Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fanus Rautenbach

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

En kyk hoe lyk hy nou. 'n Splinternuwe naam en 'n splinternuwe mashoof. Hierdie is die laaste rubriek vir vanjaar, maar ons vertel van groot planne wat daar reeds vir die nuwe jaar is. Rubriekers kan ook gedurende die vakansietyd bly saam te klets, vertel van die uitspanhumor van hierdie tyd. As ons vroeg Januarie hervat, blaai ons saam deur ons woordfoto's van die feestyd. Rubriekers kan bly skryf na pietc@sybaweb.co.za. Dalk kan party van ons oor die feestyd sommer so direk bietjie met mekaar bly gesels met die vonke saam. Januarie deel ons dit met die res van die rubriekers.

Beeld berig daar is drie Suid-Afrikaanse besienswaardighede wat op 'n lys geplaas is waaruit vir sewe nuwe wonders van die wêreld gestem moet word. Een daarvan is Kimberley se groot gat.

Tossel sê: As 'n groot gat kwalifiseer, kan ek aan 'n hele paar bekendes dink wat vanjaar wonderwerke van hulself gemaak het!

***********

Onthou julle nog hoe daar altyd hier aan die einde van die jaar kalenders deur al wat besigheid is uitgedeel is, sodat ons hulle nie in die nuwe jaar moet vergeet nie. Dit wil mos vir my lyk asof dit 'n gewoonte is wat aan die uitsterf is. Vanjaar het nie eens die apteek vir my 'n kalender gegee nie. Hulle het seker besluit my ou lyf sal my wel genoeg in die nuwe jaar aan hulle herinner.

Die woord kalender kom uit die Latyn Calendarium, 'n skuldregister, omdat rentes en skulde op die eerste van die maand verreken moes word. Omdat 'n mens so pal daarin is met die skuldjies saam is dit seker ook te verstane dat die gewoonte ontstaan het om die kaalender agter die toilet se deur op te hang.

***********

Maar ons is nog nie heeltemal klaar met die ou jaar nie. Henk Bierman skryf: Liewe vrinne, daar is baie sake die afgelope weke waaroor mens tong in die kies (veral as dit een of ander mejuffrou Suid-Afrika se tong in my kies is)'liries' kan raak en kan dig. Maar aangesien die debat oor DEMOKRASIE vir my so 'n netelige kwessie geword het, en aangesien selfs die lesers van 'Umfaanus' so uitgerangeer is, wil ek met die volgende limeriek weer 'n demokratiese debat oor die afmaak van opbouende kritiek op die huidige regering aan die gang sit:

Mbeki sê: "Om my aan te vat is nie 'cool' nie!"
Maar Tutu sê: "Ek is niemand se 'fool' nie!
Ek sal vat waar ek wil,
En jy kan maar gil
As ek vat waar jy dit nie wil voel nie!"

***********

Met ander sake gaan ons eers in die nuwe jaar klaarmaak. In die vorige rubriek het ons gevra vir Afrikaanse weergawes van die Engelse uitdrukking Don't crowd me. Dan is al die rubriekers ook nog nie klaar gesels oor urban legend nie. Judith Kotze skryf vir ons:

Ek weet net waarvan hierdie ou praat ... Moenie in my skaduwee staan nie! Dit werk elke keer. Die ouens wip hulle en los my uit.

Gedink 'n 'legend' is 'n sprokie, iets soos 'n feëverhaa, maar nou wil almal dit sommer 'n gewone storie maak. King Arthur was 'n 'legend' en hy moet nog waar bewys word. Ek dink ons begin sommer met spekskiet-sprokie, of wat van spekstorie. Ek dink ook aan lieg soos 'n tandetrekker. Kan ons dan nie êrens 'n bek inbring nie? Byvoorbeeld liegbek-legende.

'n Ander voorstel vir Don't crowd me: Rank soontoe, moenie hier stoel nie.

***********

Wie het lus om in die vakansietyd 'n bietjie pret te maak met limerieke? Hier is vir die rubriekers 'n uitdaging. Voltooi die volgende twee limerieke en onthou, die laaste versreël moet rym met die eerste twee.

'n Vrolike weduwee, nig Bettie,
het getrou met koek en konfettie,
Toe hulle gaan slaap,
Sê sy vir haar Jaap:
……………..

En

'n Hoenderboer van Potchefstroom
smous sy mis aan 'n dikbek oom:
"Moet ek hierdie strooi
oor my aarbeie gooi -
………..

Dalk is daar van die rubriekers wat lus het om oor die vakansietyd oor die pretighede rondom hulle heeltemal hul eie limerieke te maak. Stuur dit solank vir ons aan. Ná die vakansie plaas ons soveel as moontlik van hulle en dalk kroon ons 'n limeriekmeester.

So van vakansieprettigheid gepraat. Dis nie altyd die volgende oggend meer so prettig as die babalaas in die lyf en die kop kom lêplek maak nie. Dalk nie 'n sleg onderwerp vir 'n limeriek of wat nie.

Al ooit gewonder waar die woord babalaas vandaan kom? Babalaas ... of Babelaas … Babala is 'n graansoort, of grassoort, Pennisetum Americanum. Dit is soortgelyk aan sorghum. Dit staan ook bekend as swartmanna of swartboermanna. As jy nou bier maak van hierdie babala en te veel daarvan drink dan kry jy die volgende dag wingerdgriep … biergriep …'n babalaas. In Zoeloe staan dit bekend as I-babalazi. In die VSA praat hulle van katzenjammer.

***********

Gert Kotze, die bekende joernalis, wat op sy dag deur Jannie le Roux van Ellispark verban is omdat hy nie gehou het van Gert se berig oor wie die konsessie vir die voorsiening van drank aan die kroeë in die stadion gehou het nie, vertel graag die storie van die paar rugbyvriende wat aan die Kaapse kus langs mekaar erwe gekoop en vakansieplekkies gebou het. Daar het hulle hierdie tyd van die jaar altyd saam gaan uitspan, oor die ou dae gesels, visgevang en die naam wat hulle vir hulle kompleksie gekies het gestand gedoen: Cirrhosis on Sea.

***********

'n Mens kan jou net voorstel hoeveel vrolike grappe daar by daardie kuierplek langs die see geruil is. Mog die vrolike grap tog nooit uitsterf nie. Daar is van hulle wat sekerlik al Africanastatus verdien. Hier is 'n paar:

Tannie wys na haar sewe kinnertjies en sê: "Geseënd? Aggenee, Dominee, dis sommer my en Jan se lawwigheid!"

Dominee wys na die sewe kinnertjies en sê: "Mevroutjie, julle moet nou stadig, jou gesondheid sal dit nooit hou nie. Julle sal moet 'n plan maak, ek dink jou man sal dalk voortaan in die solder moet gaan slaap." "Oe, Dominee, ek sal enigiets doen, ek sal selfs by hom in die solder gaan slaap, indien nodig."

Juffrou kry die briefie:"Verskoon asseblief vir Awie omdat hy nie vandag in die skool is nie. Hy het 'n nuwe bababoetie. Dit is nie sy skuld nie."

Die verpleegster sê vir Jannie dat hy 'n nuwe babasussie vir Kersfees gaan kry. "Dis bak! Mag ek die eerste wees om vir Mammie te vertel?"

"Boetie, daar sit 'n groot voël, 'n ooievaar op julle huis se dak, ek wonder wat dit beteken?"
"Oee ... hulle beter versigtig wees, my ma verwag!"

"Boetie is dit so dat 'n ooievaar die babas bring?"
"Nee, ek het gedink dis 'n baie kleiner voëltjie!"

"Sussie, wil jy nie die ooievaar sien wat jou boetie gebring het nie?"
"Nee, ek wil liewer die ooievaar sien!"

Die rubriekers moet nog sulkes vir ons stuur!

***********

Die ou jaar het hier na sy einde se kant toe 'n klomp vreemde nuus opgelewer om ons pal daaraan te herinner in watter vreemde wêreld en land ons leef. Dit het ons altyd produktiewe sportprenttekenaar, Rufus Papenfus se knaend besige humorkop pal aan die gang gehou. Hiervan is seker een van die vreemdste stories van die jaar dat die gaste van Korrektiewe Dienste, wat ander mense van hulle menswaardigheid - en sommer 'n klomp ander dinge - beroof het, nou die Departement wil hof toe neem. Die oranje oorpakke wat hulle verplig word om te dra en hulle as gevangenes identifiseer, tas dan hulle menswaardigheid aan.


WAT DE DINGES GAAN MEJOU AAN? TREK JOU OUWERHOL AAN! EK SALLIE! EK HAAT ORANJE! DIT LAAT MY SILLY LYK!

***********

Kom ek vertel julle 'n bietjie van Rufus. Hy is nie sommer enige outjie nie. Hy is sportprenttekenaar, sakeman, skrywer, skilder, radiokommentator en jazz-liefhebber. In die nege jaar wat jy in Amerika gewerk het, het by geleentheid 'n karikatuur van die destydse Amerikaanse president, Gerald Ford gemaak. In 1979 is twee van sy sportprente ingesluit in die jaarlikse publikasie van Amerika se beste sportprente. Sover bekend is hy die enigste Suid-Afrikaner wat ooit tot lid van die Amerika se Association of Political Cartoonists toegelaat is. Nie sleg vir 'n Vrystaatse knaap nie.

Hier in Suid-Afrika het hy op sy dag as joernalis en spotprenttekenaar gewerk vir die Cape Argus, Cape Times, Pretoria News en ook sy eie opvoedkundige sprokiesprent-publikasie Tiger Ingwe uitgegee.

Só lyk Rufus deur sy eie oë:

Groot nuus vir die nuwe jaar is dat Rufus vir ons 'n skildery gemaak het van Schalk Burger, die beste internasionale rugbyspeler van 2004. Schalk het die skildery vir ons onderteken. Vroeg in 2005 gaan ons die skildery hier op LitNet aan die hoogste bod verkoop. 'n Deel van die inkomste hieruit gaan aan 'n welsynsorganisasie geskenk word. Gesprekke oor die voorwaardes van die skenking is nog met die beoogde organisasie aan die gang en die naam sal met die bekendstelling van die veiling aangekondig word.

Wat 'n gawe klong is die Schalk Burger nie. Ons ontmoet hom verlede week saam met sy pa en agent by die gholfklub in die Paarl vir die teken van die skildery - voordat hy George toe is om daar na die sewestoernooi te gaan kyk en die lyf, nog vol kneusplekke ná 'n jaar se harde rugby, te laat rus.

Seg ek vir hom: "Jy moet nou net nie gaan staan en grootkop kry nie, hoor."

"Sal nie, oom. Netnou kom ek nie onder die pale in om drieë te druk nie," antwoord hy vinnig.

'n Jong vriendin wat die naweek 'n kroegtoer onderneem het, vertel my ek sal nie glo hoeveel Schalk-nabootsers (verwysende na sy kenmerkende haardos) 'n mens op die oomblik in die kuierplekke van die jongmense en jonk-wil-wees-mense in die Kaap sien nie. Herinner my aan die dae van Tom van Vollenhoven, wat drie keer in die jare vyftig met sy borselkop die bal agter die Ingelse se doellyn gaan neersit het.

Toe was borselkoppe skielik die gier van die dag. Totdat Tom sy tyd so 40 jaar vooruit was en die groot sonde gepleeg het om in Engeland gaan beroepsruby speel. Sommige dinge het verander oor die afgelope dekade of wat - ander verander nooit.

***********

Ondertussen kom Renier de Villiers se eksemplaar van die versameling van grapplate op die twee laserskywe "'n Hele Opvoering" vandag by hom in Mafikeng aan omdat hy die skepper van die wennaam vir ons rubriek is. Annalize Oosthuizen wie se naam uit die hoed gekom het met die stemmery vir die naam, se versameling is ook vandag in haar posbus.

Hier loer Renier vir ons deur sy rekenaarkamera:

***********

Ondertussen het Stella Niemand vir ons 'n moderne verwerking van Psalm 23 aangestuur, wat ons vir die rubriekers wil saamstuur in die tyd waarin hulle nou gaan ontspan.

MODERNE PSALM 23 VIR ALMAL WAT WERK

Die Here is my eintlike Baas
Ek kom niks kort nie.
Hy maak my rustig, al is daar chaos rondom my.
Hy bring my by waters waar daar vrede is,
al woed die kantoorpolitiek rondom my.

Hy gee my telkens nuwe krag
wanneer die werklas en die verantwoordelikhede
my wil oorweldig.

Wanneer die gevaarlike weë van korrupsie
vir my wink,
lei Hy my tot Sy eer op die regte pad.

Selfs al gaan ek deur die donker dieptes van
ontelbare e-posse, rekenaars en netwerke wat
"oppak", die rugstekery van kollegas, bestuurders
begrotings, 'n moeë liggaaam wat ek soggens uit
die bed moet sleep, en wat skynbaar nie meer so
skerp is soos voorheen nie,
sal ek nie bang wees nie,
want U is met my. In U Hande is ek veilig.

U laat my by die feesmaal van U liefde aansit,
selfs al dreig die regering my met "regstellende
aksie" en om te "rasionaliseer".

U ontvang my soos 'n eregas
selfs al word ek telkens oor die hoof gesien
deur medekollegas.

Ek word oorlaai met U hartlikheid
al ontvang ek weinig erkenning vir my harde werk.

U goedheid en liefde is vir my meer werd,
as enige bonustjek, want dit sal my lewe lank
by my bly.

Al is my mediese voordele en my pensioen maar skraps,
Sal ek tot in lengte van dae by U tuis wees,
in die Ewige Aftree-oord wat U vir my beloof!

***********

Mag al ons rubriekers 'n veilige en geseënde feestyd beleef. Hou die padwoede en stres van daardie laaste-oomblik-inkopies in oorvol winkelsentrums, die frustrasie van parkeerplek soek en verkeersopeenhopings met humor van die lyf. As die verveeldheid dreig om jou te oorval skryf solank vir ons - ons hou 'n oog op die vonkpos en doen graag vroeg in die nuwe jaar verslag oor hoe julle die brieke losgemaak het.

Groetnis!

Fanus



LitNet: 15 Desember 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.