Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Fransman

Fanus Rautenbach

Baie stories oor die Franse. Kan jy glo hierdie oom het nog nooit in sy lewe na ’n sokkerwedstryd gekyk nie, en hy besluit toe om darem na die eindwedstryd op Sondagaand, 9 Julie 2006 op TV te kyk. En daar gebeur die mees dramatiese insident van alle sporttye: Italië speel teen Frankryk, en dit lyk asof Frankryk gaan wen. Die Franse kaptein, Zidane, dink ook so. Maar toe loop een van die Italiaanse spelers agter Zidane en fluister iets sodat Zidane moet hoor. Zidane hoor nie net nie, maar draai in sy spore om en stamp die Taljaner met die kop teen sy borsbeen.

Nie net het Zidane kop verloor nie, maar die hele Frankryk sit op Kopverloorsevlakte.

Chaos.

Die skare skreeu. Die skeidsregter marsjeer driftig na die Franse kaptein toe en gee hom ’n rooikaart – die einde van Zidane se roemryke sokkerloopbaan.

En Italië wen die Wêreldbeker.

Dit laat my aan ander Franse stories dink.

Eerstens aan Koos Meyer, wat toergids was op ’n toer na Europa, destyds toe ek nog Flinkveria se president was. Hy stuur vir my ’n poskaart uit Parys, Frankryk, maar al wat hy op die kaartjie skryf is:

FANUS
AFRIQUE DU SUD.

En binne sewe dae is die kaartjie op my lessenaar!

Ek saai dit uit en Marius du Plooy, wat daar grootgeword het, pos vir my ’n kaart met my volledige adres daarop, en pos dit in Parys, Vrystaat. En eers 11 dae later ontvang ek dit in Johannesburg! (Frankryk was destyds die Poswese-hoofstad van die wêreld.)

Tweedens dink ek aan my seun, Frans, vir wie ek altyd Fransman gesê het. Hy skryf matriek en kry ses onderskeidings. Ek is baie trots op my eersgeborene en sê: “Fransman, onthou jy daardie ongedateerde bottel Roodeberg wat die Springbok Flip Geel, vir my gegee het?” Hy onthou. “Nou kyk, Saterdagaand vat ek daardie Roodeberg en dan gaan ek vir jou die grootste biefstuk in Afrika koop!”

So gesê, so gedaan. Ons trek ons beste klere aan, Fransman knyp die Roodeberg onder sy arm vas, ons klim in Die Luiperd en gaan parkeer in die Carlton Hotel se kelder. Met bottel en al ry ons met die hysbak tot in die restaurant, net om uit te vind ons is nie in die Kaap nie: jy mag nie jou eie wyn saamvat nie.

“Kies ,Pa solank ’n ander wyn; ek gaan net hierdie bottel bêre.”

“Wag, ek gaan saam!”

Ons stap by die groot glasdeure uit. Op die stoep is daar ’n visdam. Fransman kyk rond en bêre die bottel Roodeberg in die dam tussen die palmiete.

Nadat ons ’n bottel Franse Moet et Chandon geniet het, en ’n Kaapse pinotage aangepak het, verorber ons die sagste, sappigste biefstuk in Afrika en/of Argentinië. Na die crêpe suzette en koffie en cognac, sug ons behaaglik, vryf magies, en Fransman breek ’n windjie.

“’Skies mense!” spot ek.

“Die Franse sê ‘As jy nou rêrig lekker geëet het, en van die Franse kok se kos gehou het, breek jy ’n windjie’ (of ‘skeur jy ’n laken’ as die kok Italiaans is). Dis glo die grootste kompliment wat jy enige kok kan gee!”

“Kom ons gaan haal jou Roodeberg,” lag ek.

Toe ons by die dam kom, is daar ’n jongeman en sy meisie. Hulle speel verlief-verlief en hy kondig aan: “Kom ek vang vir jou ’n vissie!” Speel-speel gooi hy in, haak kastig ’n vis en katrol in. Fransman kry daardie prettige uitdrukking in sy bruin oë … die oë wat menige kwaadkatjie nog katswink sou slaan. Hy buk en mompel: “Abrakadabra … taragie taragô!” en swiep die bottel Roodeberg uit die dam uit.

Die jongeman met die meisie val amper in die water van pure verbystering. “Hoe … hoe kry jy dit reg??” vra die meisietjie.

“Ag, ek vang maar elke Saterdagaand vir my hier ’n Roodeberg!” reken Fransman ewe nonchalant.   Wat die Taljaner vir Zidane gefluister het?

Die slim mense het die Italiaanse speler se lippe op die TV-film gelees. Hy het die Fransman glo vieslik in Zidane se moedertaal beledig met: “Ta seure est une putain!” Om dit in Afrikaans te vertaal, is lelik: ”Jou suster is ’n hoer!”   Maar kom ons kyk bietjie na die Frans. Woorde is soos wors. Beskou bietjie putain. Die Afrikaanse woord puritein, wat baie na daaraan kom, beteken “aanhanger van ’n sterk Protestantse leer”. Dan ook nog: ons eie swartes se name vir die seksdaad is puta puta … pata pata!

Om die storie te verafrikaans: Koos Van der Merwe stamp Mike Schutte met die kop omdat Mike konsuis vir Koos gesê het: “Jou suster is ’n Vannermerwe!”

 

Spesiale stertjie:

In reaksie op dié rubriek skryf Henk Bierman:

Die  sokkerkapteintjie van Frankryk
wat met skopskoen 'n doel kon bereik
dog toe; 'ook met my kop
kan ek ook mos 'n doel skop'
maar 'n rooikaart is al wat in sy hand pryk!

En Fanus antwoord:

DIE PORTUGEES BELEDIG 'N VROU
DAAROOR HET HY HOM  BEROU
HY GEBRUIK SY KOP
FOETER HOM OP
GELUKKIG HET DIE SKEIDSREGTER SY KOP BEHOU


LitNet: 19 Julie 2006

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.