Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Buikspraak

Deborah Steinmair

Foto: Riana Wiechers

Ek gaan vir jou 'n storie vertel. Ek dink 'n mens noem dit magiese realisme. Wel, dit gaan oor 'n maag.

Daar was eendag 'n vrou wat per ongeluk op die verkeerde planeet beland het en maar net nie mooi op dreef kon kom nie. Sy het nogtans probeer om iets van haarself te maak. Sy het geleer om die regte dinge te sê en die onvanpaste dinge te sluk. Sy het haar kop skeef en haar hande agter haar rug gehou, geglimlag en oor koeitjies en kalfies gesels.

Alles wat sy onderdruk en gesluk het, het op die krop van haar maag gaan sit soos 'n bol hare. En op 'n dag het daardie opgekropte maag van hom laat hoor.

Dit gebeur by die werk in die middel van 'n vergadering. Dit gebeur toe die bemarkingsbestuurder, wat aan die woord is, die volgende sin sê: "We need to be tighter than a duck's bum." Die vrou het in 'n stupor van verveling versink en vind hierdie woorde nie juis snaaks nie. Maar haar máág begin uit die bloute hardop lag. So 'n regte uit-die-maag-lag, 'n Kersvaderagtige hô-hô-hô wat almal die skrik op die lyf jaag. Dit was maar die begin.

Van toe af laat die maag gereeld en altyd op uiters ongeleë tye van hom hoor. Aan die begin was sy woordeskat en uitspraak beperk en amateuragtig. Hy het begin met eenvoudige woorde, woorde wat net sowel as tipiese maaggeluide kon deurgaan: knortjor; toiings, doilie, plons.

Later tel die maag momentum op en bemeester daagliks nuwe konsonante. Hy branch selfs uit na Engels. Hy is lief vir uitkloplyne, sinnelose sêgoed soos: Ducks in a row! Bob's your uncle! Okey dokey! A OK! Nóú praa' jy! Safe soos 'n duif! Hoor, hoor! Jááááá, Swaerie!

As die maag enige sweempie van pretensie aanvoel, laat waai hy met: Ho ho! Yeah, right! Hogwash! Baloney! Humbug! Cut the crap! Miskien was hy aan te veel vergaderings blootgestel.

Almal begin nou om die vrou se lippe senuagtig dop te hou tydens vergaderings, wanneer die maag graag ongenooid die vloer vat. Almal kan duidelik sien dat die vrou se lippe nie eens vaagweg beweeg nie. Daarom kry sy die reputasie van 'n sardoniese, ondermynende buikspreker.

Die vrou is besig om uit te rafel. Die publieke persona waaraan sy so sorgvuldig gebou het, is besig om te disintegreer. By die werk begin mense haar vermy soos die plaag. Sy ontvang nie meer per e-pos-kennisgewing van vergaderings nie. Niemand wil saam met haar in 'n hysbak klim nie.

Daar is wel een voordeel aan die verbose maag - hy skei die koring van die kaf. Mense wat van dieselfde sonnestelsel as die vrou kom en ook in die ruimte verdwaal het, lig nie 'n wenkbrou oor die maag se uitinge nie.

Bedsake is potensieel problematies, want geliefdes hoor graag romantiese onbenullighede in die bed. En sien, in die bed is die maag besonder spraaksaam. En hy dóén nie romanties nie! Die maag is 'n soort Leon Schuster van die ingewande. 'n Edward Lear van die organe. Daar is geen kosbare oomblikke nie. Daar is niks wat hy nie vergat nie.

Soos die geluk dit wil hê, het die vrou se geliefde 'n sin vir humor - die wonderlikste eienskap waarvoor 'n mens maar kan vra in 'n geliefde. Die maag laat haar geliefde lag. Om die waarheid te sê, die geliefde se maag begin kort voor lank saam gesels. Soms, in die yskoue elmboog van die nag, wanneer 'n nat wind teen die ruite loei, lê die vrou met 'n dankbare hart wakker en luister na die nonsens wat haar maag en die maag van haar slapende geliefde praat.

"Boi," sal haar maag sê, en sonder om te aarsel sal haar geliefde se maag terugkap: "Patong!"

"Arap," sal haar maag laat val, waarop die maag van haar geliefde uitroep: "Moi!"

Nouja, die vrou en haar maag het natuurlik hul werk verloor. Die korporatiewe wêreld laat hom nie van binne koggel nie.

Die vrou stap nou regopper, sonder 'n maag vol hare.

En die maag hou hom weer by sy lees: spysvertering. Die maag van die gewoonte.


LitNet: 21 Junie 2005

Klik en stuur jou geliefde 'n geskenkie

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.