NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Konstant van Huyssteen (26) is nuusredakteur by ’n streekskoerant in die Oos-Kaap. Hy het ’n meestersgraad in letterkunde van die Universiteit van Kaapstad en ’n honneurs in Joernalistiek van Stellenbosch.
  Konstant van Huyssteen

Grondvloer

Die grys-getinte venster skuif swaar oop en los swart merke op my vingers. Die glas suig die laatmiddagson in, en ’n buffer warm lug hang daarom. Soos dit oopskuif, stu vars oggendlug by die bedompige kantoor in soos swaar, koue lug wat op ’n warm dag uit die yskas op jou voete val.
    In die verlate gange van die gebou is die “Mr Delivery” op die vyfde vloer en ek die enigste wat nie op vakansie is nie. Oproepe kom in, kos kom in en gaan uit, motors kom in en gaan uit. In die kantoor is dit stil. Dis nie ’n goeie nuusdag nie, met net een handgeskrewe polisiefaks wat uit die masjien krul en liggies heen en weer roer in die bries ... een of ander gewapende roof êrens op die vlakte. Ek werk dit in my nege-uur bulletin in en begin die koerante lees om nuus daaruit te oes. In die koerante is dit alles sagte nuus en Kersfeesstories met klein krismisboompies. Al die kleurfoto’s is misdruk. ’n Vader Kersfees op die voorblad glimlag ’n morsige glimlag met vier kleure skeef oor mekaar gedruk.
    Ek stuur my eerste bulletin weg. Die krieket begin binnekort: ’n lekker tellingstorie vir elke berig sorg vir die sportinhoud op die Saterdag na Kersfees. Ek kliek op die ikoon vir die Internet-pos, ’n dosie met ’n strikkie opgemaak. Dit lyk ook nou soos ’n Kerspresentjie. Die vier nuwe boodskappe: Misdaad van Oukersdag, Kersdag en dié wat vroeg op hierdie dag gepleeg is. Ek sien die server was off-line, en het al die boodskappe opgehoop om dit nou en hier op die dag na Kersfees te bedien en my wind mee uit te slaan. Ek vee oor my voorkop. Hierdie goed sal oor die volgende vier bulletins gedek moet word. Ek druk die boodskap van Kaptein Leon Grundling van die Wes-Metropool Kommunikasiedienste uit:

MURDER
MAITLAND

On Friday 1998-12-25 at about 06:10 the unknown body of a female, approximately 35-years old, was discovered between Ysterplaat and Kentemade railway stations. The victim was naked and had stab wounds all over her body and a fatal blow against her head. There was blood between her legs and it is suspected that she had been raped as well. The body was left lying across the railway tracks. No arrests have been made and investigation continues.

MURDER
NYANGA

On Friday 1998-12-25 at about 06:00 a 35-year old woman was murdered at her home in Umkonto Squatter camp, Nyanga. It is alleged that her husband had left the house at about 05:00 the morning and on his return about a hour later discovered the body lying on the bed in the bedroom. Her throat has been cut open and it is believed that she has been raped. No arrests have been made and investigation continues.

ENDS

**************************************

Van Wikus Holtzhausen, areahoof kommunikasiediens van die Oos-Metropool, kry ek berigte van ’n 18-jarige meisie wat in Delft verkrag is na ’n man haar na sy woning gelok het, van ’n Khayelitsha taksibestuurder by name van Loud Mahlombe (30) wat na ’n argument met ’n yster oor die kop geslaan is en daarna oor hom gery is met ’n taksi, van Mpo Mkamathi (35) wat deur sy vriend doodgesteek word, van ’n 23-jarige man wat in Site C in Khayelitsha doodgesteek is, van Jinx Malopo wat in ’n smokkelhuis gesteek is en in die straat voor sy huis doodgaan, van ’n skokgranaat wat om twintig voor twaalf na ’n “woning” in Sesde Laan in Retreat gegooi is, van nog ’n skokgranaat wat na die huis van Abel Abrahams in Ravensmead gegooi is, van ’n gewapende roof waartydens die slagoffer twaalf rondtes afvuur op twee rowers terwyl hulle gewere op hom gerig was (die polisie sê niks van outomatiese gewere nie), van die liggaam van ’n onbekende man wat in Bardaleweg in Kuilsrivier met skietwonde in die kop gekry is, en van die liggaam vol steekwonde van ’n onbekende man wat by die Vanguard-afdraai op die N2 gekry is.
    Die voor die hand liggende metafore val my op vir die “crime-wrap” berig: “Dié jaar was die Kersfees-sokkie vol moord en roof” ... of “ons beleef ’n swart Kersfees” of so iets dergeliks dramaties wat goed sou klink op die radio. Sonder om verder daaraan te dink, begin ek ’n berig skryf oor die vrou wat gesteek en verkrag is en op die spoorweg laat lê is. Ek voel dit is my eerste prioriteit. Waarom weet ek nie. Dis moeilik om te kies tussen die vrou in Khayelitsha of die vrou by Kentemade. Kentemade. Een aand op pad stad toe op die N1, sien ek Kentemade-stasie aan die linkerkant, net duskant Century City en sy groot M-Net neonlig. Daar was klomp verskepingshouers daar opgestapel. Dit was die tyd toe die “Symphonies of Fire” vuurwerkvertonings in die Waterfront aan die gang was. Regs van ons, oor die see, het die vuurwerke soos brandende granate oopgebars en kon mens die liggies van die motors op High Level Road op pad na Seepunt sien waar hulle parkeer gestaan het om te kyk.

You are listening to ............ The time is ............ Here is the news, read by .......... In this bulletin ....
#Murder
#Armed robberies
#
#

An unknown body of a woman [Delete]
The body of an unknown woman was found yesterday [delete “yesterday”, anders lyk dit of ons ou nuus opdis]
... on the railway tracks between Ysterplaat and Kentemade railway [delete] stations yesterday. The victim, approximately 35 years old, was naked and had multiple stab wounds, as well as a fatal head wound. [Wat van die verkragting. Dit moet tog gesê word. Maar niemand sal wil weet dat sy bloed tussen haar bene gehad het nie. Dis tog nie in enigiemand se belang om sulke nare goed op die dag na Kersfees te hoor nie. Liewer die Trans- Agulhas of die touch rugby op Stilbaai met ’n polisieman wat laat weet “Ek het nog nooit só baie dronk mense op só ’n klein stukkie aarde gesien nie.”
Rape is also suspected.

Die foon lui. Dis my nuusredakteur.
    “Hoe lyk dinge nog daar anderkant?” Sy bel van Grabouw, waar sy by haar ma kuier. Grabouw. Dit was anderdag in die nuus nadat ’n man wat gesê het hy’s Jesus ’n vrou wat by ’n liefdadigheidsentrum gewerk het met ’n skoffelpik doodgekap het.
    “Hier’t so baie misdaad ingekom ek weet nie wat om daarmee te maak nie.”
    “Niks meer as twee misdaadberigte per bulletin nie. Soek Kersfeesstories. Mense wil nie vandag slegte nuus hoor nie,” sê sy beslis. “Gaan alles verder nog goed daar? Onthou om vir die vertaler te faks soos jy die berigte skryf, hoor.”
    Nee, sê ek. Alles is verder reg en in die haak. Ek skryf verder, maar kan nie ophou dink aan hoe dit moet voel om met ’n mes gesteek te word nie. Ek wonder of die laaste ding wat die vrou by Kentemade gesien het die blinkende rooi M-Net teken was. “Your ticket to the magic,” of so iets. Miskien was dit net grond, of haar eie derms. Of hoe dit moet voel om vier mans in die donker uit die Port Jacksons te sien kom en messe te sien trek. Miskien het jy hulle kleinsus verwagtend gemaak of van hulle geld gesteel. Miskien ken jy hulle van geen kant af nie. Dan dink jy dit is nou oor wanneer jy voel hoe die lem jou lewer spleet, of voel hoe jou bloed by jou uittap. Dan dink jy jy kan nou maar ophou spartel, terugveg. Jy kan nou maar stil lê, want jy gaan dit nie na die pad toe maak nie, en dat dit nou jou lewe was.
    Of om, soos Loud, te voel hoe die ysterpaal jou voorkop breek en dan duiselig te lê met bloed in jou oë of reeds besig om stuiptrekkings te kry as die hou hard genoeg was en jou skedel gekraak het wanneer ’n taksi twee pap spore oor jou lyf breek. Skryf net die misdaadberig klaar en soek dan ’n stoepstorie, sê ek vir myself. Iets mooi of snaaks wat gebeur het vir die “en ten slotte” om die bulletin mee af te sluit.
    Die lug is weer bedompig in die kantoor. Dis besig om warm te word. Ek sal nou-nou die venster wyer oopmaak. Ek dink aan die berig van die petroljoggie wat op Sondagaand net na twaalf doodgesteek is omdat hy met ’n man van Bonteheuwel gestry het oor dié papiere neergegooi het waar die joggie so pas gevee het. Mens leef in ’n stad, en jy ken die plekke waar goed gebeur, maar jy’s nie daar op die kritieke oomblik nie. Nie in Planet Hollywood, nie op die Cape Flats of in Buitenkantstraat nie. Maar een of ander tyd is dit jóú beurt. Soos die vrou op ’n plaas êrens wie se man in ’n aanval vermoor is wat haarself maar geskiet het. Sy’t seker gedink “Ag Here, ek spaar myself ’n verkragting of ’n marteling.” Hulle vang jou eers en dan bind hulle jou polse met doringdraad agter jou rug vas, of jou duime met draad. Laasgenoemde is ’n ou army-trick. Ek voel of “hulle” enige tyd die deur van die kantoor gaan oopbars, my uitsleep en in die straat gaan doodslaan. Al hierdie gedagtes dink ek onderlangs terwyl ek my bulletin skryf:

#A nineteen year old woman and her brother killed one and wounded the other of two armed robbers just after midday on Thursday in Woodstock. The brother of the woman fired twelve rounds at the robbers, who had their guns pointed at him. The money was recovered. Also on Thursday, a clerk at Duens Bakery in Epping was robbed of 65-thousand-rand of salary-money by two armed men. The two suspects fled in a blue Opel Monza. The stolen vehicle was found abandoned near Gunner Circle in Epping. No arrests have yet been made.

Daar’s hy, klaar met die misdaad. Ek staan op, vryf oor my gesig en kyk by die venster uit. Ek maak dit wyer oop en kyk buitentoe. Dis ’n mooi dag, met die berg wat teen die ligblou lug uittroon. ’n Groep bergie-tipes stap onder die venster verby. Een van die kinders maak ’n polisie-sirene na. ’n Ouer vrou met ’n vuilrooi kopdoek lag hard vir die kind wat nou aangemoedig vooruit hardloop en sy sirene-geluid maak.
    Ek soek rond vir ’n “ten slotte” storie. Hier’s een met pragtige ironie.

JOHANNESBURG, Dec 25 (Reuters) — A man died of a gunshot wound to the head, self-inflicted during a suspected game of Russian roulette in South Africa on Christmas Eve, police said on Friday. Police said the man and three of his friends were playing the deadly game at the “Lady Luck” pub in Springs, east of Johannesburg, late on Thursday afternoon. A .357 Magnum firearm has been confiscated.
(C) Reuters Limited 1998.

Ek skryf die storie, lees die bulletin deur en bel die nuusredakteur om die bulletin vir haar goedkeuring voor te lees.
    “Nee, jy kan daai nie as ’n stoepstorie gebruik nie. Dis verskriklik. Sit dit by misdaad of sny dit.”
    Ek sny die berig en sluit af met sokker-tellings voor ek die bulletin wegstuur.
*
Die sesuur-bulletin is weg en die dag is verby. Ek sluit die kantoor en ry af in die hyser. My oë is moeg en ’n hoofpyn begin in die frons op my voorkop. Ek is sweterig en taai. ’n Klein mannetjie met grys stroke in sy swart hare en sy skouers wat binne sy swart “Mr Delivery” T-hemp hang, ry saam met my af. Hy dra ’n pizza in sy een hand. Ek vra of hy nie dink dis te warm om pizza te eet nie, en dat hulle seker baie bestellings vir roomys en koue goed kry. Hy sê nee, vanaand is hulle baie besig, veral met pizzas en pastas, en min roomys.
    “Fuck me,” sê ek ongelowig en sonder goeie rede, behalwe dat ek lus is om te vloek.
    “It’s a weird world out there man,” sê hy soos die deure van die hyser op die blink rooskwarts grondvloer oopskuif en ons albei uitstap.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.