Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Brink se 70ste

Toast Coetzer

Rooiwyn kon ek kwalik nog van drink (Saterdagaand lê nog soos 'n tipe plaak in my are), so daar't ek verbygestap. Ek't 'n snack wat lyk soos live bait en 'n skraal sosatie probeer. Dis die tipe versnaperinge wat jou 'n uur later soos 'n ongemaklike kwartel laat poep.

Ek't niemand gesien wat ook by die Fokofpolisiekar-launch was verlede week nie. Dit was 'n effe anderster tipe jol.

Daar was mooi vrouens wat aktrises is (Dorette Potgieter), mooi vrouens wat skrywers is (Mary Watson) en hulle boyfriends, 'n mens met 'n strikdas (Kerneels Breytenbach), 'n man wat ekstra sosaties op sy bord gelaai het (Kader Asmal), iemand wat in die hoek gesit en chill het (Joe Mafela), die vrou met die rooiste lipstick in die heelal (Eloise Wessels), 'n dashing TV-aanbieder met 'n naam en van soos sigarette (Paul Rothmann), 'n ou met 'n baard wat by Exclusive Books by die lughawe werk (Xavier), 'n kunsvliegknoper (JP "Kobus" du Toit), joernaliste (Francois Smit), 'n Martie Meiring (Martie Meiring), verteenwoordigers uit die wyk van Observatory (Marina Griebenouw), uitgewers (Nèlleke de Jager), 'n Pool (Karina Dorn), 'n vrou met 'n fyn serp (Kerneels Breytenbach se skoonsuster), 'n 66-jarige versskrywer/fotograaf (Phillip de Vos), 'n kort man met 'n fier kyk (James Matthews), 'n man met 'n klein hoedjie en 'n groot glimlag (David Kramer) en 'n man van Ladismith (Abraham H De Vries).

En een van Afrikaans se grootste skrywers. Ooit. Sy naam het almal geken, want dit was per slot van rekening sý verjaarsdag. Elvis was famously "fat, forty and foolish" toe hy sy gesig in 'n hamburger verdrink het en die ewige Graceland ingerol het. Brink is 70, op 7de Laan en het 'n Bidsprinkaan op die rakke. Die laaste ruk werk die mediamasjien sterk aan sy kant, met goeie rede. Op 70 is daar 'n leeftyd om te vier, 'n leeftyd van mens wees, rebel wees, liefdes, dink en praat, maar bowenal, van skryf.

As jy een kopie van al die boeke wat Brink al in sy lewe geskryf het, op 'n skaal sou plaas, sou die gesamentlike gewig daarvan jou laat ekstra betaal het by die lughawe. Dit sou ook meer werd wees as 'n simboliese stuk sement soos die Taalmonument, en al staan hulle dalk stil in stowwerige dorpsbiblioteke en tussen droë vinkneste op studeerkamerrakke regoor die land, sou hulle sing soos nat hout in vuur wanneer jy hulle oopslaan om te begin lees.

Ek's seker hy sou eerder by die huis wou sit saam met 'n paar goeie vriende (of dalk net sy vriendin), 'n glasie wyn drink en gesels. Nie nou nog weer hier vergader in 'n sysaal van die Baxter-teater wat allermins hier en daar eggo soos die Sudwala-grotte nie (en dan's daar nog daai freaky oranje 70s-ligte, wat lyk soos halfuitgedrukte pomelo's waarvan die ontbyte gekanselleer is). Nie ongemaklik moet rondstaan terwyl 'n groep mense, baie van hulle onbekend aan jou, vir jou geluk met jou verjaarsdag sing nie. Maar besigheid is besigheid en as ek die man van Random House so kyk, dan moet besigheid die laaste tyd nogals goed wees.

Daar was 'n publiek om te ontmoet, boeke om te teken, hande om te skud, 'n TV-kameraspan en 'n toespraak van Antjie Krog wat hierdie vol en komplekse lewe van hom kortliks probeer skets het (en in 'n mate daarin geslaag het) aan die gehoor wat, aangesien die klank so sag was, net vir die eerste tien meter mooi kon hoor - en hierdie spasie was grotendeels beset deur 'n tafel vol van genoemde kwartelpoephappies.

Krog se toespraak was mooi, kort en bondig, soos 'n Eminem-ballade, vol pittighede en 'n paar stoute woordgrappies, met genoeg persoonlike kennis van haar onderwerp om hom vir dié wat hom net as swart-en-wit skrywerfoto ken, voller in te kleur, diepte te gee, kortliks deur sy geskiedenis te draf om ons te herinner met watse tipe man ons hier te doen het.

Daar was uittreksels uit die sensors en howe se verhandelinge oor die verbanning van Kennis van die Aand - blykbaar het 'n regter Van den Heever iewers melding gemaak van iets wat soos "'n gehawende vaginale plooi" daarna uitsien. Sy't vertel hoe sy in 1989 saam met die skrywer in Parys gestap het, hoe mense hom op straat herken het, hoe verbaas sy was dat dieselfde nie ook in sy tuisland gebeur nie (dalk nog steeds nie - maar 7de Laan is 'n ander medium). Hy is 'n man van "attentive grace", het sy aangehaal uit 'n brief van Albie Sachs. En die clincher: "They don't make men like him any more."

Toe's Brink aan die woord, effe ongemaklik om mee te begin (seker maar die tafel kos wat gelyk het of dit dreigend naderskuif). Hy't ook gepraat van die jare van sensuur, hoe daar tydens die apartheidsjare altyd iets was om téén te skryf. Dis een van die redes waarom die storie van Kupido Kakkerlak soos vervat in Bidsprinkaan vir twintig jaar in die braaklaai gebly het. Bowendien, sê Brink, hy't dié (ware) storie al soveel keer vir sy vriende vertel dat dit gevoel het asof daar niks verder daarmee te make was nie.

Maar toe begin hy dieper delf in die Khoisan-landskap waarin Kupido geleef het, die mitologieë, die werklikhede van wat so 'n tyd en plek in die geskiedenis beteken het, die ewighede van Heitsi-Eibib se klip-tolhekke. Dis hierdie verlore geskiedenisse wat ons in die moderne Suid-Afrikaanse literatuur moet herontdek en opskryf, voor hulle finaal iewers afbrand in 'n argief of sterf in 'n ouetehuis met Isidingo op mute. Noudat apartheid verby is, kan mense oor enigiets skryf, daar's nie meer 'n verpligting nie. Op hierdie manier kan slegs die beste skrywers vandag oorleef; kwaliteit is al wat tel - "vandag staan jy alleen".

Terug in die dae van sensuur was een van die bemoedigendste dinge die "assurance of human solidarity" wat tussen skrywers, uitgewers en ander belanghebbendes van dieselfde denkrigtings geheers het. Die feit dat daar altyd iemand was, al was dit net een persoon, wat saam met jou gestaan het, vir jóú boek help veg het, omdat dit op 'n manier ook sy cause was.

Staan Brink vandag alleen? Dalk. Dalk lyk dit so omdat hy uittroon bo baie van sy tydgenote, dié wat al weg is, dié wat al uitgeval en die beenskutte gaan afhaal het in die klubhuis. Maar Brink bly onoorwonne; hy't sy oog op 'n groot voorsprong voor die deklarasie. En wanneer hy eendag uit is, sal sy tekste daar wees - vir ons - as "assurance of human solidarity".

Dankie daarvoor, André P Brink.

Ek wil ook eintlik 'n Rooi Rose-woord hier invoeg, naamlik sprankelend, en, as ek mag, 'n Huisgenoot-woord, naamlik sexy, want op 70 lyk hy nog of hy vir Lance Armstrong 'n go sou gee in 'n neutrale sportsoort soos tennis of armdruk.

Woord van die aand: naaiklere - deur Antjie opgediep, dis Breytenbach se woord vir kaal. Koud is die windjie, en naaiklere. Ag, ek bedoel, en skraal.

Nota: Brink verskyn op 10 Oktober in 'n episode van Madam & Eve (e-tv) saam met Dorette Potgieter en Joe Mafela.

Klik hier vir fotos van die aand!



LitNet: 12 Julie 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.