NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Fanie Viljoen
is gebore in Welkom en woon tans in Bloemfontein. Hy werk by Sanlam en is deeltyds besig met ’n BA-graad deur Unisa. Tussenin maak hy tyd vir skilder en skryf. Hy is lid van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging. In 1999 was hy ’n finalis in De Kat en Human & Rousseau se Vonkfiksie kompetisie. In 2000 was hy tweede in die beginnersafdeling van RSG se radiodramakompetisie. Drie van sy kort-kortverhale het ook al in Sarie verskyn.
  Fanie Viljoen

Vat

Fanie Viljoen

“Kyk net, my ou man, kyk net hoe lekker dans die jong mense. Ek kry sommer ’n rits in my eie gat. Hiert jou, hiert!” Polla kyk hoe haar ma wip-wip op haar stoel. Haar dik voorarms beweeg ritmies op die maat van die musiek. Polla weet haar pa sal nie dans nie. Dis maar soos hy is. Hulle is baie eenders, sy en haar pa.

“Polla, vir wat gaan dans jy nie ook ’n bietjie nie?” Polla voel haar ma se oë op haar, maar sy maak of sy nie hoor nie. Sy roer net haar vanillaroomys dat die sjokoladestroop sulke bruin sirkels maak teen die wit. Dan skep sy ’n lepel vol en druk die koue soetheid met haar tong teen haar verhemelte vas voordat sy dit sluk.

Haar ma karring alewig so aan haar. Jy moet bietjie moeite maak met jouself, Polla. Kyk wat doen die ander meisiekinders, Polla. Hoekom gaan jy nie ’n bietjie met die jong mense uit nie, Polla. Haar ma het al vir haar make-up gekoop. En sulke wit poeier wat jy op jou “plekkies” kan sit, my kind.

“Los die kind,” sê haar pa, maar haar ma luister nie. Ten minste twee keer per maand bring sy ’n rok saam van die dorp af. Hierdie maand was dit so ’n pienke wat Polla soos ’n malva laat lyk het. Daarna ’n witte met ’n lae hals sodat die jong mans haar bietjie kan raaksien. Albei hang in die kas. Hulle pryse is nog nie eens afgehaal nie.

Die aand na die dans lê Polla op haar bed, sommer so op die deken. Haar vingers hou die kussing vas wat ingevou is onder haar nek. Die gang se lig val oor die houtvloer en oor haar lyf. Waar sy op haar sy lê, kan sy haarself in die spieëlkas se spieël sien. Nie haar gesig nie, net haar lyf. Sy kyk na die ronding van haar skouers, haar heupe, haar bene.

Die huis is stil, behalwe vir haar ma se stem: “Dis amper of sy nie eens probeer nie. Dit lyk of sy net belangstel in twee goed: kos en prentjiesboeke. Kyk net hoe lê sy heeldag in die sitkamer. ’n Boks chocolates langs haar en ’n boek op die maag. Dié ook dat sy so ’n blou-bleekheid oor haar het, sy sien dan nooit die son nie. ’n Mens moet uitkom.”

“Los haar, Kommie,” sê haar pa.

In haar kop kan Polla hulle daar langs mekaar sien lê: haar pa met sy toe oë en haar ma wat regop sit en kort-kort haar wysvinger op sy skouer druk om haar punt te maak.

“Ek wil kleinkinders hê,” sê haar ma. “Hoor jy wat ek sê, Pieter?”

“Ek hoor vir jou, Kommie, maar waar gaan jy hulle vandaan kry?”

“Van Polla af, natuurlik. Dis tyd dat ons daardie meisiekind regkry. Sy word nie jonger nie. Sy het ’n man nodig.”

Polla byt op haar lip.

“Jy sien dan sy stel nie belang nie.”

“Watwou nie belangstel nie? Dis omdat sy nog nie een gehad nie, dis hoekom. Sy weet nie wat sy mis nie, nou lê sy maar haar dae so om. Ek dink dis tyd dat ek iets daaraan doen. Sy sal regkom as sy net eers aan ’n man gevat kan kry. Jy weet, Pieter, sy moet ’n man voel ... Sy moet wéét van ’n man. Hoe dit ís met ’n man, bedoel ek, dan sal sy regkom. Dis omdat sy nie weet nie, dat sy nie een het nie.”

“’n Vrou kan nie vat as sy nog nie getroud is nie.”

Polla vee met haar vinger na die nattigheid by haar oog. Haar vingers krul dan in ’n hulpelose vuis voor haar mond.

“Hoe oud moet sy dan nog word voor sy ’n man aan haar laat vat en sy aan ’n man gevat kan kry? Magtig, sy is op pad dertig toe. Ons moet na haar kyk, want voor jy sê Jakob Regop, is sy te oud en dan kan ons ook vergeet om haar uit die huis te kry. Die dag as ek op my doodsbed lê wil ek weet dat sy reggekom het ... met ’n man en so aan. En ek soek kleinkinders. Sommer ’n klomp om op te maak vir die droë jare.”

In die donker draai Polla haar rug op die spieël.

Dinsdagmiddag gaan Polla saam met haar ma dorp toe. Haar ma moet rekeninge betaal en ’n paar goed by die hoekwinkel koop. Polla bly in die kar sit. Sy het ’n fotoverhaal saamgebring en blaai daardeur sonder om te lees. Die son bak warm op die dak. Die venster is oop, maar dit help nie.

Polla kyk op om te sien of haar ma nie al aankom nie. Sy sien hoe Jan-Deysel de Wet by die winkel instap. Sy pa werk by die koöperasie. Jan-Deysel swot in Potchefstroom. Sy pa-hulle het dit nie so breed nie, maar hy het blykbaar ’n beurs gekry en dit help al met die studiegeld. Deesdae kom hy ook net vakansies huis toe om te werk vir ietsie ekstra.

Na ’n ruk kom Jan-Deysel uit die winkel gestap. Hy bly drentel op die stoep asof hy vir iemand wag. Dan kom Polla se ma ook uit. Sy stap na hom toe en sit haar hand op sy arm. Jan-Deysel lyk ongemaklik. Hy gee ’n tree agteruit, maar haar ma staan maar net weer nader. Dit lyk vir Polla of hulle ernstig praat. Jan-Deysel draai skielik weg. Hy skud sy kop en draai dan weer terug na haar ma toe. Sy beduie na haar handsak. Hy skud weer sy kop. Sy gooi haar hande in die lug. Hy skud weer sy kop en kyk dan na die kar. Polla laat sak vinnig haar kop. Sy wil nie hê hulle moet weet sy kyk vir hulle nie. ’n Rukkie sit sy so, dan lig sy haar kop weer stadig op. Hulle praat nog. Jan-Deysel kyk grond toe en dan weer kar toe. Polla maak weer of sy hulle nie sien nie.

Later stap Jan-Deysel apteek toe en haar ma kom vinnig oor die straat aan. Die kardeur klap toe.

“Môreaand,” sê haar ma, “sal ek en jou pa nie by die huis wees nie.”

“Ma?”

“Jy kry môre kuiermense.”

Polla luister met ’n bang hart hoe Jan-Deysel klop. Sy het gehoop hy kom nie. Miskien sal hy weggaan as sy net nie oopmaak nie. Maar dan weer, haar ma sal die donder in wees vir haar as sy dit doen. Polla staan op om oop te maak.

“Polla?” sê hy asof hy nie seker is dit is sy nie. Sy sê niks nie. “Kan ek inkom?”

Bewe sy stem?

“Hoekom?” Polla hou haar opsetlik dom.

“Ek sal sê as ek in is.” Polla maak die deur wyer oop en Jan-Deysel stap binne.

“Jou ma het gevra ek moet kom kuier.”

“Sit.”

Jan Deysel sit, maar hy sê nie ’n woord nie. Hy kyk net rond in die sitkamer.

“Nou gaan jy kuier of gaan jy net daar sit met jou bek vol tande?”

Jan-Deysel sweet. Hy skuif ongemaklik rond op die bank.

“Jou ma het gesê sy los vir my ’n koevert.”

“Dis in die kombuis onder die suikerblik.”

“O ... dankie ... Ek sal dit later kry.”

“Dis geld, is dit nie?”

Jan-Deysel knik.

“Hoekom betaal sy jou?”

Jan-Deysel sê niks. Hy kyk net na sy hande. Oomblikke later breek hy die stilte: “Polla, waar’s jou kamer?” Sy beduie in die gang af. “Nou kom saam.” Hy loop met groot treë na waar Polla gesê het. Polla loop agter hom aan en gaan staan in die deur.

“Wat maak jy in my kamer?”

Jan-Deysel maak sy hemp se knope los en laat gly die hemp oor sy skouers. Dan knoop hy die broek los, trek die ritssluiter af, onthou hy het nog sy skoene aan en trek dit uit voordat hy sy broek en onderbroek ook uittrek en op die grond laat val. Hy staan kaalgat daar voor haar. Sommer net so.

“Polla.” Sy stem klink of dit wil wegraak. “Polla, kom vat aan my.”

“Jan-Deysel?”

“Kom vat aan my. Polla, jy raak oud en jou ma wil hê jy moet voel hoe ’n man voel. Kom vat aan my. En maak gou voordat ek my mind change.”

Polla staan botstil. Haar hart ruk in haar bors.

“Polla, kom hiernatoe.”

Sy loop stadig nader. Haar oë dwaal oor Jan-Deysel se kaal, bruin lyf voor haar. As sy naby genoeg is, steek hy sy hand uit, vat haar hand in syne. Dit is natgesweet. Haar vingers krul bewend oop, hy druk haar hand teen sy bors, sy voel sy borshare tussen haar vingers. Sy vel is taai van die son. Hy vat haar hand oor sy skouers, teen sy arm af, dan oor sy maag.

Jan-Deysel knyp sy oë toe.

Hy vat haar hand laer af, tot by sy geslag. Dan los hy haar en sy vou haar vet handjie bol om die sagte vlees.

’n Oomblik staan hulle só, dan begin Polla huil. Klein, sagte rukbeweginkies word gebore uit haar skouers. Haar blou oë is ver hiervandaan. Asof sy vergeet het hy staan hier voor haar. En sy verbeel haar sy vat aan haarself.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.