LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Beste medelesers

Groot Vyf
Koop by Kalahari.net
Johann Botha se Groot Vyf is hierdie keer onder bespreking en die veld is nou eenmaal nie vir kuikens nie.

Ek is al by geleentheid deur ’n leeu aangeval, maar het gelukkig net my kopkussing verloor. By ’n volgende geleentheid het ’n witrenosterbul my ma se Datsuntjie (met my en ’n vriend in) op en af kom skud. Onlangs het ’n beneukte olifantbulletjie my vrou amper ’n kilometer ver agteruit laat jaag.

Die uwe spog nie, hy sê maar net, want waar al vyf bymekaar is, loop ek suutjies.

Beide Martha Pretorius en Gerda Gouws het my gevra om die boek te bespreek. Ek doen dit dus met graagte, maar met omsigtigheid, omdat dit ’n knewel is wat nie sommer sal gaan lê nie. Daar bo in Noord-Natal, Ndumo om presies te wees, het ek die ander dag gesien hoe ’n ouer seekoeimannetjie sy agterent na ’n jong uitdager se gesig draai en met daardie kort stertjie van hom ’n hengse bol mis oor die jong knaap se smoel strooi.

Die gevaar dat ek hier met ’n bruin, of rooi gesig gaan uitstap, is dus groot.

Watse ding is dit dié?
Loer jy so vinnig, lyk Groot Vyf al op ’n roman. Ek dink egter nie dis een nie.

Hoe nou gemaak? Ons kan die kenners vra. ’n Goeie roep, tot jy uitvind hulle verskil ook.

Kerneels Breytenbach, wat myns insiens die boekwêreld deeglik onder die knie het, was van mening dat Groot Vyf genoeg van ’n eenheidsteks is om dit in te skryf vir die M-Net-Prys, maar nie almal het daarmee saamgestem nie.

Die uwe voel homself nog ’n groentjie teen die slimmes onder die papierreuse, maar ek wil voorstel dat hier eerder ’n bundel van vyf novelles langs my getroue ou skootrekenaar lê. Ek gaan dus hierdie gesprek in twee verdeel. Ten eerste ’n paar idees oor die titels en die temas van die boek, daarna volg ’n ietwat meer tegniese bespreking vir dié leeskringe wat nou regtig in die murg wil inklim.

Die titel
Hier is ’n slim verteller, ook verkoopsman, aan die woord.

Inligting, dis wat Johann Botha hier aan ons gee. Hy verpak dit mooi, vertel oor die geskiedenis, koester idees oor die toekoms en dra groot hompe informasie oor aan die leser wat meegevoer word deur die narratief (vertelling).

Die byhaal van die groot vyf as tematiese spilpunte, is sý manier om die storie meer bemarkbaar te maak. (Vergelyk die boek se eerste motto, asook die feit dat die inhoudsopgawe Aasvoëlblik heet. Hier is beslis iets te ase vir dié wat vinnig ’n boek wil gryp oor die natuur.)

Waar kom die idee van die “groot vyf” vandaan? Seekoeie is heelwat groter as luiperds en maak heelwat meer mense dood as al die groot vyf saam. Een van die wonderlikste predatore wat ek nog in die veld teëgekom het, was ’n swart mamba. Nóg die seekoei, nóg die mamba is egter op die lys. Bemarking dus, dis die punt. Iemand het besluit om hierdie vyf diere voor te stel as die legendes van Afrika en ons almal het daarvoor geval.

Teen hierdie tyd is die term “groot vyf” al só nou verweef met die “bos”, dat enige leser onmiddellik sal weet waaroor hierdie boek gaan.

Die subtitel
Aanvanklik laat Spoor van ’n dekade ’n groot vraagteken. Hierdie teks dek tog ’n paar eeue?

Korrek, maar in Groot Vyf skryf ’n wit man oor sy eie dekade wat tot ’n einde kom. Hy voel al hoe die tjoppers ook oor hom warrel. Hy wag om uitgedun te word.

Dit gaan nie hier oor partypolitiek nie. Dit gaan oor die reuse van die bewaringswêreld wat uitgedaag word deur die jongeres, die ander, die nuutdenkendes. Net so pynlik soos dit vir ’n matriarg-olifant is om te sien dat ’n nuwe, jong koei haar trop gaan oorneem (Olifant), is dit vir die ouer garde om die oorname in die parke te sien gebeur. Tog is dit belangrik, en net so onafwendbaar as vir die groepie Boesmans in Buffel. Ons hét nuwe leiers nodig. Die natuur is nou eenmaal meedoënloos.

’n Einde van ’n era het aangebreek vir die ouer garde. Die groot vyf gaan binnekort anders verpak word as in die ou dae. Dit maak seer, maar enige persoon wat iets weet van die ekologie, sal kan sê dat dit broodnodig is vir enige groep, ook vir natuurbewaarders, om partymaal tot in die wortels toe geskok te word. Dit hou die spesie sterk.

Ook die mens, selfs homo bewarikus, is ’n spesie wat onder die loep, en visier kom.

’n Nuwe dekade het aangebreek. Die nuwe sjamaans dans nou op nuwe tromslae. Hulle dans sodat die nodige geld kan inrol om ’n arm kontinent se natuurrykdom te bewaar.

Die motto’s (Ystervarkpenne)
Oor die eerste twee motto’s wil ek gewoon ’n vraag vra. Wat vertel hulle ons van die mens se “lus” om te sien, te ervaar en te oorheers sonder om hom-/haarself te veel in te span?

Die derde motto is effens moeiliker om te plaas. ’n Ystervark is ’n klein diertjie, ver verwyder van die groot vyf. Hoekom dan ’n belangrike verskyning soos hierdie? Is dit sy vermoë om homself te verdedig teen die aanvalle van roofdiere? Is dit die klein diertjie (“de kleine man” in die Nederlandse literatuur) wat kans sien vir die grotes?

Enige ekosisteem is, per definisie, interafhanklik. Die klein diertjies is ewe nodig as die grotes as ons ’n balans wil handhaaf, al sien die bemarkers dit nie altyd raak nie. Die vierde motto gee ons daardie insig.

Hoekom word die motto’s onder die hofie Ystervarkpenne geplaas? Gaan die verhale soos stukkies vleis aan ’n sosatie hieraan geheg word, of is die motto’s ’n manier om die sagte kern van die boek te beskerm? Ek weet nie, gesels gerus hieroor.

Proloog (Prooi)
Hierdie stukkie filosofie skets ’n agtergrond vir Groot Vyf om teen af te speel. Dit kom natuurlik uit die mond van Noster, die oud-polisieman, nou tronkvoël. Dit dwing ons om te dink aan die eksistensiële kwessies soos:

  • seks = voortplanting,
  • jag = moord,
  • voortplanting = oorbevolking,
  • uitdunning = lewe vir ander,
  • uitdunning = moord?
In die diereryk is dit natuurlik vir ’n mannetjie om sy saad in ’n ander se wyfie te probeer strooi. Is Bert Erwee dan verkeerd? En wie is skuldiger, Noster wat ’n paar renosters skiet, of die owerhede wat ’n hele trop olifante uitskiet?

Die feit dat dit juis Noster se woorde is, maak van ons almal wat hiermee worstel ook skuldiges, én prooi.

Leeu
Arme ou Henk. Hy het pas sy eerste leeu geskiet en het geen vrou om dit mee te deel nie. Die mens se inisiasie gaan dikwels met jag gepaard. Onder die boesmans word jy eers ’n man (wat seksuele voordele kan geniet) wanneer jy jou eerste prooi suksesvol gejag het. In ons eie wêreld is dit die sportmanne wat suksesvol van die “oorlog” af kom wat die meisies vang — nie die vaal seuntjies wat agter die rekenaar sit nie.

Shuma, die hansmannetjie, word dus ook nie verniet gedood nie. ’n Ouer mannetjie sal nie ’n snuiter laat oortree nie — nóg by die bak, nóg by die vak. A nee a, kêrel. Bewys eers jouself!

Leeu roer nog ’n paar tema’s aan wat in latere verhale netjieser deurgetrap word:

  • Henk is gefrustreerd in sy werk. Om veldwagter te speel is nie altyd opwindend nie;
  • Die opwinding wat hy dan kry, is heel onverwags en ook anders as wat die meeste mense sou verwag. Hulle bewaar nie juis hierdie leeu nie, hulle maak oorlog teenoor hom;
  • Diefstal word nie geduld nie. Jag jy iemand anders se diere (ook beeste), word jy ’n teiken. Noster sou later dieselfde paadjie stap as die leeu.

Luiperd
Dat dit juis Bert Erwee is wat die meisies bed toe vat, en nie die ervare Dawie nie, spel alreeds die oorname wat teen die einde van die boek gebeur. Dis die fotogeniese bemarkers wat paar in vandag se wildtuin. Verpak die veld soos ’n sepie en jy het ’n wenner. (Ek wil graag hoor wat u hieroor te sê het!)

Renoster
Hierdie verhaal is nie verniet die middelste een nie, dit vorm ’n keerpunt in die bundel. Die dood van die eertydse wildstropers is onafwendbaar. Die natuur is genadeloos. Die sikliese gang van die geskiedenis is allesoorheersend. Die afgelope dekade het die eertydse leiers ’n nekslag toegedien.

Sinies? Ja, Groot Vyf is sinies. Dit ontken nie dat daar weer nuwe wildstropers gaan kom nie. Dit probeer nie voorgee dat die nuwe base van die park noodwendig beter gaan kyk daarna as die ou base nie.

Met Renoster word daar gewoon ’n feit op papier geplaas: die era van die veiligheidspolisie en hulle “dirty tricks” is verby. Wat ons in die plek daarvan gaan kry, weet ons nie. Binne die konteks van die bundel vorm hierdie verhaal die bopunt van die keper. Van nou af draf ons anderpad.

Buffel
Ek het pas aangekondig ons betree ’n nuwe era, dan spring Buffel weg met twee verhale wat lank voor ons eeu afspeel — die eerste sommer baie lank.

Die feit is egter dat hierdie collage ’n agtergrond vorm waarteen ons nuwe bemarker, Coen Buys, sy nuwe film kan skiet. (Sy voormense het met die Trichardts in aanraking gekom toe laasgenoemde by Schoemansdal ’n dorpie probeer vestig het. Buysdorp bestaan nog, Schoemansdal is deesdae ’n museum.)

Die verkiesing is nie om dowe neute in die verhaal opgeneem nie. Daardie paar dae het die land, en die wildtuin, oorgegee aan die nuwe leiers.

Daarom is die einde so kragtig. Pretoria loop vol diere. Ons het nou al boere-optogte met John Deeres gesien, kakie-optogte waar mans van hulle perde afval, toyi-toyi-ende werkers wat die verkeer lam lê en vensters breek, maar diere? Nee. In hierdie verhaal smokkel piepklein parasiete — so klein dat hulle deur ’n muskiet se slurpie pas — met Coen se kop en gee hom hierdie visie: Die diere kom vir ’n verandering ook praat!

Wie sê nou nog dat films beter is as die geskrewe woord? Ek daag Anant Singh, Steven Spielberg, of James Cameron uit om hierdie toneel te verbeter, of selfs te ewenaar, op die silwerdoek!

Olifant
In hierdie verhaal word die olifante opsetlik vermenslik, daarom tref dit die leser soveel harder wanneer ’n hele trop gewoon uitgewis word. Hulle enigste “sondes” is dat hulle seksueel aktief is en daardie dag toevallig eerste vanuit die lug raakgesien word.

Sonder aansiens des olifants word hulle afgemaai.

Die bewaringsreëls het verander. Waar Skukuza alles in sy vermoë gedoen het om olifante se lewens te spaar, wis sy opvolgers hulle uit. Die bewaringsprogram het gewoon té goed geslaag.

Daar is ’n ander rede vir die vermensliking van die olifante. George Orwell het met Animal Farm — a fairy tale gewys dat diere ook politieke ideologieë kan verbeeld. Jare reeds is die groenkwessie ’n politieke speelbal. In Suid-Afrika het ons soveel ander goed gehad om aan te dink, dat die groenpartye nog nie hier veel opgang gemaak het nie.

Hier is ook menslike politiek ter sprake. Die groot mense in bewaring is besig om plek te maak vir die nuwe generasie (en kleur) met nuwe idees.

Teen die tyd dat hierdie bespreking verskyn, sal dit al ou nuus wees dat alle ruskampe in alle wildtuine binnekort op ’n sakegrondslag bedryf sal word. Heelwat mense het dit al voorgestel. Dr Anton Rupert het volgens my wete lank terug reeds planne voorgelê om die Kruger Wildtuin nóg winsgewender te maak, maar die ouer garde was bewaarders, nie winsjagters (sic) nie.

Tegniese detail
Noudat ons vinnig deur die boek gewerk het, kan ons terugkeer na die vraag aan die begin: Wat vir ’n ding is hierdie boek?

Ek het genoem dat dit, myns insien, ’n bundel van vyf novelles is, nie ’n roman nie.

Lengte?
Een manier om uitsluitsel te kry oor wat ’n verhaal nou eintlik is, sou wees om na die lengte te kyk:

  • Minder as 5 000 woorde is ’n kortverhaal;
  • Ongeveer 20 000 woorde is ’n novelle;
  • Kom ons by 80 000 woorde, of meer, dan is dit ’n roman.
Lengte is egter ’n kru en taamlik onakkurate maatstaf.

’n Tydperk vasgevang
’n Ander, dalk beter, opvatting, is dat die novelle oor ’n baie spesifieke tydperk handel, maar dan heelwat meer detail kan bevat as die kortverhaal, wat per definisie slegs ’n flits uitbeeld. Daarteenoor kan ’n roman ’n baie groot tydperk dek.

George Lukács (1970: 7), blykbaar uitgespreek as “Loekarsh”, het ’n definisie waarvan ek hou. Hy sê “the novella frequently appears either as a precursor to a conquest of reality by the great epic and dramatic forms, or as a rearguard, a termination at the end of the period.”

Hierdie siening pas my, maar dit is dalk omdat ek reeds besluit het om die subtitel ernstig op te neem.

Die groot terugflitse in tyd word hier as intertekste aangebied, sodat ons bakens kan hê om die afgelope dekade se gebeure mee te navigeer.

’n Roman?
’n Roman sou per definisie ’n sentrale stel gegewens deeglik bekyk. Dit kan ’n persoon wees, ’n familie, ’n oorlog, of ’n ideologie.

André P. Brink (1963) se Die ambassadeur val ook in vyf dele uiteen, maar al die dele dra by tot die sentrale motief, naamlik dié van ’n ouer persoon wat op ’n jonger meisie verlief raak.

Dieselfde geld Christoffel Coetzee (1998) se Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Die vier afsonderlike dele het net een doel, en dit is om die soeke na hierdie mistieke figuur uit te beeld.

Marita van der Vyver (1999) se Wegkomkans val in heelwat meer stukke uiteen, maar volg die lewens van ’n aantal karakters. Die karakters verander deurgaans. Ook dit dra by tot die verhaal se gang.

JC Steyn (1985) se eksperimentele roman, Die verlore vader, raak hier halfpad van die hoofkarakter ontslae. Dan verdwyn die storielyn sommer ook. Die flardes materiaal wat daarna verskyn, is egter wel deel van die karakter se lewe.

Op hulle eie
Dit is waar dat van die karakters oor en weer verskyn in Groot Vyf se vyf groot tekste. Bert Erwee is die man voor wie selfs “Kay Tea” op die ou end kaal-kaal moet swig in Olifant, maar hy is die tematiese hooffiguur in Luiperd. Ook Trichardt se verskyning in Olifant is bloot ’n kamee — belangrik, ja, maar nie temabepalend nie.

Kom ek stel dit so: elkeen van hierdie vyf tekste kan apart staan, kan opgeneem word in ’n bloemlesing, of kan, sonder die byhaal van die ander vier, apart bespreek en geniet word. Elkeen is dus ’n afgeronde geheel, ’n goedgepoleerde artefak wat versigtig beskou kan word. Dat hulle op mekaar inspeel, is waar, maar afhanklik van mekaar is hulle nie.

Hier is (myns insiens) vyf verhale waarvan die loopgebiede oorvleuel, maar wat trots hulle eie ding kan doen. Hulle is, soos die Groot Sewe in die laaste verhaal, saam-saam verantwoordelik vir die sukses van die teks, maar het mekaar net so min “nodig” as wat die sewe bulle mekaar nodig gehad het om te bestaan.

Stry lekker. Ek het nou die kat in die hoenderhok gegooi, en sou graag wou hoor wat julle leeskring besluit het!

Ander bronne
In die gees van die natuur, gaan ek u leer visvang, en nie die vis gee nie. Daar is ’n paar baie insiggewende besprekings oor hierdie teks in Die Burger, Beeld en Rapport. U kan dit bekom deur na Naspers se webruimte te gaan, op die “Koerante”-knoppie te druk en vandaar na “Argiewe” toe te spring. Geniet dit!

Boekelys

  • Botha, Johann. 1997. Groot vyf, spoor van ’n dekade. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Brink, André P. 1963. Die ambassadeur. Kaapstad: Human & Rousseau.
  • Coetzee, Christoffel. 1998. Op soek na generaal Mannetjies Mentz. Kaapstad: Queillerie.
  • Orwell, George. 1951. Animal farm — a fairy tale. Harmondsworth: Penguin.
  • Lukács, George. 1970. Solzhenitsyn. Londen: Merlin Press.
  • Steyn, J.C. 1985. Die verlore vader: dokumente van die politikus Pieta van den Berg. Kaapstad: Tafelberg.
  • Van der Vyver, Marita. 1999. Wegkomkans. Kaapstad: Tafelberg.

Daarmee is dit dan groettyd vir my.

Mooiloop en lekker lees! Ek hoor graag van julle.

Izak de Vries

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.