KlankKas - Musiek en meer!Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.



Klippe, musiek en Jägermeister: Oppikoppi – April 2005

Katvrou

Klik op foto vir vergroting en volledige onderskrif!

By die kroeg

OppiMaan

Pleister?

Oranje gloed

OppiWoef!

Weer oranje

Oranje kolle

Prime Circle

Iets te ete?

Tuisgemaak?

Teen die tyd wat die teerpad Northam toe voor jou oopmaak, is kantoordinge geruime tyd reeds iets van die verlede. Veral as die koelboks dikgepak is en jy nie hoef te bestuur nie. Of nie kán bestuur nie, in my geval. Siestog …

Nietemin. In die luidsprekers gooi Francois Blom ’n gruwelike Bloedrivier vol hondedrolle en emmersvol teer – en die pad streep verby in ’n kits. Ja, jy ry wel na die kleiner Oppikoppi van die jaar, maar dit beteken ook jy kan vinniger gepiepie kry en jy hoef nie jou pad oop te vuis en te spoeg tot by die kroeg nie.

Tente word deesdae sommer so op die grond neergesmyt en dit spring vanself regop. Dis net nie so maklik in die donker nie. Indien die verdomde ding nie vanself wil staan nie, probeer maar die tradisionele metode van tentpenne en so. Staan dan na so twee ure terug, kyk na jou handewerk en sug behaaglik. “Ja. Oppikoppi.” Die res van die tentbewoners sug dan saam. “Oppikoppi. Dis ons plek. Bos, Braai, Boom, Bier, en Bitches.”

Natuurlik hang dit af waar jou prioriteite sit. Maar Befokte Musiek is gewoonlik boaan daardie lys.

En ons sit regop soos meerkaaie oor die nuwe name.

Rokkeloos. Airship Orange. Rooibaardt. Old Mol. Want jy kom nie net Oppikoppi toe om die mense te hoor wat jy ken nie – dit is effe anaal. Verstok. So bly sit jy in die sloot. Jy kom Oppikoppi toe om nuwe mense te sien, om te kyk wat hulle dan nou eintlik so kwaai maak om op hierdie plaas tussen die klippe en die doringbome te kom speel.

En na die tyd, sodra jy weer kan praat en reguit vorentoe beweeg, strompel jy af tent toe en gaan sit by die vuur. Terwyl die woorde om jou ore loop oor wie goed is, wie verdomp vreemd op die verhoog optree en wie hondzef is.

Nes met Airship Orange.

Dis ’n vreemde man, hierdie voorsanger van hulle. Jacques Moolman met die wilde pieringoë. Voor daar nog ’n noot gepleeg word, slofsleep hy oor die verhoog rond met sy een voet in ’n kitaarsak. Dan maak hy waansinnige laggeluide in die mikrofoon en beduie met ’n heksevinger na ’n oopmondgehoor. Hy peuter aan die toerusting agter hom, rol sy oë vir ons, vroetel aan die kitaarsak en trek dit dan oor sy kop. “What? There’s a guitar bag over my head??” maak hy eg verbaas of hy nie daarvan bewus is nie. Daar is meestal nuwe klanke, met die vlugvoetige “Sister Simone” wat onmiddellik reaksie ontlok. Hierdie ouens kan nie omskryf word nie. Dit wil ook lyk asof hulle musiek ’n leefstyl is. Die styl is alsbehalwe onnosel, lugtig met opset, maar moenie jou skoene te veel poleer nie. Dis tydmors. En Jacques Moolman het ’n stem wat weier om geïgnoreer te word. Hy sing deurgaans, reg op hoek van ’n liedjie, dwarsdeur die substandaard van die Idols-wenners.

Jägermeister se oranje pas ongemaklik perfek by Airship Orange. Skeloranje rafelrige hoenderhoede en T-hemde word met reëlmatige gereeldheid van die verhoog af gegooi. Die hoenderhoede is perfek om die kopvel warm te hou, en later, wanneer jou kuite en kniekoppe begin kleinkoppie trek van die koue, werk dit kwaai om bietjie hitte te versprei. Dit, en natuurlik met ’n paar diep skeute van die Jägermeister-monster. Moenie dit sluk as jy nog nie geëet het nie. Jy kan dit met mes en vurk deur jou maagwand voel vreet, al ses en vyftig van daardie regstellende Duitse kruie. Terwyl jy in die kroegdeur staan en oral sulke dik wollerige oranje spatsels voor jou sien rondswaai.

O. Dis die mense wat dans.

Dis mos wat Rooibaardt se aardse missie is. Laat die mense dans. Moer jou moegheid een hou teen die kop, en daar gaat jy. Ongelooflik om te sien wat gebeur die oomblik wat Denzl Keenan daardie verweerde viool van hom optel en geluide uit haar beginne trek. Dis soos ’n brander van ooooo-bliksem-wie-is-dit-hierdie-ooo-disss-lekkerrrrrrrr … oor die gesigte agter my. Dis Rooibaardt se eerste optrede by Oppikoppi en die indruk is swaarder as ’n stoetbul wat dwars oor jou maag kom lê. Djembes, trompie, swembadpype, kleipotte, kitare, nog kitare, ’n kwaai geel eendjie, Bethlehem se taal en mangos word voorgesing en gespeel asof kleintyd en moddervreet jou nog nooit gelos het nie. Ahooi. Rooibaardt ruk mal. Soos Denzl en Hensie saam met Louis die mikrofoon binneval: “U-JAJAJA-AHOOI!!!”

In die voormiddag kan jy jou maklik verbeel dis vlermuise wat verby jou gesig getwirrrrr kom, maar dis net die torre. Sulke groot knorrige swartes, met flappervlerke soos asdromsakke. Die goed drink sweerlik bier om so lank in die lug met daardie skurwe doplywe te bly hang. Soggens hoor jy hulle nie eintlik nie. Die tent beskerm jou, sien. Maar buite bly die inspirerende dialoog vibreer:

“Jissie, daai ouens se vuur stink.”

Kort stilte.

“Man, dis jou hol wat so stink.”

Dawerende gelag uit elke windrigting.

Kyk, jy kan mos nie met ouens Oppikoppi toe kom met wie jy nie oor die weg kan kom nie. Maar jy moet steeds vir hom kan sê hy is ’n opperste doos en kan wegstap sonder om die skerp kant van ’n afgekapte kaktusblaar teen jou kop te kry.

Die klank van lepels in blikborde. Vrede in die kamp. Sonder poeiermelk is mens nogal honger hier. Dinge smaak net soveel beter. En dan word daar mos lank en dik gefilosofeer.

“Oeeee. Mooi sarongmeisie.”

“Wat? Waar???”

“Daar, man. Oor die pad, by die Blou Uno. Mooi, mooi.”

“Jy kyk ook na al die verkeerde dinge. ’n Meisie moet mooi tande hê.”

“Man, as sy só lyk in ’n sarong, is tande nie so belangrik nie.”

Die verrassings loop met groot spore hier in April. Syd Kitchen en Bafo wat soos twee bloedbroers sit en kitaarpluk, dan ’n liriek of twee met ’n hoop rooipeper by. Sid wat droog en dood lyk van buite, maar allermins so is: “This song we’re doing for George Bush. JA-MAU!!!” Groot Bafo se skouers wat ruk soos hy lag. Ons skuif sommer op ons boude nader aan die verhoog. Syd leer ons weer bietjie van die geit en laat ons met die regte armgebare saamsing: “Ha-lo, you - me – manjemanje!”

Gie-gie-gie. Hierdie twee ouens is deel van die dorings hier. Die gees van die bos en die wind woon by hulle.

By die een groot tafel langs agter die kuierplek neffens die verhoog sit ’n groot klos omies en tannies met meer plooie as ek. Van hulle dogters is die twee doowah-meisies in die Fake Leather Blues Band, en hulle het kom kyk. Hulle noem vir my ouderdomme van 43, 48 en 56 jaar. “Ja man, ons ouer mense het gedink dis net ’n dronknes, hierdie Oppikoppi, maar hel, dis glad nie so nie!! Ons geniet ons gate uit!”

Ek staar verstom. Ja, tot hulle T-hemde sê trots OUBALLIE. Hulle wil weet of ek nie ’n doppie wil hê nie. “Kom, sit man, kry gou ’n lekker koue jin-en-tonic.” Dis warm. Die sweet tap. Daar’s tot ’n plastiekbakkie vol suurlemoenskyfies. Ek skeur myself daar weg. “Dankie, Oom, maar jin-en-tonic maak my jags.”

Buitendien drink mens nie as jy moet werk nie. Ha. Haha-haaa.

Tussen die mense wat sit en wag vir die volgende musiekpleging, kom ’n Jack Russell deurgetrippel. Daar sit ’n stuk klitsgras aan sy halsband vas. Hy steur hom min aan die voete en lywe om hom. Soms snuif hy aan ’n rugsak, of staan stil wanneer iemand sy rug raakvryf. Origens draai hy vir ’n halwe minuut of so in die rondte, sit dan op sy linkerboud onder die houtbank langs die boom en staar die bosveldvlakte in. “Daai hond is op boom, ek sweer,” hoor ek van die kroeg se kant af. Iets is aan die gang met hom, dis vir seker. Hy sit net en staar met stywe oë soos ’n zombiehond. En sodra iemand te veel aandag aan hom gee, wip hy sy gat in ’n krul en kies weer koers. Ek volg hom met my oë tot hy teen die boom langs die koffietent gaan pie. Hond met ’n missie. Boomhond.

Ek hoor klagtes oor Brixton Moord en Roof nie ’n volle stel speel nie – op die program staan BMRO/Trike/Plank. Dis eintlik ’n wrede bonus, want Esmé Evakwaad sit daar op ’n kroegstoel met verbysterende bene en ’n swart kousband wat gate in die ouens se oogballe brand. Trike word aangekondig. “O, dis daai girl met die weird gedigte.” Ek sien nie wie’t dit gesê nie, maar immers word daar nie gillend weggehardloop vir Trike se woedepoësie nie. En vandag hoor baie van die oopkoppe wat Skaamkoekie en Snorkelman op die plaas aanvang.

En die son klim hoër, verby die bome se langste vingers. Jy koes vir koelte, of jy nou gisteraand gedrink het of nie. ’n Ineengevlegte paartjie met kaal moddervoete en Savannas kom verby. Die meisie mor. “Nee man, ek wil nie deur die son loop nie.” Haar geliefde loop verstard voort. “Wag. Ek dink ons was hierso.”

’n Glas yswater en ’n bietjie lipsalf, en Gordon’s Suitcase met Greg Georgiades glip koel af in die keel. Dis of die lywe om my plotseling rustiger raak. Illimar Neitz en Rainier Brits haal jazz uit Ibanez en Voxx met ekstra vingers, Greg Georgiades glimlag vir ons met twee sulke bolwangetjies, trek ’n plat kitaarding met ’n gevoude nek en ’n tarentaalveer nader, Ernest Royeppen van Newtown klim uit die koelte van die pilaar met sy trompet – en die lekkerte begin. Wat as ’n vroegmiddag met ’n kopseer, klitsgras en seer boudspiere begin, eindig in ’n mengsel van wêreld-jazz, vibreersnare, subtiele improvisasie en ’n handvol kopernote wat Ernest met ’n sagte hand vir ons in sy trompet laat lê.

Dis sterk skemer. Tidal Waves beset die verhoog en nou loop die liefde, ja man. Die brasse van Stilfontein, Klerksdorp, Thembisa en Yeoville wat so lekker die Afrikaans gooi wanneer die bui hulle pak. Sam Shoai kyk intens die ligte in en praat met ons van geld wat die wêreld opfok, sy voorarms betrom die skille alte fiks, Jacob dans met sy rooi kitaar en omhels die hele koppie met “Lekker dans”, en ons dans, ja. Ons dans en juig vir Tidal Waves. Jacob is duidelik oorstelp. “I wish I could open my heart so you could see how much love I have for you!” Sy oë is baie blink. Die lug ruik na reën. Jacob knik vir Tebogo agter die diksnaar en maak óóp met grinnik, skoensole en snare. “Original music for original people!”

Daar is net een ander musikant wat hierdie Oppikoppi van April vanaf die eerste noot met soveel respek uit ’n klomp vreemde mense trek. Paul Hanmer. Ewe koel en regoprug doen hy die ding met klawers, kyk dat trompet en bas en tromme mooi loop op die pad, en alles wat hy doen, val in ’n onbewoorde vakuum waarvan ek nie eens geweet het nie. Ek hoor fluisterings van Unofficial Language, ’n vorige groep met sy invloed. Dat jazz en Paul Hanmer ’n heilige ding is. Ek luister terwyl die wolke bokant ons koppe mekaar in ’n hoek begin druk en die geel verhoogligte soos lang vlamme op die trompet dans … en Paul Hanmer met sy oop gesig en stil glimlag in die bos vir ons musiek uithaal wat ons straks nie weer in hierdie leeftyd sal hoor nie.

Niemand dink regtig dit sal reën nie. Jy kyk so skuins boontoe, sien die wolke is maar dun, en dans voort. Want sien, dis Hog Hoggidy Hogg, en wanneer George Bacon uitspring met sy groot badketting aan die broek en skreeu van sy “Aunty Trish, ah know you’re looking down on me!!!”, dan bewéég jy. Al druk jy ook ’n honderd stotende lywe agter jou terug, al probeer jy jou niere terugdruk waar dit tussen jou ribbebene ingemoer is, en ja, al reën jou bril van binne af nat. George hop en skreeu, Ross Da Bone blaas die trompet op en Amos maak dik gor-gorrrrrhhh geluide in die mikrofoon terwyl sy kitaar kaalsnaar teen die koppie afbliksem. Jiiiiiieeee-haaaaa!!!! Dit lyk nie of enigiemand bekommerd is dat elektriese dinge dalk kan natreën nie. George bulder uit sy stuitjie uit: “Ayuh, why did no one hear, AYUH, WHY DID NO ONE HEARRRR????” en sjoefffff, klaar is die reën. Jy dans jou nat hare droog, vergeet die modder en kry nog ’n Jägertjie vir daardie kouete in die maag.

Die maan is ’n blink wit oog. Die kroeg is ’n malhuis en die vroue staan toue voor die deur van die manstoilet.

Darem lekker hoe nat grond en blare in die aand kan ruik. Dit is dan ook makliker om in ’n boom se mik te sit terwyl The Narrow ’n entjie onder jou die grasdak laat sidder en die verhoog stuk vir stuk afskil. Maseharre.

Moeilik om te vergeet

  • ’n Kaal man kan alles onder sy naeltjie met een hand toehou – sonder om sy bier te mors.
  • Die man genaamd Ras wat moer ver van die verkeerde kant van die koppie afbliksem en ’n uur later weer regop kan loop met snye en al.
  • Southern Gypsey Queen wat hulle “Song for the Captain” aankondig met: “This is for the man who fell off the mountain.”
  • Die maer sprinkaan wat millimeter vir millimeter teen die mikrofoon opsloeg terwyl Franco “Can I get some, can-I-can-I get some” uitwoed. En ons wat roep: “Bug, there’s a bug!!! Watch the bug!!!” Bang dat Franco die ding gaan insluk en ons kry nie meer Soil7t7 nie. En die wind wat uiteindelik die sprinkaan die donkerte in waai.
  • Met elke Oppikoppi kom hang die maan bokant die bome om ook te kan hoor.
  • Dorings en Vaseline Lip-Ice loop dieselfde pad. Nie die fieferige duur Labello nie. Vaseline Lip-Ice skop gat hier in die bos.
  • “Ons is Old Mol and this is rock an’ roll.”
  • Die Engelse term “cuntstruck” perfek verbeeld in 90 persent van die gehoor met ’n verraderlik-onskuldige Rokkeloos (in kort verpleegsterrokkies) se “Skaapbraai”.
  • Die klontkop met sy Springbokhemp wat kliphard agter die kleurlingvrou se rug sê: “Kyk dié mak meid!”
  • Soil 7t7 wat hulle “Whale Song” aan die slagoffers van die tsoenami opdra. Met Franco se kitaar wat net soveel stemme het as wat die blou van sy nuwe Epiphone eers pers, dan blou, dan weer pers en blou onder die ligte skyn.
  • Een van die OUBALLIE-omies wat kla: “Hoekom sing daardie ou van Brixton ’fok die Kalahari, fok die Karoo’? Ek IS van die Karoo, ek’s LIEF vir die Karoo???” Dieselfde omie wat ’n uur of so daarna Brixton Moord en Roof se Terug in Skubbe koop.
  • Die kwaai ou met sy swart T-hemp: NAÏVE – what Adam did.
  • Twee elektriese kitare ontmoet in die middel van die verhoog. Albert Frost wat kyk vir Louis Mahlanga. Louis wat vir Albert kyk. En met ’n sluwe glimlag sê: “Yes well … I like Jimi Hendrix.” Wat daarna gebeur, is iets waaroor jy nie kan praat nie. Jy onthou dit net. En ril weer so ’n bietjie.

    Wees maar seker. Elke Oppikoppi het ander dinge wat vir jou wag – maar dis daardie dinge waarsonder jou geheue ietwat arm gaan bly.

    Sien jou in Augustus. Met Lip-Ice en ou klere.



    LitNet: 21 Junie 2005

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.