Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Martie Meiring
Martie Meiring
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Sekulêre nagmaal vir die Afrikanergees

    Martie Meiring* besin oor die verlede en die toekoms van die kunstefees

    Kunstefeeste soos ons hulle nou ken, is eintlik 'n fenomeen van na die Tweede Wêreldoorlog. Die legende lui dat Rudolf Bing (stigter van die Glyndebourne-operafees, en ook later die formidabele direkteur van die Metropolitan Opera) in 1947 in Edinburgh saam met vriende geloop het toe dit hom tref: Edinburgh lê, soos Salzburg, op 'n heuwel. Ergo, 'n goeie plek vir 'n fees! 'n Tipiese na-oorlogse gedagte. Bring besinning en vreugde terug na 'n stukkende wêreld.

    Kort daarna ontstaan 'n tweede fees. Die Australiërs is beskaamd oor wat hulle hul "cringe culture" noem en so word Oz wakker en Perth bly vandag een van die leidende feeste soos sy ouer Skotse boetie. Kunstenaars is eintlik kuddediere en soos van ouds vorm en woel groeperinge, en knip jy jou oë, is daar nog 'n fees! Kyk maar na die VSA - sit 'n saksofoon en 'n orrel bymekaar en jy't 'n fees.

    Selfs hier te lande begin alle bobbejaantjies hande klap en onvermydelik begin die saamtrek (ewe onvermydelik ook, soms 'n laertrek); soort soek soort en gou is daar 'n groot fees. Verskillende impetusse begin gis: toerisme, taal, kultuur, "iets" om aandag te trek.

    So, op 'n aand, soos die verhaal nou reeds oorbekend is, sit Andrew Marais (toe reeds 'n bedrewe kunstenaarsvriend deur vele opdragte wat hy al as skakelhoof van die Stellenbosse Boerewynmakery gegee het) op Oudtshoorn saam met sy vriend, prokureur en stormvoël Nic Barrow, en wonder - oor glasies natuurlik: Wat nou met Oudtshoorn? Marais had dadelik die antwoord. En hy lei Nasionale Pers (waar hy toe skakelhoof was) as hoofborg in die stuwende wêreld van die kunste in. Die kunstefees word nou 'n allegaartjie van al die genres en dit gee ook die beslag vir die latere Aardklop en nou weer Innibos van Nelspruit.

    Die res is geskiedenis: vanjaar het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees sy tiende jaar gevier. Dit het ongetwyfeld 'n soort sekulêre nagmaal vir die Afrikanergees geword. Bitterbekkig is die fees ook al 'n boerebasaar genoem.

    Vroeër reeds het Grahamstad die Engelse deel van Suid-Afrika bedien toe die Setlaargeskiedenis met kunste gedenk is; vanjaar vier dié fees sy dertigste verjaardag. Met die koms van die demokrasie lyk dit half of Afrikaans in die knyp gaan kom nadat al die gawes en gunste van 'n erge nasionalistiese regime verdwyn het en so word Aardklop in 1997 - ook oor drankies - gebore; die eerste voorsitter, Niel van Heerden, bestempel dit elegant as 'n fees wat uit huis uit Afrikaans is met deure wyd na buite. Aanvanklik het die KKNK nie van die upstart in die Noorde gehou nie, maar kunstebloed seëvier altyd en nou is daar sinergie tussen die groepe.

    Die nasionale taaloudit het gaan soek en veertien Afrikaansgerigte kunstefeeste in die land getel. Die honderde ander feeste wat toevallig Afrikaans praat, is nisfeeste. Enigiets van mampoer tot snoek vra vir 'n fees, en dorpe dink: "Aha, lok ander mense hierheen sodat geld hier kan inrol", en dis presies wat gebeur.

    So het 'n reisende falanks vlytwerkers begin om van dorp tot dorp, fees tot fees te reis en om tent op te slaan, en hulle het in die proses danig suksesvol geraak. (Wat is 'n kunstefees sonder sy vlooimark? Vra wel!)

    Ook het die akteurs, sangers, spelers en enigiemand wat wil vermaak of perform of homself wil bekendstel, die kunstefeesroete begin volg. 'n Volkskultuur ontstaan met sy eie organiese dryfkrag en wat, wolens nolens, 'n nuwe slagveld bied vir elke denkbare denkrigting in 'n land met sulke ekstreme gevoelens.

    Die selfaangestelde wagters op die mure, die suurpruime, die werklik besorgdes, sien dinge soos losbandigheid raak. (Wat anders het Woodstock vir die wêreld voorspel: by die kunste kry jy die luste!) Daar's dié wat sonde ruik, naaktheid op verhoë, sies! Vloekery, sies! Spotterny, sies! En klokslag sien mense te min swart onder die wit, o sonde! Die debat stoei oor hoekom kan "meisie meisie"-sangers nie dieselfde eerbied (dws groot, toegeruste teaters) kry as diegene wat toeka se musiek sing nie? Hoe is dit dat die volk se sogenaamde lieflinge met swaaiende haardosse nie kans kry op die kunstefeeste nie? Is die een se backtracks en die ander se (lewende) orkes ewe veel werd?

    Die pluspunt is duidelik dat kunstefeeste 'n nuwe energie losgewoel het in die kunste. Die minuspunt is juis dat die energie dikwels te vlak, te vervlietend, te minderwaardig is.

    Desnieteenstaande is kunstefeeste die toonvenster van die kunste. En dit het 'n nuwe ekonomie ontgin. 'n Bedryf ontstaan waarin vermaaklikheid, kunstenaarskap, skeppende werk en innoverende denke inderwaarheid beloon en ook ontwikkel word. Die plekke waar fees gehou word, baat; alle deelnemers baat, en die bedryf berus hoofsaaklik op twee bene: borgskappe en kaartjie-inkomste. Feitlik alle kunstebesture is niewinsgewend. Wel is bevind dat sommige feeste op aanvanklike belegging aansienlike omset vir die plaaslike bedryf voorsien. Die kunstenaars verdien die meeste geld uit die begroting; die tegniese personeel en ander, dikwels tydelike werkers, verdien ook.

    Daar word bereken dat sowat 46 persent van die totale begroting aan die program bestee word. Hiervan word ongeveer 80 persent aan kunstenaars uitbetaal. Hierdie syfers wissel geweldig, maar feit is dat die kunstefees self as belegging aansienlike werkverskaffing en derhalwe inkomste bied. (Aardklop genereer op 'n belegging van R11 miljoen net oor die R50 miljoen - hier baat die dorp deur dienste die meeste.)

    Kunstefeeste is egter nie konglomerate nie. Hulle leef op die genade van borgskappe, wat weer op die genade van die publiek se getrouheid aan daardie borge se handelsmerke berus (en natuurlik om nuwe klante te werf). Hierdie borge wil toenemend gesien word as deel van die ontwikkeling van die nuwe demokrasie, en daarom word feitlik elke aansoek om geld voorsien van 'n ontwikkelingsprogram.

    Maar die krane word yler.

    Die tameletjie ontstaan: Waar kom die owerheid, te wete die regering, in die prentjie? Gedenk sport en die energie en geld wat daar bestee word, kom uit owerheidsbron. Die kunste is inderwaarheid oor die afgelope tien jaar skandalig deur die owerheid bedien, deels uit eie ongeorganiseerdheid. Maar die ministerie van kuns, kultuur en wetenskap onder die vorige minister, Ben Ngubane, was 'n tandelose en slapende ou hond. Dit het die onvermoeide aktivisme van Mike van Graan (die naaste aan 'n Zackie Achmat wat die kunste het) gekos om, ook deur PANSA (Performing Arts Network of SA) uiteindelik die parlement te kry om te luister. Die NAC (National Arts Council) het in omstredenheid en futloosheid verval en onlangs eers is daar, na baie maande, lewe daar bespeur. Die Nasionale Lotery (onder die minsiterie van handel en nywerheid) het 'n opdrag om geld aan die kunste te gee. Dit gebeur op lukrake manier, hoewel ingewikkelde vorms ingevul moet word.

    'n Nuwe minister, dr Pallo Jordan, bring hoop - is dit omdat iemand daarna omgesien het dat hy werklik vir sy eie kaartjies by 'n teater betaal?

    Duidelik moet 'n nasionale beleid vir befondsing vanuit die staatskas beplan word. Duidelik ook moet die befondsing nie voorskriftelik wees nie, behalwe die aanvaarde vereiste vir ontwikkleing. En duidelik moet die kunste self groter energie, bekwaamheid in bestuur ontwikel.

    Die pad vorentoe vir kunstefeeste kan alleen lewensvatbaar word as daar byvoorbeeld regte teaters by kunstefeeste beskikbaar sal wees, as nou gelet word op werklike innovering in die kunste en as daar werklike opleiding plaasvind. Ook moet Suid-Afrika sy blik na buite rig. As die kunstefeeste inhoud wil hê, moet van daardie inhoud ook uitgevoer word. 'n Land waar groot werke soos Mamma Medea (al is dit 'n vertaalde werk) en Breyten Breytenbach se moderne stukke aangebied kan word, is beslis 'n land wat kan kyk om op internasionale vlak te geld. (Inderdaad was en is daar staatshulp vir sommige produksies, verstaanbaar "swart" produksies, want die doel is immers om Afrika te "showcase". En hier lê die uitdaging vir wit Suid-Afrika: om sy Suid-Afrikaansheid in die kunste so uit te leef dat dit ook 'n uitvoerproduk kan word.)

    Dit gaan kos dat kunstefeeste nie net gemik is daarop om die publiek te plesier nie, maar ook om die publiek en die kunste self te toets, te ontstel, in te lig, te vermaak en bowenal nie net toegang nie, maar ook verleiding tot die kunste te gee.







    *Martie Meiring is 'n bekende joernalis en rubriekskrywer. Sy dien op die direksies van die Suidoosterfees en die Aardklop Nasionale Kunstefees.



    LitNet: 27 September 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.