Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Karen Meiring
Karen Meiring
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klassieke Klanke: Chinese tenoor op CD
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Mozart 'n Tourette-lyer
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Hooibale gaandeweg minder

    Karen Meiring praat glashelder namens die KKNK

    Kunstefeeste en teater is twee van die spesies binne die genus kunste, wat stam uit die familie kultuur. Dié familie behoort tot die orde geestesgoedere, afdeling Suid-Afrikaanse nasie.

    Kultuur is op sigself 'n komplekse familie. Lede kan mekaar nie kies nie, en almal hou nie noodwendig van al hul verwante nie. Almal is nie ewe vermoënd of ewe gesofistikeerd nie. Voeg nou nog hierby die uitdaging van harmonieuse samesyn tussen 'n verskeidenheid families en die tale wat hul praat …

    Die politieke omwenteling van 1994 het noodwendig veel verder gestrek as nuwe, donkerder gesigte in die parlement. Die jong demokrasie het stelselmatig begin om die jukke van verdrukking, van miskenning en van bevoorregting van 'n minderheid af te gooi. Nuwe agendas was op die tafel: ekonomiese groei, verligting van armoede, uitbreiding van dienste, herstrukturering van onderwys, die bekamping van MIV/Vigs, swart bemagtiging. Die modewoorde van die dag was diversiteit, integrasie en nasiebou.

    Vir die nuwe regering was die genus kunste nie 'n prioriteit nie, en vir die huidige, helaas, steeds nie. Op die oog af is dié genus nie 'n brandpunt wat smeek om onmiddellike en drastiese ingryp met taakspanne en kommissies en 'n skerpioen of twee nie. Dis skynbaar 'n luukse, wat nie kan saamgesels wanneer dit kom by jou kind se opvoeding, die water in jou kraan en die kos op jou tafel nie. Skynbaar ook nie in die aangesig van ellende, van slaggate in paaie en misdaad en geweld nie.

    Die genus kunste definieer egter die siel van Suid-Afrika. 'n Nasie sonder die kunste sal 'n nasie wees wat opgehou het om te praat, opgehou het om te droom, wat belangstelling in die verlede verloor het en geen lus vir die toekoms het nie. Die kunste is belangrik omdat dit universeel is, omdat dit omgaan met daaglikse ervaring op 'n unieke manier, omdat dit die manier waarop ons na die wêreld kyk, verander, omdat dit nie tasbaar is nie. Die kunste bied 'n eiesoortige verduideliking van die wêreld; dit verbind jou aan die verlede en open deure na die toekoms. Die kunste werk nie binne tradisionele kategorieë nie; dit bevry die mens van sy of haar beperkings; dit maak sin van chaos, kry die stagnante aan die beweeg. Dit bied 'n gedeelde ervaring eerder as 'n geïsoleerde een; dit daag die verbeelding uit en bemoei dit met die sinlose en futiele. Dit gee skoonheid en estetika en koestering teen die walglike. Dit bied verduidelikings maar geen oplossings nie. Die kunste is belangrik omdat dit die mens dwing om te dink oor goed en kwaad en eg en vals. Die kunste is belangrik omdat dit omarm, die siel van 'n samelewing uitdruk en definieer.

    Die maatstaf vir 'n waardering van die kunste in Suid-Afrika moet wees vir wat dit werklik is en nie net waarvoor dit goed of nie goed genoeg is nie.

    Die skep van 'n aparte ministeriële portefeulje vir Kuns en Kultuur is 'n reusestap in die regte rigting, en die aanwys van 'n minister met 'n hoë profiel sou moontlik daarop kan dui dat die waarde en omvang van kuns en kultuur in 'n groter mate erken word. Minister Pallo Jordan het in sy begrotingsrede vroeër vanjaar genoem dat net minder as 20 persent van sy begroting aan die uitvoering van die kunste gaan. Dis 'n lang som om te bepaal hoeveel rand uiteindelik beskikbaar gestel word vir die kunste self, want daar moet ook omgesien word na infrastruktuur, salarisse vir administrateurs en burokratiese prosedures.

    Feit is, die kunste in Suid-Afrika floreer nie. Daar is twee voor die hand liggende redes hiervoor: 'n gebrek aan befondsing en die afwesigheid van 'n effektiewe permanente struktuur wat op 'n deurlopende en konstruktiewe manier omsien na die belange van die kunste. Die National Arts Council (NAC) as permanente struktuur voldoen nie aan die vereistes of die verwagtings wat aan die liggaam gestel is nie. Dit het in sy bestaan van sewe jaar reeds 'n rekord van wanbestuur, korrupsie en nepotisme. Te veel dissiplines word onder een dak gegroepeer, met te min befondsing, te veel politiek en te min kundigheid. Om die kunste te bestuur en te administreer is geen maklike taak nie, en erkenning moet gaan aan individue wat te midde van 'n magdom probleme tog 'n wesenlike bydrae lewer. In hierdie stadium verkies die NAC egter 'n sosiopolitieke benadering wat in terme van integrasie, gelykheid en opheffing geregverdig is, maar die kunste self, en die uitvoering daarvan, suig aan die agterspeen.

    Teater is 'n spesie met 'n voorkeur vir metropole. Dit verkies 'n gerieflike infrastruktuur en kan net oorleef met staatsubsidie of borgskappe en groot genoeg gehore. 'n Nomadiese bestaan bied soms uitkoms, maar winspotensiaal word ernstig bedreig deur die enorme koste van reis en verblyf.

    Teater in Suid-Afrika, soos dit bedryf is deur die streeksrade, was voor 1994 baie Eurosentries en uitsluitend, en die algemene fokus het sedertdien verskuif na die Afrosentriese, met min aandag en geld aan Eurosentriese kuns. Dis geen geheim dat die kunste 'n baie duur oefening is nie. Tog het Eurosentriese kuns steeds 'n baie belangrike rol te speel in die voortbestaan en gehalte van die kunste in 'n veranderende en veranderde Suid-Afrika. Die tradisie van teater is immers afkomstig uit die Griekse beskawing en 'n Eurosentriese maatstaf geld reg oor die wêreld in die beoordeling van gehalte van die kunste, hoe subjektief so 'n beoordeling ookal is. 'n Mens wil hoop dat ons uiteindelik ook by 'n punt sal uitkom waar gumboot-danse nie die enigste uitvoerkunsproduk sal wees nie en dat opkomende musikante en sangers nie hul heil oorsee sal soek nie, maar dat daar plaaslik 'n sterk genoeg bedryf sal wees om genoeg geleenthede vir topkunstenaars te bied. Dat produksies in terme van tema en kwaliteit met enige produksie op wêreldverhoë kan saamgesels. Wêreldklasteaters het ons, die talent is hier, opleidingsgeleenthede vergelyk goed. Hier is net nie 'n behoorlike bedryf nie. Dit het te doen met geld, met persepsies, prioriteite en met groepe wat in isolasie van mekaar werk.

    Ook met die afwesigheid van permanente geselskappe. Teaters bied deesdae nie meer geleentheid aan kunstenaars om 'n loopbaan te ontwikkel en 'n repertorium op te bou nie. Daar is geen balans tussen jonger, opkomende en gevestigde kunstenaars nie en bitter min geleentheid waar jongeres hul talente kan slyp in rolverdelings wat ook meesters en veterane insluit.

    Kunstenaars moet hul eie heil vind, pas afgestudeer 'n industrie betree wat kompeterend en wreed kan wees. Sonder ondervinding. Na die ontbinding van die streeksrade pak kleiner, ongesubsidieerde produksiehuise wel produksies aan, maar fokus op kommersiële werk, omdat hul bestaan afhanklik van kaartjieverkope is. Groot gedeeltes van die reeds onvoldoende begroting word boonop spandeer aan infrastruktuur waaroor slegs groter teaters beskik. Teaterhuise is betreklik ontoeganklik vir onafhanklike produksiehuise bloot in terme van die koste van die huur van die ruimte, of dit werksareas vir stelbou, repetisieruimte of verhoë is.

    Produksies en projekte wat wel deur die teaters aangepak word, plaas ook 'n groter premie op kommersiële sukses as op artistieke waarde. Die rede weer eens, vervelig maar relevant: die boeke moet klop. Gevolglik word geen of min eksperimentele en snykantwerk gedoen. Dis eenvoudig onbekostigbaar. Daar is verder nie veel samewerking tussen teaterhuise onderling nie - 'n produksie speel hoogstens by drie teaters en sterf 'n voortydige dood.

    Kunstenaars is in die knyp, teaters ook. Onvoldoende strategie en gehoorontwikkelingsprogramme lei daartoe dat daar nie werklik 'n tradisie van teater gekweek word nie, en stadigaan begin die koppe van die gehore al hoe gryser word.

    Die spesie kunstefeeste is sonder metropolitaanse afhanklikheid. Die spesie het die afgelope tien jaar baie populêr geword, met 'n gevolglike aanwasontploffing. Daar is natuurlik 'n meningsverskil oor die opregtheid van die spesie, met sommige wat dit as 'n hibried beskou van die spesie teater en 'n onnoembare verlangse verwant uit die familie kultuur.

    Die mening word deur sommiges gehuldig dat die konsep van kunste en fees onversoenbaar is. Louise Viljoen wys in 'n interessante artikel op LitNet op die verbande tussen kunstefeeste en die Middeleeuse karnaval. Die karnaval was 'n geleentheid waartydens gevestigde grense oorgesteek en verstarring teengewerk is, 'n geleentheid vir die gewone orde om hulself te bevry van die vernaamste gesagsliggame. Die vryheid en grensoorskryding kan dan tot groei en wording lei.

    Vir baie feesgangers is kunstefeeste 'n ruimte waarbinne hulle die grense wat hulle daaglikse lewens inperk, kan oorskry. Die ervaring van kuns is by uitnemendheid geskik vir die verruiming van denke. In dié opsig is die bestaan van kunstefeeste geregverdig.

    Feeste het te kampe met eiesoortige probleme: 'n Gebrek aan teaterinfrastruktuur en die gepaardgaande hoë koste; verskeie rolspelers met verskillende verwagtings moet geakkommodeer word, en pogings om die feesgeleentheid te kaap vir ideologiese en finansiële gewin duik gereeld op. Kritiek deur waarnemers dat die feeste in brassery en dronkenskap ontaard en dat die KKNK spesifiek 'n laertrek-mentaliteit het, is algemeen. Te veel fees, te min kuns, persepsie, al kondoneer ons dit nie.

    Alhoewel kunstefeeste 'n sterk kuier- en kultuurkomponent het, dien die ware kunstefeeste steeds die kunste in dié sin dat dit vir baie kunstenaars en gehore meer toeganklik as die teaters is. Kunstefeeste is egter geleentheidsgebeurtenisse van net 'n klompie dae per jaar, wat onmoontlik die hele groter kunstebedryf op koers kan hou.

    Ware kunstefeeste? Daar is troppe met suiwerder bloedlyne as ander wat 'n groter bydrae lewer tot die rasegtheid van die spesie. En dan is daar die opportunistiese fyndraaiers wat volbloedkunste verdun tot 'n afgewaterde en flou stiefkind.

    Myns insiens is daar te veel feeste wat hulself - miskien voorgeskryf deur modegiere - kunstefeeste noem. 'n Kunstefees moet verteenwoordigend van die breë spektrum van die kunste wees, nuwe werk vervaardig en klassieke werk lewend hou. 'n Kunstefees behoort al sy verwante binne die genus kunste te koester.

    In terme van die KKNK, die fees waarnamens ek kan praat, is die kunste as kernbedryf ononderhandelbaar. Die KKNK is 'n viering van die kunste en is ernstig oor die rol wat hy binne die groter bedryf speel en verder kan speel. Én graag wíl speel.

    Met apologie aan Johann Rossouw, en met woorde geleen by ene SO Krates van Bellville, is die eintlike vraag rondom die problematiek van kuns en fees by veral die KKNK: Kán jy kies tussen kuns en vermaak? Is daar genoeg opsies? En natuurlik: Beskik jy oor die verdraagsaamheid om jou opsies uit te oefen sónder om te verwag dat almal soos jy moet kies? Om TV te blameer vir sommiges se verknogtheid aan kits-ikone, kermkonserte en kletspraatjies, is onregverdig en te gerieflik. Dit hou meer verband met sommiges se onvermoë om in terme van sinvolle waardes demokraties te dink en te doen, en hul onwilligheid om op 'n positiewe en volhoubare wyse by die dinamiek van 'n nuwe land betrokke te wees. Daarom versuip hulle hulself in die onmiddellike en vervlietende - of dit nou bier, boerewors, brandewyn, boersheid of bordele is - by die KKNK. Dit is nóg die KKNK se skuld nóg die KKNK se hart - al het die KKNK 'n hart met meer as een kamer.

    Die "hart" van die KKNK - om Lina Spies se metafoor te gebruik - klop (vir die ware ondersteuner) in die "kunsproduksies". Nie in die hoofstraat of biertuine nie (wat ek vermy). Ook nie in die stalletjies nie. Ook nie in die "toilethumor" (Rossouw) of Krit en die afgeskaalde Boekeparadys (Spies) nie. Dit klop in die kunsproduksies.

    Die KKNK streef na 'n balans in die vreeslose aanmoediging en aanbieding van nuwe werk. Ons wil 'n broeikas vir die kunste wees. 'n Platform waar geëksperimenteer en geslyp kan word. 'n Sober, stille geleentheid sal die KKNK nooit wees nie, maar met die nodige gehoorontginning en strategiese keuses in terme van program, sal die hooibale mettertyd minder raak en die sale voller. As die eerste kunstefees in die kalenderjaar is die KKNK in die posisie om 'n winkelsentrum te wees, waar teaters hul programme en galerye uitstallings kan bekom. Teaters kan gerus die geleentheid benut om ook hul programme by die KKNK te bemark. Ons kan doen met meer integrasie en sinergie in die bedryf.

    Eerder as om kortsigtig jag te maak op sommige spesies binne die familie kultuur en uiteindelik die hele familie se voortbestaan te bedreig, moet ons besef dat die kerngesonde voortbestaan van die familie kultuur saamhang met die vreedsame naasbestaan van sy spesies. As kruisteling dan lei tot 'n goed-aangepaste en meer geharde spesie binne die orde geestesgoedere, afdeling Suid-Afrikaanse nasie, waarom nie?

    Laat ons die kunstebedryf konsolideer. 'n Gesamentlike oorhoofse strategie bepaal en dit implementeer met net die kunste ten doel. Kom ons skerp die strukture wat reeds bestaan en hiervoor verantwoordelik is, op en kry dit behoorlik aan die gang - sonder om dit wat reeds kompleks is, verder te kompliseer.

    En sonder om te kloon.







    *Karen Meiring is reeds die afgelope vyf jaar besturende direkteur van die KKNK. Sy verwerf 'n honneursgraad in Drama (Potchefstroom) en begin haar loopbaan in die kunste as verhoog- en produksiebestuurder in 1985 by die destydse SUKOVS. Na 'n paar jaar agter die skerms word sy lid van SUKOVS se permanente operageselskap, voordat sy as vryskut-aktrise en sanger verskeie hoofrolle in musiekblyspele en pantomimes by die destydse TRUK vertolk. Sy is stigter en lid van die a capella-groepe Cutt Glas en Amasiko en tree gereeld by feeste regoor die land en in die buiteland op. As kunste-administrateur was sy aan die stuur van verskeie projekte by die National Arts Festival in Grahamstad, asook by bekende teatervenues en kunstenaars in Johannesburg. Met die ontstaan van die KKNK word sy aangestel as organiseerder en kom sedertdien goed oor die weg met baie min slaap.

    KKNK11 vind van 25 Maart tot 2 April 2005 plaas. Klik hier om die KKNK se webwerf te besoek.



    LitNet: 13 September

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.