NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



François Bloemhof het in die vroeë jare negentig die eerste De Kat-prys vir beste debuutroman verwerf met Die nag het net een oog. Hy is dadelik as rillerskrywer gebrandmerk, maar het hom sedertdien, gerugsteun deur verdere literêre pryse, as onkategoriseerbaar bewys — soos ook blyk uit dié aweregse Arabiese sprokie. Sy jongste boek, Hostis, het by Queillerie verskyn en is die eerste roman ter wêreld met ’n oorspronklike CD-klankbaan. Besoek sy webruimte by http://www.new.co.za/~jvanlill. Lees meer oor dié skrywer
 

Die verhaal van die wewer en die prinses

Dit word vertel dat, eenmaal in Bagdad, ’n tapytwewer met die naam Ni’amah op ’n prinses verlief geraak het. Zubaydah, egter, was nie bewus van sy bestaan nie.
    Op ’n dag het Ni’amah langs die walle van die Tigris gesit toe hy die prinses en haar gevolg sien verbykom. Sy was getooi in koninklike kleure en was mooi soos die maan, haar gesig wit soos melk, volmaak in haar skoonheid en lieflikheid en gestalte en grasie. Hy het besef dat hy altyd op haar verlief sou wees en dat sy aan hom móés behoort.
    Hy het hom voor haar neergegooi en die grond gekus. My prinses! het hy uitgeroep, my prinses! Mag Allah u seën en spaar!
    Wie is jy? wou sy weet. Staan op, sodat ons kan verbykom.
    Ek is Ni’amah die tapytwewer en ek is op u verlief.
    Jy mag nie wees nie, het sy geantwoord, ek is ’n prinses. Sy het ’n sakdoek wat met goud en silwer geborduur was voor haar neus gehou.
    Wat kan ek doen om my met u te verenig?
    Haar onderdane het teruggedeins, want sy kop sou sweerlik afgekap word omdat hy so met hulle prinses durf praat.
    Zubaydah was egter geamuseer. Dit het haar goed laat voel om te weet die tapytwewer is op haar verlief en daar is vir hom geen hoop nie. Sy het nagedink.
    Jy kan met my verenig word, het sy gesê, as jy kan bewys jy is ryker as ek. Sy het gekyk na sy verslonste klere, toe na haar eie van sy en satyn, en gelag.
    Is dit al, prinses?
    Nee, het sy geantwoord. Jy moet ook bewys jy is mooier as ek. Weer het sy gelag, want sy gesig was bruin en grof soos ’n boom se stam en hare was mooi soos die maan, wit soos melk.
    Is dit al wat ek hoef te doen om my met u te verenig?
    Nee, daar is ’n laaste toets. Jy moet bewys jy is slimmer as ek. Want sy het geweet as Ni’amah slim was, sou hy meer as net ’n tapytwewer gewees het.
    Goed, het hy gesê en weggegaan.

Binne ’n paar dae het die prinses van die voorval vergeet. Buitendien het sy min tyd bestee aan sake van die hart. Omdat sy nog nooit iemand kon kry wat ryker en mooier en slimmer was as sy nie, was sy gewoond aan alleen wees en het dit vir haar reg begin voel.
    ’n Week ná die ontmoeting was sy in haar slaapvertrek, omgewe deur parfuum wat in wierookvate gebrand en smaragde en edelgesteentes wat teen die wande geskitter het, toe ’n diensmeisie vir haar kom sê daar is ’n heer by die paleishek wat haar wil spreek.
    My naam is Ja’afar, het hy hom bekend gestel. Ek reis al baie dae. Dit is so warm.
    Dit is Allah se wil, het sy geantwoord. Wat maak jy hier?
    Ek is ’n belastinggaarder.
    Sy het hom gevra wat dit behels en hy het die begrip aan haar verduidelik. Sy moes voortaan ’n aansienlike persentasie van haar inkomste aan die Sultan afstaan, asook van haar besittings — ’n klomp van haar besittings. Hy het deur die paleis beweeg en gesê: Dít wil ek hê, en dít.
    En toe hy klaar was, het die prinses uitgeroep: Dis meer as die helfte van wat ek het! Dié belastingstorie maak nie sin nie! Maar sy het die Sultan se woede gevrees en ’n papier onderteken.
    Die tapytwewer het sy skouers opgehaal en die doeke voor sy gesig verwyder sodat sy hom kon herken, en gesê: Nou is ek ryker as u.
    Met ’n kil stem het sy geantwoord: Jy het die eerste van die drie toetse geslaag, ja, maar jy sal nooit mooier as ek wees nie, en nooit slimmer nie.
    Hy het weggegaan — saam met helpers wat moes help dra aan alles wat hy buitgemaak het.
    Toe hy ’n paar dae later na die paleis terugkeer, het hy ’n ander tulband opgehad en was daar lae tulle voor sy gesig. ’n Diensmeisie het aan die prinses gerapporteer dat daar ’n verkoopsman by die paleishek was. Die prinses het hom laat binnekom, want haar hart was swaar oor al die besittings wat sy verloor het en sy wou graag ’n paar nuwes kry.
    Terwyl hy haar meer vertel het oor die items wat hy te koop aanbied, het hy, anders as waaraan sy by mans gewoond was, nie een keer na haar gesig gekyk nie ... tot sy wou weet waarom dan.
    Verleë het hy geantwoord: Omdat u so verskriklik lelik is.
    Wat! het sy uitgeroep en ’n spieël met ’n sierlike krulhoutraam uit sy hand gegryp.
    Maar dit was ’n betowerde spieël wat die gelaatstrekke verwring van die een wat daarin kyk. En sy was vet en so donker en lelik soos die nag. Sy het geskrik en die spieël vir hom teruggegee.
    En hy het sy vermomming verwyder en die spieël voor sy eie gesig gehou. Die blink oppervlak het al die letsels weggevee en die ongelyke hoeke versag, en hy was mooier as die maan, sy gesig witter as melk. Nou is ek mooier as jy, het hy gesê, en weer het sy besef Ni’amah die tapytwewer het gewen.
    Maar jy is nog nie slimmer as ek nie, het sy gekeer. Eers as jy slimmer is ...
    Maar ek ís, het hy gesê. Het ek nie binne een week gesorg dat ek ryker word as jy nie? En het ek nie binne twee weke gesorg dat ek mooier word as jy nie?
    Ja, moes sy antwoord, ja.
    Dan ís ek mos slimmer as jy.
    Ja, moes sy erken.
    Onthou jy jou belofte? het hy gevra.
    Ja. Jy ís nou ryker, mooier en slimmer as ek ... en ek hou altyd my woord. Ons kan maar ...
    Nee dankie, het hy geantwoord. Hoekom sal ek my verenig met iemand wat armer en leliker en dommer is as ek?

Niemand weet wat daarna van die wewer geword het nie. Maar só het dit dan gekom dat die prinses — nie meer so moeilik om tevrede te stel nie — voor die nuwe jaar in die eg verbind is.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.