Alles boeke!Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Maryna Blomerus se keuse

1. The Lord of the Rings deur JRR Tolkien

The Lord of the Rings is die produk van ’n diep begeerte wat JRR Tolkien gekoester het, naamlik om ’n mitologie vir Engeland te skep. Die behoefte aan so ’n mitologie was dikwels die onderwerp van bespreking by die byeenkomste van die Inklings, ’n literêre “kliek” van Oxford-akademici. Tolkien het met een van die ander lede van die groep, CS Lewis, ooreengekom dat as hulle nie genoegsame mites vir Engeland kon vind nie, hulle hul eie sou skryf.

The Lord of the Rings is gedurende die Tweede Wêreldoorlog geskryf en is ten diepste beïnvloed deur Tolkien se ervarings tydens sy militêre diensplig gedurende die Eerste Wêreldoorlog. Hy het die tragiese gevolge van ’n smag na absolute mag beleef en daarom is die sentrale boodskap van die boek dat dié een wat na absolute wêreldmag soek, uiteindelik daardeur gekorrupteer sal word. Die storie is geplaas op die werklike aarde, bewoon deur regte mense, maar in fiktiewe tyd: Middangeard (Oudengels), of Middle-Earth (moderne Engels). Die detail waarmee die storie geskep is, spreek van verbysterende perfeksionisme. Tolkien het ’n volledige mitologie geskep vir die realm van Middel-Aarde, insluitende geslagsregisters, tale, skryfstelsels, kalenders, landkaarte en geskiedenisse.

Tolkien het The Lord of the Rings eenmaal aan ’n vriend beskryf as “a fundamentally religious and Catholic work, unconsciously so at first, but consciously in the revision”. Daar is baie teologiese temas wat die storie onderlê: die stryd tussen goed en kwaad, nederigheid en trots; vergifnis; genade; dood; onsterflikheid; opstanding; redding; berou; self-opoffering; vrye wil; geregtigheid; gemeenskap; outoriteit.

The Lord of the Rings is myns insiens die beste, mees verbeeldingryke fiksiewerk ooit. Om CS Lewis aan te haal: “Here are the beauties which pierce like swords and burn like cold iron.”

2. Animal Farm deur George Orwell

Waar Plato diep ondemokraties was, het George Orwell totalitarisme gehaat. Diegene wat bekend is met die geskiedenis van Stalin se diktatorskap en die Russiese Revolusie, sal die parallelle in Animal Farm raaksien. In die geval van Animal Farm is die karakters egter diere wat, toegerus met menslike en byna-menslike eienskappe en vermoëns, daarop uit is om ’n Utopia sonder enige menslike invloede te skep.

In die boek se openingstonele maak Old Major, die “prized Middle White Boar” en die oudste en mees wyse dier op Manor Farm, die diere bymekaar en vertel hulle van ’n visie wat hy in ’n droom gehad het. Hy het ’n wêreld gesien waarin diere hulself regeer, tussen mekaar woon as gelykes, en net vir die welsyn van hul eie werk. Geïnspireer deur hierdie woorde begin die diere ’n rebellie teen hul meester, Mr Jones, beplan. Die diere loods ’n suksesvolle aanval en raak ontslae van Jones en sy menslike medewerkers.

Met nuwe vryheid en vol optimisme begin die diere die plaas herontwikkel. Die eerste ding wat hulle natuurlik doen, is om dit ’n nuwe naam te gee: Animal Farm. Onder leiding van die varke (wat gou wys dat hulle die slimste diere is), word die arbeid georganiseer en verdeel. ’n Lys van sewe gebooie word opgestel en al die diere op die plaas moet hulle daaraan onderwerp. Stadig maar seker begin sommige van die diere egter moeg raak vir die varke wat nie self werk nie, maar net toesig hou, en wie se woord wet word sonder enige konsultasie met die ander diere. Die varke se groeiende honger na mag lei daartoe dat hulle die bevraagtekening van hul outoriteit met die dood strafbaar maak. En so muteer Old Major se visie van vreedsame broederskap onder diere in ’n wêreld waar waarheid en realiteit vervorm word om die heersersklas aan bewind te hou.

Orwell illustreer die inherente gevaar van ’n apatiese gemeenskap en die gevolge van ongebreidelde mag. Is daar ’n meer relevante boek vir Suid-Afrika vandag?

3. The English Patient deur Michael Ondaantje

The English Patient is ’n notaboek van indrukke, sketse en knipsels uit ’n ander wêreld, van romanse, avontuur en tragedie, en in geen netjiese volgorde nie. Dit vertel die storie van die uitgerafelde lewens van vier mense in ’n Italiaanse klooster, deur die Tweede Wêreldoorlog byeengebring. Ondaantje weef hierdie karakters saam en trek hulle dan styf bymekaar: die uitgeputte Kanadese verpleegster, Hana; die geskende dief, Caravaggio; die behoedsame Sikh-bomkenner, Kip – elk gefolter deur die raaisel van die pasiënt, die naamlose, verbrande slagoffer wat in die boonste vertrek op sy sterfbed lê en wie se grepies herinneringe uit die verlede die boek soos weerligstrale verhelder.

Ondaantje skets die woestyne van die pasiënt, die Hongaarse Count Almasy, se herinneringe met liriese prosa. Blou lug en gekreukelde sandduine. Die klingelende medisynebotteltjies van ’n Bedouin-heler. Vergete verhale wat om kampvure herleef. Woestynwinde en sandstorms. Kaarte van ’n onkarteerbare woestyn … en verbode liefde.

Uiteindelik is daar dinge wat hulle nie aan kunsmatige grense steur nie. Soos bewegende sandduine. En die liefde.

4. The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy deur Douglas Adams

Hier het ons wetenskapsfiksie wat geskep is om met wetenskapsfiksie die spot te dryf terwyl dit tog die ryk tradisie daarvan eerbiedig. Maar dit is meer. Douglas Adams slyp sy vlymskerp humor op die steen van sosiologie. En filosofie. En wetenskap, natuurlik. Wanneer Adams ’n heilige koei van enige soort teëkom, melk hy dit droog voordat hy dit slag. Onder die oppervlak van die absoluut skreeusnaakse gebruik Adams slim sarkasme om deurdringende stellings te maak oor die lawwe ding, die lewe, en oor die maniere waarop ons dit uitleef. Dit is een rede waarom hierdie boek weer en weer gelees kan word: dit bied elke keer nuwe insigte in Adams se onderliggende, subtiele idees.

Die storie handel oor ’n gewone mens, Arthur Dent. Arthur ontdek dat sy vriend, Ford Prefect, eintlik ’n navorser van ’n planeet iewers in die omgewing van Betelgeuse is, maar voordat hy hierdie feit kan verteer, word hy opgeraap in die Vogon-ruimtetuig wat so pas die aarde vernietig het. Dent raak meer en meer verwar tydens sy reise aan boord die Heart of Golden. Die storie kulmineer in ’n besoek aan Astronomies Onwaarskynlike Wêreld.

Baie van die humor is onmoontlik om te beskryf – die boek moet self gelees word. Dit lyk asof elke sin ’n grap inhou. En die karakters is fantasties in elke sin van die woord. Die bonus is dat Adams elke nou en dan wegtree van die aksie om interessante feite te deel omtrent die heelal soos gedokumenteer in die Hitchhiker’s Guide. Daar leer ons van Vogon-digkuns, die Ravenous Bugblatter Beast of Traal, Trans Galactic Gargle Blasters, en ander fassinerende brokkies van die heelal wat Adams geskep het. Hy gee selfs aan die leser die uiteindelike antwoord op Die Vraag oor Lewe, die Heelal en Als!

5. Fugitive Pieces deur Anne Michaels

Fugitive Pieces is die verhaal van twee mans uit verskillende generasies wie se lewens onherroeplik deur die Tweede Wêreldoorlog getransformeer is. ’n Joodse seun, Jacob Beer, word uit die modder van ’n vernietigde Poolse stad gered nadat sy ouers voor hom doodgeskiet en sy begaafde suster, Bella, ontvoer word. Sy redder is ’n onwaarskynlike karakter, die wetenskaplike Athos Roussos. Saam vlug hulle na Amerika, waar Jacob Engels leer praat en liefkry. Hy kerf ’n literêre loopbaan uit en vind genesing in die liefde.

Ek het die gewoonte om betekenisvolle sinne in my boeke te onderstreep. Byna elke sin in Fugitive Pieces is onderstreep. Daar is op byna elke bladsy ’n uitroepteken in die kantlyn. Hierdie is ’n boek wat kreun van inhoud. Dit is ’n storie om jouself in te verloor, woorde om oor jou te laat spoel. Dit is waarskynlik die mees kreatiewe gebruik van Engels wat ek nog teëgekom het. Ek is so dankbaar dat ek Fugitive Pieces nie misgeleef het nie.

6. Corelli’s Mandolin deur Louis de Bernieres

’n Dokter sonder ’n formele graad, dr Iannis, probeer sy moederlose dogter, Pelagia, so goed as wat hy kan, grootmaak op die klein Griekse eiland waar hulle woon. Hy is ’n knorrige maar wyse man en hy maak sy dogter groot om intelligent te wees. Die gesprekke wat hy met haar voer, is kosbaar. Die Tweede Wêreldoorlog breek uit en die Italiaanse weermag neem die eiland oor. Dr Iannis en Pelagia moet hul huisie met kaptein Corelli en sy mandolien deel. Corelli is oneerbiedig, uitbundig en aantreklik en Pelagia raak verlief op die vyand voordat sy haar kan keer. Uiteindelik reën die harde werklikhede van die oorlog op hulle neer. Dood en pyn maak plek vir die kortstondige geluk wat sy geken het. Die jong vrou se skoonheid kwyn onder al die ontberings van die oorlog. Met al die onwaarskynlikheid van ’n klassieke Griekse tragedie word Pelagia se wonde heropen in ’n bittersoet herontmoeting en hernude verlies wat die mees geharde leser se trane sal laat spat.

Maar Corelli’s Mandolin is nie in die minste ’n simplistiese liefdesverhaal nie. Dit is ’n portret van ’n intens trotse en onafhanklike klein gemeenskap wat rebelleer op elke klein manier wat hulle kan. Dit is ’n swart-en-wit kiekie van die verskriklike ontberings van die soldate van daardie oorlog. Dit is verdoemende kommentaar op die swierige sotlikheid van leiers wat die wêreld gevorm het om hul kleinlike begeertes te pas. Dit is ’n humoristiese en intelligente verhaal wat jy nie neersit voordat jy hom klaar gelees het nie.

7. Les Misérables deur Hugo Victor

Les Misérables volg die lewens en interaksies van verskeie Franse karakters oor ’n tydperk van twintig jaar en speel af in die vroeë 19de eeu, wat die Napoleontiese oorloë en daaropvolgende jare insluit. Die verhaal sentreer om die ontberings van die ontsnapte gevangene Jean Valjean en sy poging om homself te red deur goeie werke. Die verhaal ondersoek die impak van Valjean se aksies as sosiale kommentaar. Dit ondersoek die aard van goed en kwaad, asook die reg en geregtigheid. Die verhaal lê die geskiedenis van Frankryk bloot, asook die argitektuur van Parys, politiek, moraliteit, geloof en liefde. Dit is ’n monumentale werk en moet beslis gelees word om die musiekblyspel ten volle te kan waardeer.

8. Le Petit Prince deur Antoine de Saint-Exupéry

Le Petit Prince is ’n storie van ’n man wat sy lewenslesse uit die wyd-oog perspektief van die onskuldige leer. Antoine de Saint-Exupéry neem die storie van sy eie lewe, vul dit met olifant-etende slange en pratende plante, en maak daarvan een van die beste en mees geliefde boeke van alle tye.

’n Jong prins verlaat sy eie planeet, op soek na antwoorde op sy baie vrae, en bevind hom op die aarde en ander planete. Met die hulp van die pratende blomme en diere en baie vreemde mense leer hy lesse wat hy – en die leser - nooit sal vergeet nie.

Hierdie is op die oog af ’n storie vir kinders, maar dit is die eenvoudige lesse en waarhede en die vermoë om dit te leer en te leef wat die volwasse persoon van die kind onderskei.

9. Paradise Lost deur John Milton

Hierdie epiese gedig is in 1667 gepubliseer en handel oor die eerste revolusie in die geskiedenis: Satan se rebellie teen God. Dit vertel van Satan se skorsing uit die hemel saam met die res van die gevalle engele en hoe hulle Adam en Eva verlei het om van die verbode vrug te eet. Adam en Eva word op so ’n wyse voorgestel dat hul onskuld voor die sondeval en hul wysheid daarna oortuig. God, redeneer Milton, het hulle die vermoë gegee om te staan en die vryheid om te val. Die werk bevat geloofsinsigte wat opgeneem is in die Christentradisie. Dit skets die tipiese karaktertrekke van die bose op ’n briljante wyse. So word Satan geskets as een wat besluit het om eerder in die hel te regeer as om in die hemel te dien. “The Mind is its own place, and in itself can make a heav’n of hell, a hell of heav’n.” Milton is ’n meester van die epiese en hoort saam met Homeros en Vergilius op elke denkende mens se boekrak.

10. Don Quixote deur Miguel de Cervantes

Don Quixote bied ’n panoramiese uitkyk wat nóg heeltemal tragies nóg heeltemal komies is, op die 17de-eeuse Spaanse gemeenskap. Die sentrale karakters is die bejaarde, idealistiese ridder wat op die rug van sy perd Rosinante na avontuur gaan soek, en sy materialistiese handlanger Sancho Panza wat sy meester van mislukking na mislukking vergesel. Gedurende sy reise verblind Quixote se hiperaktiewe verbeelding hom vir die realiteite wat hom in die gesig staar: hy dink windmeulens is reuse en ’n kudde skape ’n weermag. Dit is eers op sy sterfbed dat hy die dwaashede van sy avonture erken.

Don Quixote word dikwels as die eerste moderne verhaal beskryf. Hoewel dit beskou word as komiese satire gerig teen die ridderlik romantiese, vernietig Cervantes nie die ridderlike ideaal wat hy aanval nie – hy transfigureer dit. Die werk is al beskryf as simbolies van die dualiteit van die Spaanse karakter. Hoe ook al, Don Quixote is nie sonder rede in ’n onlangse meningsopname onder akademici aangewys as die belangrikste boek wat nog ooit verskyn het nie.

Maryna Blomerus

LitNet: 18 April 2006

to the top / boontoe

Wil jy deelneem? Stuur jou boeklysie na webvoet@litnet.co.za vir plasing. Vertel vir ons gerus hoekom jy die boeke gekies het of watter indruk dit op jou gemaak het – dis egter nie verpligtend nie.

Wil jy reageer op hierdie boeklys? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.