Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Beste Charles, Loreinne, en kollegas

In 1964, kort voor my en Charles se Stellenbosse jare, dig Boerneef in Palissandryne:

My oom Willie Naaf had harspan
’n man met ’n gedamasseerde kop
hy het dit self geweet
en hyt vir my gesê
Sakman ’n man moet harspan hê
’n harspan wat oorlopensvol woorde lê
annersonie is jy nommer nôt
jy moet jou woorde kan inspan
groot en diep en gedagtewoorde moet jy kan inspan
van hotagter oor die paar op ses tot die haarvoorbul
en dan ry jy juts boeta swernoot dan ry jy juts
met jou gedagtens jou woordens en jou werkens
en hulle wat luister se verstand staan botstil
janee oom Willie maar ek willit hê
swerkaterja

Charles, Charleyboy, Charlesmagne, Kadmon, die reus van Tafelberg, Meneer Freier, Meneer Fryer, en Loreinne, Loreinnetjie - ja, deur die jare was dit ’n begrip: die Fryers; ja, inbegrepe die drie kinders ook. Waar is die jare toe Loreinne kinderboeke vertaal het, ontsettend noukeurig proeflees- en redigering van vele boeke gedoen het? Loreinne se aandeel aan die sage rondom PH Nortje se Duisendblaar sal ek in my memoires opteken. Ek wonder wie van dié twee gewese onnies, Charles of Loreinne, het die meeste parate taalkennis? En dan het Loreinne haar ook onmisbaar gemaak vir die hongeriges by Tafelberg. Charles wat teen middagteetyd opdaag met ’n bakkie toebroodjies, stukkies kaas, en die spesialiteit: frikkadelletjies. Ek het al die jare skuldig gevoel dat ek die bakkie moet leegmaak sodat Loreinne bedrieg kan word.

Om by Boerneef terug te kom, Charles het gewis ’n “gedammaseerde kop”, een wat “oorlopenstoe vol woorde lê”. Want anders sou hy nooit in staat gewees het om soveel boeke, sulke gewigtige, woordeboekdik boeke te kon versorg nie. Want hoeveel gebeur daar nie in die kop van ’n boekeredakteur nie? Ek en Charles het dikwels daaroor gepraat. Dis ’n geestesinspanning; daar’s jou gunstige en ongunstige gemoedstoestand, jou eie bekommernisse en vreugdes wat tussen jou en die teks wil inskuif, jou moegheid, maar jy moet konsentreer, besluite neem; jy twyfel, jy verander en keer terug na die oorspronklike. En dan een van Charleyboy se sterk vermoëns: om ’n probleem te identifiseer en dan raad daarmee te hê, daarna met aardsrustigheid saam met die skrywer dink en hom of haar diplomaties omhaal. Ek sal altyd onthou hoe Charles my klaptekste gehanteer het - hoe hy direk op die gedeeltes afgestuur het waaroor ek getwyfel het, hoe hy met heerlike helderheid deur die probleem kon sien en feitlik altyd met ’n voorstel gekom het waarmee ek my dadelik kon versoen het. Ons het altyd gespot dat ek nog as verskrompelde ou man by hom in sy kantoor sal inwaggel. “Charles, kyk tog na my klapteksie.” Gelukkig sal julle jongspan so ’n toneeltjie nou gespaar bly.

Ek het bereken dat Charles met sy insig en aanvoeling en aanhouvermoë deur die jare 70 skrywers se werk versorg het. En dan is daar nog talle ander skrywers en boekmense met wie hy as hoof van fiksie in aanraking was. Ek wil net iets duidelik stel: Hy sê altyd ek het skrywers by hom afgevry. Dit is nie waar nie. Hy het dit toegelaat! Sommiges vir my aangegee soos ’n ouboet sy baadjie vir ’n jonger boetie. Byvoorbeeld Hennie Aucamp, Thomas Deacon, Donald Riekert. Sommiges het hy by my ook oorgeneem.

Charles Fryer was die redakteur van die belangrikste skrywers sedert die jare sewentig. Op ’n paar uitsonderings na. Luister maar net na ’n kort erelys: Hennie Aucamp, TT Cloete, Sheila Cussons, Elsa Joubert, Anna M Louw, Dalene Matthee, FA Venter, Petra Müller, Ernst van Heerden, Alexander Strachan, E Kotze, Marita van der Vyver, Etienne van Heerden, George Weideman. Vir hoeveel skrywers het hy nie deeglik gehélp om hulle “groot en diep en gedagtewoorde” ingespan te kry nie. Ja, vir bogenoemde en talle ander: Hester Heese, Evelyn Marais, Willem D Kotze, Mathews Phosa, Ena Murray (as digter). En in die afgelope tyd het hy nog skrywers gelei na bekroningswaardige werk: Tom Dreyer, Dan Sleigh, Dine van Zyl, Henning Pieterse. En ek en Ettie Labuschagne (Williams), twee van sy onderdane, is ook dankbaar dat hy ons gepubliseer het.

Ek en Charles het mekaar op ons dag en dae bitterlik kwaad gemaak. Van die mees dramatiese oomblikke in my lewe was dié waarin Charles my op my plek gesit het. Maar dan was daar ook die onvergeetlike geleenthede dat Charles met sy groot menslikheid ’n mens daadwerklik gehelp het. Nie net woorde, vae beloftes nie. Hy kon volledig aandag gee aan jou persoonlike probleme of lastighede in jou na-uurse lewe. Hoeveel keer het hy nie vir my voorspraak gedoen by die grootbase nie, my nie beskerm nie? Charles was as heer en meester baie genadig, groot van goedertierenheid, het ons baie beweegruimte gegee. Dit het ’n lojaliteit teenoor die afdeling wakker gehou by ons. Ons wou nie vir Charles en die afdeling in die steek laat nie, al moes ons ook opstandig raak.

Charles se humor. Hy begin gekskeer oor ’n sekere onderwerp en dan hou dit aan soos ’n sepie - dae, selfs weke lank. Vir my as gay: “Danie, hoekom maak jy nie Louise (kollega Louise Steyn, hoof van kinder- en jeugboeke) joune nie?” Of: “Henk (’n middeljarige rekenmeester) wil so graag met jou gesels.” Ek dink toe dié Henk is die een of ander Nederlandse skrywer. En wat van Charles se groot vreugde in hierdie lewe: Hy kry voornemende Barbara Cartlands op besoek en dan bring hy die persbehaarde tantes tot in my kantoordeur, stel hulle aan my voor. Hy staan met ’n Mona Lisa-glimlag agter hulle, hulle sien nie sy reaksie nie, en hy staan en verlustig hom in my vertoninkie van “vreugdevolle” kennismaking. Hy’t dit met DJ Opperman ook gedoen in dié se herlewingstyd. “Professor onthou nog vir Danie Botha?” Verleë, maar gul giggel Opperman.

Ek hoop, Charles, dat jy nou verderaan met jou “harspan wat oorlopensvol woorde lê” jou eie ding sal doen. Jy het al met Rooiwielwa en met ’n verhaal soos “Dokter Niemeyer” “terug na (jou) hartland” gegaan. As ek my bloemlesing mooiste gedigte in Afrikaans moet saamstel, sal ek ’n stewige gerf uit Rooiwielwa sny. Mag jy nou verder vir ons skryf, boeta. Nog tekste soos jou Passiespel. Kyk ou rolprente en skryf.

Ja, mense, dis die einde van ’n era. Die tyd het aangebreek dat Charles op sy rooiwielwa klim. Die slotwoorde van sy gedig word nou in ’n sekere sin waar. Hy gaan niks meer van ons klomp vra nie, altans nie werkgewys nie.

Ek gaan saam met die rooiwielwa
Wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan,
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.



boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.