Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Getroudes, getroues en Britney

Dis weer eens met ’n swaarmoedige hart dat ek julle getroue en/of getroude JIP lesers groet. Vernaam die getroude Jip meisies. As julle na my ma geluister het sou julle ook twee keer gedink het voor julle daardie laaste afdraande na die kansel gevat het. Die geëerde mevrou De Ridder maak juis sulke terloopse geluide in die rigting. Onskuldige vragies oor my losloperdae en of ek dalk ’n “baie spesiale” verrassing in 2002 vir die familie het.

Hokaai nou! Strop om die nek, knoop deurhak en ring aan die vinger klink al te veel na martelmetodes waarmee die Spaanse inkwisisie vorendag gekom het. Nie dat ek ’n vrees het vir daardie Groot Dag nie. Ek meen hel, ek was al op hoeveel troues. Sover ek kan onthou was almal heel aangenaam, maar daar is ook so baie brak kolle en grys areas uit die verlede dat ek nie met sekerheid kan sê nie. Elkgeval, getroud of enkellopend, jonk of oud, die doel van hierdie skrywerasie vanoggend is om julle te groet. Net tydelik, so moenie so gou opgewonde raak nie. Meer as veertig dae en veertig nagte sal verloop vandat julle hierdie woorde lees voor ons weer gesels.

Dus, ek wens julle by voorbaat ’n hartlike en geseënde en/of geseunde (spesiaal vir die wat moeders gaan word) Kersfees toe en hoop almal ervaar ’n 2002 sonder geweld, ’n jaar waarin julle veilig kan voel, een waarin jy jou medemens met respek sal behandel en bowenal ’n 2002 propvol gesondheid en sukses.

Ek het nie Nuwejaarvoornemens vanjaar nie. Laas jaar s’n het weggeloop en met die Kaaskop getrou ondanks ’n reeks annonieme waarskuwingsbriewe (gelaai met emosionele antraks) wat haar van dié plan moes laat afsien. Ag wel, que sera, sera ...

En sedert ek vir seker vanjaar weer ’n paar kouse en ’n sakdoek vir Kersfees gaan kry, gaan ek myself bederf met ’n paar musikale geskenke — Pink Floyd se grootste treffers (Echoes) is hoog bo-aan my lys. Ek het Anton Goosen se Vis innie Bos twee keer geluister en besluit dis ook te koop, saam met Piet Botha se versameling Afrikaanse treffers heel gepas getitel Die Hits. En dan wil ek my alt.country versameling aanvul met Ryan Adams of Gillian Welch se nuwes. Geseënde Krismis, Chutney!

Die trou-besigheid wil maar net nie uit my kop nie. Ek het selfs ’n musiekbrokkie oor die onderwerp wat julle popslafies sal verbly. Britney gaan mos nou trou met haar kêrel, die ewe-irriterende Justin Timberlake van N’Sync faam.

Die twee het mekaar as tienjariges ontmoet toe albei lid was van die Mickey Mouse ondersteunersklub. Nou ja toe Britney, wys my daai muis!

Die formulier gaan glo aanstaande jaar op Valentynsdag gelees word — hoe fraai. En tot dan — maats en hier is die lessie van Mej Sjoebroekie self — gaan sy en Justin hul maagdelikheid met hul laaste gryntjie selfbeheersing beskerm. Ook maar goed, mompel ’n skouerleser, ons het nie nou al nog van hul soort nodig nie.

En hier is nog bietjie stof tot nadenke. Britney gaan glo in die volgende Austin Powers komedie saam met Mike Myers speel. Hierin lê die grap: sy speel haarself. Ja, dit behoort inderdaad ’n suksesvolle komedie te wees.

Ek groet julle in 2001. Mag julle enkellopers mooi loop, mag julle getroudes getrou bly en mag JIP julle in die nuwe jaar nuwe dinge leer. Gaan julle geweldig, maar nie geweldadig nie!

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.