Alles boeke!Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Mia se Ma toegang tot sprokieswêreld

Amanda de Beer

Mia se Ma
Deur: Marita van der Vyver
Illustrasies deur: Piet Grobler
Uitgegee deur: Human & Rousseau, Kaapstad, 2005
ISBN: 0 7981 4495 5
Prys: R63,96
32 bladsye

Soos wat die titel van Marita van der Vyver se jongste storieboek aandui, handel hierdie boek oor Mia se ma. Mia, die haas, se ma is nie sommer enige ma nie. Sy is 'n heks, 'n towenaar, 'n goeie fee; sy kan boonop met mense praat en ook op 'n mat deur die lug vlieg. Só laat Mia haar maats Hakima, Leon, Bella, Selo en Mark glo. Mia se ma bevestig dit dan ook, want in stories is alles mos moontlik, en soos sy dit pertinent stel: "Alles wat in 'n storie gebeur, gebeur ook met die een wat die storie vertel." En dis nie net sommer énige storie waarmee Mia se ma die fantasie prikkel nie, maar sprokies. Met hierdie sprokies slaag Mia se ma daarin om Mia en haar maatjies op Aladdin se mat op 'n fantasiereis na sprokiesland te neem.

Dit is egter nie net Mia en haar maats wat deur bogenoemde inhoud bekoor word nie -karakter, leser en luisteraar (waar Mamma voorlees) word saam meegevoer deur die toweragtige van sprokies. Dit is veral Piet Grobler, wie se illustrasies te sien is in meer as vyftig boeke, onder andere in JF Spies se Toepa-toepa towery, asook in sy eie boeke soos The Rainbow Birds, se sketse wat hier 'n indrukwekkende rol speel. Sy sketse is nie sommer gewone prente nie. Daar is veral twee tipes illustrasies te sien: dié van Mia, haar ma en haar maats, en dié wat Mia en haar maats se beeldryke gedagtes, naamlik van sprokies, weerspieël. Laasgenoemde prente, en net so die handskrif op die buiteblad, is dan ook met vetkryt geteken, op kinderlike wyse, presies soos kleuters dit min of meer sou doen. Hierdeur kry Grobler dit reg om juis die tipies skeppende gedagtes van kleuters te reflekteer. Dit is veral met hierdie tipe illustrasies en handskrif dat kleuters kan identifiseer.

Van der Vyver en Grobler poog om met teks en sketse kleuters se fantasieryke gedagtes te prikkel en self tot kreatiewe denkwyse aan te moedig. Mia se Ma reflekteer dus nie net nog bekende sprokies nie, maar dwing kleuters ook self tot nadenke. Vrae soos waarom daar verskillende tale is, stereotipes soos dat my ma altyd die beste is, die dood, en binêre opposisies soos boos en goed, die bonatuurlike en banale, word hier op treffende wyse na vore gebring. Dit is sulke kwessies, waarmee kleuters gekonfronteer word, wat mammas met hulle kroos kan bespreek.

Met hierdie fantasievolle storie en kleurvolle illustrasies slaag Marita van der Vyver en Piet Grobler daarin om die jong leser of luisteraar op 'n verbeeldingsreis te neem na sprokiesland, waar alles moontlik is. Hierdie boek is beslis die moeite werd om (voor)gelees te word, en sal vir die jongspan (en selfs vir mammas) hope genot en toegang tot die sprokieswêreld besorg.

Wie hierdie boek geniet het, kan ook Eric Hill se Otto se storieboek en Sam McBratney se Julle is almal my gunstelinge lees.

Ander bekende werke deur Marita van der Vyver is Rimpelstories: Boomklim, jeugverhale soos Eenkantkind, en volwasse verhale soos Bestemmings en Griet skryf 'n sprokie, waarvoor sy in 1992 die M-Net-, Eugène Marais- en ATKV-pryse losgeslaan het.



LitNet: 09 Mei 2006

to the top / boontoe

Sê jou sê. Skryf aan webvoet@litnet.co.za en word deel van ons interaktiewe meningsruimte, SêNet! Die brieweblad kan hier gekry word.

© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.