NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Die wenners van die eerste nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie

'n Persiese sprokie

Christine Barkhuizen le Roux - tweede prys

"Ik laat me achter."

Vier. My duim draai die geriffelde klein ratjie vyf gleufies aan om die slot oop te maak. Nege. "Jij zal het zo onthouden: Zeven maal zeven." Die derde laaste sinnetjie voordat die man met die soel gelaat en koolswart snor deur die groot glasdeure weggeraak het.

Ons stap in die dwarsstraat van die universiteitstad, weg van die lesinglokaal waar hy die kongresgangers op die spinsels van sy vreemde herkoms met Persiese matte en Vliegende Hollanders weggevoer het. Met altyd die ironies terugkerende refrein: "Leugens, alles leugens. Ik ben een schrijver."

Versigtig trap. Oppas vir die randsteentjies. Hierdie is nie iemand om in jou binnekant te laat kom nie. Maar ek is gefassineerd. En teenoor 'n vreemdeling in jou eie land moet 'n mens wel gasvry wees. Hoewel ek nie glo dat hy deur enige gebaar van 'n ander beïnvloed of beïndruk word nie. 'n Oudgebore wese, gebed in die Oosterse tradisie van vertelling en verdigsel.

"Wil jy dalk 'n glas wyn saam met my gaan drink?" My Nederlands is krom, maar ek probeer.

Ek drink net wyn met spesiale geleenthede, antwoord hy. "Ja. Met jou wil ik een glaasje wijn."

Ons soek 'n tafeltjie in die Botaniese Tuin. Die bome sluit ons af van die paar ander mense.

"Ons bedien nie alkohol nie," sê die jong kelnerinnetjie ongemaklik. Ook sy is onder die indruk van die man se ongewone voorkoms en uitstraling; probeer nog koffie aanbied, maar hy wuif haar weg.

Lees vir my uit jou bundel, vra hy. Ek wil dit só onthou, ons ontmoeting. Weer 'n keer. Heel stadig. "Lees je gedicht 'Brief'."

Hy vra my uit. Hoe lýk die berge en die hadidas waar jy woon? Wat is die kleur van die klippe?

Ek moet weg. Sy oë kyk te diep. Ons loop tot by sy gastehuis met die helder geel rose in die voortuin. "Mooi tas wat jy het," merk ek op. Egte Persiese leer, beduie hy. Met drie verskillende vakkies binne. Jy kan dit neem as jy dit wil hê. Hy hou die tas in my rigting. Nee. Ek keer. Te naby. Hy kom te na aan my.

Die volgende oggend vroeg klop hy aan my deur drie blokke hoër op. "Ga jij mee? Wij gaan de berg op." Hy lig sy hand op om my gerus te stel. Daar gaan nóg mense saam - my vriende wat ook hier is. Vlaamse skrywers. Jy sal tuis voel by hulle. Meer nog as ek - ek bly steeds maar die vlugtelingskrywer wat op 'n polderland my boeke skryf. My Nederlands is soms kreupel; ek moet baie naslaanwerk doen. Die Laeland is goed vir my, ek is 'n suksesvolle skrywer; ek leef van my skryfwerk. En tog bly ek 'n vreemdeling. Maar hier, hier in Suid-Afrika voel ek of ek weer die berge en die riviere van my eie land teëkom. 'n Land van egtheid. Rouheid.

Ons ry met die bussie langs die see op. Langs ons aan die linkerkant ruis die branders, loei die elektriese drade. Ek probeer met die Vlaminge praat, verstaan omtrent alles, maar kan min terugsê. Kyk, Monja, praat Rahem met die ingetoë blonde vrou wat aan my anderkant sit, hier loop die treinspore waaroor jy skryf.

Onder ons lê die heldergeverfde huisies langs die see, en ek wys hom daarop. Sy arm lê op die rugleuning agter my nek. Sonder om te raak. In die spasie tussen ons slaan die hitte op. Hy draai skuins in die sitplek sodat sy oë nader aan myne is. Sê dit wéér, vra hy.

Ek probeer myself duideliker uitdruk sodat hy my kan verstaan. Nee, sê hy. Ek begryp jou goed. Maar jy moet dit wéér sê sodat ek die dag kan vasmaak aan die klank van jou stem. Dit raak warm teen my bors en nek. Ek draai my gesig na die venster; kyk hoe knoop die slingerplante langs die pad die sonlig teen die bome vas.

Toe ons uitklim by die Punt, loop hy eenkant toe, weg van die geselskap. Ons ander klim in die kabelkarretjie wat bo teen die berg uitgaan. Die dag is oop en blou bokant die wydheid van die see. My gedagtes swalk in alle rigtings, seemeeue wat waarskuwings uitskreeu.

Ek sien hom van ver af tussen die bosse aankom. Hy het die steil ent alleen teen die berg uitgeloop. 'n Verskyning, dink ek by myself, nie 'n mens nie - hierdie lang, donker man met die opvallende hare, die lang swart jas, die leertas in die hand. Selfs vandag, op 'n uitstappie na die berg, los hy dit nie tuis nie. Watter inhoud kan so kosbaar wees dat hy dit onafskeidbaar met hom saamdra? 'n Nuwe verhaal? 'n Boek?

Ek weet ek moet die pool wat wegstoot, blý draai na hom. Één effense roer aan die verkeerde kant van die magneet gaan maak dat ek nie kan wegkom nie. Maar hy boei my met sy min woorde en sy oë wat praat sonder dat sy mond oopgaan. My vader was 'n digter, het hy vertel tydens die lesing. En in die volgende sin: My vader was stom en doof en blind. Toe ek hom die middag in die tuin daarna vra, het hy nie gedink daar is 'n kontradiksie nie. 'n Mens kan 'n digter wees sonder om iets te gesê het, te geskryf het. 'n Mens kan praat sonder om die woorde uit te spel.

Die aand, met die gevoel van die son nog teen my vel, onthou ek die klein grys stukkies in sy hare toe hy langs my op die rots kom sit het. "Vandaag bent jij mooier dan gisteren. Wij zien elkaar straks weer terug."

Ek het niks gesê nie. Wat is mooi? Ek was nooit die tipe wat mans met die eerste oogopslag aantrek nie. Dalk sien hy iets anders. Wat sien ék? Hoe lank bly hulle? Ek het geen idee -

"Ik hou niet zoveel van landschappen." Ek hoor die subteks en die effense lag in sy woorde nog voor hy dit uitspreek. Teen die Swartbergpas, 'n week later en saamgenooi deur Monja, bevind ek my weer in sy teenwoordigheid. "Ik wist dat ik je weer hier in de wereld van struisvogels en grotten zou vinden." My kop kan die toeval nie omvat nie. Maar wat is toeval? Tale, sprokies, prinse, digters vervleg in 'n onlogiese verhaal. 'n Duisend en een stories. Geknoopte mat met intrigerende aardsgekleurde drade.

"Als jij wandelt in het landschap, dan vind ik het pas mooi. Sta zó, ja, tegen de rode bloemen, dat ik de natuur kan bewonderen."

Het hy geweet dat ek hier sou wees? Nóú? Die waarskynlikheid dat ek die eksotiese Irannese skrywer-digter-leuenaar weer sou ontmoet - uitgeslote as ek vooraf 'n uitspraak daaroor sou moes maak, inspraak kon hê in die verloop van sy besoek aan hierdie land.

Rahem het sy eie agenda; skryf sy eie verhaal. Trek my in in sy storie.

In die nag blaf die honde teen die jaarlikse onrus - 'n viering van kuns én prul, van drank, om alles draagliker te maak. Êrens in 'n woonbuurt slaap die reisiger, droom sy vreemde verlede en toekoms.

Ek moet my steeds ontworstel aan sy invloed, aan die greep wat hy op my kry. Gister het hy vanuit nêrens verskyn in 'n lokaal tydens die byeenkoms van digters en skrywers; het hy opgestaan en my verdedig teen die mees venynige resensent en ook digteres in Afrikaans: "Jij las de poëzie níét met behoorlijke aandacht. Jezelf publiceert wel veel. Maar vaak onbreekt het aan kwaliteit. Als je maar mínder had willen schrijven, maakt je soms ook een goed gedicht. Denk ik."

Voor ons die oggend weer bymekaarkom saam met die res van die groep, bel ek hom, antwoord hom op sy vraag van die vorige middag: "Dis goed. Ek sal saam met jou iets gaan drink soos jy gevra het. Later vandag, wanneer ons terugkom van die uitstappie."

Ek kry vir Monja en Lien op pad, loop met hulle saam na Arbeidsgenot waar Langenhoven gewoon en gewerk het. Rahem is reeds daar; opgewonde oor 'n vertaling van die Rubaijat van Omar Khayyam agter die glasruit in 'n kas. "Eén van onze héél grote schrijvers," sê hy. "Een Persische profeet." Hy kyk intens na die boeke en die geskiedkundige interieur van die huis voordat ons uitloop buitentoe.

In die kumkwatboompie by die agterdeur gloei 'n klompie ovaal sonnetjies. Hy pluk een van die vruggies af, gee dit vir my: "Om mee te nemen - voor een bewolkte dag."

Op die stoep van die Queenshotel kry ons as vergunning 'n tafeltjie. Daar is niemand anders nie; die personeel is besig om reg te maak vir 'n groot onthaal die aand. Hy vra my om 'n bottel wyn te bestel. "Goede wijn. Ik wil met jou de beste wijn drinken."

Die lig van die Klein Karoo val deur die glas op die strooikleur van die vloeistof. Hy lig sy glas op en dit sing toe dit teen myne klink. Sy swart oë splinter in onvertelde stories, kaleidoskope van reise en eens gelukkige kinderjare. Hy vertel van wit sakdoeke aan 'n boom, wapperende vlae vir sy vyf kamerade wat gesterf het in die stryd teen die Ajatolla Khomeini; van 'n land waarna hy hunker, maar waarna hy nooit meer kan terugkeer nie.

Hy steek sy hand uit en lê dit op myne. Jy is ook nie blank nie, sê hy. Vraend. Ek kyk na my arms. Inderdaad is my vel eintlik bruiner as syne. Deur die son, en wie weet watter alliansies in my verlede. Maar hý is dónker. Nie soseer van pigment nie, maar van emosie. Van alles wat hy onuitgesproke in hom saamdra.

Die haartjies op sy skraal hande is baie, en dig op mekaar. Swart.

Sal passasiers vir vlug KLM 596 aanmeld asseblief. Alle passasiers …

Ons sit om die ronde tafeltjie. Mense tot 'n groep geword deur die afgelope dae. 'n Storie om te vertel aan my kleinkinders: "Eendag, lank, lank gelede het ek 'n Pers leer ken …" Nee, nié 'n Irannees nie, 'n Pers. Daaroor was hy baie beslis.

Die koffie in my oorvol koppie stort toe hy sy stoel agteruit stoot. Hy't weer die jas aan; 'n liggeel hemp daaronder. In my brein kliek die kamera.

Die bruin tas staan op die tafel. Dit is aan my gegee net voordat ek gevlug het, sê hy in die stilte wat oor ons kom lê het. 'n Geskenk van my jongste suster. Die nag voor ek weg is, het sy my kom soek, en dit saamgebring. Haar lewe gewaag om dit te doen. Dit was die laaste keer dat ek met haar gepraat het. Nadat ek twee keer misluk het om Amerika toe te gaan, en daarna in Nederland beland het, het ek gehoor dat sy gevang is. Doodgeskiet.

Ek sien dat Monja en Lien ook sluk. Nou verstaan ons sy verknogtheid aan die skryftas. Hoekom hy dit oral heen saamdra. Hoeveel herinneringe moet daarin nie opgesluit lê nie.

Hy tel die tas op, staan op om te gaan. "Mijn vliegtuig. Ik mag niet laat zijn."

In die rondte praat hy met almal om die tafel, bedank hulle vir die tyd wat verby is; bedank die gids vir die spesiale uitstappies. Net vir my vermy hy. Ek voel hoe die ander hul asems intrek, hoe hulle iets wil verwoord van die sonderlinge ervaring waarin Rahem ons laat deel het.

"Jij wilt niet met mij praten," het hy gister op die hotelstoep twee keer gesê. "Práát met mij." Daar is niks wat ek durf sê nie. Ek wil my hande om sy gesig sit, die treurigheid uit sy oë en sy verlede weghaal, iets aan hom teruggee van dit wat hy verloor het. Maar ek weet dis te laat. En die stem roep reeds weer oor die interkom: All passengers ….

Hy groet, skud hand met die ander. Aan my raak hy nie, kyk nie na my nie.

Sy hand lig in 'n groet; hy draai óm om te gaan. Kom dan terug.

Reg om die tafeltjie loop hy, tot waar ek met my hande oor my bors gekruis sit. Ek hoor 'n stoel skraap. Ek het opgestaan, besef ek toe die koppie hard teen die piering op die tafeltjie kletter. Rondom ons het die ander vervaag tot toeskouers. 'n Halwe tree van my af bly hy staan. Stadig hou hy sy arm uit na my.

"Voor jóú, Simone."

Ek wil iets probeer sê, maar hy maak my met 'n gebaar stil. Sy hande vou my vingers toe om die handvatsel, 'n tas met duisende sproke -

"Ik ga weg. Ik laat me achter."


Christine Barkhuizen le Roux
Ek is 45 jaar oud, het 'n man en drie kinders en is tans besig met afronding aan my Meestersgraad by UWK oor Judith Herzberg, 'n bekende Nederlandse digteres. Ek het in 2000 'n poësiebundel gepubliseer: dimensie. Intussen was daar verhale in INSIG, en 'n bloemlesing Mense is mense. Ek is besig met afronding aan 'n kortverhaalbundel en 'n nuwe digbundel wat so tussendeur ontstaan het, en daar is 'n roman in wording.
  Christine Barkhuizen le Roux


  • Klik hier vir die aankondiging van die kortverhaalwenners


    LitNet: 23 Februarie 2005

    Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.