat dit nie so maklik is om mense weer te laat praat as hulle eers gewoond geraak het daaraan om stil te wees nie.

Ander tekste
Ek hou daarvan om ’n ander teks te noem wat lesers kan gaan opsoek om die een onder bespreking mee te vergelyk. Die onderskepper maak dit moeilik. Ek sou Umberto Eco se Foucault’s pendulum kon aanbeveel as ’n teks wat ontologiese vrae vra en Eco se The name of the rosenoem as ’n meer epistemologiese werk. Dis twee dik boeke. Vir diegene wat ’n korter storie soek, kan ek “Spinning through” van Sonja Loots aanbeveel. (Dit is opgeneem in Die mooiste liefde is verby.) Hier het ons te doen met ’n moordverhaal, maar die karakters soek eintlik harder na hulleself as na die verdagte …

Daarmee volstaan ek vir eers. Al wat nog oorbly, is om die bronnelys aan u te noem.

Bronnelys

  1. Cloete, TT. 1992. Literêre Terme en Teorieë. Kaapstad: HAUM.
  2. Eco, Umberto. The name of the rose en Foucault’s pendulum. Enige van verskeie uitgawes (Picador het albei verskeie male uitgegee.)
  3. Du Plessis, PG. 1998. The married man’s guide to adultery. Kaapstad: Tafelberg.
  4. Van Heerden, Etienne (samesteller). 1999. Die mooiste liefde is verby. Kaapstad: Tafelberg.
  5. Weideman, George. 1998. Die onderskepper. Kaapstad: Queillerie.

Groete van leeskring tot leeskring.

Izak de Vries

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.