Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor tandartse en Pink Floyd

Dis ’n verskynsel waarvoor daar geen verduideliking is nie. Ek soek nou al jare vir die antwoord, maar steeds bly die raaisel onopgelos. Dis seker hoe Murphy se Wette begin formuleer het. Julle ken mos van Murphy — “as iets verkeerd kan loop, sal dit ...” Hoekom, wonder ek elke oggend onderweg na my goedbesoldigde werk, bevind ek myself altyd in die stadigste baan op die snelweg. Kies ek die vinnige baan, is die middelste en stadige baan vinniger. Skuif ek oor na die middel ruk die verkeer tot ’n stilstand en snel die buitenste twee voort. En so aan.

Hoekom, vra ek, sal die radiostasie waarna ek luister perfek opvang totdat daar ’n liedjie speel wat ek graag wil hoor. En dan skielik is daar ’n gekraak en gesuis asof jy jouself êrens in die Andes gebergtes bevind?

En waarom, as jy oor middagete gou-gou by die kitsbank (tel wel, KITSbank) wil gaan geld trek, is daar altyd ’n lang ry mense voor jou en onder hulle daardie jafel wat besluit om al sy bankstate aan te vra, ’n oordrag tussen rekenings te doen en sommer geld te deponeer ook. Al die voorbeelde is amper so erg soos die werksprosedure van daardie kollektiewe spesie bekend as tandartse. Nou kyk, teen tandartse as mense hou ek niks persoonlik nie. Trouens, van my beste vriende ken mense wat iemand ken wat ’n tandarts is.

Maar as julle dink die duiwel is bang vir ’n slypsteen het julle nog nie vir my by ’n tandedokter gesien nie. Die boor, o, die boor, daardie suig-apparaat wat sy assistant in jou kies druk, allerhande klampe en steek- en sny-instrumente -die rekwisiete vir ’n gruwelfliek. Maar dis nie al nie.

Wat is dit wat tandartse noop om met jou ’n gesprek te voer terwyl elke moontlike instrument reeds in jou mond geprop is? As jou tandarts, soos myne, boonop ’n gesonde belangstelling het in wat jy vir ’n lewe buite sy folterstoel doen, kan jy jou regmaak vir ’n lang halfuur.

“So Chutney,” begin my Witjas, “jy was seker by David Kramer se Karoo Kitaar Blues in die Baxter. Hoe was dit toe?” (Suiggeluide afgewissel met die boor se skril falsetto) “Ee, ’it ’as ’eerlik, ’ankie. ’Avid ’as ’an’asties,” mompel jy gedweë tussen pype en pyn. Ek sou graag wou uitbrei, maar mens leer om kort en kragtig te antwoord. Een ding moet ek tot my verbasing byvoeg — tandartse verstaan elke woord wat jy sê, behalwe as daai senuwee ligweg raakgeboor word en jy “Aaaah!”.

Dan is dit: “Ekskuus ... wat sê jy ... was dit gevoelig?”

Nee, dok, dit was nie seer nie, ek slaan maar sommer vir die lekkerte my naels in die stoel se armlening.

Elkgeval — so tussen die instrumente deur het ek vertel dat Roger Waters (“’Oger ’Aters ’an ’Ink ’Loyd”) op 27 Februarie by die Velodrome in Kaapstad optree en op 1 Maart by The Dome in Northgate, Jo’Burg.

Die Pink Floyd baskitaarspeler skop sy beplande wêreldtoer wat hom volgende jaar na ’n honderd lande sal neem hier af. (“’aartjies ’issel ’ussen R150 en R300”). ’n Dubbel CD getitel Echoes, The Best of Pink Floyd word vandeesmaand deur EMI uitgereik. Dit bevat ’n stewige 140 minute se musiek.

Dan sal ek dit moet aanskaf, sê my tandarts, (“...’eker ’et’ie geld ’at jy ’uit ’y ’emaak ’et,” wou ek byvoeg. Maar toe swyg ek liewer — jy tart immers nie iemand wat ’n boor byderhand het nie).

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.