Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

“Gaan weg, dat ek van jou kan skryf” — Oor die skryf van liefdespoësie

Daniel Hugo


Toespraak gelewer op Woensdag, 30 Oktober 2002, by die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Stellenbosch se jaarlikse Colloquium.

Die Nederlandse — en daarom ook die Afrikaanse — letterkunde begin met ’n liefdesgediggie: “Hebban olla vogala nestas hagunnan / hinase hic enda thu / wat unbidan we nu”, oftewel: “Alle voëls het neste begin / behalwe ek en jy / waarvoor wag ons nou?” Dié reëls is bykans 900 jaar gelede deur ’n Vlaamse monnik in Engeland neergekrabbel. Het hy na sy vaderland en sy moedertaal verlang en daarom dié reëls, wat alreeds in die volksmond bekend was, neergeskryf? Of was hy werklik verlief en is dit ’n oorspronklike hartekreet? Of was dit sommer ’n klank- en metafoorspeletjie wat hy versin het om sy nuwe gansveerpen mee te toets?

Kom ons neem aan dat die monnik ’n ware digter was; dat hy daardie drie klankryke reëltjies self geskep het. Dan bly die vraag nog steeds: kom dit uit ’n brandende hart vir ’n onbereikbare liefde (onthou: die man is ’n monnik), of is dit bloot ’n bewys van sy taalvirtuositeit?

En dit is myns insiens ’n kernvraag in verband met liefdespoësie. Moet ’n digter verlief wees om liefdesgedigte te kan skryf? En indien wel: moet die geliefde aanwesig of afwesig wees? Met ander woorde: moet die digter gelukkig verlief wees, of moet hy ongelukkig verlief wees?

My antwoord op die eerste vraag is: Nee, verliefdheid, deurleefde liefde, onvervulde liefde of watter soort liefde ook al is nie ’n noodsaaklike voorwaarde vir die ontstaan van ’n liefdesgedig nie. Die digter kan inderdaad deur die moontlikhede van ’n metafoor verlei word om ’n liefdesvers te fabriseer. So kom selfs ’n monnik wat die selibaatsgelofte afgelê het, by ’n liefdesversie uit, waarin hy kamma sy geliefde uitnooi tot ’n gesamentlike nesmakery.

Gerrit Komrij beskryf dié proses baie raak in sy opstelbundel met die gepaste titel In liefde bloeyende:

De monnik staat over zijn boek gebogen en probeert zijn pen … ‘t Is voorjaar buiten, want de vogels zijn met hun nest bezig. Ook onze monnik krijgt de voorjaarskriebels. In zijn hoofd. ‘t Werkt daar associatief. Zijn heimelijke gedachte staat, nog voor hij er erg in heeft, op papier. Onbespied en onbewust, zoals dat gaat bij een probatio pennae“. (Komrij, 1998:7)

Die kern van hierdie kreatiewe en psigologies oortuigende verbeeldingsvlug van Komrij is dat die monnik se verliefdheid in sy kop ontstaan en dat die idee daar assosiasies aanknoop. Die assosiasie neem dan die vorm aan van ’n metafoor: voëls wat neste bou, is soos verliefde paartjies wat gedurig wil saamwees in ’n knusse omgewing. Dit is ook die digter in hom wat die saak persoonlik en onmiddellik maak: “ek en jy”, “ons”; in plaas van “hulle”. Sy versie is ’n sjarmante uitnodiging namens ’n onbekende vryer, want die monnik is nie werklik verlief nie. Goeie poësie is die unieke verwoording van universele gevoelens. En persoonlik-beleefde, intieme ervarings is nie ’n voorwaarde om iets op ’n unieke manier te kan verwoord nie.

In Afrikaans is daar ’n vergelykbare gedig — Boerneef se baie bekende:

die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
my hart staan tuit al meer en meer
ek stuur vir jou die berggansveer
mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê
(Boerneef, 1977:55)

In hierdie gedig praat die digter ook namens iemand anders — volgens Wium van Zyl, ’n eenvoudige inwoner van die dorpie Wupperthal (in die Sederberge) wat in terme van sy beperkte ervaringswêreld sy gevoel probeer uitdruk (Van Zyl, 1985:108). En die oorspronklike aanleiding of ingewing vir die digter was myns insiens die poëtiese paradoks van daardie “hoogste krans” en die volkse uitdrukking “hoe diep my liefde vir jou lê”.

Dit kan natuurlik moontlik wees dat die akademikus en volkstaalkenner IW van der Merwe hier nog ’n persona, naas die skrywersgestalte Boerneef, aangeneem het om ’n egte, persoonlike liefdesverklaring te maak. Maar selfs dié moontlikheid maak nie my stelling ongeldig dat ’n gedig doodgewoon kan ontstaan uit ’n metafoor of ’n stylfiguur soos die paradoks nie. Sonder dat daar enige onmiddellike, outentieke emosie by betrokke is.

Ek sal nou ophou spekuleer, soos wat ek noodgedwonge moes doen in die geval van die Middeleeuse monnik en die middeljarige Boerneef. Die volgende kwatryn het ek geskryf terwyl ek in 1978 diensplig gedoen het in Pretoria ná my studietyd op Stellenbosch:

Ex unitate

liewe liewe vrou — my uniegebou
met tweelingtorinkies kompleet — in jou
sal my minister van binnelandse sake
vannag sy dringende spitsberaad hou.
(Hugo, 1983:15)

Ek wás toe getroud, maar ek het dié reëls nog nooit as ’n liefdesverklaring of selfs as ’n verklaring van erotiese voornemens beskou nie. Dit was suiwer ’n poëtiese reaksie op die volgende gediggie van Wium van Zyl wat ek ’n jaar of wat tevore in ’n Stellenbosse studenteblad teëgekom het. Dit is heelwat later opgeneem in sy bundel Oggendvuur:

Bloemfonteinse nooi

My blomfonteinse nooi
tweetoringkerkie
in jou
wil ek aanbid.
(Van Zyl, 1991:55)

My sogenaamde liefdesgediggie was maar net ’n poging om vir Wium van Zyl te wys hoe sy metafoor aangepas en uitgebou kan word. Blote wedywering tussen digters dus.

Tot sover die serebrale sy, die kopkant van die munt. Maar die klinkende munt van die poësie het ook ’n stertkant, of — beter gesê — ’n hartkant.

Daar bestaan — uiteraard, natuurlik, ongetwyfeld — liefdesgedigte wat geïnspireer is deur ware liefde of egte verliefdheid. Voordat ek die vraag gaan beantwoord of die digter gelukkig of ongelukkig in sy liefde moet wees, en of die geliefde aan- of afwesig moet wees, wil ek eers wys op die grootste uitdaging wat die liefdesdigter in die gesig staar. Dit is naamlik om die oudste menslike emosie vars en verrassend te verwoord. Daar word al sedert daardie monnikekrabbel vir byna 900 jaar liefdesgedigte in Diets geskryf. Die Hooglied van Salomo — om maar lukraak nog ’n voorbeeld te noem — is 3 000 jaar oud. Dit word dus al hoe moeiliker om iets nuuts oor die liefde gesê te kry; om ’n nuwe uitdrukkingswyse vir ’n oeroue ervaring te vind. Dikwels kom die digter nie verder as ’n belydenis van onmag nie, soos in my gedig “Nog ’n liefdesgedig” uit Die twaalfde letter:

Nog ’n liefdesgedig

my liefste lief, hoe maak ’n mens
’n liefdesvers uniek? so spesifiek
dat dit alleen op jou kan dui?
want besing ek — met alle respek —
die lyne van jou bors of dy
sien elke geletterde skarminkel
hoe sy meisie net vir hom uittrek,
en sê ek dat jy blond is soos kerswas
is daar ’n paar miljoen vroue
wat perfek by dié beskrywing pas
— ’n gedig is skaars ’n foto of skildery —
verstaan jy nou dat ek liewer stilbly?

en kyk: ’n verliefde digter wat swyg
dit, my liefste, dit is uniek.
(Hugo, 2002:35)

Maar soms geskied die wonder en kan die digter die illusie van prille oorspronklikheid skep; met ander woorde, kan hy ’n diepgevoelde liefdeservaring uitbeeld asof hy en sy geliefde die eerste mense op aarde is, soos in “Idille” (ook uit Die twaalfde letter):

Idille

God is uit op sy aandwandeling.
’n Swoel bries laat die blare roer
van die appel en van die vy.
’n Eekhoring kir, ’n tortel koer.

Dit is die tyd voor getye
en die bome nog immergroen.

Maar agter die Tuinier se rug
is die vy van ’n paar blare reeds
beroof. Die seisoene het begin
met ’n eerste, senuagtige soen.

Eva, waar is jy? roep God
(Hy is jouwaarlikwaar jaloers.)
Maar die twee soeners is doof
solank as die Eersterivier druis.

Elke keer as jy kaal by my lê, my lief
hoor ons ’n sug uit die Paradys.

Stellenbosch
(Hugo, 2002:34)

Die prilheid is maar net ’n illusie, het ek gesê. Agter elke verliefde paartjie staan die mitiese figure van Adam en Eva. En elke liefdesgedig van die gelukkige soort is maar net ’n variasie op Genesis 1. Om die waarheid te sê: elke liefdesgedig van die ongelukkige soort is ook ’n variasie op Genesis — maar dan op Genesis 3, waar die mens uit die Paradys verban word.

Wanneer skryf ’n digter die beste poësie: in ’n staat van geluk of ongeluk? Dis nie te sê nie. In albei toestande kan hy goed of sleg skryf. Dit bepaal wel die aard van die skryfwerk. As hy gelukkig genoeg was om ’n sielsgenoot of lewensmaat te vind, sal sy poësie waarskynlik eers liries-feesvierend van aard wees, en later huislik-tevrede. As die verhouding skipbreuk ly, sal dit eers wrokkig-verontreg wees en later introspektief-berustend. Vir die digter-in-sy-liefde-verlaat is skryf ’n noodsaaklike terapeutiese proses.

As Elisabeth Eybers sê: “Gaan weg, dat ek van jou kan skryf”, doen sy dit waarskynlik om ’n ander rede as bloot vanweë haar “grillige bedryf”, soos wat sy die maak van poësie noem:

Soms

Hoe oerontvanklik vir jou koms
en onversadig, sug ek soms
vanweë my grillige bedryf:
Gaan weg, dat ek van jou kan skryf.
(Eybers, 1990:403)

Dit lyk asof sy wil sê dat die digter eintlik net oor afskeid en verlies kan skrywe. Maar dit is geensins waar nie. Ook nie in Eybers se geval nie. Dit word bewys deur die talle gedigte wat sy oor liefdesgeluk geskryf het. In dieselfde bundel (Einder, 1977) staan byvoorbeeld die volgende ekstatiese reëls: “Mens moet gekoppel word om saam te swewe, / geknel tot ’n uitbundige enklaaf” (Eybers, 1990:409).

Waarom sou die digter dan wens dat die geliefde ter wille van die poësie moet weggaan? Die rede is myns insiens die kwessie van vertroulikheid en privaatheid. Hoe intiemer mense mekaar leer ken — emosioneel, intellektueel en fisies — hoe weerloser word hulle. Daarom is dit nodig dat hulle ’n soort onuitgesproke, nie-amptelike kontrak eerbiedig dat hulle mekaar nie aan die buitewêreld sal verraai nie. Die geliefde oor wie daar verse gepubliseer word, voel maklik blootgestel aan ’n onsimpatieke of vyandige wêreld. Wat vir die digter ’n persoonlike taaltriomf is, kan vir die liefdesvennoot ’n openbare vernedering wees. Daarom probeer die digter om verleentheidswekkende situasies te voorkom deur gebruik te maak van verhullende poëtiese tegnieke soos beeldspraak, woordspel, ironie, ensovoorts. Dit beteken sekerlik nie dat die digter oneerlik moet wees nie. Gaan weg, dat ek van jou kan skryf? Nee, dis nie nodig nie, solank jy net sensitief en vernuftig genoeg is.

In Karel Schoeman se outobiografie lees ek dat die Duitse toneelskrywer Frank Wedekind (1864-1918) gedurende hulle verlowingstyd of vroeg in hulle huwelik vir sy vrou sou gesê het dat hy haar kan liefhê óf gebruik. Nee, sê ek, jy kan iemand liefhê én oor hom of haar skryf sonder om die geliefde persoon te misbruik. Liefde gaan trouens oor ’n verhouding, ’n wisselwerking. As jy oor die liefde skryf, kan jy nie anders as om jouself te impliseer en sodoende eweneens bloot te stel nie. Dit is dalk die rede waarom die menssku Karel Schoeman so ’n radikale standpunt inneem as hy beweer dat “… ’n verhouding, of in elk geval ’n bevredigende verhouding, vir enigeen wat kreatief werksaam is sonder meer onmoontlik is, ongeag die omstandighede” (Schoeman, 2002:460). Dit klink vir my — om dit sag te stel — erg ekstreem.

Lank lewe die liefde! Lank lewe die digter! Lank lewe die geliefde!


Bibliografie

Boerneef. 1977. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg.
Eybers, Elisabeth. 1990. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg.
Hugo, Daniel. 1983. Die klein aambeeld. Kaapstad: Human & Rousseau.
Hugo, Daniel. 2002. Die twaalfde letter. Pretoria: Protea Boekhuis.
Komrij, Gerrit. 1998. In liefde bloeyende. Amsterdam: Bert Bakker.
Schoeman, Karel. Die laaste Afrikaanse boek — outobiografiese aantekeninge. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Zyl, Wium. 1985. Digters en digkuns — ’n studiegids. Johannesburg: Perskor.
Van Zyl, Wium. 1991. Oggendvuur. Kaapstad: Tafelberg.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.