Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sponsors
Media Partners
Arts & Culture Trust
ABSA
Tafelberg
Human & Rousseau
Kwela
metroBig Issue
SA fmFine Music Radio
Rapport
Volksblad
Beeld
Die Burger
isiZulu
isiXhosa
Sesotho
Xitsonga
Sepedi
Afrikaans
English
Back to main page
My memory
Jaco Botha Jaco Botha is a partner in the small advertising firm Big Bad Wolf Advertising. He holds a BA degree from the University of Stellenbosch and a BA (Honours) and MA degree in Creative Writing (cum laude) from the University of Cape Town. He is the author of two books (In Drie Riviere and Sweisbril, both published by Human & Rousseau) and collaborated on several other works with prominent South African authors. In 1997 he was awarded the M-Net Bursary for Creative Writing. When not working he enjoys canoeing, cooking, playing cards and sipping on a good whisky. He thoroughly believes in the philosophy "Life is not a dress rehearsal, it's the real thing."
"Die skeppinge van 'n ernstige skrywer kan ook gesien word as 'n produk van interne weerstand. Dit is die ambivalente benutting van 'dit wat onthou word' in samehang met die weerstand daarteen. Hierdie teenstrydigheid van 'n bewuste opdieping van 'dit wat mens eerder sou wou vergeet' skep die spanning en energie wat die skrywer laat skrywe."
"The creations of a serious writer can also be seen as a product of internal resistance. They are the ambivalent utilisation of 'that which is remembered' in association with the resistance to it. This contradiction of a conscious digging up of 'that which one would rather forget' creates the tension and energy that makes the writer write."

Die woord worcester

Jaco Botha

Also available as: The word worcester

"No one says a word, but he knows she has been defeated, put in her place, and knows that he must bear part of the blame." - JM Coetzee, Boyhood.

Vroeg in September is daar 'n klein opskudding binne Afrikaanse letterkundekringe ná die Nobelprys-bekroonde skrywer JM Coetzee in die voorwoord van 'n bundel vertaalde Nederlandse poësie geskryf het die Afrikaanse letterkunde "has never been shy to flaunt its modest achievements".

Of hy nou reg is of nie, het die verontwaardigde gekef en onseker geblaf van gekastyde brakkies weerklink in Afrikaanse nuusblaaie. Baie het sekerlik gewonder: Nou hoe kan ons eie, bekroonde "prince of darkness" nou so lelik praat oor een komponent van die Suid-Afrikaanse letterkunde? Waar kom hy vandaan?

Die antwoord is eenvoudig: Worcester, natuurlik. En hier, kan ek beskaafde lesers gerusstel, sien ek Worcester nie bloot as 'n dorp nie, maar eerder as 'n konstruk van geheue (memory) en weerstand (resistance).

* * *

In die dae toe ek nog belang gestel het in literêre teorie, het ek veral aanklank gevind by 'n denkgees van vernuwende letterkunde as 'n uitvloeisel van interne weerstand. Op sy eenvoudigste vlak sê hierdie teorie dat vernuwende letterkunde ontstaan uit 'n onvergenoegdheid met die tekste van die vaderskrywers - die Freudiaanse beginsels van die Oedipus-kompleks, soos wat Harold Bloom dit in The Western Canon stel.

Wanneer ingefokus word op 'n meer individuele vlak, kan die skeppinge van 'n ernstige skrywer ook gesien word as 'n produk van interne weerstand. Dit is die ambivalente benutting van "dit wat onthou word" in samehang met die weerstand daarteen. Hierdie teenstrydigheid van 'n bewuste opdieping van "dit wat mens eerder sou wou vergeet" skep die spanning en energie wat die skrywer laat skrywe. Die proses kan gestel word as: om alkohol te drink, met die spesifieke doel om uiteindelik 'n babalaas te bewerkstellig, te konfronteer en daarvan kuns te maak.

Maak dit sin? Ja?

* * *

In sy omskrywing van die Onsekerheidsbeginsel in Kwantumfisika verwys Heisenberg na die interaksie tussen waarnemer en dit wat waargeneem word. Dit wat waargeneem word, verander juis vanweë die feit dat dit waargeneem word. Die waarnemer word dus eerder 'n deelnemer. Hierdie waarheid word onder verskeie name, binne verskeie dissiplines benut.

In die geval van Worcester is daar egter min verandering in dit wat waargeneem word, die kleindorpse lewe ("provincial life" volgens Coetzee) en ingesteldheid. Daar is wel verandering of progressie in die waarnemer, maar op 'n manier bly Worcester die koue, klei onderste laag van hierdie opgedamde geheue-inhoud.

JM Coezee, David Kramer, Arno Carstens, Jaco Botha - algar oorsponklik van Worcester, almal skrywers van boeke of lirieke waarin 'n sekere weemoed of verslaentheid (defeated nature) omhels en terselfdertyd teen weerstand gebied word.

Soos egter vroeër genoem, is Worcester bloot 'n naam wat aan hierdie gevoel of bestaan (state of being) gegee word. Daar is duisende soortgelyke dorpe en plekke regoor die wêreld - hiervan getuig immers die werk van mense soos Tom Waits en Raymond Carver, om slegs twee te noem.

Om Coetzee se opgeroldekoerant-afjak van die Afrikaanse letterkunde te regverdig, glo ek dat dié letterkunde, soos hy dit onthou, vir hom worcester (spesifiek met 'n kleinletter geskryf) is. Dat gefragmenteerde geheue-inhoude saamgesmelt het. Die gebreekte bierbottel wat dryf in die vrot, grys water van Worcesterdam, het Worcester self geword.

* * *
"From the galaxy of blues, to a universe we choose" - Arno Carstens.

So twee jaar gelede, ook rondom September, lewer ek 'n praatjie by 'n boekklub op Worcester. "In Worcester," vertel ek, "het 'n mens basies vier keuses: drankmisbruik, owerspel, bekering, of 'n kombinasie van hierdie drie."

Ek vertel toe verder die storie van 'n vrou wie se minnaar in die laat 1800's op die dorp, nadat hy aan moord skuldig bevind is, aan die galg gesterf het. Sy, steeds seker van haar liefling se onskuld, het toe 'n pakt met die duiwel aangegaan: sy het met uitgestrekte arms aan die bopunt van Hoogstraat, die hoofstraat, met haar rug na die ou drosdy gaan staan en die dorp vervloek. "This town will never prosper," was haar woorde.

"Maar ons dorp is nie meer so nie," het een bedeesde vroutjie in 'n beblomde bloes en stemmige romp my na die tyd probeer verseker. "Ons het daardie demoon uitgedryf," het sy verder vertel, terwyl sy met 'n stralende gesig na my toe opkyk.

Ek is nou al te lankal uit die dorp uit en kom te selde daar om te weet of dit wat daardie ronde vroutjie aan my vertel het, die waarheid is. Miskien het Worcester bloot in die troebel damwater van my geheue gestagneer en as ek daaraan terugdink, voel ek steeds hoe episodes soos los bottelskerwe aan 'n kaal voet sny en krap.

  •  Hoogstraat, vanwaar die verdoemenis uitgespreek is, op 'n Vrydagaand. Die helder rooi en wit lig van die KFC, en oorkant, Saddles en die Spur. Die dieseldampe van trokke wat verbydreun en die raspergil van 'n straatlopervrou wat "jou ma se poes!" teenoor haar boyfriend gil.
  •  Die wit, voorstedelike huise in Panorama en Riebeeckpark, waar die prokureurs en dokters se kinders woon.
  •  Die spoorweghuise op Hospitaalheuwel, wat ruik na muf linoleum en pyptabak.
  •  Die spoorwegbrug waaronder die treinspoor blink in die laaste lig van 'n leë Saterdag-agtermiddag.
  •  Die ry bloekombome en die sinkheining in die ewige wind langs die tennisbane.
  •  Die jolytaande met 'n dansorkes wat sixties songs speel en suip-tot-jy-kots-partytjies.
  •  En, natuurlik, blye Apostolies wat onder neonligte preek teen cowboyrolprente, in die Gees dans en geen meer begrip het vir die weemoed van hierdie ou wêreld nie.

Dit is die kaart van Worcester in my kop. Dit is die klein glasskerfies wat draai onder die vel; die kurpers wat met geswelde, wit pense uit die vrot, suurstoflose damwater dobber.

  •  Laat Januarie hou die mense steeds skou, met sy mallemeules en biertent, ter fondsinsameling vir die Lions.
  •  Die dorpspolitiek draai steeds rondom besigheidsregte en die monopolie op dranklisensies.
  •  Die Worcesteriete suip, vloek, naai en bid steeds om net in Godsnaam te kan bly vergeet dat hulle in 'n dorp met 'n verslane gees (beaten spirit) woon. 'n Dorp waarin die veilige knusheid van gemiddeldheid en eendersheid besing word.

* * *
"Hoekom blaf daai honde, by die hekke van Paradise?" - David Kramer.

Vir 'n groot deel van my skoolloopbaan het ons in 'n hoë rietdakhuis met krakende houtvloere en skoon meubels in die woonbuurt Langerig gebly. Oorkant die pad, is ek vertel, was die huis waarin David Kramer grootgeword het. Hy het glo laatmiddae op die dak van daardie huis gesit en sing en speel op sy kitaar. Ek het baie aande na daardie huis gekyk en gewonder hoe dit moes gewees het om daar van bo af, bo die benoudheid van die dorp, te sit en musiek maak. Mens sou kon kyk tot ver verby die rugby- en krieketvelde van die laerskool oorkant die pad en mens sou kon asemhaal, het ek gereken.

Ken jou plek en bly daarby, kon maklik die leuse van Worcester gewees het.

Die dorp word reg in die middel verdeel deur Durbanstraat (as ek reg onthou) en daar onder was die kleurlinggebied met sy klein huisies, sy goedkoop klerewinkels en tweedehandsemeubelwinkels, en natuurlik sy twintigtal kroeë.

Zwelethemba, met sy stowwerige hostelle en later ook shacks, lê ver buite die dorp, op die Robertson-pad, en selfs na tien jaar van demokrasie is daardie ongekaarte lyne van die plek steeds in stand.

Maar die kompartemente van Worcester strek veel digter en verder as dié van kleur en klas, wat ook heel algemeen in Suid-Afrika is.

Dis moeilik om te omskryf, hierdie worcester-denkgees, maar dis seker iets soos Hopie-lê, 'n spel wat ons op skool gespeel het. Een groterige kind soek 'n klein enetjie uit en duik hom plat. Dan spring kind na kind, met gewoonlik die heel grootste kind bo-op, op die onderste twee, totdat die heel onderste kind se asem fluit en sy arms swaai soos wat sy bors platgedruk word. Almal doen mee aan hierdie Hopie-lê, want dit is tog pret, en dit is wat kinders veronderstel is om te doen. Almal, selfs die onderste kind, lag wanneer hulle weer opgestaan het. Die onderste kind, steeds uitasem, lag egter slegs omdat hy weet: indien hy gaan huil, gaan die ander kinders weer en weer vir hom kies om onder te lê; solank hy bly lag, het hy 'n kans om hoër op in die hoop te lê - dis hoe dit werk.

Vir die grootmense raak die spel komplekser, maar dit is ook maar steeds 'n gehopie-lê - al verskil is, hieroor kan geskinder word.

"Ag my kind, ons byt maar net vas totdat ons doodgaan," onthou ek die woorde van een spesifieke vrou wat later gekies het om maar uit eie beweging te gaan lê, voordat iemand die kans kan kry om haar plat te duik.

"Snapshots, trauma, dissociation, inheritance, history" - dit is my herinneringe van Worcester.

* * *

Maar tog was daar, tussen al die eensaamheid, leegheid en hardheid, ook een of twee wat soos jy gevoel het:

  •  die mense wat jou voorgestel het aan die rebelse gesteun van Bob Dylan;
  •  die boeke van Breyten Breytenbach, wat nie hoef sin te gemaak het nie, maar bloot mooi was vir jou; en dan ook
  •  die vrou wat jou tussen haar borste getroos het omdat sy dieselfde worcester-troosteloosheid in en om haarself kon voel.

* * *

Worcester lê vandag ver agter my en ek het intussen 'n bietjie gelewe, gereis en asemgehaal. Maar binne die raamwerk van Heisenberg se teorie het dit wat waargeneem is, ook die waarnemer geraak en verander.

Die skrywer hou (on?)bewustelik die kleilaag onder die damvloer van geheue-inhoude in stand. Die weemoed, kleinsieligheid en benoudheid van Worcester word bewaar, sodat dit in tekste opgeroep kan word en teen weerstand gebied word.

So word Worcester dan worcester, 'n woord in die thesaurus van ons beskeie klein letterkunde. 'n Woord wat nie beperk is tot die beskrywing van 'n klomp dorpenaars nie, maar 'n woord wat die sielloosheid van 'n groep New Yorkse makelaars, sowel as die klein akademiese wêreld binne 'n taaldepartement by Oxford, kan omskrywe. Die Afrikaanse letterkunde; die muesli-mengsel van 'n groep driekampatlete; 'n week in die lewe van 'n label-queen - dit alles kan "worcester" wees, en dis waarteen die literêre teks sal bly weerstand bied, ter verruiming van die menslike gees. Amen!



Works by the author:

Sweisbril In Drie Riviere
Sweisbril (pictured left)

<< Back to all authors <<


LitNet: 7 October 2004

Have your say! Send your feedback to nelleke@yebo.co.za.


boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.