Grasperk - rubriek deur Dan RoodtArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor twyfelliteratuur

Twee romans het onlangs in Suid-Afrika ’n nuwe toon begin aangee sover dit ons sosiopolitieke werklikheid betref. As ons daardie term onthou wat ons almal op skool moes leer aangaande die werklikheid of die agtergrond waarteen ’n literêre werk hom afspeel, die milieu, dan kan ons praat van ’n verandering in milieu. Die twee geskrifte waarna ek verwys is natuurlik Disgrace deur J.M. Coetzee, en Donkermaan van André Brink.

Waarskynlik is hierdie verskynsel nie tot hierdie twee romans beperk nie, dog die paradigmaverskuiwing kom in beide die duidelikste na vore, juis omdat albei skrywers voorheen eksplisiet téén die sogenaamde “ou orde” ingeskryf het. In Disgrace sowel as Donkermaan vind ons ’n ontnugtering met die “nuwe orde” — insgelyks ’n onbeholpe term wat ek daarom tussen aanhalingstekens plaas. Dit sou filistyns wees om hierde tekste as “post-apartheid-letterkunde” te beskryf, juis vanweë die geneigdheid om die literêre kritiek te besmet met dié tipe joernalistieke cliché. In my vorige opstel, “Die sloping van ’n hegemonie: ’n kritiek op literêre anglosentrisme”, het ek reeds die spot gedryf met hierdie onvermoë om literêre of estetiese geledinge raak te sien wat ontkom aan die obsessionele inkantasie van “apartheid”.

Die problematiek van Disgrace en Donkermaan dring iets nuuts aan ons op, ’n soort vraagstelling met betrekking tot vertroude sekerhede. Eers was daar die sekerheid van ’n enigsins outoritêre, Christelike bewind met sy waardes van etniese skeiding. Daarna was daar die sekerheid van demokrasie en liberale, Westerse waardes wat veronderstel was om die verbete en outydse konserwatisme van die sogenaamde “ou Suid-Afrika” te vervang. (Die mate waarin Westersheid en demokrasie ook deel was van die vorige bewind, word uiteraard gerieflikheidshalwe vergeet.) Midde-in die “oorgang” blyk daar ’n gevoel van twyfel, van skepsis, van vertwyfeling hom tuis te maak by twee van die vernaamste verteenwoordigers van kritiek op die ou orde. Wie sal Brink se Kennis van die aand met sy tema van seks oor die kleurgrens heen vergeet, of J.M. Coetzee se Dusklands waar hy met die kliniese insig van kulturele relatiwisme Jacobus Coetzee se onvermoë om sy begrip van private eiendom te handhaaf teenoor inboorlinge wat sy ossewa bestyg en hom in blye onskuld beroof, uitbeeld?

Die mees gepaste benaming vir die nuwe neiging is — sonder twyfel — twyfelliteratuur. Dit benoem ’n onsekere skepsis teenoor die gemeenplasige optimisme waarmee demokrasie, gelykheid, nierassigheid, ens. deesdae in Suid-Afrika aangehang word. Uit die werklikheid kom daar voortdurend teenstrydighede na ons toe aan: daar is misdaad, korrupsie, beskawings- of paradigmaverskille tussen etniese groepe wat al hoe dieper lyk hulself te manifesteer, asook ’n soort nihilisme wat ontkom aan alle waardes en te siene is in beide die ongebreidelde materialisme van sekere blankes of Westerlinge en die “bevryde” misdadige anargisme van sekere swartmense en lede van ander groepe.

“Apartheid”, in die mate waarin hierdie verslete term nog enige sin het nadat dit al soveel kere deur die meul is, het ’n gerieflike sekerheid aan ons besorg. Daar was die sekerheid van binnelandse afbakenings en ordenings, elke etnos in sy eie sfeer waar hy homself kon handhaaf. Dog vir die skrywer was daar ook die groter sekerheid van buitelandse verdoeming — wat op sigself op reduksies en sinies gemanipuleerde wanvoorstellinge berus het — en van die onaantasbaarheid van Westerse, liberale en demokratiese waardes wat as’t ware sy betoog teen apartheid, kolonialisme en al daardie ander booshede gerugsteun het. In die Suid-Afrika van nou is ons almal bewus van die “skipbreuk van sekerhede” waarna Van Wyk Louw verwys het, en slegs die dom of oneerlike skrywer kan nog steeds die gemeenplase van die verlede denkloos voortbring. Nie dat daar nie dom en oneerlike skrywers in Suid-Afrika is nie, maar vir die oomblik interesseer hulle ons nie, want hulle staan bo alle verdenking, bo alle twyfel. Dit is juis die twyfelaars wat, lyk dit my, die huidige tydvak begin definieer en wat vorentoe dalk ’n hele beweging kan word.

“Twyfel” is ’n besonder vrugbare term, omdat dit tegelyk die onsekerheid binne, maar ook die begin van ’n ondersoek na die bestaande — twyfelagtige — milieu benoem. Onderliggend aan elke skepsis is die twyfel, wat ook tweespalt of tweeledigheid behels. Descartes was die filosoof wat ’n besondere rol aan die twyfel toegeken het, wat veronderstel was om die noodsaak van ’n a priori-beginsel aan ons uit te wys. Veral in sy Eerste Bepeinsing wat in ’n knap Afrikaanse vertaling deur D.M. Kriel (1) beskikbaar is, word die Cartesiaanse twyfel geformuleer. Hy het, in sy woorde,

    ... agtergekom hoe baie valse dinge ek sedert my vroegste jeug vir waar aanvaar het, en hoe twyfelagtig alles is wat ek verder daarop gebou het, en dat alles in my lewe dus een keer grondig omvergewerp moet word, en dat daar opnuut van die eerste fondamente begin moet word as ek ooit enigiets stewigs en blywends in die wetenskappe vas wou neerlê (2).

Die twyfel het vir Descartes laat glo dat sy sinne hom soms bedrieg, en daarom onsekerheid rondom sy ervaring geskep. Hierdie gedagte is verder gevoer deur David Hume, eweneens iemand wat sterk onder die invloed van die twyfel of skeptisisme gestaan het, sodat hy gepraat het van sy “skeptiese ingesteldheid”:

    I may, nay I must yield to the current of nature, in submitting to my senses and understanding; and in this blind submission I shew most perfectly my sceptical disposition and priciples (3).

Waarop Hume hier sinspeel is sy “natuurlike” neiging om eerder die geselskap van sy vriende op te soek en ’n pot backgammon te speel, as om homself af te sonder in twyfel of skepsis. Laasgenoemde noem hy “chimeras” of hersenskimme. Die paradoks van sy twyfel is egter die volgende: dit is juis die twyfel wat hom verlos van sy twyfel. Met ander woorde, omdat hy skepties staan teenoor sy skeptiese redenasies, kry hy dit reg om hom daarvan te verlos en sodoende die “commerce and society of men, which is so agreeable” (4) op te soek. In Hume se ondersoek na die skepsis vorder hy dus van ’n hoogs teoretiese besinning oor die wêreld, wat gekenmerk word deur intense twyfel, na die normale, na geselskap en sosiale verkeer.

By twyfelliteratuur soos dit deur Coetzee en Brink beoefen word, geskied die omgekeerde egter. Hier is die beginpunt nie ’n skepsis nie, maar juis die “normale”, die mite van ’n demokratiese orde en vreedsame naasbestaan wat nie net deur die Suid-Afrikaanse media nie, maar ook deur die internasionale media, aan ons voorgehou word. Vanweë dieselfde faktor wat Hume noem, die natuurlike geneigdheid om jou te onderwerp aan die getuienis van jou eie sinne, is die skrywers besig om die “normale” of gangbare beskrywing van ons werklikheid in twyfel te trek.

Interessant is dat beide vertellers, David Lurie en Ruben Olivier, nie net hoor van misdaad en geweld, asook sosiale verval nie, maar dit ook self, as’t ware aan eie bas, ervaar. David Lurie en sy dogter word deur drie jong swartes aangeval; Ruben Olivier en Tessa word deur vyf aangerand. Beide ervaar eerstehands pyn en lyding; hulle bloei letterlik. Al is die kontra-ideologie van die “demokratiese, nuwe Suid-Afrika” hoe sterk, dit kan nie een van die vertellers oortuig om sy eie sinne, die pyn wat sy eie lyf voel, te bevraagteken nie. Anders as by Hume, waar sintuiglike ervaring hom weglei van die twyfel, werk dit hier twyfel in die hand.

Dit is sekerlik ironies dat ’n ouer geslag skrywers hier byna ’n rewolusionêre breuk bewerkstellig met die gangbare interpretasie van Suid-Afrika en van ons eietydse geskiedenis. ’n Mens sou wou vra: waar is die jonger skrywers? Slaap hulle? Of het hulle nog nie geweld en misdaad, die veranderde milieu, met hul eie sintuie ervaar nie? Brink was die vernaamste segsman van die Sestigerbeweging — van sy vroeë werke soos Lobola vir die lewe en Orgie was in hul tyd eksperimentalistiese mylpale. In ’n sekere sin kan ’n mens sê dat die avant-gardisme onderliggend aan modernisme dit miskien makliker maak om met ’n “nuwe blik” op dinge vorendag te kom as die postmodernisme wat reeds kulturele relatiwisme as ’n gegewe aanvaar het, en eintlik oor geen etiese of kulturele basis beskik vir sosiale kritiek nie.

In beide tekste is daar sterk sprake van ’n generasieverskil. David Lurie se dogter in Disgrace, Lucy, bedryf die metafisika van skuld en wil glad nie haar verkragters laat vervolg nie. Sy aanvaar haar eie onderwerping. Lurie, daarenteen, glo aan klassieke beginsels, beide in die letterkunde en in die lewe. Teenoor Ruben, ’n ouer karakter, staan sy jong loseerder, Tessa, wat ’n soort hedonisme bedryf, die morele teenpool van Lucy se skuld-metafisika. Dog in ’n sekere sin glo beide Lucy en Tessa in die huidige orde; die een ly daaronder, en die ander gedy daarop, maar sonder om dit vir ’n oomblik te bevraagteken of daaraan te twyfel. Die ouer figure is die twyfelaars.

Omdat geeneen van hulle oor enige sekerheid beskik nie — twyfel is per definisie ón-seker, weifelend, sonder vaste oortuiging — kan beide Coetzee en Brink, asook hul ouer vertellers, geen werklike begrip of analise van die situasie verskaf nie. Op sy beste oortuig hulle ons van hul goeie trou. In die geval van Ruben Olivier word dit oor en oor aan ons herhaal dat hy gekant was teen die sloping van Distrik Ses, dat hy en sy toentertydse vrou hul bes gedoen het om dit te keer en as “wit kaffers” uitgeskel is. In David Lurie se beskrywings lei ons ook sterk af dat hy liewer nie wil oordeel nie. Op bl. 79 vra hy, “His own terms: what are they?” Die bekende uitspraak oor die ontoereikendheid van die Engelse taal bied iets van ’n eerste prikkel om te besin oor die probleem, oor die oorsaak van die twyfel:

    Doubtless Petrus has been through a lot, doubtless he has a story to tell. He would not mind hearing Petrus’s story one day. But preferably not reduced to English. More and more he is convinced that English is an unfit medium for the truth of South Africa (5).

Die verteller se gevoel dat Engels onadekwaat sou wees om die waarheid oor Suid-Afrika te kan dra, kan op verskeie maniere geïnterpreteer word. Aan die een kant, ook uit die gesprekke elders met Petrus, is dit duidelik dat daar “paradigma-onmeetbaarheid” tussen hom en David Lurie bestaan. Noem dit ’n “beskawingsfoutlyn”. Aan die ander kant, is Engels, synde die wêreldtaal, die medium van die Weste en die liberaal-demokratiese model, ook ontoereikend, nie net vir Petrus se verhaal nie, maar ook om die “Suid-Afrikaanse situasie” te kan omskryf. “Demokrasie” in die liberaal-demokratiese sin het nie die voorspelbare gevolge gehad nie. In teoretiese terme: dit is besig om te faal as ’n “verklarende taal”. In plaas van ’n verklaring, sit ons nou met twyfel.

’n Ander aspek van die twyfel is die sinloosheid van “Suid-Afrika” as ’n begrip. Dit sou waar wees om te sê dat die amptelike ideologie, die nasionale metafisika van “nasiebou” en alles wat daarmee saamhang, “Suid-Afrika” as ’n gegewe beskou. Almal van ons is veronderstel om daarin te glo, soos koerantredakteurs of politici. David Lurie, daarenteen, twyfel of die Westerse invloed in Afrika enigsins iets agtergelaat het:

    He speaks Italian, he speaks French, but Italian and French will not save him here in darkest Africa. He is helpless, an Aunt Sally, a figure from a cartoon, a missionary in cassock and topi waiting with clasped hands and upcast eyes while the savages jaw away in their own lingo preparatory to plunging him into their boiling cauldron. Mission work: what has it left behind, that huge enterprise of upliftment? Nothing that he can see (6).

Was die hele Suid-Afrikaanse projek — soos sending en opheffing — dan sinloos? Dit is ’n vraag wat insgelyks spook by Ruben Olivier, maar hy rig hom tot die geskiedenis en hoop dat dit nie alles verniet was nie. Sy een seun wat nog nie geëmigreer het nie, en dié se vrou, probeer hom oorreed om hom saam met hulle in Kanada te gaan vestig. Hy voel hy kan dit nie doen nie, maar twyfel tog, en uiteindelik verkies hy om hom terug te trek in sy private wêreld van boeke en musiek. Sy kinders

    kan ... nie woorde kry om uit te vaar teen alles wat verkeerd geloop het nie (al besef ek dat die ondervinding van Janet se vriendin — gekaap, verkrag — nie sommer in hulle koue klere kon gaan sit nie); terwyl my eie reaksie wissel van oomblikke van wrokkige woede, soos toe ek so uit die bloute afgedank is, tot ergernis of vae irritasie. Die buitewêreld het gewoon nog nooit vir my soveel saak gemaak nie (7).

Ruben se twyfel laat hom uiteindelik alleen in sy huis met slegs Antje van Bengale se spook om hom geselskap te hou — ’n soort metafoor vir die geskiedenis. Dit is ’n redelik patetiese bestaan, sy dit dan steeds gekussing teen die dreigemente van buite.

Cartesiaanse twyfel, soos alle twyfel, ontketen egter ’n proses wat nie maklik gestuit kan word nie, want as mens eers aan enkele waarhede of veronderstellings begin torring het, stort die res vanself in duie:

    ... as die fondamente eenmaal ondergrawe is, stort alles wat bo-op hulle gebou is vanself ineen, en daarom sal ek my aanval direk rig op daardie beginsels waarop alles wat ek eenmaal geglo het, gesteun het (8).

Beide Brink en Coetzee het ’n definitiewe breuk bewerkstellig met betrekking tot die voorafgaande selfversekerde moralisme van ’n sekere soort “betrokke literatuur” in Suid-Afrika. Die “donker” Suid-Afrika — met sy skynbaar onoplosbare probleme en toenemende nihilistiese geweld — kom aan bod op ’n manier wat die twyfel vestig as die oorheersende diskoers van ons tyd. Totdat ons in staat is om soos Hume die twyfel teen sigself aan te wend, ly dit geen twyfel dat twyfelliteratuur nog die begin van die nuwe millennium vir ons gaan definieer soos min literêre begrippe voorheen nie.

Weereens: dit is verbasend dat twee skrywers van hul leeftyd — juis in Donkermaan is daar aanmekaar sprake van die oudwordproses — die jongeres moet lei in die opmars van literêr-historiese vernuwings. In Afrikaans het ons al gewoond geraak aan die Oedipale struktuur van letterkunde waar die geslag tussen twintig en dertig poog om oor te gaan tot “vadermoord” en hulself te vestig as verteenwoordigers van ’n nuwe dekade of tydvak. As ek kyk na die werke wat jonger skrywers produseer, wat tegelyk veel meer “realisties” is as enigiets wat die Sestigers voortgebring het en in sosiopolitieke terme omtrent konformisties voorkom, is dit miskien tyd dat ons daarvan kennis neem dat die Afrikaanse letterkunde sy Oedipus-kompleks verloor het. As daar ooit weer opstand in Afrikaans moet kom, dan sal dit wees téén die jonger geslag, met hul selfversekerde domheid, hul onbelesenheid, hul clichés, hul sonderlinge gebrek aan twyfel, asook hul verskriklike Engels-deurspekte Afrikaans.

Verwysings

  1. Descartes, René. Se bepeinsinge oor die eerste filosofie, vert. D.M. Kriel. Kaapstad: H&R Academica, 1975.
  2. ibid., bl. 21.
  3. Hume, David. A treatise of human nature. Oxford: Oxford University Press, 1981, bl. 269.
  4. ibid., bl. 270.
  5. Coetzee, J.M. Disgrace. Londen: Secker & Warburg, 1999, bl. 117.
  6. ibid., bl. 95.
  7. Brink, André P. Donkermaan. Kaapstad: Human & Rousseau, 2000, bl. 295.
  8. Descartes, op.cit., bl. 21.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.