Koos se Spens - rubriek deur Koos KombuisArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Luc Renders, jy’s ’n gifappeltjie!

’n Kontekstuele analise

Koos A Kombuis

’n Ruk gelede kry ek ’n e-pos van ’n fan uit Nederland. Hy wil by my weet wie Luc Renders is. Hy haal onder andere aan uit ’n resensie wat van my boek Seks & Drugs & Boeremusiek in ’n Nederlandse publikasie verskyn het deur ene Luc Renders. Luc Renders skeur my boek aan flarde in sy resensie. Om die waarheid te sê, Luc Renders se resensie van Seks & Drugs & Boeremusiek laat Dan Roodt se resensie van Anderkant die Stilte soos ’n aanbeveling vir die Hertzog-prys klink.

Vir ’n paar dae lank loop ek iesegrimmig rond en ek wonder: Wie de hel is Luc Renders en wat het hy teen my?

Toe, eendag, besoek ek LitNet, en sien die man skryf vir julle ook. Hierdie keer loods hy sy gifpyle teen NP van Wyk Louw.

Nou is almal upset, nie net ekke nie. Nou skielik loop almal iesegrimmig rond en vra mekaar af: Wie de hel is Luc Renders?

“Hy’s ’n irriterende kritikus,” vertel iemand by my uitgewers my.

“Hy is ’n instrument van Satan,” waarsku ’n dominee in ’n brief.

“Hy’s waarskynlik ’n ou hippie,” grom my vrou.

Een ding is seker: Luc Renders is ons nuutste gifappeltjie. Hy’s die ou wat deur almal gehaat word, want hy het die ongehoorde gedoen: hy het ’n heilige koei in die openbaar afgeslag. Hy het gewaag om NP van Wyk Louw, ons grootste ikon, te probeer onttroon.

Dis ’n onvermydelike deel van die literêre en kulturele diskoers dat daar van tyd tot tyd gifappeltjies op die toneel verskyn met hulle aweregse menings. Dan Roodt is nou al so lank een van die hoof-gifappeltjies van Afrikaans dat hy al feitlik ’n tradisionele instelling is. Rapport het hom al glad aangestel as rubriekskrywer.

Gifappeltjies, om die waarheid te sê, kan dikwels nogal ’n heel goeie bestaan maak in Suid-Afrika. Kyk maar vir Joan Hambidge. Kyk maar vir Steve Hofmeyr (veral deesdae vandat sy hare gesny is en hy so ongelowig is). En ek was natuurlik self ’n prominente gifappeltjie op my dag. Deesdae is ek miskien vir ’n ruk lank ’n toffie-appel — die establishment aanvaar my met ope arms — maar wie weet, môre of oormôre (en veral as my volgende boek verskyn) verander ek tien teen een weer in ’n gifappeltjie, verban na die buitenste ruim saam met Dagga-Dirk Uys en Terblanche Jordaan, un-kosher en un-cool, met slegs die koerante wat nou en dan net-net met ’n tang aan my vat en roer om te kyk of ek nog asemhaal en of ek nog kan weird goed sê.

Maar terug na die betrokke gifappeltjie onder bespreking: Luc Renders. Was hy reg om NP van Wyk Louw so af te kraak? Stephanie Nieuwoudt het, met haar gebruiklike deeglikheid, ’n wye meningspeiling onder gerespekteerde Afrikaner-intellektuele (slim toffie-appels, met ander woorde) gedoen en soos feitlik een man het hulle die volgende gesê: “Ja, maar ...”

Ek hou van daardie statement: “Ja, maar …” Mens sê dit as jy niks van iets of iemand hou nie, maar jy’s te bang om dit te reguit te sê. Soos in “Ja, ek hou van afval, maar hulle moet die breins uithaal.” Of “Ja, die Springbokke het baie potensiaal, maar hulle moet net leer rugby speel.” Of (in hierdie geval): “Ja, Luc Renders het die reg op sy opinie, maar ons dink almal dis ’n klomp stront.” (Natuurlik het hulle nie een reguit gesê “Dis ’n klomp stront” nie. Hulle het gesê “Mens moet dit in konteks sien.” Dis dieselfde soos om te sê dis ’n klomp stront.)

Dit klink nou seker of ek ’n moerse draadsitter is, maar na deeglike studie van Luc Renders se essay oor van Wyk Louw is dit ook al wat ek kan sê. “Ja, maar ...”

Ek is nie getroud met die idee dat NP van Wyk Louw onaantasbaar is nie. Ek het ’n paar van sy plays tydens my skooljare gesien, en hulle bra vervelig gevind. In daardie jare, as ek reg onthou, was Germanicus nog verpligte leesstof. (Ons — dis nou ek en Etienne van Heerden — het dit herdoop na Germaniak.) Die pluimsaad waai ver onthou ek ook as ’n eindelose geteem en ’n gewroeg.

Raka was ’n ander storie. Ek het dit nooit opgevoer gesien nie — het enigiemand al die guts gehad om Raka op te voer? Of was dit omdat swart akteurs nie toe beskikbaar was nie? Maar wat ’n boek! Wat ’n storie! Wat ’n meesterstuk van aksie en spanning! Selfs op skool, toe my idee van goeie letterkunde die Mark Condor-fotoboekies was, was ek diep onder die indruk van die gespierde taalgebruik en pragtige beeldspraak in Raka.

Ja, ek smaak NP van Wyk Louw. Ek hou van sy poetry, sy idees, sy filosofie van “lojale verset” — amper so geniaal soos Gandhi se “passiewe weerstand” — maar as iemand nou uit die niet verskyn en beweer Germanicus is ’n pot snot, pla dit my nie. Elke held het tog maar sy mindere oomblikke.

Maar (hier kom my “maar”). Ek vermoed tog dat Luc Renders (en okay, dis net ’n vermoede, en ek is natuurlik uit die aard van die saak self bevooroordeeld) deur ’n sekere bril na NP van Wyk Louw kyk. Ek verdink Luc Renders van sekere politieke onbuigsaamheid. Ek onthou dat ek destyds dieselfde kritiek teen Jane Austen gelees het as die soort kritiek wat Renders teen Louw uitspreek. Jane Austen, so het ’n sekere literêre denkrigting in Britse universiteite aangevoer, was ’n snob, want sy het net oor die Britse hoër middelstand geskryf, sy het die laer klasse en die sigeuners en die onwettige immigrante en die werkers heeltemal geïgnoreer.

Sure, hierdie kritiek teen Jane Austen is waar. Maar dis nie die enigste waarheid omtrent Jane Austen nie. Die feit dat TS Eliot glo ’n closet-Nazi was, beteken nie dat hy nie kon dig nie. Jane Austen het briljante verhale geskryf oor ’n verwysingsveld wat sy geken het. Sy kon nie oor enigiets anders skryf nie, sy het nooit probeer nie, en niemand weet hoe sy in haar privaat hoedanigheid oor die klasseverskille gevoel het nie. In ieder geval, om deur so ’n streng politieke bril na haar werk te kyk, om so uiters didakties en humorloos om te gaan met materiaal wat eintlik in die eerste plek bedoel is om die leser te vermaak, voel vir my verkeerd. Dis soos om klein katjies nek om te draai sodat hulle nie eendag kan voëltjies vang nie.

Dit is tien teen een te danke aan kritici soos Luc Renders dat ’n interessante karakter soos Golliwog verwyder moes word uit die Noddy-verhale (terwyl die Goblins nog steeds sonder enige eiendomsregte sit). Mens sidder wat hy sou aanvang as iemand ooit vir hom Roald Dahl se Revolting Rhymes in die hand sou stop.

Dit, dus, my oordeel. Ja, maar. Ja, Luc Renders, jy kan sê wat jy wil, maar ek dink dis ’n pot snot.

Maar dalk moet ek nog ’n ekstra kwalifikasietjie byvoeg. Wat van die woordjie tog? Ja, dit klink vir my meer indrukwekkend. Dis ten minste anders as die ander. “Ja, maar ... en tog.”

Ja, Luc Renders, jy kan sê wat jy wil, maar ek dink dis ’n pot snot, en tog is ek bly jy’t gesê wat jy gesê het.

Overgezet synde:

Hoewel ek nie met jou saamstem nie, Luc Renders, hoewel ek dink jy is ’n gifappeltjie, is dit tog belangrik dat daar mense soos jy is wat sulke snert soos jy skryf. Want iewers tussen al die kaf kruip daar soms ’n stukkie koring weg.

Ek is oud genoeg om te erken ek het al van my beste lesse geleer by mense van wie ek niks hou nie.

Was dit nie die einste Winnie Mandela wat, skaars vyf minute na ons eerste demokratiese verkiesing, die skokkende statement gemaak het, nie: “The ANC has betrayed the people”? Vandag wonder groot geeste en gesaghebbende mense soos Sampie Terblanche daai selfde ding.

Daar was ’n tyd toe ek Dan Roodt voor die voet afgeskiet het, want hy’s ’n nare ou neoregse, hy lyk soos Al Gore, hy’t my vriende beledig, en sy kennis van rugby laat veel te wense oor. En tog het ek minstens twee baie interessante tips by hom opgetel. Eerstens, mens hoef nie skaam te wees vir jou eie Europese (of blanke) herkoms nie. Dis stupid om apologie aan te teken omdat jy ’n whitey is. Dan Roodt, gifappel de luxe wat hy is, het my as gevolg van hierdie wonderbaarlike insig verlos van ’n hele boel onnodige skuldgevoelens wat ’n paar jaar van linksgesinde Struggle-breinspoeling daar geplant het. Benewens dit het hy my (tweedens) laat besef dis okay om soms te wonder of die anderskleurige karakters in Brink se boeke nie dalk deur die bank ’n klein bietjie te onrealisties “nobel” geteken word nie (moenie my verkeerd verstaan nie, ek hou van Brink!). (Maar!) (En tog!)

En Luc Renders? Ja, maar en tog. Ja, na alles het hy my met twee interessante idees gelaat. Eerstens sal ek dit nooit weer as vanselfsprekend aanvaar dat ’n boek wat goed ontvang word in Afrikaans, noodwendig dieselfde impak oorsee sal hê nie (ek sal nie weer by my uitgewers sanik dat hulle my outobiografie in Engels moet vertaal nie; ek sal eerder eendag ’n nuwe een spesiaal vir die oorsese mark probeer skryf).

En tweedens: vir die eerste keer kan ek erken, sonder om te bloos: “Ja, al is ek mal oor NP van Wyk Louw, is ek verveeld, tot die dood toe verveeld, met Germanicus en Die pluimsaad waai ver.” Inderdaad, as gevolg van hom het ek dit vroeër in hierdie artikel erken, en kyk! Skielik dra ek ’n klein bietjie minder bagasie met my rond. Skielik is ek ’n klein bietjie vryer!

Gifappeltjies het ’n funksie in ons samelewing. Hulle skok die establishment wakker. Hulle ondermyn gevestigde opvattings. En, beste van alles, hulle irriteer die toffie-appeltjies (it’s a dirty job, but somebody’s got to do it). Selfs ek, in my hoedanigheid as tydelike ere-toffie-appel, moet erken dat ’n enkele stem van kritiek, ’n enkele tydige waarskuwing tussen al die akkolades en gelekkery, soms help keer dat ’n mens te gou begin wurms kry en vrot.

Om op te som: Luc, jy’s ’n fokken gifappeltjie, maar hou so aan, hoor.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.