Gillespiestraat-slenters - rubriek deur Johan van WykArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mei 1999

1
Ek stap die ander dag in een van die stegies af en vreemde dinge gebeur: ’n Bedelaar bedel my Pine Nut-koeldrank uit my hande uit. Ek weet dat bedelaars vir geld bedel. Dit is die eerste keer dat iemand oorskietkoeldrank van my af bedel. ’n Bietjie verder aan gryp ’n swart man my hand en skud dit asof ek hom al jare ken en fluister “You want ghanja, hashish or cocaine.” Ek is uit die veld geslaan. Is ek al so in die vrymoedigheid van die omgewing geïntegreer.

2
By die Universiteit van Durban-Westville het die tale-departemente saamgesmelt in ’n Skool vir Tale, maar met die opdrag daar moet “programme” saamgestel word. Die staat gaan in die toekoms net programme met duidelike “uitkomste” finansier. ’n Program is blykbaar ’n stel modules wat uiteindelik ’n bepaalde werk vir studente verseker: taaldosente moet dus inderhaas van identiteit verwissel sodat hulle vertalers, toeristegidse, uitgewers en joernaliste kan oplei. Verder word die eis gestel dat daar meer as dertig studente in die klas moet wees (in werklikheid ’n eis dat daar meer as 400 studente in die klas moet wees).

Dit gebeur in ’n konteks waar die mense van Suid-Afrika grootliks ongeletterd is. Nie net ongeletterd in die opsig dat hulle nie die vermoë het om te lees en te skryf nie, ook ongeletterd in die opsig dat kennis van die wêreldgeskiedenis, van die ontwikkeling van denke, van die wetenskap, die interpretasie van tekens (in rolprent, televisie, advertensies) heeltemal afwesig is.

Begripsvermoë strek sover as identifikasie met sportspanne. Dit beteken dat baie eenvoudige slagspreuke bepalend is en het die gevolg dat werklike demokrasie, ’n tolerante bevolking en kritiese denke onmoontlik is.

Die nuwe beleid met betrekking tot universiteite gaan die gevolg hê dat hierdie ongeletterdheid drasties toeneem. Watter gesofistikeerde land sal toelaat dat die bestudering van die eie letterkunde, en die wêreldletterkunde, van die tafel gevee word? Is dit nie krimineel nie?

Is ’n bydrae tot die literatuur, meer as net ’n bydrae tot die nasionale kultuur, nie ’n bydrae tot die wêreldkultuur nie? Waarom onthou die wêreldgeskiedenis so goed sy kunstenaars, terwyl die name van die politici in die vergetelheid verdwyn? Waarom bestudeer Chinese Shakespeare? Of Duitsers Wole Soyinka?

Die politiek, sosiologie, sielkunde en antropologie werk met hoogs vereenvoudigde konsepsies van die werklikheid en met die basiese opposisie van normaal en nie-normaal. Dit omvorm die mens in ’n eenvormige kleinburgerlike gestalte. Een van die sentrale aspekte van die kleinburgerlike bewussyn is klassifisering, d.w.s. die proses waardeur die eenmalige sy identiteit van ’n groep verkry, waardeur die eenmalige gelykgestel word aan ’n groep.

Dit is basies verwant aan die demokratiese proses waardeur mense verteenwoordig word: die politieke party verteenwoordig die massa. Die gevolg is dat die politieke krimineel nie alleen in sy misdaad staan nie, maar dat dit die misdaad van die groep word, en alles wat verbind word met die groep in die teken van die smet staan. Dit veronderstel die onvermoë om genuanseerd te dink.

Om te stem is om medepligtige te wees. Die literatuur se funksie is om die ongenuanseerde vorm van denke tee te gaan; dit maak nie handeling moontlik nie: dit kan nie ’n bevolking tot oorlog oproep nie, want dit kom met ’n dosis twyfel. Dit kan nie saamspeel met die sosiale wetenskappe in die beplanning van die gemeenskap nie: want dit relativeer elke posisie; dit ondergrawe en lag in essensie. Dit laat die mens hulpeloos. Dit kan nie afbreek nie, maar gryp die veelheid van aftakeling en groei aan.

’n Renaissance is die herontdekking van die genuanseerde en komplekse (die herondekking van die antieke mites en veelgode in teenstelling tot Middeleeuse dogma): in Suid-Afrika die herontdekking van die Afrika-tale-literatuur, en ’n verwerping van struggle-slagspreuke.

Miskien is die uitstoot van die literatuur aan die universiteite die eerste stap om literatuur en die lewe te herenig, om dit los te maak van die instelling. Universiteite dra die smet van politiek, van simplistiese magspeletjies. Die universiteit is die vyand. Laat ons weer onder ’n boom gaan sit, of iewers grys op ’n straathoek met die oë gerig op die veelheid van menslike ervaring.

3
Fekile is dogter van ’n huiswerker en het ’n baie wye verwysingsveld, want sy het die ensiklopedie in die huis waar haar ma werk woord vir woord verslind. Is dit waar dat daar ’n verband tussen die Boesmans en die Chinese kan wees, vra sy my. Sy het ’n obsessie met die Boesmans as die eerste mense in Suid-Afrika.

Fekile is ’n hoer. Sy het nie juis ’n keuse nie. Sy is soos so baie ander. Kan nie werk kry nie. By die Apostoliese sendingstasie Dassenhoek versamel die uitgeteerde lewende dooies wat by die dag vermeerder: cholera, maagkoors, vigs, waansin. ’n Beeld van die hel. Met al die ideale en programme en bloudrukke het die ANC-regering ’n krisis geskep, ’n fascistiese dissipline soos hierdie land nog nooit gesien het nie.

Honderde duisende mense sonder werk, en met nuwe wetgewing oppad gaan die getalle nog vermeerder. Dit is nasionalisme: die welvaart van die Staat is belangriker as die mens, die instelling moet beskerm word teen die mens.

Die kleinburgerlike beeld. Gaan “affirmative action” oor die bemagtiging van ’n klein klassegroep sodat miljoene vir hulle kan sterf? Die ideaal en die werklikheid. Hoeveel werksgeleenthede is al vernietig deur die beleid? Hoe lank gaan dit neem voordat die Suid-Afrikaanse bevolking in hul massas in opstand kom?

Op die oomblik raak mense nog histeries oor die ideaal en hulle verstaan nog nie mooi die verwikkeldheid van wat met hulle gebeur nie: hulle het nog nie deur die imaginêre van die politieke diskoerse gesien nie. Of is revolusie die domein van die kleinburgery: geletterd en wrokkig? Die verval is terselfdertyd die rykdom van die land.

Ek sê Fekile moet ’n skrywer word. Waaroor moet sy skryf, vra sy. Begin jou boek met seks. Mense hou van seks. Sy kan nie daaroor skryf nie, sê sy, want sy het nog nooit seks met liefde ervaar nie. Dit is vir haar te afstootlik. Dit is haar werk. Presies, skryf daaroor. Die kerk is nog ’n anker. Die Bold and Beautiful is ongelooflik gewild en die selfoon.

Ek soek ’n gids na die hel, want iemand sterf. Maar almal waarsku my. Daar is te veel mense wat sterf, maar ek wil haar sien voordat alles verby is. Nee, jy mag nie gaan nie Oor ek wit is, vra ek. ’n Glimlag is die antwoord.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.