Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Is ons in dieselfde droom?

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Ek is werkloos. Soggens word ek wakker en begin droom. Noem dit toeval, noem dit synchronicity - by hierdie vurk in my pad, kort anderkant my afgebrande brûe, word ek daagliks van berading bedien deur groot geeste uit verskeie eras. Net gister raai die ou aartsrebel en anargis Thoreau my aan:

Go confidently in the direction of your dreams! Live the life you've imagined. As you simplify your life, the law of the universe will be simpler.
En net nadat hy sy lang tong ver uitgesteek het, por Einstein my aan:
He who joyfully marches in rank and file has already earned my contempt. He has been given a large brain by mistake, since for him the spinal cord would suffice.
Albert sterk my verder in my kwaad:
The gift of fantasy has meant more to me than my talent for absorbing knowledge.
What the bleep do we know - ek het die fliek gaan sien.

Dis half-dokumentêr, verweef met 'n storielyn, gemeng met verbeeldingryke animasie en 'n uitgelese Griekse koor van fisici en visioenêres wat kommentaar lewer. Dit gaan oor kwantumfisika, die aard van realiteit, die intergekonnekteerdheid van alle dinge en die krag van gedagtes. Jou kop gaan geluidloos soos 'n ruimteskip oop.

Niks maak so hoog soos idees nie. Duiselingwekkende moontlikhede val oop soos rysgate in 'n koek of sinkgate in die aardkors. Soos Alice in Wonderland word jy gekonfronteer met die vraag: How far down the rabbit hole do you want to go?

What the bleep bevat soveel inligting dat jou kop begin raas soos 'n bos vol vinke. Jy knyp een oog toe en probeer die fragiele seepbel van 'n verstommende gedagte volg tot waar dit oor die horison wegdryf. Uitgelese fisici beskryf hierdie kragtige idees as "whacky" en "giddy". Lewis Caroll, daardie wonderlik heldersiende ou hallusineerder, het een van sy karakters die volgende laat sê: "Sometimes I've believed as many as six impossible things before breakfast."

Wat die fliek min of meer vir my gesê het, is dat die fisiese, materiële wêreld wat ons om ons kan waarneem, glad nie so onveranderlik, so vas en solied is nie, met ander woorde glad nie 'n feit soos 'n koei is nie. Alles bestaan uit atome, wat, as ek die geleerde denkers reg verstaan, baie onsubstansieel is - alle dinge is skaars meer as hol. 'n Atoom is soos 'n gedagte: 'n wolk van moontlikhede, van informasie. Ons is skeppers: ons kan ons werklikheid, ons verlede, hede en toekoms skep. Ons kan invloed oor ons omgewing en ons liggame uitoefen.

Dit kom daarop neer dat ons gedagtes elke sel in ons liggaam beïnvloed. Dit is 'n bietjie soos Norman Vincent Peale se Power of Positive Thinking, maar volgens 'n voormalige teoloog wat die wetenskap omhels het vir redding, kom laasgenoemde neer op 'n klein lagie positiwiteit wat oor 'n dik laag negatiwiteit gesmeer word. 'n Meer radikale verskuiwing is nodig. Een van die geleerdes het gesê dat ons in die oggend tyd moet neem om ons dag te skep. Ek gaan sit nou soggens op 'n boomstomp op 'n heuweltjie in die hoek van die tuin van die sangoma by wie ek 'n kamer huur, tuur oor die agterkant van Tafelberg en besin oor my dag.

Daar is wonderlike animasie om te illustreer hoedat emosies chemikalieë in die bloed vrystel. Selle ontwikkel reseptors vir daardie spesifieke chemikalieë en smag later daarna, sodat jy, biochemies, soos aan heroïen, aan byvoorbeeld teleurstelling, mislukking en woede verslaaf raak.

Verder word daar in die brein neuronette geweef: wanneer 'n mens op 'n spesifieke manier dink, word daar bruggies gebou, neurone in die brein "wire and fire" saam, verbindings en 'n patroon word gevorm, sodat jy in 'n volgende situasie weer baie maklik in dieselfde denkpatroon en reaksie verval.

Dit val my op dat daar soveel digters op die www.whatthebleep.com webwerf aangehaal word. Poësie was nog altyd gewaagd en verweef, soos drome. Dit was juis die digkuns wat my weggelok het van die swart-wit absolutes van die Bybel - ek is verlei deur die tergende tango van teenstrydighede. Ja, volgens kwantumfisici kan 'n voorwerp op twee plekke tegelyk wees, kan iets tegelyk beweeglik en staties wees! Geen wonder ek het altyd so gesukkel met die karige waar/vals opsies in monkey puzzles op skool nie.

Ons leef in 'n era van idees en moontlikhede. Wetenskaplikes is die nuwe digters. Die skeidslyn tussen godsdiens en wetenskap het vervaag. Uiteindelik het dromers die hef in die hand.

Ek het deur die spieël geklim. Ek het 'n talent vir dagdroom, ek is beeldskoon, skatryk, hoog op idees en propvol woorde. Hou hierdie ruimte dop.

En gaan sien die fliek!

Waarskuwing, advertensie: Ons kreatiewe skryfklasse skop volgende week af. Belangstellendes kan 'n e-pos na deborah.steinmair@gmail.com.


LitNet: 19 Julie 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.