NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Herman Wasserman
het in 1997 gedebuteer met die kortverhaalbundel Verdwaal. Sedertdien is van sy verhale in verskeie versamelbundels gepubliseer, die jongste een in Uit die kontreie vandaan, saamgestel deur Abraham de Vries. Hy was die naaswenner in De Kat en Human & Rousseau se Vonkfiksie-wedstryd en het sy doktorsgraad in letterkunde voltooi in 2000.
  Herman Wasserman

Warm soos die hel

Miskien het koeëls niks eers daarmee te make gehad nie. Ek weet nie, ek is nuut hier. Miskien was dit gewoon maar die son se hitte wat die minibus-taxi laat ontplof het. Of jou verbeelding. Want hierdie tyd van die jaar is hierdie deel van die land moorddadig warm. So warm, dat dit in elk geval lyk of alles op die punt staan om in vlamme op te gaan, dat dit nie veel inspanning verg om al te sien hoe die teerpad wat nou so ronddans onder die hittegolwe netnou by kookpunt gaan uitkom en begin borrel, smelt en wegvloei teen die heuwel af nie. Maklik. Of om in jou gedagtes al die graad of twee oor te steek tussen die water in jou verkoeler en stoom wat binnekort onder die enjinkap gaan uitblaas sodat jou motor spoeg-spoeg tot stilstand gaan kom êrens op hierdie pad en jy benoud op jou selfoon hulp moet ontbied nie. Tussen die ys waarin jy jou lewensbelangrike biere bêre en die louwarm poeletjie water onder in die koelboks nie. Tussen nog een keer se geneul van die kind op die agterste sitplek en ’n stink oorveeg wat jare later ’n heel paar rand in ’n psigiater se sak gaan besorg nie. Dis die seisoen wanneer humeure pal naby brandpunt is en die bloed maklik kook. En as die wêreld soos ’n besopene begin waggel in die gloed wat opslaan uit die grond, kan jy nie te seker van enigiets wees nie. Nie van dit wat jou oë jou vertel nie, nie van jou lewe nie, nie van jou saligheid nie.
     Nie dat jy daaroor hoef te worrie nie. Ek is seker as ’n mens net een Februarie in KwaZulu-Natal oorleef het, is daar by jou geen vrees vir die hel oor nie. Saans sak die donkerte taai neer, soos ’n molassestroop kom kleef die nag aan jou en jy lê in ’n poel sweet tussen insekte wat teen jou vasvlieg en op jou vel verdrink. Die lug is klam en vogtig, soos iemand se asem in jou nek, ongemaklik en naby, die hele tyd, die hele tyd terwyl jy wag vir jou drome, en voel hoe onrustige en geslepe gedagtes uit jou verdamp. Iets gebeur met jou brein, die hitte laat iets in jou kop meegee, als raak vloeibaar en gly oor die rand van denke, sink in hallusinasie en fantasie in sonder dat jy die oorgang kan bemerk. Op sulke aande lê waansin of die dood vir jou soos ’n hond en wag op die stoep, langs die deur wat jy nie anders kan as om oop te laat nie. En jy vra jouself die hoeveelste maal af wanneer jy dan gewoond gaan raak aan die klimaat, wat in vadersnaam met jou fout is dat jy dan nog steeds te sag is vir jou hartseie land. Die hoeveelste maal, en my eerste Februarie is dan nog maar pas halfpad.
     Ons het besluit om te gaan lafenis soek by Midmardam, die kinders neul al van Vrydag af. Soos muskiete kan hulle soms in jou ore wees, knaend, dat dit jou naderhand voel hulle zoem binne-in jou skedel rond. Ek was fokol lus vir die hordes mense wat ek sommer geweet het by die dam gaan wees met hul motorbote en blêrende musiek uit yslike luidsprekers in windgat jeeps, hul frisbees en tennisballe, hul duur sonbrille en glanstydskrifte. Nog minder vir die ent se klewerige ry soontoe en terug. Maar die oormag was te groot. Toe hulle Annelie eers aan hul kant kry, het ek geweet verdere weerstand sou net neerkom op die uitstel van die onafwendbare. Totsiens dan maar aan ’n rustige Sondag met boek en bottel wyn. Al troos was darem dat ek ’n slag ’n ander uitsig sou hê as op die klein agterplasie, blombedding en vibracrete muur vanuit die studeerkamer.
     Sommer op pad om die kinders by die Sondagskool op te tel, by die kafee gestop vir boerewors en hout. “Jeez, but it’s very hot today, hey? Wish I could close up shop and go lie in front of a fan at home, but I’m no rich man, gotta suffer for my supper,” het die kafeebaas gesug en sy voorkop afgevee met ’n sakdoek. “Nobody here to help me, gotta do it myself,” het die man wrang geglimlag, ten spyte daarvan dat ’n swart vrou agter hom besig was om bokse opmekaar te stapel. Die sweet het groot donker kolle gemaak op sy hemp, hy kon soos ’n soldaat in camouflage gelyk het as dit nie was dat hy so vet was nie. “Ja-nee, die duiwel vee al weer die hel uit vandag,” het ek geantwoord, “en al die kole val op ons.” Hy het uit beleefdheid gegrinnik vir die flouerige grappie wat hy waarskynlik nie mooi verstaan nie, en ek het ’n koerant van een van die stapels opgetel. Ek het in stilte betaal en totsiens gewuif, want die opskrif was nie stof vir peuselpraatjies terwyl die kleingeld uitgekeer word nie - weer moeilikheid by Richmond gewees. Net verlede week was daar nog ’n boer in die Middellande ook vermoor, sonder dat daar ’n motief gevind kon word. Maar as jy my vra bly hulle soek, net om nie die ergste te hoef vermoed nie: dat daar nie ’n rede voor is nie, dat die dryfveer van êrens anders kom, uit ’n plek waarvoor daar nog nie ’n naam uitgedink is nie. En dat daardie plek nie ’n daar is nie, maar ’n hier. Dat dit is hoekom ons so tralies bou - nie teen iets wat daar buite is nie, maar sodat daar ’n buite kan wees. Sodat daar net ’n grens is, sodat ons kan sê - daar. Daar begin die vrot, nie hierbinne nie.
     Sulke berigte maak my steeds onrustig, al is dit darem minder nadat ons die maatreëls getref het. Hoe swaar die laaste strooi weeg, is nooit ter sake nie. Dat die kameel se pens die grond tref, dis eintlik al wat saak maak. Hoe ons uiteindelik tot die daad oorgegaan het om ’n veiligheidshek en elektriese heining te installeer, kan ek nie eers mooi onthou nie. “Dis ’n ander wêreld hierdie,” het Annelie net bly sê, “ons moet maar realisties wees.” Moet ek nie maar net gaan kyk nie, het sy gevoel-voel, hier is die ou van die sekerheidsmaatskappy se kaartjie, hy het gister hier langs gekom. “Net vir voorsorg,” het sy gesê. “’n Mens weet nooit nie. Toe?” Dit sal nie oorspoel na die stad toe nie, het ek geïnkanteer, hier in die voorstede word daar maar net so nou en dan ingebreek, jy praat jouself net bang. Dis net die boere wat aangeval word, man, of dis politieke bakleiery, in ons huisie in die voorstad is ons veilig. “Maar hoekom het al die bure dan veiligheidshekke?” het sy gevra, en ek het gaan hoor by die winkel, want ek is nuut hier, ek weet nie hoe werk dinge nie.
      Grappies probeer maak met die ou wat die goed verkoop. “Wie sluit nou eintlik vir wie toe?” het ek gevra. Die ou het sameswerend geglimlag. Dis ’n booming business hier, het hy gesê, sameswerend vooroor geleun. Dis tragies om jou so te laat omsingel deur veiligheid en sekuriteit, of course, sir. “Maar die lewe is ’n onseker besigheid, en wat ek doen is, ek verkoop vir jou sekerheid. Gemoedsrus. I deal in peace of mind.” Wanneer jy saans daardie afstandbeheer druk en die hek brom toe agter jou, het hy gesê, you’ve put something between yourself and all the shit ...”And believe me, mister ...? Believe me, sir, shit is something we are on first-name terms with, aren’t we?” Ek moes eers ’n issue daarvan maak. Asof dit my van iets sou vrywaar, die feit dat ek eers daaroor gedink het voor ek my ommuur. “Is maar bietjie last outpost-erig, is dit nie, hierdie ding van ’n heining en tuinhekkie, tee onder die sambrele en die wilde woesteny daar buite, of hoe? Lyk my die stories is waar oor julle Natallers, of hoe? Waar skryf ’n ou jou in vir die croquet-liga?” Daar was hierdie keer nie ’n glimlag toe hy oorleun nie, net ’n sweetreuk en ’n fyn rooi vertakking op sy neus. “You married, sir?” Ja, ek is, het ek beduie na my trouring, terwyl ek die grap voel smelt op my gesig. Wat het my tog nou weer besiel, met die belaglike provinsie-ding? “So mister clever, just tell me this one thing. You gonna ask that clever questions if you come home tonight and find the missus on the kitchen floor, knife in the chest and dress all torn and messed up?” Dit is nie meer die benoude subtropiese Natalse lug wat my asem so wegdruk nie. Hy lê seker nog goed ’n kilometer voor ons, maar reeds kan ’n mens skaars voor jou in die pad sien, so dik is die rook van die brandende minibus. Dit sypel by die kar in asof dit opgelei is om te infiltreer, al is die luggate toe en het ek die kinders aangesê om hul ruite op te draai. “Dit lyk soos ’n draak! ’n Ysterdraak, nes die een op Planet Warriors, kyk daar, Pappa, kyk, hy blaas rook deur sy neus,” gil die jongste opgewonde en hop al vinniger op en af op die sitplek hoe nader ons aan die ongelukstoneel kom, sy neus platgedruk teen die ruit. “Gmmff, jy’s sommer simpel man,” grom sy boetie en ek sien in die truspieëltjie hoe stamp hy hardhandig aan hom. “Dit lyk glad nie soos ’n draak nie. Waar sien jy sy rugvinne? Alle drake het tog rugvinne, domkop!” Daar is desperate woede in die jongste se stem as hy antwoord, so jonk nog en al klaar is hy al gewoond daaraan om te moet baklei om ’n vashouplek. Klaar het geweld hom aangemeld. “Daar aan die voorkant, man, kan jy nie sien nie, jou simpel?” Ek kan voel hoe hulle aan mekaar begin pluk, hulle skop in my stoel se rug. Annelie begin frons, en ek weet ek moet maar in die ou patroon val van pa’s oral oor die wêreld, en my pa naboots terwyl ek in die truspieëltjie kyk: “Los mekaar nou in vrede, of ek stop die kar en gee julle elkeen ’n pak slae. Het julle my gehoor?” Ek kry dadelik skaam oor ek hulle met slae gedreig het, so ’n verbeeldinglose opsie. In die truspieëltjie sien ek hoe trek die twee broers vir mekaar gesigte. As ons regs sou uitkyk het, sou ons die rollende diepgroen heuwels sien, die geil plantegroei, lappe suikerriet en donkerrooi, bloederige lappe oopgeploegde aarde en die horison wasig en onseker in die warm verte. Maar ons kyk links, na ’n fraktuur in die vrede, waar splinters gebreekte been onder die groen vel uitsteek. Die twee rumoerige kinders is skielik stil as ek my voet van die petrol af oplig sodat ons stadiger verby die wrak kan ry. (Mense die wêreld oor doen dit, word so aangetrek deur rampe. Sonder om te besluit, asof dié makabere voyeurisme aangebore is. Ons word gefassineer deur dit wat ons kon gewees het. Ons staar omdat ons op ’n bisarre, onverstaanbare manier onsself in die wrak vasgepen sien, meegesleur word deur ’n vloed, lê in ’n doodskis. Hoekom is CNN, Jerry Springer en die Huisgenoot, al die manifestasies van skouspelagtige eensaamheid, hoekom word miljoene daardeur gehipnotiseer?) ’n Brandweerwa is ’n entjie verder geparkeer, dit lyk asof die bemanning besig is om op te pak. Teen ’n geel polisievangwa leun twee mans in uniform geleun - roetine, of het hier ’n misdaad plaasgevind? Geen ambulans nie. Die insittendes moet al weggeneem wees - hospitaal toe? lykshuis toe? tronk toe? “Hierdie taxi’s is darem maar onveilig.” Annelie skud haar kop afkeurend. “Bestuurder het seker nou weer van die pad af gejaag, toe ontplof die petroltenk toe hulle die wal tref. Tien teen een dronk ook nog. Wonder hoekom is die polisie hier? Dink jy dit was dalk nie ’n ongeluk nie?” “Ek weet nie,” antwoord ek. “Dalk is dit maar roetine.” Een van die kinders gil skielik, Annelie draai halflyf om oor die stoel se rugleuning om te sien wat aangaan agter. “Stop, Johan, stop die kar!” skree sy. Ek spring op die remme, maar daar is gruis in die pad, ek moet weer die rempedaal los anders gaan ek gly. “Wat is dit? Wat is fout?” Ek skrik vir die paniek in my stem. Kruip deesdae al hoe makliker uit. Ek moet weer beheer begin vat. Ek sukkel om die stuurwiel te laat doen wat ek wil hê hy moet, trap nog kort trappies op die rempedaal, maar ek verloor nog nie vinnig genoeg spoed nie. Eers na ’n paar honderd meter kan ek kyk wat aangaan. Annelie waai met ’n bebloede snesie onder my gesig. “Dirkie het ’n yslike sny onder sy oog, ons moet daarna gaan kyk, draai om huis toe, ons kan dit nie so los nie.” Sy praat weer agtertoe. “Wat het hier gebeur? Dirkie? Hannes? Praat! Het julle aan mekaar geslaan? Hoekom sukkel ’n mens tog so met julle? Kan julle nie mekaar in vrede los nie? Kyk nou watter gemors is dit nou!” Dan weer met my, sy is in matrone-bui. “Toe, draai nou om, man. Ons moet huis toe gaan.” Ek weet darem nie. “Is dit regtig nodig? Kan ons nie maar net ...” Maar ek maak al klaar gereed om die kar se neus te swaai. Daar drup nog net een of twee druppels bloed van Dirkie se gesig wanneer hy uit die kar klim in die oprit voor die veiligheidshek. Hannes is doodstil, ’n besliste skulderkenning. Annelie kyk hom kwaai aan en vat dan Dirkie aan die hand binnetoe. Ek soek in die paneelkissie na die afstandbeheer, druk dan werktuiglik op die knoppie. Dalk kan ek nog steeds ’n bottel wyn oopmaak, as ’n sonsakkertjie, dink ek terwyl die hek agter my toesuis. Van hierdie middag wil ek net vergeet. Ek sal dalk nog kan, daar op my eilandjie skadu onder die boom, twee glase weg die bottel in. Dis steeds bliksems warm, ’n mens moet iets doen om af te koel. Ek hoor die klinkgeluid van die metaalhek wat tot rus kom teen die pilaar. Ek in my klein hoekie. Moet ek skuldig voel? En sal dit help? Dank vader ek is nou by die huis, die drama uiteindelik verby en die waansin by die dam my gespaar. Vrede, uiteindelik. Moet sê, dit gee ’n ou nogal ’n rustige gevoel, om so agter jou te kan toemaak. Soos ’n dik venster wat die geraas buite hou. Maar dan versplinter Hannes se stem agter my die Sondag soos ruitglas: “Was daar koeëlgate in daai bussie, Pappa? Het mense op hulle geskiet?” Skielik is hy gewikkel in sy fantasie. Hy spring by die deur uit en hardloop voordeur toe terwyl hy uit die heup uit lostrek: “Boem! Boem! Rat-tat-tat-tat-tat ...” Ek kyk hom agterna as hy al skietende die huis in verdwyn. Dis stil in die warm kar, so stil dat ek kan sweer ek hoor hoe ’n sarsie sweetdruppels van my voorkop teen die stuurwiel ontplof as ek omdraai om seker te maak die veiligheidshek is toe.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.