NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Heindrich Wyngaard is in 1973 op ’n plaas buite Caledon in die Overberg gebore. Tans is hy Insig se artikel-redakteur, bydraer tot die rubriek “Van Alle Kante” en ondervoorsitter van die Afrikaanse Skrywersvereniging. Kortverhale uit sy pen het reeds in die destydse Die Suid-Afrikaan, die plattelandse geletterdheidstydskrif Ons Leer Mekaar, Literator en in Insig verskyn.
  Heindrich Wyngaard

En so lief het sy haar katte gehad

Die kat het meteens voor die kooi gestaan; die grys ma-kat. En die seun, wie se naam Marius was, het geskrik toe hy haar sien. Toe, met ’n ernstige kyk, het die kat “Miaau!” gesê ...
    Die seun was nog erg deur die slaap en het weer begin insluimer. En eers die volgende oggend het hy onthou hy het die kat met ’n “soe, gan yt!” uitgejaag, en ’n tekkie agterna gegooi. Hy het ook onthou dat die kat terug gekom het, ’n rukkie later, met dieselfde kyk, weer “Miaau” gesê het, en dat hy die kat weer uitgejaag het. Wag maar, het hy gedink, eendag.
    Dit was ná die kat kleintjies gekry het.

“De kitty is pregnant,” het Antie Mary vir haar kleinkind in die kombuis gesê. Marius, wat by die tafel gesit het, het opgekyk van die boek wat hy aan ’t lees was. Nie nog nie. Net nie nog nie, het hy by homself gedink. Die vyf grotes wat in die jaart rondloop en saans so ’n geraas maak, is klaar genoeg. Oorgenoeg.
    Maar Antie Mary het weer gesê: “De kitty is pregnant. See dêh, Nita. Kitty’s pregnant.”
    En nie lank nie, of die ma-kat se maag het gesak. Die drie kleintjies het omtrent dieselfde gelyk: ewe klein, wit om die nek en bors en pootjies, verder swart, met hier en daar ’n wit kol, en nou ogies.
    In die kattehokkie, agter in die jaart, het Antie Mary vir hulle ’n piesangboks uit Natal reggemaak. Die helfte van ’n ou kombersie en ’n maand terug se Snuffelgids is onder hulle gegooi. Vir warmte, as die ma-kat nie daar is nie.

Marius het lank na die katjies gekyk toe hy ’n paar minute terug buite was. Nou praat hy met Antie Mary wat met ’n koerant op die stoepie sit, aan die voorkant van die huis, en nou en dan oor haar dikraambril loer om te sien wat in die pad aangaan.
    Soos sy hier sit, kyk sy reguit na Tafelberg, en die kenmerkende wolkombers wat stadigaan besig is om oor hom te kruip. En as Antie Mary nou sou besluit om op te staan en die pad oor te steek, sal sy op die begrasde stuk veld loop, wat eens ’n krotbuurt was. En, terselfdertyd, die hartklop van die stad.
    Was daar net drié kleintjies?
    Ja-hoekô?
    Nee, ek vra maar net want ek het gedink dit was meer.
    Die anne wit-en-swart kat het mos oek kleintjies gekry. Vyf, ma it was daa innie veldjie. Toe die meisie van langsaan vir my kô kuie, toe sien ek net hie oppie muurtjie dra sy (die ma-kat) hulle langsaan toe. Ma hulle was net gebore. En toe ek hie langsaan ko, toe sit die meisie hulle in ’n plestieksakkie. En toe sy sien ek is upset, toe sê sy ek moet hulle vat, ma hulle was al klaa dood. Ek lykkie mense moet soe maakie. En toe gooi ek die sakkie in die drom, toe die garbage manne kô.
    Bly die kat hier langsaan?
    Nei, dié’s ammil rondloperkatte. Issie ô’sinne nie. Dié een oek (en sy wys na die geel kat, wat op die bankie langs haar lê, en maak of hy slaap).

En Antie Mary het vir haar rondloperkatte gesorg. Vir hulle viskoppe van gisteraand se kos in ’n ice cream bak gegee. Met genoeg water daarby — of koue melk, wanneer sy haar pensiongeld of Marius se losiesgeld gekry het. En saans, as hulle so getjank of baklei het, het sy uitgegaan, met ’n stukkende besemstok wat agter die kombuisdeur gestaan het, en hulle lekker geneuk.
    Partykeers het een van die katte op die hokkie se dak gesit en nie geweet hoe om af te kom nie. Dan het ’n emmertjie water gehelp. Ander kere, soos daai nag, het hulle getjank oor die donderweer of harde reën, dan het sy hulle in die huis laat kom.
    Met die koms van die kleintjies was sy al soggens vroeg by hulle. Om die piesangboks skoon te maak. Kossies in ’n pierinkie fyn te druk en in ’n bietjie melk sag te maak. En as die ma-kat nie daar is nie, of nie wou hê die kleintjies moet aan haar drink nie, het Antie Mary hulle sommer gevoer ook.
    Só lief het sy haar katte gehad.

Ouma Lissie, met haar gryswit hare in ’n lang vlegsel gedra en altyd ’n hoed of ’n wolkêp op haar kop, haar mooiheid van vroeër met ’n klomp plooie vervang, en die skerp blou van haar oë deur ’n waterige vliesie vervaag, Ouma was ook só. Lief vir katte, soos vir min ander dinge, by haar groot plaashuis op Teslaarsdal, daar naby Caledon, waar ons altyd skoolvakansie gaan kuier het, tot laatnag dominoes gespeel het, op ’n donkiekar water by die pompie of hout in die bos gaan haal het, en Sondae in die saaltjie langs Uncle Riddley se huis kerk gehou het.
    Dit was ’n huis vol katte, ’n jaart vol katte; katte op die solder. En daarmee saam: kathare op die kooi, op die rusbank, in die kos, in jou mond.
    En toe op ’n dag gaan Ouma Lissie dood. Sommer net só, terwyl sy in die Kaap by een van haar dogters gekuier het. Die Kaapse weer het seker nie met haar geakkodeer nie, het ek geraai. En op Teslaarsdal, by die huis waar daar nou nie meer saans kerse aangesteek is en soggens gordyne oopgetrek is, het die katte amok gesaai ...

    Marius het aan dié storie lê en dink nadat die ma-kat daai aand vir die tweede keer in sy kamer was. Dit was ná hy die kat vir die tweede keer uitgejaag het, en hy gehoor het Antie Mary gaan by die kombuisdeur uit, soos so baie keer tevore, en hy hom dus nie daaraan gesteur het nie. Dit was darem al oor twee en hy het tot laat gewerk. En dit was reënerig en koud. En die wind het gefluit.
    En so het hy weer aan die slaap geraak.
    Die volgende oggend het hy soos gewoonlik eers toilet toe gegaan, buite in die jaart. En al wat hy van die vorige nag en dié oggend kan onthou, het hy agterna gelieg, is die kat se ge-“Miaau” en die onuithoudbare reuk van katte-pie. En ook: Antie Mary wat langs die piesangboks uit Natal in die kattehokkie lê.
    Maar daar was ’n prentjie wat heeltyd in sy kop bly maal het; dis wat hom eerste opgeval het toe hy buite kom: daar waar Antie Mary gelê het, op haar rug, met skuim wat by haar mond uitkom, het die drie baba-katte oor die piesangboks se rante gebeur ...
    En tydsaam. Aan haar linkerhand begin vreet.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.