Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Anna M Louw (31 Desember 1913 — 12 Junie 2003)

Erns Grundling

Anna M Louw, een van die Afrikaanse letterkunde se mees gevierde skrywers, is gister oorlede in haar woonstel in Rondebosch, Kaapstad. Sy was 89 jaar oud.

Anna Margaretha Louw is op 31 Desember 1913 in die gesin se destydse nagmaalshuis op die plaas Soetwater naby Calvinia gebore. Sy was ’n kleinniggie van NP van Wyk Louw. Sy het ’n BA behaal aan die Universiteit van Stellenbosch en het Engels, Afrikaans, Nederlands, Duits, Frans en Sielkunde studeer.

Sy was getroud met dr Lewis Hurst. Die egpaar het vir twee jaar in New York gewoon, waar sy by die Columbia Universiteit kursusse in joernalistiek en tekenwerk gedoen het. In Suid-Afrika het sy ’n graad in Sosiale Wetenskap behaal by die Universiteit van Kaapstad.

Kort nadat sy met haar tweede man, dr Gerhard Bassel, getrou het, het sy begin skryf. Haar aanvanklike skryfwerk was tydskrifartikels en kortverhale, radiopraatjies, hoorspele en novelles, wat destyds in die geheel deur die vrouetydskrif Sarie geplaas is. Sy het baie gereis, regoor Europa, SkandinawiŽ en Mexiko, en benewens in reisjoernale het reise in die vreemde ook neerslag gevind in haar fiktiewe skryfwerk.

Twee titels staan veral uit in haar oeuvre: Die groot gryse (’n historiese vertelling oor Paul Kruger) en Kroniek van Perdepoort. Eersgenoemde word bekroon met die WA Hofmeyr-prys en ’n oorkonde vir haar bydrae tot die historie van die Afrikaanse gemeenskap; laasgenoemde word bekroon met die hoogste prys van die Afrikaanse Akademie, die Hertzogprys.

Sy het ’n eredoktoraat ontvang van die Universiteit van Potchefstroom. Sy het ook die Victoria vergulde medalje ontvang van Premio Adelaide Ristori. Dit is ’n Italiaanse onderskeidingstoekenning aan vroue wat hulle gemeenskap op uitstekende wyse gedien het.

In publisiteitsmateriaal wat sy destyds vir haar uitgewershuise (eers Tafelberg en later Human & Rousseau) geskryf het, het Louw die volgende oor haar skryfwerk gesÍ:

In hoofsaak is dit die argetipe wat my temas word: Die Krygsman-heilige (Die groot gryse); Die Godes-nar (Op die rug van die tier); Die sewe Dood-sondes (Kroniek van Perdepoort); Die Groot Brandoffer (Wolftyd).

Ek kan ook daarop aanspraak maak dat ek die heel eerste Afrikaanse skrywer was wat geskryf het oor die dreigende rasse-botsing wat gelei het tot die Nuwe Suid-Afrika, in my Engelse roman, Twenty Days that Autumn, wat deur Die Akademie bekroon was met die Olive Schreiner-prys.

Haar mees onlangse roman was Vos (2000), wat Goethe se Faust as interteks gebruik het.

Prof Helize van Vuuren van die Universiteit van Port Elizabeth het gesÍ Louw was “’n sterk vroueskrywer, een van die oergrootmoeders van die Afrikaanse letterkunde”.

Volgens Van Vuuren vind veral haar “meer sensitiewe” studente Louw se werk steeds aangrypend. “Een van my tweedejaarstudente vertel dat haar pa elke Vrydagaand na ’n paar gin ’n tonics lang passasies uit Die voortreflike familie Smit aanhaal.”

Die voortreflike familie Smit is in 1962 gepubliseer en is kort daarna verwerk tot ’n volwaardige en uiters gewilde radiodrama. “Dit was in die tyd voor televisie, ’n tipe oer-Afrikaanse sepie oor stoere Boere in Kaapstad.”

Van Vuuren vertel dat elke keer as ’n vriend van haar op reis is, word die woorde van die lyfwag uit Louw se Die banneling: Die lyfwag (1964) met die nodige sinisme aangehaal: “Ja, ons drie op reis. My koffer, my kamera en ek.” Sy meen Louw het reeds toe begin wys dat sy wegbreek uit die “gemoedelike en die lokale”.

Kroniek van Perdepoort (1975) staan vir Van Vuuren uit as Louw se grootste werk. “Die boek was eintlik ’n inversie van die destydse plaasroman. Van Wyk Louw het destyds gesÍ die Afrikaanse prosa is te gemoedelik, lokaal en realisties. Louw het met Kroniek van Perdepoort die teendeel bewys.”

Sy meen Kroniek van Perdepoort kan as ’n tipe voorloper van ’n latere roman soos Etienne van Heerden se Toorberg beskou word, veral wat die hantering van die band tussen die plaaswerkers se lewe en die boer se familie betref.

“Daar is ook die een toneel in Korniek van Perdepoort van ene Koos Karba, wat ’n hele speenvarkie opeet en hom skuldig maak aan vraatsigheid, een van die sewe doodsondes. Die karakter se maag begin dan borrel, skiet en knal. Hoewel dit nogal humoristies voorkom, is dit nogal tiperend van ’n oertipiese Afrikaanse man wat ’n slagoffer van sy eie luste word,” het Van Vuuren gesÍ.

“Sy was altyd baie sensitief vir literÍre vernuwing. Sy was reeds ouer as tagtig tydens die skryf van haar laaste twee boeke. Daar was byvoorbeeld yslike, selfs dierlike sekstonele in onlangse boeke soos Wolftyd en Vos. Louw het deur haar werk gewys dat skrywerskap ’n tydlose nering is,” het Van Vuuren gesÍ.

Prof Louise Viljoen van die Universiteit van Stellenbosch meen Louw het veral die godsdienstema op ’n “boeiende en onkonvensionele wyse” hanteer. “Sy het ’n worsteling met die bose fisiek, konkreet en oorspronklik aangepak op ’n wyse wat min ander Afrikaanse skrywers kon nadoen.”

Volgens Viljoen was daar ook ’n “soberheid en strengheid” in haar beste boeke, en het Louw die vermoŽ gehad om die onnodige en oortollige af te gooi in haar skryfwerk. Sy sÍ dat hoewel haar boeke deesdae nie te gereeld voorgeskryf word vir studente nie, dit interessant sou wees om te sien hoe die jong geslag Louw se konfrontasie met die bose sou ervaar.

Viljoen sonder Kroniek van Perdepoort, Op die rug van die tier en Vos uit as hoogtepunte uit Louw se oeuvre.

George Louw was destyds redaksiehoof by Tafelberg en het saam met haar gewerk aan die redigering van Op die rug van die tier (1981).

“Ons het vir haar ’n kantoor gehuur in Kaapstad se middestad, waar sy daagliks kom skryf het. Daar het ek haar van tyd tot tyd besoek. Sy het ’n baie sterk siening gehad oor wat sy geskryf het, en dikwels met goeie rede,” het Louw gesÍ.

Hy het haar ’n paar maande gelede besoek in haar woonstel in Rondebosch. “Sy was wakker, gesond en intellektueel absoluut paraat,” het hy gesÍ.

Louw het vyf kinders gehad. Wendy, Nicholas en Elizabeth is gebore uit haar huwelik met wyle prof Lewis Hurst. Uit haar huwelik met dr Gerhard Bassel is die tweeling Christina en Editha gebore. Christina is ongeveer ’n jaar gelede oorlede.

Louw word Woensdag om 15h00 uit die NG Kerk Rondebosch begrawe.

Lys van Anna M Louw se gepubliseerde werke:

(Bron: www.stellenboschwriters.com)

Die onverdeelde uur (1956)

Die koms van die komeet (1957)

Agter my ’n Albatros (1959)

Die voortreflike familie Smit (1962)

Twenty Days that Autumn (1964)

Oom Kolie gee raad (1965)

Die banneling: Die lyfwag (1964)

Die groot gryse (1968)

DŪe wat met die fluite loop (1967)

GesŽende dag (1969)

Kroniek van Perdepoort (1975)

Die derde tempel (1978)

Op die rug van die tier (1981)

Die loop van die rivier (1986)

Wolftyd (1991)

Die Donker Kind (1996)

Vos (2000).

Lys van pryse en toekennings:

(Bron: www.stellenboschwriters.com)

Olive Schreiner-prys vir prosa in 1964: Twenty Days that Autumn

Scheepers-prys vir jeugliteratuur in 1968: Die voortreflike familie Smit

WA Hofmeyr-prys in 1971: Die groot gryse

Hertzogprys vir prosa in 1976: Kroniek van Perdepoort

WA Hofmeyr-prys in 1977: Kroniek van Perdepoort

CNA-prys in 1977: Kroniek van Perdepoort

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.