Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Vicky Davis
Vicky Davis
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    As jy blind is, hoe weet jy watter show om te kyk?

    Vicky Davis* gooi 'n jong kunstenaar se blik

    Skemer het begin sak toe ek duskant Soweto trek. Van Potchefstroom is Johannesburg so bietjie meer as 'n honderd kilometer. Dit was Vrydagmiddag, ek het die dag af gehad op stel en was na dié dorpie toe om feesadministrasie uit te sorteer. Aardklop-administrasie. (Eintlik het ek gaan scrap koop by die eienaar van die skrootwerf, wat ook as venue dien vir een van ons vertonings, 'n site-specific postapokaliptiese vermaaklikheid in vyf tonele, maar dít is 'n ander essay …)

    Toe val dit my by: Aardklop op Potchefstroom, KKNK op Oudtshoorn, National Arts Festival op Grahamstown, Volksbladfees in Bloemfontein, Gariep Kunstefees in Kimberley, Kalfiefees op Hermanus, Suidoosterfees op die Kaapse Vlakte, North Sea Jazz Festival in Kaapstad, Arts Alive Festival in Johannesburg, Stokkiesdraaifees op Wellington, Oesterfees op Knysna, Biltongfees op Somerset-Oos, Vleisfees op Calvinia, Portfees op Calitzdorp, Loeriefees op Knysna, Mieliefees op Frankfort, Hibiscusfees op Margate, Sterrewagfees op Sutherland, Woordfees op Stellenbosch, Klerksdorpfees, Langklooffees, Oppikoppi, Logan-toneelfees op Fraserburg, Sjokoladefees op Franschhoek, Obs Festival in Observatory, Mangofees aan die Natalse Suidkus, Cederbergfees op Clanwilliam, Cape Town Festival, Jakarandafees in Pretoria, Klip in die Bos op Nelspruit, ens, ens, ens. Selfs in Londen hou Suid-Afrikaners fees met die UKkasiefees en tot Namibië volg die voorbeeld met die Windhoekfees.

    Suid-Afrikaners hou van feesvier.

    En dis tog normaal. Die fees of karnaval is 'n verskynsel wat deur die eeue in verskeie kulture 'n tradisie was en is - in Antieke Griekeland, Middeleeuse Engeland, en hedendaagse Brasilië, New Orleans, noem maar op. Volgens die Russiese denker Mikhail Bahktin is die karnaval 'n viering van wanorde wat 'n teenstrydige en radikale kultuur teenoor die wetgewing en gebruike van die dag kon laat posvat. Hy verduidelik in Rabelais and his World (1968):

    Carnival is not a spectacle seen by the people; they live in it, and everyone participates because its very idea embraces all the people. While carnival lasts, there is no other life outside it. During carnival time life is subject only to its laws, that is, the laws of its own freedom. It has a universal spirit; it is a special condition of the entire world, of the world's revival and renewal, in which all take part. Such is the essence of carnival, vividly felt by all its participants. They are fed by the same idea of renewal and the need to escape from the usual official way of life.

    By Gordonweg tref ek die laaste stuiptrekkings van die Vrydagmiddagse Jo'burg-verkeer. 'n Ongeluk iewers voor. Mens sien baie ongelukke in Johannesburg - hier is almal haastig - maar vanmiddag gaan ons lank sit. Ek mis die Kaap en ek mis die reën.

    Ek begin in my gedagtes 'n budget saamsnoer. Ons geselskap is 'n som geld deur Aardklop gegee om twee produksies op die been te bring. Dís natuurlik enige lid van 'n produksiehuis se droom, maar ná vervoer, verblyf en (minimale) salarisse bly daar maar min oor om mee te woeker. Vreemd, hierdie kultuur waarbinne ons vasgevang is: ons trek soos nomades van fees na fees, met 'n handvol spelers en 'n bakkievrag stel.

    Prof Louise Viljoen van die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verduidelik die verskyning van Bakhtin se karnaval binne 'n gemeenskap as die geleentheid vir mense om hulself tydelik te bevry van die gesag van die vernaamste magsliggame van daardie tyd, die Kerk en die Staat. Dit was 'n geleentheid om die gewone orde totaal en al om te keer: range, norme, voorregte, dogmas, gebooie en verordeninge is in so 'n mate opgehef dat die gewone mens by wyse van spreke die gesag van die koning of die pous kon uitdaag deur letterlik sy stert vir hulle te wys. Dit was 'n geleentheid waar die monoloog wat vir die res van die jaar deur die Kerk en die Staat gevoer is, op vreugdevolle wyse uitgedaag kon word deur 'n roesemoes van verskillende stemme en deur 'n oneerbiedige gelag. Dit was dus 'n geleentheid vir gevestigde grense om oorgesteek te word en vir verstarring om teengewerk te word.

    Dis dus 'n grensoorskryding, 'n proses van groei en wording. Waaruit het hierdie smagting na venuwing en wanorde, 'n fees - Bakhtin se karnaval - tien jaar gelede ontstaan toe die KKNK begin het? In dié jaar toe Oppikoppie, die bekende Afrikaanse Rockfees, ook ontstaan het?

    Om die ontstaan van die feesverskynsel te probeer begryp, moet daar gekyk word na die omstandighede van die toneelwêreld in die jare tagtig en vroeg negentig. Tussen 1990 en 1996 (en na 1994 se nuwe bedeling) het 'n menigte dinge in die struktuur waarmee daar met die kunste omgegaan is, verander: die verskyning van die "White Paper on Arts and Culture" het bepaal dat die streeksrade, soos KRUIK, TRUK en NARUK, vervang moes word deur 'n National Arts Council (NAC), en in 1996 en die jare daarna is die befondsing van dié raad ingeperk tot slegs skraal regeringsteun. Dit het onder uitvoerende kunstenaars en produksiehuise ernstige kommer gewek: die vraag het ontstaan of daar genoeg werk beskikbaar sou wees om aan die lewe te bly. Prof Temple Hauptfleish verduidelik in sy boek Theatre and Society: "There is as yet no clear social, political, economical structure to serve, the cultural milieu is in a high state of flux and artists are free and/or floundering, seeking their way."

    PAWE, die National Performing Arts Workers Equity, moes dringend begin aandag gee aan die onstabiele posisie waarin sy lede hulself bevind het. Binne dié nuwe struktuur het 'n behoefte ontstaan om 'n tipe status quo te bewerkstellig, veral onder die Afrikaanssprekendes, aangedryf deur hul vrees dat die Afrikaanse taal en kultuur binne die nuwe bedeling en die bevestiging van elf nationale tale verswelg sou word deur die meer dominante Engels. Vergaderings tussen die NAC en die Stigting vir Afrikaans het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees tot gevolg gehad, wat die eerste keer in 1995 gehou is.

    Hel, dit was seker 'n exciting tyd, en scary …

    Die verkeer begin beweeg; dit lyk of die ongeluk opgeklaar is. Ek mag dalk nog steeds my vriend se show in Houghton maak vanaand - hy sing en speel klavier. Musiekvertonings, pantomimes en dansproduksies in kasino's is al wat jy in dié stad te sien kry.

    Eindelik is ek by die huis. Ek drink 'n glas water en skakel die rekenaar aan. Ek loer na die KKNK se webblad.

    The Klein Karoo National Arts Festival originated from an idea that was formulated between a businessman from Oudtshoorn, Nic Barrow, and a former public relations manager for Naspers, Andrew Marais. After the first festival in 1995, it was obvious that the people of South Africa had a need for an independent arts festival which gives each South African a platform to perform while at the same time ridding them of baggage from the past.

    Die feeste kom al 'n lang pad. Die KKNK se omvang het in 1996, wat besoekers en deelnemers betref, verdriedubbel en die fees het begin meeding met die Grahamstown National Arts Festival om die kroon as die grootste kunstefees in Suid-Afrika. Ek lees verder:

    Over the eight days of the Klein Karoo National Arts Festival it attracts about 1 000 artists in approximately 200 productions and exhibitions. Since its conception in1994, there has been an emphasis on the overall experience. Visitors are impressed not only by the best artistic productions, but also by the unique food, wine and tourists attractions of this region.

    Ticket sales prove that the Klein Karoo National Arts Festival is the biggest South African arts festival at present. The KKNK is known within the entertainment industry as a testing ground for new productions, which are then performed elsewhere in South Africa during the rest of the year.

    'n Gevolg van die groeiende sukses van die KKNK is 'n circuit van feeste wat herinner aan iets soos die ATP Tennistoer, waartydens kunstenaars jaar in jaar uit van een dorp na die ander skarrel. (Shit, dit herinner my dat aansoeke vir KKNK 2005 reeds 31 Augustus vanjaar moet in wees; my kop is so vol van Aardklop dat ek nog skaars begin dink het daaraan!)

    Daar kan egter nie aanvaar word dat die verskynsel van die fees of karnaval vandag by uitstek die broeiplek van "groei en wording" is, soos Bakhtin dit sou wou gehad het nie. Veral binne 'n komplekse, multikulturele samelewing soos Suid-Afrika moet daar ondersoek ingestel word na watter implikasies dié feeskultuur op die opheffing van die kunste het, oorspronklik juis die rede waarom dit ontstaan het. Want dis nou tien jaar later, tien jaar van demokrasie later. Het die fees aangehou om die sosiale orde van die dag uit te daag en omver te werp? Of het die fees 'n instelling en establishment geraak, net so eksklusief soos die eksklusiwiteit waarvoor dit bang was, wat Afrikaans sou versmoor, in 1994? Hits die feeste steeds 'n proses van groei aan, en indien wel, in watter rigting en tot wie se voordeel? Is die fees besig met 'n isolasiebeleid wat ons ons eie lug laat inasem tot die punt waar ons versmoor, want ons het lankal ons eie suurstof opgebruik? Watter invloed het die feesverskynsel op die kunstenaar wat binne so 'n struktuur beide moet skep en oorleef?

    Een ding wat wel uitstaan, is die feit dat die meeste groot feeste eksklusief is, origens Afrikaans en origens wit. Wanneer daar gekyk word na die aard van die fees op Grahamstad, is dit duidelik dat dit kultureel meer inklusief is as die oorwegend Afrikaanse feeste. Die Mail & Guardian koerant bied die volgende indrukke van vanjaar se fees:

    In Grahamstown, one can experience the infinite variety of the South African arts scene. With its many peoples, the country has been enriched by many influences - in broad terms, African, Western and Asian - and the result is a cultural tapestry. And the blending of different strains has spawned some fascinating hybrids, among them African operas, crossover music and emerging dance styles.

    Dis alles goed en wel, maar sommmige kunstenaars slaan juis munt uit eksklusiewe teikengehore en mag dalk vind dat hul gehore by 'n wyer, inklusiewer fees, dun gesaai is. Wat my egter bekommer binne dié eksklusiewe feesbeleid is: Wie bepaal die rigting waarin kuns ontwikkel? Is die kunstenaars nie besig om hul produkte aan te pas by wat hulle dink die gehoor van sal hou nie, om so 'n vol saal te trek en genoeg geld te maak om te hou tot die volgende fees, eerder as om vir die gehoor 'n produk te bied wat van artistieke waarde is? Ewe skielik voer almal vulgêre komedies op, almal wil 'n Afrikaanse ligtemusieksanger wees, maar die ernstige dramas en sosiaal uitdagende werke speel voor leë sale. Die kunstenaars wil nie meer waag nie, want die gehoor wil nie waag nie.

    Gabriël Bothma, kunsredakteur van Die Burger, voel juis die fokus van die feeste het verskuif van kuns na voedsel en drank en dat toneel maar agtergrondvermaak geraak het:

    Intussen het die "kunstefeeste" opelug-kroeë en -restaurante geword waarin "kuier" die botoon voer. En selfs ernstige, talentvolle kunstenaars knyp maar deesdae die oë toe en mik hul produksies op die grootste gemene deler. By gebrek daaraan, soos tans duidelik die geval is, het 'n dringende situasie ontstaan waarin 'n paradigma-skuif uit kunsgeledere nodig is. Waarin weer hard en duidelik verklaar sal moet word: "Ons is nie almal só nie."

    Hoewel dié feeste ongetwyfeld steeds 'n uiters toeganklike platform vir kunstenaars - veral jong ontluikende talent - en kultuurvrate is om te deel in die kunste, moet daar ook gekyk word na wat die implikasies is van so 'n kunstefees-circuit is.

    Die kenners het almal hul eie persoonlike probleme met die feesverskynsel. Die volgende menings vind ek op die internet:

  • Nelleke de Jager, uitgewer: Dis 'n boerebasaar vir die hele gesin, en 'n platform vir gevestigde Afrikaanse kunstenaars wat nie te gewaagde streke op die verhoog uithaal nie. Kom hy/sy na die fees weens 'n liefde vir kuns en kultuur, of om Afrikaanse kunstenaars te ondersteun, in Afrikaans bedien te word en heeldag braaivleis te eet?

  • Erns Grundling, joernalis: Is jy gereed vir Aardklop, liewe leser? Of is jy bloot hier vir die heilige drie-eenheid van braaivleis, brannas en bier? Trek ons laer of boer ons vooruit?

  • Franz Marx, akteur en regisseur: Tans is dit die dood in die pot vir Afrikaanse kunstenaars. Ek het self deelgeneem aan kunstefeeste. As 'n mens dink aan hoeveel geld deur daardie dorpe loop ... na tien jaar is daar by die KKNK se grootste teater steeds nie 'n spieël waarin 'n kunstenaar sy gesig kan sien nie. Dit is misbruik en gróót misbruik.

    Uit dié enkele perspektiewe is daar duidelik 'n paar probleme wat rondom die feesverskynsel opduik. Dit het as 't ware 'n sneeubal-effek gehad: die KKNK is baie suksesvol en bars uit sy nate, maar kos en drank word al hoe meer gewild en die belangstelling in die teater groei nie teen dieselfde tempo nie. Weens dié sukses het ander feeste ontstaan om in die sukses te deel. Nou bevind akteurs en teatermakers hulself in 'n patroon: hulle swoeg van een fees na die ander, skep tekste en toneelstukke teen die spoed van lig, kners maar op die tande in die tyd tussen feeste en maak jaarliks net genoeg om die volgende jaar dieselfde te doen. Die teaters in die stede, wat in elk geval nie goed bygewoon word nie, word net leër, want as daar nie 'n hele feeservaring met die toneel saamgaan nie, is dit nie die moeite werd nie.

    Die feit dat geselskappe van een fees na die ander trek met 'n bakkievrag vol dekor, veroorsaak dat al hoe minder kreatiwiteit ten opsigte van ontwerp aan die dag gelê kan word. Die Suid-Afrikaanse teater word gekenmerk deur sy eenvoudige stelontwerp, want die stel moet goedkoop en maklik vervoerbaar wees. Stelle moet binne 'n uur by 'n venue in en uit voor die volgende vertoning tydelik tuis word in dieselfde venue.

    Ook word akteurs gedwing om binne enkele weke 'n produksie op die planke te sit. Dis nie meer moontlik om drie maande aan 'n toneelstuk te repeteer nie, want in daardie tyd moes aansoeke vir die volgende fees al in wees. Die teater kry nie tyd of kans om te eksperimenteer nie; slegs nog op tersiêre vlak het studente geleentheid om sulke lang tydperke aan een stuk werk af te staan.

    Vir my as jong kunstenaar wat in dié opset werk, was die natuurlike stap om na universiteit saam met van my tydgenote 'n produksiehuis te stig, om vir mekaar die geleentheid te bied om self werk te skep, om sodoende besig te bly, onafhanklik van die onstabiele teaterbedryf. Ons kan georganiseerde, innoverende teater skep.

    Tart 'n Koggel Produksies bestaan uit ses lede: die akteurs Neels van Jaarsveld en Anneke Senekal; verhoogbestuurder en regisseur Lindy Downing; skrywer Tertius Kapp; rekenmeester KO Louw, en ek. Dis nou maar eenmaal 'n realiteit dat jy as teaterwerker nie 'n bestaan daaruit kan maak nie, en Tart 'n Koggel het dit ten doel om tussen die ses van ons altyd iets aan die gang te hou, al is die res dalk besig met ander loopbane of projekte. In 'n ideale wêreld sou ons natuurlik al ons energie in ons projekte wou sit, en nie 'n honderd dinge gelyk doen nie.

    Dan is daar natuurlik die probleem van bywoning - 'n groot aantal feesgangers geniet slegs die voedsel-en-drank-fees of die gratis opelug-musiekteaters. Die kunste is dus in 'n tipe Catch-22-situasie, want sonder die feeste sal die teater nie meer groei nie, maar ook binne die feeste groei die teater nie na wense nie. Moet ons maar net standaarde verlaag en ten minste bly wees daar's nog vol teaters, al is die stelle saai en die tekste oorwegend verbruikersvriendelik? Is ons so desperaat om ons passie vir die kunste te laat voortleef?

    Suid-Afrika het nie 'n teaterkultuur nie. Dís duidelik as daar gekyk word hoeveel toeskouers die rugbypawiljoene volsit in vergelyking met die operahuise. En niemand kan enige feesganger dwing om teater toe te gaan as hy nie wil nie, en niemand kan hom voorsê wat om te gaan sien nie.

    Doks Briers, organiseerder van die Volksbladfees in Bloemfontein, sien die situasie so:

    As jy jouself vir 'n kunstefees uitgee, moet jy onthou jy praat van daardie vier persent wat 'n baie spesifieke belangstelling en waardering het. By ons fees het jy 1 400 mense wat opdaag by Theuns Jordaan en 40 by 'n harp-ensemble. Maar dit is baie belangrik dat jou kunstefees voorsiening maak vir daardie ernstiger feesganger. Om hierdie balans te kan hê, moet jy egter iewers geld inbring.

    Maar tog sê my ervaring vir my gehore is buigsaam en selfs die mees bierbehepte boerseun kan nie onaangeraak bly deur uitdagende toneelervarings nie. My eie deelname aan die KKNK en Aardklop in 2003, en die KKNK in 2004, het my geleer gehore is verbasend oop vir nuwe, vreemde konsepte. Ons performance art vertoning As jy blind is hoe weet jy wanneer om jou sigaret te ash? (in 2003) was 'n uiters eksperimentele stuk waartydens die gehoor geblinddoek word. Die poster was misleidend en uitdagend suggestief. Ook in 2004 was ons site-specific spookhuistoneelstuk De familie Wagenaer uitverkoop, en die gehoor moes in die laatnag nege kilometer na 'n afgeleë plaashuis ry om dit te beleef. En sedert 2004 is daar op die KKNK-inskrywingsvorms 'n ekstra hofie waarin jy jou produksie kan inskryf as "gebeure" (happenings). Die gehoor het dalk nou nie ingesien dat dit die tradisionele konvensies van teater en toneelspel uitdaag en iets rewolusionêrs in Afikaans is nie, maar hel, ten minste het hulle dit geniet!

    Die vraag is egter hoe lank ons nog gehore moet uitoorlê met oulike trekpleisters soos spookhuise en suggestiewe posters voor ons ernstig opgeneem gaan word en nie net verdwyn in die dronk massa van die feesgees as nog 'n oulike show nie. Feesgangers moet ingelig en opgehef word; sodoende kan 'n liefde vir toneel gekweek word. Om 'n hunkering na teater van hoë gehalte by feesgangers te kweek, is 'n lang leerproses en die feeskomitees moet handjie bysit met kundige besluite oor watter stukke wel toegelaat word. Hulle moet besef watter hewige verantwoordelikheid hulle vir die opvoeding van die feesganger het. Feesgangers het reeds hul hand uitgereik; hulle moet in die regte rigting gelei word, of ten minste moet daar aan hulle opsies gebied word. Deur meer eksperimentele toneel toe te laat by die feeste, kan jy meer belangstelling daarvoor kweek. Hopelik kan jy Afrikaanse gehore geleidelik ook bekend stel aan werk uit ander kulture.

    En daarvoor is geld nodig, sodat organiseerders en kunstenaars genoeg het om van te lewe in die sewe maer jare voor die sewe vet jare volg. Ek dink aan die gesprek wat ek vroeër vandag met een van die organiseerders op Potch gehad het: dat een van die hoofborge twee keer soveel geld aan "branding" by die fees spandeer as wat hulle aan Aardklop geskenk het. Dalk moet feeste suksesvolle stukke begin uitruil of oor en weer nooi om so diversiteit aan te moedig. (Ek sien byvoorbeeld Aardklop het vanjaar 'n fantastiese jazzfees.) Dalk sal die duidelike rasse-segregasie wat by die feeste kop uitsteek, op dié manier oorkom word. Meer Afrikaanssprekendes sal Grahamstad toe gaan en meer Xhosa- of Zoeloesprekendes na die KKNK.

    Marthinus Basson, teaterveteraan en bekroonde regisseur, bied nog oplossings:

    Maar ek dink as 'n mens bietjie verder kon dink as die feeste, of meer gereeld die feeste kon rondskuif, daar meer van die topproduksies van die feeste kon rondbeweeg deur die land, sou 'n mens definitief weer 'n gehoor kon opbou. Dan kan jy die fees gebruik as 'n goeie bemarkingspunt, waar status gebou word. Ek wonder net of die kunstefeeste weet daar's 'n enorme verantwoordelikheid teenoor die kunste. Hulle speel 'n verskriklike belangrike rol in die oorlewing van dit wat oorgebly het. Ek dink hulle behoort meer saam te dink en ek dink daar behoort nog feeste te kom: in Pretoria, Stellenbosch of Kaapstad en Durban. Hulle behoort saam te dink en topproduksies rond te skuif, landwyd.

    Daar word baie oor die fees-problematiek gespekuleer, oor die sogenaamde take-away-teater, en die feeskomitees wat byna die funksie van die destydse streeksrade vervang het. Maar steeds bly die feit staan: indien meer fondse beskikbaar gestel word aan die kunste, kan feeste beter georganiseer word, kan meer tyd en navorsing in 'n projek gepomp word, kan die gehalte hoër wees. Ook kan toneelstukke dan meer uitspattig ontwerp word, kan stadsteaters beter bemark en bestuur word, en kan mense beter opgelei word. Die gevolg: die teater sou sy skoene in die samelewing kon volstaan, as 'n medium wat vermaak, opvoed, bevraagteken en ontroer.

    Onafhanklike organisasies soos PANSA (Performing Artists' Network of South Africa) is hard aan die baklei hiervoor. In sy jaarlikse verslag word op die volgende gewys:

    PANSA organised a petition, wrote letters to the Dept. of Arts and Culture (DAC), made submissions to the Portfolio Committee in parliament, engaged the Public Protector and wrote an open letter to the Minister that successfully resulted in the release of funding for performing arts companies without numerous conditions being enforced. PANSA also undertook an in-depth analysis of the DAC's 2002/3 budget for the parliamentary portfolio committee that showed the steady decline in arts funding. Funding improved slightly in 2003/4 (pansa@artslink.co.za).

    Maar voor sukses in dié verband behaal kan word - indien dit ooit gebeur - moet die feeskomitees van die verskillende feeste koppe bymekaar sit om 'n visie vir die uitvoerende kunste in Suid-Afrika te skep - 'n toekomsgerigte, inklusiewe visie waarbinne die problematiek rondom die feeskultuur aandag kan geniet en daar geluister kan word na die behoeftes van die kunstenaar. Indien daar nie verantwoordelikheid aanvaar en saamgewerk word nie, loop Suid-Afrika die risiko om 'n magdom talent en kreatiwiteit te verloor, en so ook 'n spreekbuis waardeur die samelewing uitgedaag, gevier en geroer kan word.

    My selfoon lui. Ek antwoord: "Hallo?"

    "Hi, Tertius hier. Hoor hier: slegte nuus. Nicola is nie meer beskikbaar vir Skroothonde nie. Sy't 'n rol in een of ander TV-reeks gekry, hulle betaal tien keer soveel as wat ons haar kan gee. Luister, ek stel voor jy maak dubbeld seker dat jy kan afkry daardie week en hoor by Neels of hy die movie gekry het. Anders is ons nou regtig in die pekel."

    My gedagtes dwaal weer terug na die opgewonde gesig van die scrapyard-eienaar se vrou vroeër vanmiddag: Sy's baie in haar skik dat daar 'n show op hulle grond gehou gaan word; sy het selfs die teks gelees. Sy en haar man is albei vol kreatiewe idees vir ons stel. Dalk is dit die goeie ding van die fees: dit bring die kunste nader aan die mense. Ek twyfel of die paartjie sommer sal uitry Markteater toe op 'n Saterdagaand. 'n Gehoor aan die ontwikkel.

    Maar as die feeste dit nie finansieel meer die moeite werd maak vir die kunstenaars nie, sal hulle vind dat televisie en die filmbedryf - of die blote praktyk daarbuite - die stemme van die nasie, jonk en gevestig, opslurp tot daar net die dun gesang van 'n Afrikaanse javel se ligte weergawe van "Die Stem" uit 'n wyntent opklink - en 'n fees van toneel van gemiddelde gehalte agterbly. En dalk het die scrapyard-eienaar nie meer 'n show op sy grond om oor te spog nie.

    Ek sluit af met 'n aanhaling van Louise Viljoen oor Mikhail Bahktin se teorie:

    Dit is veral triestig wanneer die feeste se uitspattigheid lei tot verstarring en die bevestiging van bestaande denkpatrone eerder as die positiewe oorskryding van grense. Ironies gebeur dit dikwels dat die karnavalgees by feeste die monoloog van middelmatigheid en selftevredenheid bevorder waarbinne daar gerieflik binne die grense van die eie kraal geploeter word sonder 'n oomblik se nadenke of erkenning van dit wat ook anderkant daardie grense lê. Kuns en fees behoort dus nie sulke uiteenlopende begrippe te wees nie.

    Ditsem.

    "Hallo, is jy nog daar?" vra Tertius.

    "'Skuus, ja. Ons sal seker OK wees. Daar's altyd 'n desperate aktrise daar buite wat die rol sal vat. Luister, bel jou later."

    Ek het 'n show om te gaan kyk en proposals om te skryf.







    *Vicky Davis (1981-10-19) is 'n vryskut TV-, film- en teateraktrise en hou haar lyf ook soms joernalis en skrywer. In 2002 ontvang sy haar B.A. (Drama)-graad en in 2004 'n honneursgraad in Drama (Regie) met Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch (US). In 2003 ontvang sy die Fleur du Cap-toekenning vir die mees belowende student. Sy word ook daardie jaar as beste aktrise aan die US aangewys. Sy is een van die stigterslede van Tart 'n Koggel Produksies en was al in verskeie produksies by die KKNK, Aardklop en op Grahamstad te sien. Sy is ook bekend vir haar rol in e.tv se reeks Backstage. Sy is tans besig met 'n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die US. Sy behartig sedert 2003 LitNet se KennisgewingBord-ruimte.



    LitNet: 6 Oktober 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.