LeesKringeArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Marita van der Vyver: Griet skryf ’n sprokie (1992)

Chris van der Merwe

Griet skryf ’n sprokie het sedert sy publikasie in 1992 die een herdruk na die ander beleef, en is ook met die ATKV- en die M-net-pryse bekroon. In die jaar 1992, en ook in die jare daarna, moes ek dikwels die vraag beantwoord: “En wat dink jy nou eintlik van Griet?” Dit was nie nodig om te vra: “Watter Griet?” nie, want ek het geweet dit kan net die Griet van Griet skryf ’n sprokie wees, die roman van Marita van der Vyver. As die vraag oor Griet aan my gestel word, dan korrel die ondervraer so met die een oog na my, en dan weet ek: as ek nie die regte antwoord op die vraag gee nie, gaan my verhouding met die persoon ’n ernstige knou kry. Nogtans wil ek dit hier waag om die vraag te probeer beantwoord: “Wat dink ek nou eintlik van Griet?” In die wete dat, wat ook al my standpunt is, ek vriende gaan wen en verloor.

Maar eers enkele algemene opmerkings oor die roman. Dit handel oor ’n vrou wat deur verskeie traumas gegaan het: ’n aborsie, gevolg deur miskrame, die dood van ’n kind, en ’n egskeiding. As deel van haar terapie word sy deur haar sielkundige aangeraai om te skryf oor haar ervaringe.

Die verhaal word in drie dele verdeel. Die eerste deel handel veral oor haar traumas, oor miskrame, dood en egskeiding; in die tweede deel is die ontmoeting met ’n nuwe minnaar sentraal; in die derde deel het sy van die minnaar afskeid geneem en moet haar eintlike nuwe lewe in ’n nuwe woonstel begin.

In die loop van die verhaal vind daar ’n geleidelike proses van genesing plaas. Aanvanklik wil Griet nie praat oor haar gewese man nie; en wanneer sy wel oor hom praat, is dit met woede en bitterheid; maar langsamerhand begin sy haar eie skuld in te sien, ontwikkel daar ’n groter deernis teenoor hom, en kan sy met begrip oor hom skryf. Die volgende stap is ’n verhouding wat bloot fisies van aard is, en nie lank duur nie, maar wat ’n belangrike stap is in die afskeid neem van haar gewese man. Ten slotte, wanneer die minnaar vertrek het, is daar tekens van ’n meer stabiele volgende verhouding met ’n liewe goeie mens, iemand wat haar al deur baie jare getrou bygestaan het.

Op die vlak van die verhaal gaan dit dus oor ’n vrou se verwerking van ’n reeks pynlike ervaringe. Maar die roman handel oor meer as dit. Diegene wat die vooraf bemarking van die boek gevolg het, sou gemeen het die boek handel oor seks. Vir diegene wat in seks belangstel, kan ek egter baie beter boeke as Griet aanbeveel. Die eksplisiete vertelling van Griet se seksuele verlangens en ervarings vorm maar ’n klein onderdeel van Griet skryf ’n sprokie.

Sentraal in Griet is ’n oeroue tema: die spanning tussen droom en realiteit; die ontluistering van ’n verhewe ideaal deur die banale alledaagse werklikheid. Om hierdie tema uit te beeld, word die verhaal op ’n reeks sprokies gebaseer, waarvan die sprokie van Hansie en Grietjie die belangrikste is. Die skryfster beklemtoon die teenstelling tussen die wonderbaarlike gebeure van die sprokies en die banaliteit van die alledaagse ervarings; maar aan die ander kant suggereer sy ook deur die volgehoue sprokiesmotief dat sy, teen alle rasionaliteit in, halsstarrig bly vasklou aan die geloof in ’n wonder.

Op ’n uiters vernuftige wyse word verskillende temas en motiewe in die eerste paragrawe van die boek verbind. Griet probeer selfmoord pleeg deur haar kop in ’n oond te druk, maar word van die dood gered wanneer sy haar byna doodskrik vir ’n kakkerlak in die oond. In plaas van selfmoord te pleeg, begin sy maar liewer die oond skoon te maak.

Die opskrif van hierdie eerste hoofstuk is “Sneeuwitjie skil ’n appeltjie”. Die sprokiesfiguur Sneeuwitjie staan teenoor die romankarakter Griet Swart — die wit reinheid van die sprokiesfiguur teenoor Griet, wat haar onskuld verloor het. “... skil ’n appeltjie” in die titel dui op die woede wat Griet in hierdie stadium voel teenoor die mansgeslag wat haar in die steek gelaat het; maar dit dui ook op die motief van Adam en Eva en die appel, op die sondeval en die verlies van die idilliese paradys. Die karakter Griet hou verband met Grietjie van die sprokie, wat van die verbode soetigheid geproe het; maar aan die ander kant is sy ook die heks by die oond, die skurk van die samelewing wat die norme oortree het, die verworpene wat nie inpas nie.

In die derde en laaste deel van die roman skuif die sprokiesmotief op die agtergrond, ’n teken van groter aanvaarding van die realiteit deur die hoofkarakter. Die dinge wat vir haar te pynlik was, wat sy alleen indirek deur middel van sprokies wou noem, word nou meer direk gekonfronteer. Wanneer sy wel nog van sprokies vertel, gee sy nou meer kommentaar daarop uit die “werklikheid” — ’n aanduiding dat droom en realiteit vir haar nader aan mekaar kom, dat haar persoonlikheid nou van sy basiese tweespalt genees raak. Die tekens in die verhaal raak al hoe meer gunstig — daar kom beter vooruitsigte vir die een na die ander van haar vriende en familielede, almal mense wat met verhoudingsprobleme geworstel het.

Die slot van die verhaal kontrasteer met die begin. Griet staan aan die einde weer voor die oond, maar hierdie keer lag sy in plaas van om selfmoord te probeer pleeg. In haar huwelik het sy as kok misluk, maar nou begin sy weer peuselhappies te bak wat hemels ruik; teenoor die appel van die begin as simbool van die sonde is die appel nou simbool van voortdurende jeug en van genesing; en dit lyk of Griet uiteindelik haar Hansie van die sprokie ontmoet, in Jans, haar vriend van baie jare.

In die roman is daar van begin tot einde telkens die teenstelling tussen styg en val, wat saamhang met die teenstelling tussen die skone droom en die ontnugtering van die realiteit. Die motief van die opstyg berei die leser voor op die verrassende, “sprokiesagtige” slot, wanneer Griet en Jans saam van die grond af opstyg. Waar die sprokie vroeŽr in die roman telkens deur die werklikheid ontluister is, gebeur nou die omgekeerde: die fantasie en die droom dring die werklikheid binne om dit tot iets verrassend moois te omskep.

En tog het ons nie hier ’n sentimentele en onoortuigende “happy ending” nie. Die laaste woorde van die roman word gesÍ deur Jans terwyl hy en Griet deur die lug beweeg: “Verbeel ek my ... of hoor ek ’n kriek skree?”

Die kriek herinner aan die kakkerlak van die begin; dis ’n waarskuwingsteken uit die werklikheid, wat herinner dat hierdie droom miskien net te goed is om waar te wees. Die suggestie is dat Griet, ondanks al die tekens van genesing, met een onoplosbare spanning sit — dat sy nooit ontslae sal kan raak van die konflik tussen droom en werklikheid nie.

Dit is vir my een van die bekoorlikhede van die boek: aan die een kant hierdie verwikkelde verbinding van temas en motiewe; aan die ander kant ’n ligte, humoristiese aanslag. “Was daar al ooit iets soos ’n Snaakse Afrikaanse Roman?” vra Griet se vriendin Gwen aan haar (p. 78), en Griet bly haar ’n antwoord skuldig. Griet skryf ’n sprokie is miskien Griet se antwoord op hierdie vraag; dit handel oor pynlike ervarings sonder om die glimlag en die lag te verloor.

Uit die bespreking tot sover het u seker agtergekom waar my simpatie lÍ — ja, ek hou baie van Griet. Sommige lesers sal miskien teenpraat: “Met so ’n literÍr-tematiese bespreking klink die boek so onskadelik; maar moet ek nou hou van ’n boek wat so vol is van onfatsoenlike taal en van die eksplisiete beskrywing van dinge wat maar in die slaapkamer kon gebly het?”

’n Mens moet egter onthou om te onderskei tussen die karakter en die boek as geheel, en tussen die karakter en die skryfster. Die skryfster het myns insiens probeer om so eerlik as moontlik die gevoelens weer te gee van iemand wat bepaalde krisisse deurleef het. Die karakter is wel soms immoreel, maar sy besef dit self, en erken dit. Wat die skryfster doen, is om met die moraliteit van die grootste eerlikheid die gevoelens uit te beeld wat iemand in dergelike omstandighede sou kon ervaar.

Want dit kan ons maar seker weet: daar is meer as een Griet in ons samelewing. In baie opsigte praat Griet namens ’n generasie wat tussen die oue en die nuwe staan. Hulle kan nie meer die identiteit en die waardes van die ouer geslag vroue aanvaar nie, maar kan ook nie heeltemal daarvan loskom nie. Hulle pas nie meer in die ou rolmodel van die vrou nie, maar hulle het nog nie ’n nuwe rolmodel gevind wat vir hulle geluk kan bring nie. Hulle is ontnugter en sinies, maar hulle bly droom van ’n ridder op ’n wit perd.

Die teenstrydige reaksies wat die boek by lesers uitgelok het, is nie soseer toe te skryf aan ’n verskil in literÍre oordeel nie, maar aan ’n verskil in ervaring. Dit is omdat die boek die spanninge van een geslag uitspreek waarvan ’n ander geslag nie kennis dra nie.

Diegene wat dit nog nie gedoen het nie, gaan lees gerus vir Griet — ter wille van die baie Griete wat in die samelewing bestaan; en ter wille van ’n goed geskrewe boek wat die Afrikaanse letterkunde weer leesbaar gemaak het vir duisende lesers. Marita van der Vyver het van Hansie en Grietjie ’n grote Griet gemaak.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.