Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Tande tel

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Is een stel regtig veronderstel om 'n leeftyd te hou, hierdie 32 gelerige beentjies sonder vel wat ons met soveel trots tentoonstel? Hierdie mond vol tanne.

Tande bring my by tandartse.

Ek moes vanoggend weer in die stoel gaan lê. My tandarts is Joods en om en by tagtig. Op 'n vergeelde diploma teen die muur sien ek hy het in 1957 gegradueer. Amper nege en veertig jaar agter die boor, dus.

Sy kamers is in 'n vervalle gebou, op met 'n stel stowwerige trappe. Soos hyself is dit sleg gepleister, met verf wat plek-plek afdop. Die implemente kom uit die ark, maar sy hande lyk skoon en hy het nog al sy tande. Op 'n kontrepsie wat aan die antieke stoel verbind is, is daar 'n uitlaatklep en 'n plaatjie met die volgende legende: Saliva extractor. Die vensters is aangepak, maar die potplante floreer soos lower in 'n reënwoud.

My tandarts is outyds en ver van die huis. Vanoggend plaas hy 'n dun, deurskynende velletjie op sy tong, steek die pienk tong na my uit om te wys dat die misterieuse velletjie weggesmelt het en blaas daarna amper koketterig in my gesig om te demonstreer hoe vars sy asem is. Gedurende hierdie demonstrasietjie lyk hy demonies, soos 'n stokou monster met hare wat uit die neus spriet. Dis grotesk en grens aan aangrypend.

My tandarts het die lewe gesien. Hy is nie veroordelend nie - my enigste kriterium vir 'n tandarts. Ek vermoed sy leesbril se sterkte moet opgegradeer word. Vanoggend tik hy teen twee geel tandjies en een lang grys tand in die kant van my mond.

"We cap these three and the boys will go crazy for you."

"They already go crazy for me."

"I read somewhere the three main things that put men off women are bad skin, bad teeth and obesity," rammel hy af terwyl hy met 'n skerp voorwerp teen my kloppende kiestand krap.

"Then I'm amazed anybody still looks at me," mompel ek betraand tussen sy vingers deur.

Die Sarel Seemonster-gesig kom besorgd nader en 'n stabiele pofferhandjie kom rus vlak bokant my regterbors.

Met 'n verbasend ferm hand en 'n veerligte aanslag dien hy drie inspuitings toe.

Terwyl my mond besig is om dood te gaan, vergas sy assistent my op staaltjies van stedelike terreur. Sy lyk soos Miss Havisham van Great Expectations. (Onthou jy? Sy's die een wat in 'n vergeelde, motgevrete trourok jaar in en jaar uit op haar bruidegom gesit en wag het terwyl muise in die versteende troukoek rondskarrel.) Ek het haar om en by die sewentig geskat, tot ek haar oor die telefoon aan iemand hoor sê dat sy nou vier en vyftig word en moeg gewerk is. Sy raak slordig bles en praat sonder ophou met 'n verwilderde kyk in die oog.

Sy loop elke dag werk toe. Vanoggend waarsku sy my dat daar drie Moslemvroue is wat voetgangers in die Vredehoek-omgewing beroof. (Ek sien 'n Kuifie-agtige prentjie van geslepe ogies wat skalks by burkas uitloer, swartgeklede lyfies wat soos Ali Baba om die hoek sluip.)

Daar heers 'n ouwêreldse ongejaagdheid in my tandarts se kamers. In die wagkamer is daar ingeleefde rusbanke en tydskrifte wat uit die Ou Bedeling dateer. Die tandarts se vrou sit by 'n lessenaar vol papiere, sonder rekenaar, krap in haar perm en prewel oor lysies syfers. Hoofrekene. Langdeelsomme.

Voordat ek uitstap, herinner die assistent my weer om op my hoede te wees vir die drie Moslemvroue.

Wanneer ek getraumatiseerd die stowwerige trappe afsteier straat toe, verwag ek enige oomblik dat iemand my op die skouer gaan tik en inlig dat ek by die verkeerde deur ingegaan het: het ek dan nie die bordjie gesien wat aandui: "Psigotiese vleuel, besoektye slegs tussen een en twee" nie?

Psigoties of te not, graaf Dracula en sy batty regterhand in hul motgevrete kamers maak my minder bang as ander praktyke waar ek al my mond moes oopsper. As ek in elk geval tot op die rand van waansin gepynig gaan word, verkies ek dat dit in 'n pikareske ambience vol gravitas en verval gebeur.

Dit herinner my aan die song van Bertolt Brecht wat in Engels as "Mack the knife" vertaal is. Dit sê min of meer: Die haai het tande en dié dra hy in sy gesig; Macheath dra 'n mes, maar dié sien 'n mens nie.

Die ergste pyn skop in wanneer die lewe begin terugkeer.



LitNet: 08 November 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.