NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Thijs Nel
(60) is internasionaal en plaaslik bekend as visuele kunstenaar nadat hy in die sestigs aan die Universiteit van die Witwatersrand kuns gestudeer het en in die sewentigs hom in Frankryk op litografie toegespits het. Sedert 1990 werk hy ook met klei en keramiek. In daardie jaar het die Universiteit van Pretoria hom vereer vir sy bydrae tot kuns in Suid-Afrika. Hy het die Kannabeeld wat aan vanjaar se wenners by die KKNK oorhandig is ontwerp. Sy kennis van Frans en sy skryftalent het hom in staat gestel om Franse televisiekarakters soos Marie Antoinette en Arsene Lupine flink Afrikaans vir die indertydse SAUK te laat praat. Hy het ’n Annerster soort (kortverhale) in 1997 gepubliseer. Drie van sy dramas in die 80tigerjare tydens die ATKV se Kampustoneelaksie opgevoer, waarvan Fluit vir die Vlieë deur TRUK aangebied is in 1985 met Sandra Prinsloo in die hoofrol. Sandra het daardie jaar vir dié rol (Kato - ‘n verwaarloosde boervrou) beide die Vita prys sowel as die DALRO prys vir drama ingepalm.
Thijs Nel woon en werk op Oudtshoorn.
  Thijs Nel

Die laaste blou suidissels

Thijs Nel

"Madame Christine décédée."

In Frankryk sou die telegram in 'n roukoevert gekom het om die gegewe stapsgewyse te versag.

Madame Christine se heengaan het gelukkig nie versagting nodig nie. Ek dag sy is lankal vooruit. Sy was negentig toe ek haar die laaste keer gegroet het in Gys, hoog in die Franse Alpe.

Van reageer op die telegram is daar ook nie sprake nie. Haar familie het ek nooit ontmoet nie. My ontmoeting met haar was amusant, een van 'n aantal verrykende ervarings tydens 'n somervakansie in La Haute Savoie.

Dit was my eerste kennismaking met Gys. My Franse familie het besluit dat ek hul dogter Françoise en kleinkind per vliegtuig moet begelei na Genève, waar ons deur Robert, haar pa, afgehaal sou word. Robert en Paulette, of Paulo, soos ek haar genoem het, is twee dae vantevore per motor uit Parys om die huis in gereedheid te kry. Die ander kinders sou, as hulle kon, een na die ander by ons aansluit.

Dis 'n vakansiehemel wat twee keer per jaar oopgaan: in die hoogsomer vir staptoere, swem en tennis, en in diep winter om te ski. Soos met die meeste van hierdie dorpies is jy amper daardeur voordat jy dit enigsins opmerk.

Behalwe 'n boulangerie (bakkery), épicerie (kruidenierswinkel),die poskantoor, 'n kerk met begraafplaas reg rondom, en enkele woonhuise wat almal eenders lyk, is daar net nog l'Hôtel-de-Ville en die gendarmerie om 'n formele dorpspleintjie met die tradisionele oorlogsmonument wat die name van gesneuweldes Pour la Patrie uit die omgewing bevat. Niks wat Gys anders laat voorkom as soortgelyke gehuggies op die pad tussen Annecy en Avoriaz nie.

"C'est mon pays ... waar ek gebore is."

Robert is daar gebore en getoë. Toe hy 'n jong seun was, het sy ouers na Meudon, halfpad tussen Parys en Versailles, getrek, sodat die kinders 'n beter opvoeding kon kry.

Die huis in die Alpe het 'n vakansiehuis geword. In die winter verander die omliggende heuwels in ski-hange. Daar het Robert my leer ski, het ek byna my nek gebreek toe ek verkies het om liewer te val as om 'n kleuterklas skiëertjies disnis te ploeg. Die klein duiweltjies het nie my onbaatsugtigheid waardeer nie; inteendeel.

"Monsieur, weet u darem hoe om op te staan?"

Gys en die hele omgewing was vir my 'n ontdekkingstog. Vir my as bosveldkind wat sy skoollewe op kosskool deurgebring het, was vakansies tye wat 'n mens op die plaas deurgewerk het: ploeg in die somer, braak na die oeste in die winter, trek met die beeste na 'n veepos, en so meer. Die enkele kere dat 'n mens elders heen was, was dit sonder ouers en meestal by ander familie op net nog 'n ander plaas met 'n soortgelyke roetine.

Saam met die Taverniers was ek opnuut kind. Robert en Paulo het my soos 'n kleuter vertroetel, my gekoester en voorgetrek terwyl hulle my met eindelose geduld leer om beter Frans te praat. Spesiale kaas, Tomme du Savoie en Reblochon, uitsoekvrugte en die keurigste groente, opdrag aan die bakker om gebak sonder eiers spesiaal vir my was aan die orde van die dag.

Françoise het jaloers daarna verwys: "Jy is vir hulle 'n nuwe speelding. Jy stel in alles belang en vra oor alles en almal uit. Iets wat ons nie doen nie. Om die waarheid te sê, ons is meestal so verveeld hier dat ons daarvan krepeer. Ons het almal in Parys grootgeword. Dit was wel meer pret hier toe ons kinders was."

Ek is oral saamgeneem, aan almal voorgestel as notre gamin du Cap. Daar word in Frankryk algemeen na Suid-Afrika verwys as Le Cap.

Die tweede dag na ons aankoms merk Robert op dat madame Christine nog nie kom groet het nie. Sy was die oudste inwoner van Gys.

Robert was tandarts en een van die weiniges uit daardie vallei wat, tot die ouer garde se trots, "iets met sy lewe gedoen het". Een en almal het per kind of kleinkind, gelaai met blomme, kaas of groente, groete oorgedra en laat weet wanneer hulle sou oorkom om dag te sê. Gebruiklik moes Robert weer op sy beurt gaan groet voor hy terugkeer huis toe, Parys toe.

Dit het my onwillekeurig herinner aan 'n soortgelyke ritueel in my kinderdae tussen my en ou Mantwa, die Tswana-vrou wat my moeder se regterhand was in die Bosveld. Sy was 'n bekwame vroedvrou wat wit en swart kinders help "vang" het voor die koms van die kraaminrigting op Ellisras. Omdat ek een van haar "vangste" was, was my eerste plig en plesier om, sodra ek van die kosskool af op die plaas aanland, stat toe te stap. Dit was nie goeie maniere nie, dit was protokol. Die enkele keer wat ek versuim het om te gaan groet, was ek vir die res van die vakansie heeltemal geïgnoreer.

Robert het besluit om oor te stap na madame Christine. Sy was negentig en dalk nie wel nie, al het die priester langsaan hom verseker sy is nog gesonder as negentig persent van die streek se inwoners. "Sy glo vas dis omdat sy nooit uit die vallei was nie. Sy behoort tot die ou garde wat daarby sweer dat dit onheil bring om die vallei te verlaat."

"C'est incroyable! Daar is glo 'n ou dame op die Ile St Louis wat dit nog nooit eers gewaag het om die brug na die Ile de la Cité‚ oor te steek nie, laat staan nog die Pont Marié oor te gaan om die Marais te ontdek of die Latynse buurt aan die teenoorgestelde oewer te besoek."

"Mais oui, c'etait comme ca autre fois ... selfs nou nog ... madame Christine byvoorbeeld. Sy was nog nooit verder suid as die kerk nie, en verder noord as die kerkhof sal sy dit waarskynlik ook nie meer maak nie."

"Wat van oos en wes?"

"Mais ça alors ... dit laat nie veel ruimte vir avontuur nie. Wes van haar is die rivier en sy kan nie swem nie; en oos ... la montagne. Ce qui reste ...al wat oorbly, is la terre et en suite, surement le ciel. Pas grand chose?"

"Dis waar, al skarrel ons ook hoe, ons gaan almal op die ou end ten gronde, maar ek is nie so seker van die hemel nie."

En daarmee is Robert na madame Christine terwyl Françoise die baba versorg en ek vir Paulo help met die aandete - 'n voorreg, want so kon ek allerlei fyner dingetjies leer van 'n uitmuntende kok. Gee vir Paulo 'n aartappel, sout, water, pietersielie en swart peper en in 'n japtrap tower sy dit om tot soep wat jou nie 'n tweede porsie laat verbygaan nie.

"Et alors, wat sê madame Christine?"

"Tiéns, comme c'est drole! Mais non docteur, vous avez un ‚tranger chez vous!"

"Natuurlik. Ons moes dit verwag het. 'n Vreemdeling in die poorte. Dis fataal om vreemdelinge te ontmoet. Dit bring onheil."

"Is ek 'n albatros, 'n ongeluksvoël?"

"Vir haar, ja. Ek vra: 'Maar wat van al die ander vakansiegangers?' Sy sê hulle tel nie. Hulle is toeriste wat voorspoed bring. Hulle spandeer. Jy is 'n gas, 'n vreemdeling wat gevoer moet word."

"C'est ne pas vrais! Robert, jy trek sy been."

"Nee, ek sê toe, al kom hy uit Afrika, is hy witter as sy, want sy oorgrootjies was Hugenote van Rouen en hy byt nie! Eet nie eers vleis nie, net gras en water. Toe ek haar vertel jy het op 'n plaas grootgeword en kan selfs 'n koei melk, was die saak gewonne. Sy sê dan is jy gewis nie van die duiwel nie, want koeie is slimmer as mense. Sy kom more vir die seremonie."

Le cérémonie is oggendtee, om Paulo en Françoise te groet en te sien hoe die kleinseun lyk. Ook om kennis te maak met l'etranger, notre diable á nous qui vient du Cap.

Terwyl Robert vir Paulo help met teegoed in die kombuis, bly ek agter en gesels met madame Christine buite op die terras in die oggendson, want al is dit nog laat Augustus, is die oggende reeds koelerig hier hoog in die Alpe. Later raak dit bedompig onder in die vallei en vlug almal berg uit.

Sy is vol bewondering vir iemand wat al die onheile trotseer om so ver van sy land te swerf. Haar kleinseun moes Viëtnam toe, en sy is bekommerd oor hom.

Ek sien Robert deur die venster agter haar. Hy beduie ek moet die onderwerp van die kleinseun versigtig hanteer. Met sy wysvinger sny hy oor sy keel, dop sy oë om en gooi sy hande en arms met gepaste mimiek agteroor om my te laat verstaan dat die kleinseun gesneuwel het, maar die ou dame weet dit nie.

"Hy moes soontoe vir sy sérvice militaire. Hoekom juis soontoe weet net die owerhede et le Bon Dieu. Weet u waar Viëtnam is? Ek het gehoor daar was oorlog, maar dis lankal verby en hy het nog nie teruggekom nie."

"Hy is waarskynlik gekies om agter te bly en te help met al die opruimwerk. Dit is gebruiklik dat die mees bekwame mense, al die wat 'n ambag het, help met die heropbou na die verwoesting."

"Dink u waarlik so? Hy is skrynwerker, weet u. Voor hy weg is, het hy nog vir my nuwe rakke in my kombuis ingesit."

"Daar het u dit, madame Christine, hy help waarskynlik om mense se huise te herstel of die nuwe skole en hospitale te help inrig. Dit mag jare neem voor alles klaarkom."

"Maar daar is so iets soos verlof, weet u. Hy kan darem vir ons kom kuier. Ek word oud. 'n Mens lewe nie vir altyd nie."

"Ag u weet, Viëtnam is nog veel verder as Le Cap van Frankryk af. Daar is ook soveel dinge in daardie deel van die wêreld om te sien dat hy seker van die gulde geleentheid gebruik maak, of hoe?"

"Nou laat u my sommer beter voel. 'n Ou mens het baie tyd om te pruil et vous savez, la tête est bête! In plaas van te vertrou op die goeie is dit so maklik om die kwade aan te trek."

Le cérémonie was 'n triomf. Daar is veel gelag en gekgeskeer omdat sy so bang was vir le diable du Cap.

"Hoe kon ek so dom wees. Hy is 'n ware engel. Ek moes tog geweet het julle sal nie onheil aankarwei nie!"

Die volgende oggend toe ek aansit vir ontbyt, plaas Paolo die grootste koolkop wat ek nog ooit gesien het, voor my neer.

"En dit? Moet ek op eie stoom terugvlieg Parys toe?"

"Un chou de Madame Christine, spesiaal vir jou. Koolkoppe is al wat sy op die oomblik in haar tuin het. Ek kan jou verseker, dis nie alleen die grootste kompliment nie, dis ook die laaste olie uit die weduwee se kruik. Niemand is armer as sy nie."

En was dit 'n koolkop! En het dit gehou! Soos die weduwee se kruik was daar net geen einde nie. Paulo moes al haar vernuf gebruik om die tanende entoesiasme aan die gang te hou. Toe daar aangesit word, was daar naderhand 'n koor van protes.

"Merde! Encore? Is daar dan geen einde aan madame Christine se liefde nie?"

"En wat is daar onder die skilferkors? Ag nee!"

Dit was 'n marathon. Dit was gekook, geslaai, getert, gebraai en gestoom, met kaas, sonder kaas, met kruie en met of sonder uie.

"Mais non, dis donc, ce putain de choux ..."

"Mangez! Eet julle kool! Tout le monde! Mangez! So speel almal saam in die orkes!"

Dit was 'n sonderlinge vakansie. Ons het sampioene geoes in die woude of allerlei soorte bessies op die berghange gaan pluk. Wat ons nie toute suite rou verorber het nie, het Paulo en Robert omskep in droomgeregte.

Jean-Yves was konstant in opstand oor die gesonde etery.

"Mais non! Ek is veronderstel om gewig te verloor. Ek lyk klaar soos die Zeppelin. Ek het nie geld vir nuwe klere nie!"

"Niks verhoed jou om op te hou eet nie."

Robert het die hele kontrei aan my gewys. Soms is ons alleen uit. Paulo had haar hande vol met die huishouding en ook met Françoise en die baba. Jean-Yves was besig met ontwerpe vir dekor en kostuums vir Prokoviév se Cendrillon.

Ek het verlof gekry om bo in 'n solderkamertjie wat in onbruik verval het, te mediteer. Toe ek en Robert een middag van 'n verkenningstog terugkeer, kyk Paulo op haar horlosie en merk so terloops op: "Aandete sal nie reg wees voor oor twee uur nie. Jy het genoeg tyd om vir 'n rukkie boontoe te gaan."

Met die trap op kom ek in die solderkamertjie. Ek herken dit skaars. Ek het sommer op 'n stuk goiingsak gesit tussen die spinnerakke en stof, maar nou was dit silwerskoon. Waar die goiingsak was, lê 'n erfstuk: die pragtigste geborduurde kussing wat Robert se oumagrootjie 'n eeu gelede gemaak het.

Een oggend is ons almal met die kabelspoor op na een van die hoogste pieke aan Mont Blanc. Die laaste kilometers was angswekkend, tussen hemel en aarde sonder enige pilone, net aan die kabel oor die vallei van die dood, so genoem omdat enige skiër wat daar sy spoor byster raak, nie gou weer gesien word nie.

"Dit neem 'n volle eeu, 'n honderd jaar, voor jy uiteindelik aan die onderpunt van die gletser teruggegee word. Teen daardie tyd is almal wat jou geken het, lankal kapoet."

"Hoe grusaam! Dit moet aaklig wees vir dié wat die lyke versorg."

"Hulle is gewoond daaraan. Die kadawers is gewoonlik mooi, almal jong mense, perfek gepreserveer in die ys."

Bo bibber ons terwyl ons uit die kabelkar in die eindpuntgebou stap om iets warms te drink voor die terugtog. Die skiërs groet. Kort voor lank ski hulle af, party terug Frankryk toe en die ander, nadat hulle deur paspoortbeheer is, af na Switzerland ... "en soontoe lê Italië".

Ek kyk die stippels wat verbysterend vinnig krimp met ontsag agterna en hoop almal kom veilig tuis.

Middagete was 'n ritueel wat elke dag in 'n ander restaurant in die kontrei voltrek word. Met ons aankoms word noukeurige instruksies omtrent my dieet gegee.

"Le monsieur fait un regime trés trés strict. Geen vleis, vis of eiers nie."

"Nee! Wat bly oor behalwe gras en klip?"

"Groente, vrugte en kaas."

"Merde! Quelle horreur!"

Aan gasvryheid ontbreek dit nie, en om my te genees word 'n uitdaging. Ek word toegegooi onder keurige geregte. Almal help my eet, want dis hopeloos te veel vir een persoon en interessanter as die gewone menu. Met die afskeid by die deur staan die restauranteur en gesin in 'n ry en handskud. Dis omtrent altyd 'n familiesaak.

"Au revoir Monsieur. Ek hoop u word gou weer gesond."

Enkele dae later op uittog ry ons by 'n begrafnisstoet verby. Nogal 'n groot begrafnis. Robert frons bekommerd. "Wie sou dit wees? Tog seker nie madame Christine nie. Hulle sou ons darem laat weet het."

By die polisiestasie hou hy stil om uit te vind.

"Tiéns, c'est le type du restaurant. Die man wat gesê het hy hoop jy word gou weer gesond. 'n Hartaanval oor die soppot."

Hoog bo, anderkant Avoriaz, hou ons stil vir 'n piekniek. Paulo, Françoise, die baba en Jean-Yves bly agter terwyl ek saam met Robert dit die berg in waag op soek na die Chardon Bleu, blou suidissels, 'n bedreigde spesie wat nog net op 'n paar plekke in die Alpe voorkom. By Robert was dit 'n passie om vir oulaas, voor hy sterf, ter herinnering aan soortgelyke togte as kind saam met sy vader, nie alleen die blomme op te spoor nie, maar ook 'n bossie daarvan te pluk teen die geweldige risiko in om betrap en swaar beboet te word.

Jean-Yves was soos 'n steeks donkie. "C'est de la folie! Heeltemal gek! Ek is te vet vir so 'n marteltog. Ons kry dit dalk nie en dan was al die sweet en lyding verniet."

Dit was opwindend: 'n pelgrimstog op soek na die Heil'ge Graal. Die terrein was moeilik, maar Robert, verbete. Met behulp van natuurlike bakens, weggestoor in sy geheue, het hy soos 'n skipper wat sy sterre ken, op die skat afgestuur.

Wat 'n gesig! Asof die uitspansel oopkloof en ons 'n visioen vergun word, lê dit voor ons: 'n plaat van die blouste blou.

"O quelle splendeur! As die ander nou saam kon wees! Nee, dit behoort aan die bittereinders, dié wat werklik moeite doen om hulle nog te vind. Dis asof die hemel oopgegaan het, of hoe?"

Ek was dankbaar dat ons alleen was. Meer mense kon dié grootse ervaring net minder maak.

"Robert, merci de m'avoir amene. C'est vraiment trés special!"

"Dankie dat jy saamgekom het. Ek kon dit nie alleen waag nie. Hulle weet nie, maar my hart kan enige oomblik inkonk. Dis die laaste keer; ek sal nie weer hier uitkom nie."

Ons pluk die verbode blomme en betaal met bloed. Die boete is genoeg dorings om selfs 'n geharde botanis twee keer te laat dink. Met oorgawe pluk ons vir die laaste keer, nie net vir Robert nie, ook vir my; net iemand wat daar groot geword het, sal die plek weer kry.

"By die huis hang ons dit op met die koppe na onder om droog te word ... in die kamertjie waar jy op jou kop staan. Kersfees, wanneer ons weer kom om te ski, stroop ons die dorings en oortollige blare af. Wat oorbly, gaan die mooiste ruiker wees wat jy ooit sal sien."

'n Mens is gedoem om altyd te vertrek. Alles snel ten einde - sneller nog wanneer dit haas volmaak is.

Françoise en Jean-Yves het met die baba teruggevlieg Parys toe. Ek, wat die volmaaktheid wou verleng, het agtergebly om die hemel te help verseël.

Die middag voor ons vertrek gaan ek saam met Robert om madame Christine te groet. Sy is kinderlik bly en dring daarop aan dat ek 'n koolkop saamneem.

Die besoek had ook sy troebel. Vroeër die middag het 'n toeristebus haar enigste hoender in die pad voor die huis, voor haar oë, doodgery.

"En jy weet, Robert, daardie kleine hennetjie het elke dag vir my 'n eiertjie gegee."

Tuis toe hy die nuus aan Paulo oordra, sê Robert: "Behalwe 'n bietjie kaas nou en dan, was die eiertjie waarskynlik haar enigste bron van proteïen."

Daardie Kersfees help ek Robert - niemand anders wou nie, vanweë die dorings - om vir oulaas die hemel kaal te stroop en saam te bind in die grootste, mooiste ruiker vir Paulo.

Twee jaar later, terug in Suid-Afrika, ontvang ek van hom 'n brief met 'n foto van die Chardon Bleu. Agterop is 'n boodskap: "Souvenez vous ..."

Dit was 'n voorbode.

'n Week later volg nog 'n brief; dié keer is dit swart omlyn: Robert is ons vooruit ...

En nou: Madame Christine décédée.

Ek is nie net hartseer nie, ook oneindig dankbaar. Maar ek moet erken, soms rou ek oor l'autrefois.





LitNet: 21 April 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.