Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Dorothea van Zyl
Dorothea van Zyl
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Feeste en toneel: ’n fennootskap wat werk

    Dorothea van Zyl* praat uit die Woordfees-huis

    ’n Foëlflug en frifole fernufspeletjie met (fraai!) f-woorde ter aanfang1
    Wat is dit tog wat feeste so aantreklik fir mense maak? Figure wat hulle lewe lank nog beswaarlik hulle foete in ’n teater gesit het, trek in falankse op na feeste, om hulle te fersadig aan al die festyne en festiwiteite.

    Dit is waarskynlik feral omdat feeste ferbind word met fleur en kleur en fraaiigheid, met die ligter tred waarfan Audrey Blignault praat. Die wyse Salomo leer ons mos al: "die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees" (Spreuke 15:15). En wie soek nou nie ’n bietjie frolikheid in ’n tyd fan moorde en anderlike misdade nie? Feeste is feral ’n hedendaagse ontflugtingsmeganisme.

    Groepe wat afgaan op ontflugting fikseer feral op frye toegang en ferkeer, ferkopings van feesfoefies en straatfermaak, op die frifole en die fuif. Maar terwyl hulle daar is, find hulle soms iets in ’n feesprogram of op ’n plakkaat wat sulke fris flikkers gooi, só flikflooi en hulle so fér foer dat hulle waarlik ’n kaartjie of twee gaan koop. Die kanse is goed dat dit fir óf ’n gewilde musiekkunstenaar óf ’n (ligte) toneelopfoering sal wees, want dit is ferreweg die toeganklikste fir die andersins futloses. En net dalk ferskaf dit hulle sofeel freugde en gefoelens dat hulle nou die formule fir fatsoenlike feesgang gefind het, dat hulle weer só wil fees en geniet. Die feestelikheid fop en flous hulle as 't ware om ’n flertsie kultuur te beproef, so ’n flonkerende flitsie in die duister land wat hulle alkant bedreig. Maar die res fan die jaar? Aikôna. Dan foeter hulle nie daarmee nie.

    Feeste bied ook feel vir flytige frywilligers wat opgaan in en deel wil foel fan die feesgefoel en -gewoel. Hulle is die onmisbare jaarlikse foorfatters wat egter so ongemerk steeds meer ferlof fra (en kry, want in die proses word nuwes betrek) om self produksies te gaan bywoon. Namate hulle die feesprogram ferken en fynkam om dit by ander te adferteer, raak hulle self toenemend oortuig dat die aanbiedings te goed is om mis te loop!

    In ’n tyd dat die Nasionale Party (allermins nuut en fris, eerder foos en oferleden) mense laat sonder ’n foet om op te staan, en ook die Fryheidsfront nie antwoorde op frae find nie, erfaar lede van ’n (froeëre?) Afrikanerfolk ferder sulke gefoelens van frustrasie en gemis dat hulle graag wil fraterniseer. Hulle fokus op feeste as familiesaamtrekke en beforderaars fan folklore, as meganismes om die folkseie te laat foortbestaan. Ook hierop speel férsiende dramaturge flytig in en trek só die ferwardes en ferlatenes na die teater, waar hulle as 't ware gefortifiseer word teen die feilbaarhede en selfs kan leer om daarfoor te lag.

    Feeste raak ook letterlik familiesaamtrekke, want Sus en Daan, Boet en Saartjie, gaan saam. Ferantwoordelike feesorganiseerders fertroetel feral deesdae die jonges en jeugdiges, want dit is die feesfoëls en die teatergangers fan die toekoms.

    Maar dit is nie net die kultuurfloues, -fletses en -fales wat gefassineer word deur feeste nie. Ook die kultuurfikses, -fynproewers en flink fietskerneelse fol fiemies en fieterjasies kan die foordele van so ’n ferskeidenheid fermake binne kort bestek nie weerstaan nie. Hulle fokus fal dikwels anders, byvoorbeeld op die freugdes fan ’n fergroting in feitekennis, op die froetel met frae en die ferstaan van onderliggende filosofieë. Foedsel fir die siel en denke find hulle ruimskoots in die hedendaagse frydenkende teater.

    Dramaturge, toneelspelers en ander kunstenaars is die eintlike feestfarkens. Feeste ferhef hulle meermale tot fassinerende fenomene en groot figure, fir wie fêtes en ander affêres gereël word wat op hulle beurt foete trek. Fir baie fan hierdie andersinse armoedsaaiers raak feeste ’n manier fan leef, ’n oorlewingsmeganisme om rande te ferdien in ’n land waar kultuur meestal andersins die onderspit moet delf teen sport en braaifleis. Toneelspelers trek, soos Middeleeuse teatergroepies, fluks fan fees tot fees en is (flussies hier, straks daar) waardevolle kultuurferspreiders. Om foorsorg te tref fir kunstenaars, begin feeste ook toenemend sinergeer en saamwerk. Só ferseker feesbestuurders en -fennote dat daar nie alleen ’n dinamiek op gang gebring word nie, maar dat dit ook aan die gang gehou word.

    Die media se flirtasie met feeste lewer ’n fername bydrae om feeste as "flavour of the month" te beforder. Dit is hulle wat die kunstenaarsfigure en feesfernuwings met groot fanfare aankondig, maar wat deur hulle fronse oor flaters ook sorg fir gehaltekontrole. Sonder adfertensie sterf feeste: as mense nie fan iets ferneem nie, kan hulle nie daarop afgaan nie - so eenfoudig is dit. Media en feeste moet ’n ferenigde front form om dinge te laat forder en ferder te foer, anders is dit ’n futiele stryd.

    Feeste sterf feral sonder finansiële steun - fonds-werwing is die eerste fase fan elke feesorganisasie. Dit is jammer dat daar, in ’n sterk kompeterende bedryf, nog sofeel firmas en bedrywe is wat kuns en kultuur onderaan hulle ferlanglysie plaas. Indien daarin geslaag word om ’n fooitjie te ontfutsel (en dit gebeur dikwels nie), stem dit wel tot freugde, maar dit is meermale te min dat iets fan formaat fermag kan word. Ander se gesindhede en reaksies roep helaas die minder fraaie f-woorde op! Felisitasies aan maatskappye en filantrope wat wel die samebindende, opheffende waarde fan die kunste besef en feeste help om dit uit te bou.

    En ná dié flugtige foëlflug, nou verder:

    Soos blyk uit die inleiding, is dit noodsaaklik om die profiele van verskillende teikengroepe in ag te neem by feesbeplanning, ook van die drama-onderdeel. Juis die omvang en verskeidenheid, die kaleidoskopiese wat feeste vir verskillende ouderdoms-, belangstellings- en belangegroepe bied, is ’n groot trekpleister en dié groot voordeel van feeste.

    Maar daar moet ook gestreef word na verskeidenheid ten opsigte van elk van hierdie verskillende groepe. As mense jammer voel dat hulle nie alles wat hulle wou sien ingepas kon kry in hulle feesprogram nie, dan keer hulle die volgende jaar weer terug - dis soos ’n boek waar die sluiting telkens uitgestel word. Verskeidenheid in toonaard en aanslag geld dus ook vir die dramas en kabarette (ek beskou dit hier as onderdeel van drama) wat aangebied word. Sommige feesgangers is weliswaar by uitstek teaterliefhebbers en gaan kyk bykans uitsluitlik na dramaproduksies, maar die meeste hou daarvan om verskeidenheid in te bou in hulle eie feesprogram.

    Feeste - slegs vir almal
    In die bespreking wat volg, maak ek veral staat op my eie insigte en ervaringe, verwerf deur die aanbied van die Woordfees op Stellenbosch. Dit is die enigste fees in Suid-Afrika (Afrika?) wat skrywers en woorde sentraal stel, soos uit die Woordfeesmissie blyk:

    Die Woordfees van die Universiteit van Stellenbosch is ’n viering van die woord binne sy konteks en in soveel vorme moontlik - soos poësie, prosa, debat, verskillende vorme van drama en musiek. Die fokus val op Afrikaans, maar ander tale waarmee geografiese of ander verwantskappe bestaan (onder meer van Afrika en die Nederlande) is ook welkom. Die fees is gerig op alle ouderdomsgroepe en wil so inklusief moontlik wees.

    Die Woordfees is bevoorreg om groter getalle gesofistikeerde feesgangers te trek as waarop baie van die ander feeste kan reken - iets wat die speelruimte ten opsigte van die aard van die aanbiedings aansienlik verruim. Dit word onder meer geïllustreer daardeur dat meer stoele selfs tydens Woordfees 2004 ingedra moes word in ’n groot saal by twee nogal hoge lesings oor Elisabeth Eybers, soos ook by talle ander debatte, besprekings en dramas. Dit gaan egter steeds om balans en daarom word steeds, veral ook op die Woordfees, vir soveel groepe op soveel vlakke as moontlik voorsiening gemaak. Elitisme as uitsluitingsmeganisme is uit by feeste - inklusiwiteit is eerder die antwoord. Feeste leer ’n mens by uitstek redeneer in én … én-terme eerder as in óf … óf-terme. Dit is in baie opsigte ’n postmodernistiese "genre" of verskynsel, wat ook daarom nommerpas is vir ons tyd.

    Drama het aanvanklik slegs ’n klein onderdeel uitgemaak van die Woordfees, maar aandag daaraan is aansienlik uitgebrei op grond van die uitstekende bywoning van en groot aanvraag na dramaproduksies en kinderteateraanbiedings, soos blyk uit die volgende kort oorsig:

    Toneel het wel uit die staanspoor by die Woordfees gefigureer, maar op ’n beperkte skaal. By die eerste deurnag Woordfees in 2000 het meer as 60 skrywers voorgelees uit hul eie werk, afgewissel met musiek, drama-insetsels en ligte vermaak. Naas ’n boekverkoping, gratis buitefees, skrywersbesoeke aan skole en ’n skryfkompetisie, is enkele kort dramalusmakers van so 30 minute aangebied met die oog op die KKNK wat kort daarná plaasgevind het.

    Met die volgende Woordfees, in 2001, het die feestelikhede ’n naweek lank geduur met, naas voorlesings deur sowat 90 skrywers, woord-ure (besprekings), skrywersonderhoude, boekbekendstellings en -verkopings, ’n leessimposium vir onderwysers, musiekproduksies, ’n koorfees, kunsuitstallings, kinderproduksies, ’n bekgeveg, ’n storiewedstryd en ’n gratis buitefees (asook kompetisies en skoolbesoeke). Daar was steeds net ’n aantal kort dramalusmakers, maar die gewildheid daarvan en van die twee opvoerings van die vollengte-kinderteaterstuk Waarom Strelitzias nie kan vlieg nie het ’n helder aanduiding deurgegee dat die publiek meer vra.

    Tydens die derde (nog langer) Woordfees was daar 72 produksies op die program. Daar is begin om sterker op musiek en drama te fokus. Tien vollengte-dramaproduksies vir die ouer en vier vir die jonger feesgangers is vir die eerste keer aangebied. Dit is goed genoeg ondersteun om dit ’n vaste Woordfees-onderdeel te maak.

    Met die vierde Woordfees, in 2003, het die fees werklik begin vlamvat. Die gemiddelde bywoningsyfer was 75 persent, met 15 aanbiedings wat vooraf uitverkoop was. Saartjie Botha is vir die eerste keer genader as sameroeper en samesteller van die drama-onderdeel. Dramaproduksies soos Drie tannies en ’n tert, Hotnotsgot, Die vaal koestertjie, Tip, Die uurwerk kantel en Kanna hy kô hys toe, wat gedurende die hele week aangebied is, het vervolgens uitstekend aftrek gekry - die bywoning het ongeveer ’n derde uitgemaak van die totaal en twee van die produksies was redelik vroeg reeds uitverkoop.

    Vir die eerste keer is, in samewerking met Distell, ’n drama by Oude Libertas aangebied as deel van die Woordfees. Mamma Medea is baie goed bygewoon en die besprekingsessie met die skrywer (Tom Lanoye) en vertaler daarvan (Antjie Krog) was stampvol. Die ATKV het in 2003 saamgewerk met verskillende kinderproduksies wat uitstekend ondersteun is. Die Woordfees het ook in die week voor die fees gesorg vir gratis ATKV-vertonings by van die minderbevoorregte laerskole in die Stellenbosch-omgewing, ’n uitreik-aksie wat in 2004 voortgesit is.

    Die tema van die vyfde Woordfees in 2004, die grootste Woordfees tot dusver, was Formidabele vroue, na aanleiding van Elisabeth Eybers, aan wie die fees opgedra is. Twee en tagtig produksies (herhalings uitgesluit) is met groot sukses aangebied, met ’n gemiddelde saalbesetting van 84 persent. Twee en dertig van die produksies was vooraf uitverkoop.

    Drama het ’n belangrike onderdeel van die geheel uitgemaak. Verskillende vertonings is aangebied van dramas soos Drie Susters, ’n plek; Blougat; Jan en Jorie; Desnieteenstaande; Boesman, my seun; Met woorde soos met kerse; Want kyk, die bruidegom is hier; Alleen so alleen en Carwatch. Vyf van dié dramas het bywoningsyfers van 98-100 persent behaal. Ook kabaretproduksies soos Ma' Divine en ’n vertoning deur Elzabé Zietsman was baie gewild. Die WOW- (Woorde open wêrelde-) projek vir ongeveer 580 senior leerders het, naas werkswinkels en ’n groot musiekfees, ook ’n toneelstuk van Malan Steyn ingesluit wat met verskillende voorgeskrewe tekste verband hou. Soos in vorige jare was die dramaproduksies vir klein kindertjies weer ’n treffer.

    Naas die jaarlikse Woordfeeste word sedertdien ’n jaarprogram aangebied met verskillende produksies, drama ingesluit, en kompetisies om die dinamiek rondom kultuur aan die gang te hou. Daar is ook ambisieuse planne onder bespreking vir toneelontwikkeling en die neem van toneel na skole.

    Dié oorsig laat blyk dat drama ’n steeds belangriker rol in die Woordfeesprogram speel. Mense soek daarna. Dit is ook opvallend by die meeste feeste met ’n kultuurinslag wat deesdae soos paddastoele uitdop, dat een of ander vorm van toneel bykans altyd aanwesig is.

    Dit is uiteraard goeie nuus vir die teater se voortbestaan en toneelspelers se oorlewing. ’n Interessante aspek is dat hoewel die rakleeftyd van dramaproduksies verleng word, dit, soos afgelei kan word uit bywoningsgetalle, klaarblyklik nie vir gehore saak maak as ’n stuk reeds elders opgevoer is nie. Dit dien eerder as reklame en trek toenemend voller sale. Mamma Medea het byvoorbeeld steeds in 2003 geblom by die KKNK, al was dit enkele weke vantevore op Stellenbosch te sien tydens die Woordfees nadat dit by Aardklop gedebuteer het. Daarom is koproduksies (wat steeds meer algemeen raak - soos die KKNK/Aardklop-produksie Desnieteenstaande, wat ook by die Woordfees te sien was, of die Woordfees/KKNK-produksie oor Hennie Aucamp, Want kyk die bruidegom is hier - in 2004) so ’n goeie idee.

    Feeste bied ook ’n plek vir ontwikkelende spelers op skool en in die gemeenskap om met nuwe stukke te kom, al is dit dan in ’n klein lokaal, op ’n gratis verhoog of in die straat. Diversiteit vind ’n natuurlike tuiste by feeste, saam met inklusiwiteit. Mooi projekte is die afgelope jare aangepak, byvoorbeeld ’n bemagtigingsprojek met plaasgroepe soos die Pretty Ladies in die Stellenbosch-omgewing, ’n groep wat reeds meermale by die Woordfees opgetree het, of gemeenskapsteaterontwikkeling op oa Hawston, met stukke soos Perlemoenstories wat by die Suidoosterfees opgevoer is.

    In die proses word insig in en kennis van ander leefwyses en gedagterigtings in Suid-Afrika uitgebrei. Toneel dien hierby dikwels as ’n bekendmakingsmeganisme van die ander se perspektiewe op die werklikheid en gee gegewens deur oor swaarkry én vreugdes in beide die verlede en die hede. Uiteindelik kan toneel op hierdie manier help opvoed, bemagtig en versoen.

    Daar word toenemend pogings aangewend om dramas na die skole - en gevangenisse - te neem, soos met die knap kabaretproduksie Raak wys wat ek onlangs by Northlink College in die Wes-Kaap gesien het. Dit gee ’n outentieke uitbeelding van drie "gevalle" wat vasgevang geraak het in ’n misdaadstrik. Jong studente lewer uitstekende vertolkings van ’n verskeidenheid rolle, met sang en dans, in Afrikaans, Engels en Xhosa. ’n Volgende stap is om so ’n produksie na verskillende feeste neem ter wille van ’n nog groter blootstelling aan ’n diverse gehoor.

    Vir kleiner kindertjies is daar deesdae heerlike toneel- en poppekasproduksies wat kant en klaar bestel kan word van die ATKV, YAP Teaterproduksies of Die Huisgenoot. Soos genoem, het die Woordfees reeds in die verlede daarvoor gesorg dat ATKV-kinderteaterstukke gratis na benadeelde skole geneem word. Dit sal in die toekoms verder uitgebou word.

    Ook die Suidoosterfees gee aandag aan die bevordering van toneel op ’n meer senior skoolvlak deur onder meer die opvoering van voorgeskrewe tekste. Van die indrukwekkendste inisiatiewe word deur die KKNK uitgebou in die voorbrandfees en deur Aardklop met al die gemeenskapsinisiatiewe in die Noordwes-provinsie.

    Is alles dus nou een groot (drama)fees?
    Daar is helaas ook ’n keersy van die munt. Daar word nog nie deurgaans genoeg by kultuurfeeste in die algemeen voorsiening gemaak vir voorskoolse kinders en die jeug nie. Die opvoedkundige is egter juis ’n aspek wat die Woordfees vanaf sy ontstaan voorop stel. Dit het enersyds daarmee te make dat die Universiteit van Stellenbosch ’n opvoedkundige instelling is, maar ook met ons oortuiging dat die stryd om die voortbestaan van die kunste in die algemeen en Afrikaans in die besonder so vroeg moontlik gespeel - en gewen - moet word indien durendheid en vooruitgang op die lange duur bewerkstellig wil word.

    Hoe meer feeste ingestel raak op getalle en die grootste gemene deler, hoe meer word verder gekies vir ligter stukke wat baie mense sal trek. Dit raak al hoe moeiliker om mense weg te lok van die gratis tente met die musiek en die gekuier langs die biertafels. Daarom word ook dikwels gehou by ’n klein groepie bekende name, en die ontwikkelende groepe word in die proses afgeskeep. Om van ernstiger werk nie te praat nie.

    Dit is jammer dat baie feeste terugdeins vir meer eksperimentele of swaarwigtiger toneelstukke. Dit is in ’n groot mate te wyte aan die finansiële knyptang waarin feeste hulle bevind. Getalle spel sukses en daarom moet soveel voete of "bums on seats" as moontlik gelok word. Kommersialisering is dikwels ’n dooddoener van kwaliteit. Sommige feeste ondervind egter groot probleme om meer as ’n handjievol mense te lok sodra sake effens ernstiger aangepak word. Die frivole en feesatmosfeer is vir baie die hoofsaak.

    Indien feesgangers wat minder bekend is met huidige kultuurtendense dan boonop tog op grond van mediaberigte meer eksperimentele en/of ernstiger werk bywoon, werk hulle geskokte reaksies dikwels teenproduktief. Dit verskaf wel publisiteit aan ’n fees, en alle publisiteit (word gesê) is in wese goed, maar dit word tog so tydrowend om al die beswaardes se telefoonoproepe en briewe te hanteer en wal te gooi dat baie feesorganiseerdes nie op die duur kans sien vir kontroversiële stukke (of kunswerke of kunstenaars) nie.

    Dit kan ook gebeur dat ’n borg of donateur saam geskok reageer en sy/haar geld onttrek. Sommige donateurs erken moeilik vryheid van spraak, maar kom met eie kriteria en sensuur om eie belange te dien. Hulle wil meermale nie verbind word met enigiets kontroversieels nie, uit vrees vir ’n negatiewe impak. Die afhanklikheid van borgskappe kan dus helaas daartoe lei dat die grensoorskrydende, wat die prerogatief van die kunste is en wat noodsaaklik is in die uitbou van die kreatiewe, die knie moet buig voor konvensie en ’n beperkte visie van enkeles in beheer.

    Daar is verder ’n neiging om voorkeur te gee aan korter toneelproduksies met minder spelers en dekor. Aan die een kant vergemaklik dit die skep en opvoer van meer stukke, omdat dit goedkoper opvoerbaar en makliker vervoerbaar is. Dit pas ook baie beter in ’n vol feesprogram as ’n stuk ongeveer ’n uur lank is, en meer geld kan gemaak word as mense meer korter aanbiedings kan bywoon. Vir die teater kan dit egter ontaard in ’n keurslyf wat kreatiwiteit inperk, veral as dit ’n kriterium word by die beoordeling.

    Korter stukke skep ook bepaalde verwagtinge by mense oor beide hulle eie feesskedule en die mate van diepgang. Reza de Wet was so geskok oor mense wat voor die einde uitgestap het by haar toneelstuk Drie susters, twee (waarskynlik om ’n ander produksie te haal), die relatief swak ondersteuning van haar werk en die tussenwerpsels van onopgevoede feesgangers dat sy sedert 1996 nog nie weer kans gesien het om in Afrikaans te skryf nie. (Hopelik sal 2005 hierin ’n verandering sien.) Aan die kwaliteit van die stuk het dit nie gelê nie, want Drie susters, twee het die Hertzogprys verower, maar waarskynlik wel aan die stadiger ontknoping, in pas met die Tsjechof-interteks, en die lengte van die stuk. Ook Breyten Breytenbach was bitter en ongelukkig na die reaksies op Boklied, en Mamma Medea is aanvanklik maar redelik flou ontvang op Aardklop.

    Dit sou jammer wees indien (Afrikaanse) feeste en feesgangers dramaturge en ander kunstenaars ontmoedig in plaas van aanmoedig om te skryf, want dan werk dit teenproduktief en word dinamiek gestuit in plaas van bevorder. Daar is helaas nog heelwat ruimte vir ontwikkeling in die Afrikaanse feesteaterpubliek se persepsies oor die vorme wat vermaak kan aanneem. Baie van hulle moet nog besef dat katarsis, besinning en wroeging jou uiteindelik op ’n ander manier goed kan laat voel. Interessant genoeg het Mamma Medea uiteindelik tog ’n baie goeie speelvak beleef in die voortgesette opvoerings by die Woordfees en KKNK in 2003. Dalk het dit geleidelik groter getalle gesoute teatergangers getrek, of moontlik is mense se verwagtinge deur meer uitgebreide besprekings en goeie reklame in die koerante in goeie bane gestuur.

    Feeste is dikwels ook nog te eentalig Afrikaans of Engels. Baie kan nog op toneelgebied gedoen word aan die bevordering van meertaligheid, om op die duur ook feesgangers uit ander groeperinge te trek. Daarom is dit verblydend dat nuwe stukke in verskillende tale, soos Raak wys, deesdae meer algemeen aangetref word. Maar dit kan ook net goed doen om feesgangers bekend te stel aan eentalige stukke uit ander taalgebiede.

    Dit is net jammer dat die bywoningsyfers dikwels toon dat dit vir baie nog ’n nuwe en minder aantreklike konsep is. Ook op hierdie gebied is baie feesgangers nogal konserwatief. Daar word eerder gehunker na die bekende as wat uitgereik word na die vernuwende. Eers as dit bereik word dat groepe mekaar se toneelstukke en ander kultuurbedrywighede bywoon, sal werklik gepraat kan word van ’n nuwe Suid-Afrika op feesgebied, maar daar lê nog groot uitdagings vir feeste voor om dit te help realiseer. Aan die ander kant is dit ook geensins verkeerd om voorsiening te maak vir die tradisionele en die vertroude nie - dit het ’n volwaardige plek binne die feesdiversiteit - solank dit net nie gebeur tot uitsluiting van die ander teater- en kunsvorme nie.

    Wat die fabel ons leer
    Ondanks enkele negatiewe aspekte dink ek dat daar in die 30 jaar sedert die eerste Grahamstadfees, die dekade sedert die eerste KKNK, die sewe jaar van Aardklop en vyf jaar van die Woordfees groot vordering gemaak is. Dit wil voorkom of die aantal toneelliefhebbers by die verskillende feeste uitbrei en toenemend meer groepe insluit wat deelneem én bywoon. In die proses word mense se verwagtingshorisonne ook verruim.

    Al hoe meer kleiner feeste begin dit klaarblyklik as die norm beskou dat ’n fees toneelopvoerings insluit, en skole is gretig om leerders bloot te stel aan teater, hetsy deur toneelspelers wat skole besoek of (dalk beter) groepe leerders wat na feeste gebring word. Toneelfeeste soos die Logan-toneelfees wat in 2004 vir die 29ste jaar op Fraserburg aangebied is, of die toneelkompetisie wat die afgelope jare aangebied word by Bellville Hoërskool, het ’n langtermyn-effek op die aanhang wat toneel geniet. Baie skole soek geleenthede om hulle wenners te laat optree en vind dit by van die feeste. Mense wat in die koerant gelees het oor die toneelfeeste, of mededingende skole, is dikwels gretig om te gaan kyk of hulle saamstem met die beoordelaars se keuses, en hierdie aanbiedings word dus meestal goed ondersteun. En namate die belangstelling uitkring, verhoog die getalle.

    Jong dramaturge soos Malan Steyn, Saartjie Botha en ander beweeg rats binne die feesomgewing, maar bou ook kontakte met gevestigde teaters uit. Ook feeste raak toenemend betrokke by koproduksies met teaters soos Oude Libertas en die Baxter. Dit spreek van ’n lewendige interaksie en ’n groeiende kultuurnetwerk, wat op hulle beurt lei tot meer geleenthede en ’n uitbou van kreatiwiteit. Meer mense sal hopelik ook op die duur oorreed word om teaterbesoeke nie net vir feeste te reserveer nie.

    Feeste en drama is natuurlike vennote - ’n mens moet nie vergeet dat die Griekse toneelkuns ontwikkel het uit feeste ter ere van Dionusos nie. Binne daardie konteks kon die gehore in die algemeen ook nie aanvanklik te gesofistikeerd gewees het nie - maar kyk net tot watter hoogtepunte het die Griekse teaterkuns mettertyd, en binne ’n betreklik kort periode, ontwikkel.

    Alles in ag genome het ek dus steeds fidusie in feeste as die mees fassinerende en fenomenale manier waarop die kunstebedryf in die algemeen, en drama in die besonder, bevorder kan word. Lank leef feeste!



    1 Aangesien hierdie artikel geskryf word op GRA-dag (14 Augustus), folg ek fir ’n wyle die grote SJ du Toit, fader van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, se spelling deels. Hy het nie geglo in inkonsekwenthede nie - en dalk met goeie reg en rede! Oordeel maar self.



    *Prof Dorothea van Zyl is sedert 1984 permanent aangestel as dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy het onder andere die grade Drs. Litt. verwerf aan die Universiteit Utrecht in Nederland en D. Litt. et Phil., asook ’n onderwyserslisensiaat in sang, by die Universiteit van Suid-Afrika. Haar M.A.-tesis handel oor die Afrikaanse kinderpoësie en haar proefskrif oor oorredingstrategieë in die Afrikaanse prosa. Sy skryf, as NRF-gegradeerde navorser, veral artikels oor die Afrikaanse prosa en poësie, die retorika en Nederlandse poësie, maar het ook onlangs meegewerk aan ’n studie oor kinderliteratuur.

    Vir die kursusse wat sy aanbied in onder andere Mediakunde, die Afrikaanse prosa, Afrikaanse drama en Moderne Nederlandse poësie, het sy ’n US-rektorstoekenning vir voortreflike onderrig ontvang. Sy is aktief betrokke by ’n verskeidenheid projekte en komitees ter bevordering van Afrikaans en Nederlands, die afgelope vyf tot ses jaar veral as inisieerder en direkteur van die Woordfees op Stellenbosch. Vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse literatuur in die gemeenskap is die Molteno-medalje aan haar toegeken.



    LitNet: 11 Oktober 2004

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.