NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Joan Hambidge
is digter, teoretikus, kritikus en romanskrywer. Haar poësie is bekroon met die Eugène Marais-, Litera- en Poetry Institute of Africa-pryse en daar het al sestien bundels uit haar pen verskyn. Sy het ook drie romans gepubliseer. Lykdigte is reeds in die tweede druk en was sowel Beeld as Die Burger se boekklubboek van die kwartaal. Haar jongste bundel, Ruggespraak, verskyn in November 2002. Sy is professor in Afrikaans en Neerlandistiek aan die UK. Sy bied onder meer ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan, en ook ’n MPhil in kultuurstudies. Sy is tans besig met ’n vertaling van haar verse in Engels: The Coroner’s Wife.
  Joan Hambidge

Op soek na oorspronklikheid

I

Op soek na temas vir ’n nuwe kursus kliek die dosent op http://www/24.com/Lifestyle_&_Interests/Books/Litnet/default.asp en sy lees die skrywer Dan Roodt se verhaal “Op soek na Jacques Derrida”. Dis ’n Sondagmiddag en haar kantoor voel na ’n klein Danteske hel. Teen haar mure staan daar vele boeke oor die postmodernisme en dekonstruksie wat sy eens met soveel ywer vir haar studente aangebied het. Sy het selfs vir Derrida (meer as een keer) oor teksgrense hoor praat en hom sy handtekening gevra (neffens sy naam) in haar roman Die Judaskus.

Derrida was beslis nie lus om sy naam in ’n onbekende roman van ’n vir hóm onbekende skrywer te teken nie en skryf toe in die kantlyn: Jacques Derrida — blindly. Tog het hierdie inskripsie wel betekenis gehad vir die dosent/skrywer. Hiermee kon sy as’t ware bewys lewer dat sy wél met die skrywer in interaksie was — anders as in die geval van Roodt wat (so lyk dit op die oog af) bedroë daarvan afkom en gewoon net met lesingnotas in sy hand staan sans Derrida.

Sy onthou ook ’n soortgelyke soektog na die intellektueel en skrywer, Susan Sontag. Hiervan het sy vroeër verslag gelewer in ’n tydskrif. Dit was nog toe sy in die mag van die handtekening geglo het; asof ’n kennismaking met die Groot Naam ’n soort Wysheid of Waarheid sou inhou. Sy onthou hoe sy vir Sontag geskryf het ná sy Against interpretation gelees het. Sy was verheug om te hoor dat Sontag wél — indien sy in New York sou wees — haar sou ontmoet.

Dis baie jare later. Sy swymel nie meer voor die mag van die gedekonstrueerde woord en alles wat sous rature geplaas word nie. ’n Spel van tekens word nou ingeneem deur die psigoanalise en ’n soeke na die duister magte van die onbewuste wat die skryfproses kan karteer en vorm. Sy weet hóé die onbewuste die proses kan dikteer en oor hierdie bloedige en pynlike proses het sy verslag gelewer in haar eerste ernstige roman Die Judaskus.

II

Sy lees weer haar verhaal “Op soek na Susan Sontag” en sy plaas dit neffens die verhaal van Dan Roodt. Hierdie twee verhale vorm intertekste van mekaar, besef sy. Dalk onbedoeld. Maar tog wel. Die een skrywer is op soek na die Waarheid by ’n vrou; die ander by ’n man. Sy weet dat sy in haar kursus oor Literêre teorie studente sou kon vra om iets te skryf oor die ooreenkomste/verskille tussen die twee tekste.

En oor die postmodernistiese prosesse wat sig in hierdie verhale afspeel, naamlik die verhaal as ’n soort matrioska of Russiese moedertjie wat nog ’n poppie in haar buikie dra. Of die verhaal as Chinese whisper (à la Lacan): die storie as verhaal wat oorgedra word van een persoon na ’n ander en dan verwring of verdraai word ...

Haar kantoor word al hoe warmer. Inmiddels lees sy die verhaal van Roodt weer deeglik. Sy stuur aan hom ’n e-pos daniel.r@pixie.co.za en sy wens hom geluk met die verhaal. Sy verneem of hy haar storie ken? Dit blyk uit sy skrywe dat hy nie bekend is met haar weergawe nie. Dat hy ook nie haar tweede storie “Nogmaals op soek na Susan Sontag” wat ingebed lê in Die Judaskus ken nie.

Skielik snap sy. Dit is die mag van die onbewuste wat hier aan die werk is en dit wat Jung beskryf het as sinkronisiteit. Gebeure kan ónafhanklik van mekaar plaasvind en mekaar tog beïnvloed. Daardie onsienbare magte wat werksaam is tussen tekste. Dit wat haar al hoe meer interesseer in die doseer van letterkunde: Eugène N. Marais se Dwaalstories open nuwe moontlikhede vir die (moderne) leser wanneer daar deur middel van die Tarot na hierdie tekste gekyk word. Dit is ook so dat Marais bewus was van die werk van Freud toe hy hierdie verhale opgeteken het. Hoeveel is sy interpretasie en hoeveel is die “Outa” s’n, soos hy hom noem? Waar lê Marais in die verhaal as die oorspronklike karteerder en waar is dit blote San-vertellinge?

Sy weet nie. Sy weet nét dat hierdie verhale met elke lees en elke jaargang verander onder haar interpretasie. Die verhale laat hulle nie vaspen nie. Telkens word sy bewus van ’n nuwe primordiale vlak in die verhaal. Dat daar — om ’n woord uit die eerste vertelling te gebruik — ’n soort kajuitraad tussen leser en teks plaasvind.

III

Die waaier draai verbete. Die middag voel na warm as. Delete. Dis reeds gebruik. Miskien moet sy weer na haar verhaal kyk en vir haar studente iets méér oor die storie vertel. Het u ooit by Sontag uitgekom? Kyk, as ek jou dit vertel, sal jy nooit die verhaal weer lees nie. Op dieselfde vlak word Roodt se verhaal geeïndig met ’n Word vervolg (miskien).

Hiermee verwys hy as’t ware na die Springbok Radio-vervolgverhaal uit ons jeug. Hoe verhale as’t ware vir jare kon aanhou en voortstu van middag tot middag — net soos die proses van intertekstualiteit tussen Sontag/Derrida en Hambidge/Roodt.

Selfs al ken ons nie die eerste verhaal nie, lê dit ingebed in die tweede teks. Op ’n meer radikale vlak het J.Hillis Miller selfs eenkeer by ’n openbare geleentheid gesê — Yale Universiteit 1985 — dat al ken skrywers nie hul invloede of voorgangers nie, weet die tekste dit!

Sy lees die twee tekste sorgvuldig. Sy wil verby die ooglopende ooreenkomste kyk en ook die prosesse agter die tekste aantoon.

Roodt:

Hy verminder onmiddellik sy verhaal deur die skending van kopiereg (speels) aan bod te bring deur ’n groot intellektueel se naam te verbind aan sy bydrae. Die verhaal begin met ’n program (kennelik ’n soort menu vir die leser wat ook iets te wete kom van die verteller se gunstelingkos). Dan is hy in Parys: op sy soektog. Die verhaal het ’n duidelike oorgang van die sensuele Paryse straatkafee met al die indrukke na die kille wêreld waar die intellektueel hom bevind. Dit is ook ’n oorgang.

Hoekom interesseer hierdie reël haar soveel. Oorgang beteken vir haar dikwels na die dood. Miskien nie? Sy lees verder.

Beide die verteller en mede-student land voor dooiemansdeur en daar word verwys na die Kafkaeske toertjie wat beleef word: die inskrywingskantoor is gesluit. Daar kan nie van die bron van geleerdheid gedrink word. Skrap hierdie reël.

Die ander student verlaat die gebou as die ontvangsdame nie juis behulpsaam blyk te wees nie, maar die verteller bly staan. En omdat hy lieg, kry hy die program! Hy het spesiaal uit SA gekom vir hierdie program. 10 000 km. Daarom dan die wonderwerk.

(In welke mate is leuens/verdigsels juis die punt in ’n verhaal waar die wonderwerk gebeur?)

Die boekie word aan die verteller oorhandig juis omdat hy étranger of vreemdeling is. Die buitelander kry ironies genoeg ’n vergunning om die boekie te kry, terwyl die binnelander dit geweier word. O ja, hier sinspeel Roodt kennelik op die siening van Derrida dat daar geen buite-teks is nie. Ha! Ha!

Sy tien-bladsy motivering om Derrida te kan spreek (hmm skrif/spraak/) handel dan oor interessante wacky onderwerpe waarmee die diskoers van die suiwer akademika verder ondermyn word. Waarvan veral onderwerp nommer 2 Die verskillende vorme wat borste kan aanneem van vroue wat bra’s aanpas in die lingerie-afdeling by Galeries Lafayette.

Tog is die verteller onseker of dit die grote Derrida sal behaag. Ook word die leser vele wetenswaardighede oor die filosoof meegedeel. En ook dat die verteller, soos ’n joernalis of betoger, sou seker maak dat Derrida voor sy huis van hom te wete kom! Of ’n brief ... Maar ’n brief sal die tienbladsye opsomming moet insluit ...

Hy dink aan die Sjinese spreuk: “ ’n duisendmylreis begin met die eerste tree” en hy spreek sy vasbeslotenheid uit: ’n Afspraak sal hy kry.

Opdrag:

Kyk na die verskillende funksies en posisies wat die verteller inneem: buitestander; student; betoger; joernalis; leuenaar; filosoof; storieverteller; fabriseerder.

en

bepaal of dit aansluit by Hambidge se vroeë vertelling?

Hambidge:

Hier staan die verteller voor die uitgewershuis Routledge & Kegan Paul. Die vertelling begin met ’n brief en daar is eweneens ’n sekretaresse wat soos in die Roodt verhaal namens die intellektueel optree.

Waar Roodt se verhaal die banale inbring, gebeur dieselfde hier. Die gerug van ’n verhouding met Joseph Brodsky en die verhouding met Annie Liebowits word betrek. Met ’n verwysing na die foto van Susan Sontag in ’n kamerjas en Camille Paglia se vernietigende bitsige kommentaar op Sontag (“Sontag bloody Sontag”).

Ofskoon die Hambidge-vertelling as ’n kritiese essay aangebied word, verloor die verhaal sy intellektuele allure en word ’n private belydenis van ’n gebeurtenis waarin die verteller verraad ondersoek en die verhouding tussen kuns/werklikheid beskryf.

Bekende postmodernistiese strategieë soos die dood van die outeur; die afbraak tussen feit/fiksie kom aan bod. Die ingeligte leser weet dan ook dat hierdie verhaal die voorloper is van Die Judaskus met sy metafiksionele aanbod.

Daar word eweneens na bekende tekste verwys, soos onder meer dié van Jean Genet, Roland Barthes, Bahktin, Dale Peck, Paglia, ten einde die freeze frame te beklemtoon.

Wat is werklik? Wat is fiksie?

IV

Dan Roodt mag miskien nie van eersgenoemde verhaal geweet het nie, maar die twee verhale vorm ’n tweeluik. Hulle is vinkel en koljander.

En dit benadruk dat interessante tekste iets grensoorskrydends in sig dra. Iets onwettigs. Vir ’n teks om te intrigeer, moet dit slaap met al sy voorgangers.

Joan Hambidge is mede-professor in Afrikaans en Neerlandistiek en ’n skeptiese kritikus.

Bibliografie

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.