Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Kos en Wyn /
Food and Wine
Reis /
Travel
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Twee keer is nie genoeg nie, Bertie

Deborah Steinmair

In The World as I found it lees ek oor fratsgolwe in die lewe van die filosoof Bertrand Russel: "Russel had attained that age at which men are adept at psychically treading water, for days and sometimes weeks at end. Emotionally, he might be lost in the middle of the North Atlantic, but it wasn't so bad. Cozily bobbing along as a wave hits ... pffffftttt - gasping. Then another wave. And another … Yes, in a pinch all Noah's critters swim, but none tread water better than shipwrecked, middle-aged men."

Ek lees graag oor Russel, al verstaan ek, soos sy minnares die eksentrieke edelvrou Ottoline Morel, nie alles wat hy sê nie. Lady Ottoline, beskermvrou van kunstenaars en filosowe, het tot drie uur per dag bestee om Bertrand se daaglikse briewe aan haar te beantwoord. In die sprokiesagtige tuine van haar landgoed het sy hom teen bome en tussen struike sy sin gegee, al was dit eerder sy brein wat sy bemin het. Russel het aan halitose gely, het sy aan haar dagboek beken. Soms het sy moedeloos uitgeroep: "Certainly twice of an afternoon should more than suffice, Bertie!"

Ek trap ook water. Ek betaal nie soos Leonard Cohen elke dag my huur in die tower of song nie. Maar soos Raponsie het ek het al in 'n hele paar torings gewoon. As 'n mens ruimte laat vir spontaneïteit in jou lewe, beland jy nou en dan in 'n losieshuis.

In 'n losieshuis het jy nie jou eie badkamer nie. Dit beteken close encounters met vreemde skaamhare. Losieshuisbadkamers ruik, onder die suurlemoen Handy Andy en potpourri, na verydeling. Ek is nie presies seker wat verydeling beteken nie, maar ek dink ek weet hoe dit ruik. Na skeerroom en toonnaels.

Elke losieshuis het 'n paar sad bachelors. Hulle kyk baie TV en eet net Salticrax en gemorskos. Onder die bravade van elke aand saam met die boys dop, huiwer daar 'n verlatenheid. My hart is hard, want ek het vroeg in my lewe diensplig gedoen in die grensgebied van hopelose mans. Toe ek self nog vars soos 'n lentebries was, het ek my messiaanse ywer uitgewoed in naweekkampe om verlore middeljarige mans van hul eie wanhoop te red. Aag, dis soos water aandra in 'n sif. Boetman, jy kan maar sê ek is ook die bliksem in. Ek het geen medaljes nie, maar 'n paar littekens om te wys. Ek glimlag vriendelik in die gang soos iemand se oujongnooi-tante. Die bachelors se kamerdeure hang oop en die lug is dik van sestig Benson & Hedges. Jy hoor hulle oor selfone praat met vervreemde kinders: "How you doin', my boy?"

Bo-op Dorpstraat Teaterkafee woon 'n klompie regulars. Gereeld bly 'n kunstenaar of twee oor. Soms 'n tydelike hawelose soos ek. Hierdie is 'n losieshuis met swing. Snags vibreer die vloerplanke met musiek wat van die teater af opstuif. In die middel van die dag begin die kelners en kokke in 'n hoek van die tuin filosofeer oor tequilas en bier. Die eienaar se ma se papegaai sit op 'n stok en hou die geselskap dop. As dit luimig raak, lag hy saam, as dit jolig raak, begin hy dans terwyl hy sy eie orkes improviseer. As die deurklokkie lui, roep hy: "Ek kom!" Hy het sy hart verloor aan Wilma, die kok.

As 'n mens op 'n agtermiddag op jou bed sit, hoor jy hoe iemand onder jou begin instrumente instel. Die fakkels en lanterns in die tuin word aangesteek. "Wilmaaaaa!" roep die papegaai. "Ek kô-hom!" antwoord sy geduldig.

"Is daar genoeg ys?"
"Is ek weer in die kamer met die badkamer?"
"Móét hierdie fokkieng stoel op die verhoog wees?"
"Hoeveel besprekings is daar?"
"Can we do a sound check?"

Agtermiddags daal ek huiwerig soos 'n beskimmelde debutante met die smal trap af na die agterplaas waar kerse op die tafeltjies brand en glasies klink. Dan wink iemand my nader: "Kom sit by ons. Wat drink jy? Hoe het dit gegaan met jou onderhoud? Wanneer hoor jy of jy die werk gekry het?"

Dorpstraat Teaterkafee is die hart van Stellenbosch. 'n Soort Baghdad Café agter die wyngordyn. 'n Oase vir kunssinniges en verlooptes. Hier sou ek kon bly. Wat is 'n vreemde skaamhaar of twee?

NS: Ek hét toe die werk gekry. Ek wil graag die geleentheid gebruik om dankie te sê vir:

  • Dirk die kelner se bemoedigende woorde en hoopvolle heildronke,
  • tant Suster van Springbok se vele gebede, en
  • die kreatiewe manier waarop my referente met die waarheid kan omgaan.


LitNet: 15 December 2004

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.