Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die penis magtiger as die swaard?

Deborah Steinmair

“There’s a crack in everything … that’s how the light gets in,” sing Leonard Cohen.

Gisternag was een van daardie nagte waarin ek nie kon slaap nie. Dit was ook die nag waarin Leonard Cohen my in die steek gelaat het. (Oeps, wankelrige woordkeuse?) In die nanag het Leonard my ontgogel; is ek, ten minste tydelik, ge-“deCohen”. Opgecrack. En dis nie waar die lig inkom nie.

Laasnag se Leonard was weliswaar veel jonger as die lakoniese silwer vos wat ek nou bemin. Cohen het in 1966, my donkerste jaar, ‘n roman geskryf. Die titel, Beautiful Losers, het my aangegryp. Ek soek al jare lank in biblioteke en tweedehandse-boek-winkels daarna. Nou die dag loop ek met bewende hande ‘n vergeelde kopie in Kaapstad Openbare Biblioteek se boekuitverkoping teen vyftig sent raak. Gisternag het ek dit met groot verwagting oopgeknak.

Etlike hoofstukke later het dit gevoel asof ek verdrink in semen. Asof ek tot oor my ore watertrap in ‘n pot kom so koud en taai soos koue lym. Eensklaps was ek keelvol vir beurende, glinsterende penisse wat in elke moontlike gat gestop word. Vir sinne soos: “I stopped fucking faces when I was sixteen.” Dit verwys nie na orale seks nie, maar na die laat vaar van aansien des persoons, van onderskeid, kieskeurigheid, oplettendheid, intimiteit. Ai, maak plek vir my in die kommando, Johanna Brand.

Het ek te oud, te skuins geword vir cocklit? Ek het immers as aspris-rebelse student Henry Miller se Sexus tydens ons gradeplegtigheid gesit en lees. Dit was destyds nog verbode en ‘n vriend se ma het dit op ‘n skip gekoop. En o, die skuldige verrukking.

Hier ter plaatse onthou ek die klimaktiese oomblik in Muur van die Pes toe die opwindende groot swartman sy naam in semen teen ‘n muur gespuitverf het. Donker drukkoker. Duiselingwekkende dae.

Nou, die Cohen-boek. My probleem is nie die nimmereindigende opmars van penisse nie. Wat my pla, is iets dieperliggend (die hemel help my, in hierdie konteks sal alles op aarde suggestief klink) – ek reken dis ‘n sekere onverbloemde wrewel teenoor vroue. Toe ek vir my vriendin sê ek ly aan bomskok nadat ek die helfte van Leonard se boek gelees het, laat val sy (nie so ‘n Cohen-verskrikte soos ek nie): “Maar sy lirieke is immers plek-plek heel misogynist.” Huh? Kyk, vir my kan jy gerus hel toe stuur in free verse; solank dit soet op die oor val, sal ek uitsien na die reis.

Dan dink ek weer aan ons eie manlike romansiers. Jintelman Etienne van Heerden se machismo word nie uit die mou gelaat nie. Daar is erotiek, maar nie seks nie, in my gunsteling, Die Swye van Mario Salviati. Penisse steek ook nie In Stede van die Liefde kop uit nie. Die vroeër werke, as ek reg onthou, was meer libidinaal – My Kubaan en Casspirs en Campari’s. Daar was sprake van gewelddadige tronkseks in Jaco Botha se Miskruier, ‘n boek wat ek baie geniet het. Die penis as knuppel van vergelding en verknegting. ‘n Soort Shawshank sonder die Redemption. Maar dit was op die man af, geen vrou is te na gekom tydens die maak van die boek nie.

Kleinboer se Kontrei is natuurlik met die penis geskryf. Daarom vra ek my af waarom dit my vir geen oomblik aanstoot gegee het nie. Waarom ek dit selfs, soos die Bybel destyds, plek-plek herlees. Waarom ek in onbewaakte oomblikke fantaseer dat ons twee getroud is. Wanneer hy laat en moeg van die werk en kroeg tuiskom, begin hy met ‘n lakoniese sug die skottelgoed was en kry die pot aan die kook terwyl ek luid en bakleierig van die sjebien ingewals kom, waar ek vir almal quarts op skuld gekoop het.

Is dit omdat Kleinboer die meisies se name onthou en probeer het om hulle te bevredig? Omdat hy so onbeskaamd dog ontriomfantelik manlik-chauvinisties is? Omdat hy opsluit tog op sy manier getrou bly aan sy disfunksionele gesinnetjie? Omdat hy so onderhoudend en so bliksems goed skryf?

Ek weet nie. Maar ek gaan nie vannag na “A Thousand Kisses Deep” luister nie. Soos my vriendin, tot in die uitgerafelde vesel feminis, en verwoede ondersteuner van Khwezi, tereg opmerk: “Ek wil nie verkrag word, met of sonder geweld nie.”



LitNet: 25 April 2006

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.