LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

6 April 1999

Beste Medelesers

Wegkomkans
Koop by Kalahari.net
Vandag, so op die herdenking van Van Riebeeck se ontmoeting met grootbaas Harry, gebeur daar ’n ander ding aan die Kaap wat Suid-Afrika vir ’n rukkie lank aan die praat gaan hê: Marita van der Vyver se nuwe roman verskyn! Dit is getiteld Wegkomkans — iets wat gereelde lesers van die Boekeblad hier op 24.com reeds weet.
    Die uwe was bevoorreg om die roman onder oë te neem die afgelope week en ek kan sonder skroom verklaar dat oud en jonk, manlik en vroulik, koulik en oulik, ’n ieder en ’n elk hierdie teks sal kan waardeer.
    Dit is, glo dit as u wil, selfs ’n lekkerder storie as Griet skryf ’n sprokie en Die dinge van ’n kind.
    Wegkomkans skep die indruk dat Marita skielik in haar self begin glo as skrywer van lekkerleesstories. Ek noem dit opsetlik, want in die literêre wêreld is daar baie mense wat geneig is om te dink dat jy ’n darem nie te veel moet klink na ’n blitsverkoper nie — anders loop die literêre pryse jou dalk verby!
    Hierdie roman, Wegkomkans, is egter ’n skaamtelose lekkerleesstorie.
    Hardloop na u naaste boekwinkel, of kliek die nodige klieke op Kalahari.net, maar kry hom!

Hoe behandel ’n leeskring dit?
Net soos julle wil, natuurlik!
    Maar, dit is so: Wegkomkans is so openlik storie, so openlik daar om gelees en geniet te word, dat sommige lesers moontlik mag mor as ek nou hier idees gaan begin rondstrooi om te wys dat ek literêre waarde raakgesien het in die teks.
    Aan die ander kant is daar ’n stille revolusie aan die gebeur hier ter plaatse. Soos politieke veranderinge die akademiese departemente aantas wat die bastions van Afrikaanse Literatuur was, vind ek al meer “normale” mense wat begin belangstel in die letterkunde. En dít maak my opgewonde. Dit beteken dat die literêre skrywers en die lesers mekaar begin vind. Mense soos u, wat leeskringe aan die gang hou, is waarlik ’n bron van inspirasie vir almal van ons in die boekbedryf. Skrywers sien dit raak, die literati ook. ’n Baie mooi voorbeeld hiervan is die Hertzog-prys vir letterkunde wat die ander dag aan Elsa Joubert toegeken is vir haar lekkerlees storieboek, Die reise van Isobelle.
    Juis om hierdie rede deel ek graag met u ’n paar vrae wat u mag help om Wegkomkans se literêre waarde al geselsende en al lesende raak te sien.

Die titel
Daar lê vele moontlikhede opgesluit in hierdie titel.
    Een duidelike betekenisveld is natuurlik gekoppel aan ons “sien” van hierdie karakters wanneer hulle vir ’n naweek lank wegbreek om te gaan ontspan. Daar is egter ook ’n meer siniese teenpool — “wegkom” mag ook dui op “wegvlug”.
    Dit is nie vir my om u aan die neus te lei na antwoorde nie, daarvoor bestaan leeskringe immers. Ek het egter ’n bietjie moeite gaan doen en vier plekke gekies waar die begrip direk, of by implikasie, bespreek word. Gaan loer gerus! (Ek verwys na pp 133, 205, 209 en 238. U sal in die lees van die verhaal meer idees raakloop. Geniet dit.)

Die karakters
Heel aan die begin van die teks is daar ’n groepfoto. Bestudeer dit deeglik, want die onderlinge verhoudings is baie interessant en vol intriges.
    Daar is ’n afdeling in die (post)moderne geneeskunde wat as huisartskunde bekendstaan. Medici wat in daardie rigting spesialiseer, word, onder meer, geleer hoe om mense se verhoudings binne gesinsverband, asook binne groepsverband te plot oor ’n aantal jare heen. Hierdie diagramme word in gesinsverband “genogramme” genoem, maar in ’n wyer verband word gepraat van ’n “ekokaart”. Laasgenoemde sluit heelwat meer as gene in, dit hou ook tred met die persoon (in hierdie geval karakter) se politieke, ekonomiese en sosiale konteks.
    Ek is seker daarvan dat iemand wat die moeite gaan doen om hierdie karakters se lewens te plot, met ’n baie interessante ekokaart vorendag sal kan kom.

Dit is nie iets wat ek op die web wil doen nie, want dan bederf ek dalk mense se pret. Dalk kan iemand in u leeskring dit doen — veral as daar mense met ’n mediese agtergrond is. (U sal seker ’n plaaslike praktisyn kan vra om dit namens u te doen, en aan hom/haar ’n kopie van Wegkomkans present gee in ruil vir sy/haar dienste.)
    Die idee agter so ’n kaart lê daarin dat ’n mens, al geselsende, die karakters se intra-, of binnetekstuele ankers kan raaksien. Elkeen van hierdie karakters is afhanklik van ander om te beteken — ons leer ook meer van hulle deur te “luister” wat hulle maats van hulle sê.

Griet, Jans en Mart
Al gewonder wat van Griet die sprokieskrywer geword het? Of daardie oulike lat, Jans? Of wat van Mart uit Die dinge van ’n kind?
    Ek was twee aande gelede op ’n partytjie waar ek nie-amptelik so ’n bietjie voorbrand gemaak het vir Marita se boek, toe wou almal weet: trou Griet met Jans? Ek wou nie sê nie, maar ek kan wel uitlap dat al twee kom kuier ... Mart ook ... U sal maar moet lees om te sien of hulle saam kuier, of apart ...
    Hoekom doen Marita dit? Twee redes: a) sy wil graag die lesende publiek inlig oor haar karakters se doen en late, maar b) my rede, soos verwoord in a), toon reeds dat ons amper aan hierdie karakters begin dink as mense wat lewens het buite ’n teksverband. Dit is natuurlik nie waar nie, maar deur hierdie “bekende mense” te laat optree in die storie, anker die verteller tog vir Wegkomkans aan die “tekstuele realiteit” wat die lesers ken.
    Dit dra ook by tot ’n hele spel wat binne ons huidige literêre klimaat bekendstaan as “intertekstualiteit”. Hierdie gesprek wat een teks met ’n ander aanknoop, maak dat ons as lesers genooi word om sáám met die verteller die storie skep. Selfs in hierdie lekkerleesstorie is daar “oop plekke” wat ons as lesers moet aflei, en invul. Een van die maniere waarop ons dít kan doen, is om ons kennis van ander tekste te gebruik om hierdie teks, Wegkomkans, beter te verstaan. Een van die hoofstukke is getiteld: “Spasies vertel stories”. Dit sê dus aan die leser: speel saam, vertel saam ...

Die “waarheid” en ander stories
Daar word dikwels in die verhaal verwys na die manier waarop ’n mens stories kan vertel en interpreteer. Dit laat die leser nog nader kom aan die vertelproses, want nie net word sy/hy nou gevra om saam te speel nie, daar word ook sommer spelreëls neergelê. In Wegkomkans word dit weggesteek in die dialoog, maar die reëls is daar.
    Hoekom handel hierdie storie byvoorbeeld oor die klein stukkies lewens van ’n paar vriende? So verwoord Emma, een van die skrywende karakters in die boek, haar siening oor die vertel van stories (315):

    Ek kan nie ‘die hele politieke toneel’ sien nie, ek kan net sulke klein prentjies binne-in die groter prent sien. My oë werk seker maar meer soos ’n zoomlens. As ek skryf ook, dan fokus ek altyd op die stukkies persoonlike geskiedenis. Die klein storietjies wat nie deel is van die ‘groot storie’ in die geskiedenisboeke nie.

In sy baie leesbare, gepubliseerde Ph.D. oor die postmodernisme in die prosa, sê Etienne van Heerden dat hierdie “kleingeskiedenisse” van mense baie belangrik is. Dit mag subjektief wees, maar ook die “groot storie”, soos Emma dit noem, is dikwels maar eensydig. Dit kan amper nie anders nie, want mense verskil altyd. Max, ’n ander karakter in Wegkomkans, verwoord dié situasie so (p 229):

    Die waarheid is ’n glibberige gedoente — dis nie iets wat jy ooit rêrig kan vasvat nie — maar dit gee jou ’n geweldige kick as jou werk te doen het met ’n soektog na die waarheid. (...) Al weet jy daar sal altyd gapings en verskillende weergawes wees. Die soektog is op die ou end belangriker as wat dit ook al oplewer!

Stories bly egter stories. Kyk hoe mooi lei Yvette haar sesjarige dogter om te verstaan hoe stories werk (die gesprek vind plaas op p 454):

    “Wat van Noag en die ark?”
    “Noag en die ark is ’n storie, my lief. Mense maak mos maar altyd stories op oor dinge wat hulle nie verstaan nie. (...) Al die stories wat ek jou saans vertel ...”
    “Maar Noag is in die Bybel! (...) Dan jok hulle mos in die Bybel.”
    “Van die mooiste stories op aarde kom uit die Bybel. Dit beteken nie dat iemand vir jou gejok het nie. Daar is altyd meer as een verduideliking vir enige moontlike ding. (...) Jy kan self besluit wat jy wil glo.”
    “Ek hou meer van die storie,” sê die kind (...).
    “Dit maak twee van ons,” sê Yvette tevrede.

’n Teks wat so openlik omgaan met die vertel- en skeppingsproses, word ’n metateks genoem (of dan ’n selfbewuste teks). Vantevore het mense gekla oor sulke tekste, want, het hulle gesê, ons soek stories, nie literêre gedoentes nie.
    Wegkomkans wys ons dis moontlik om metateks én lekker storie gelyk te wees.
    Bowendien is dit in ’n maklike, verstaanbare Afrikaans geskryf. Soos Mila opmerk (p189).

    Dis nou nodiger as ooit om in Afrikaans te skryf! Ons moet net ophou om hierdie stokstywe woordeboektaal te gebruik!

Marita die mens
Kan mense skryf sonder om oor hulleself te skryf? Dit is ’n vraag wat ek baie keer gevra word. Met die bespreking oor Oranje Meraai het ek pertinent gewaarsku dat ’n mens nie té veel van die reële outeur (die skrywer) se lewe in haar werk moet probeer inlees nie.
    Dieselfde geld vir Wegkomkans, en tog kan niemand wat gereeld koerante of tydskrifte lees, ontken dat Marita ’n deeltjie van haar eie lewe in haar karakters neergelê het nie.
    Ek het duidelike biografiese detail gesien in van die karakters (sy word egter nie deur een enkele karakter verteenwoordig nie), so ’n mens sou kon vra: hoekom?
    Kort na die verskyning van Griet skryf ’n sprokie, het Marita, om verskeie redes, deels ook weens ongewenste attensies, haar uit die openbare oog onttrek. Nou kom sy egter na vore en praat oor haarself — en dan sien mense ooreenkomste tussen haar lewe en haar werk.
    Mag ons?
    Die antwoord is: Ja, ons mag, mits ons besef dat sy haar eie lewe (vol beproewing én vreugde) in fiksie verwerk het, en van die leser gevra het om haar fiksie te bestudeer. Sy het gekies om nie ’n kiss & tell-biografie te skryf nie, en ons moet haar daarvoor eerbiedig.
    Deur egter haar eie lewe, in fiksievorm, te laat deurskemer, plaas sy ook die aandag op die aaklige gebeure in die tagtigerjare waaroor sy skryf. Daar is ’n baie ou feministiese spreuk: The personal is the political. Dit geld ook hier.
    Daar is ongetwyfeld raakpunte tussen haar lewe en haar werk, maar haar eie lewe, net soos dié van haar karakters, word gedurig bedreig deur ’n realiteit wat groter as die individu is.
    Wegkomkans is dus ’n betrokke roman — dit betrek die hartseer en die pyn van hierdie land, maar doen dit op so ’n manier dat die leser nie anders kan nie, as om mee te leef met haar karakters. Waar lesers dus haar eie lewe in haar karakters sien, onthou: dis daar om die teks se ankers binne die groter politieke prentjie te bevestig. (Vergelyk Emma se woorde oor die groot en klein prentjies waaroor sy werk, soos reeds hierbo bespreek — dit het hier beslis betrekking.)

Ander tekste
Wegkomkans is ’n redelik unieke boek, en een wat nie sommer vergelyk wil word met ander nie.
    Van der Vyver se vorige romans is natuurlik ter sprake. Lees hulle gerus weer!
    Dit val ook op dat die teks ’n bekende, en moeilike periode in die Suid-Afrikaanse geskiedenis uitbeeld. Dit volg die lewens van ’n aantal karakters oor ’n tydperk van net meer as tien jaar (1985 — 1995).
    Heelwat tekste is oor daardie jare geskryf, maar nie een trek werklik na Marita s’n nie. Ek noem egter hier ’n paar, want dit mag juis vir u interessant wees om raak te sien in hoe verre die tekste van mekaar verskil.
    Etienne van Heerden se Casspirs en Campari’s (Tafelberg, 1991) kyk ook na die lewens van ’n hele paar mense in die laat tagtigerjare, maar doen dit heeltemal anders, terwyl sy roman Die stoetmeester (1993) die oorgangsjare uitbeeld.
    Koos Prinsloo het in Die hemel help ons (Taurus, 1987) ook ’n greep uit die tagtigerjare vasgevang op sy eie, unieke manier.
    JM Gilfillan se Pouoogmot (Human & Rousseau, 1997), wat ons verlede keer bespreek het, sou moontlik ook kon dien as interteks.
    Drie van André P. Brink se romans meld hulleself ook aan: States of emergency (Secker & Warburg, Londen, 1991), Die kreef raak gewoond daaraan (Human & Rousseau, 1992) en dan Sandkastele (Human & Rousseau, 1995).
    Rachelle Greeff het Al die windrigtings van my wêreld geskryf (Queillerie, 1996).
    Daar is ook John Miles se veelbesproke Kroniek uit die doofpot (Taurus, 1991; Human & Rousseau, 1992). Dit is iets heeltemal anders, maar dek ook die lewens van mense in daardie jare.
    Etienne van Heerden se Ph.D., Postmodernisme en prosa, waarna ek netnou verwys het, is in 1997 deur Human & Rousseau uitgegee.

Lekker lees aan ’n lekker roman!

Izak de Vries

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.