Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Groot Kunstefees- en Teaterindaba
Moontlik gemaak deur/Supported by:
Klik hier vir Aardklop se tuisblad
Klik hier vir Sanlam se tuisblad
Klik hier vir die KKNK se tuisblad
Anthony Wilson
Anthony Wilson
Klik hier vir jou daaglikse Beeld
  • Klik hier vir die nuutste Plus!
  • Klik hier vir jou daaglikse Volksblad
  • Klik hier vir kunsnuus en hope vermaak!
  • Skryf vir ons/ Write to us: webvoet@litnet.co.za

    Teater soos ek hom sien

    Famous Anthony Wilson* kyk g'n na die profeet se vinger nie

    Van waar ek staan, is teater nie noodwendig 'n saal met 'n verhoog nie. Nog minder is dit 'n plek waar 'n chirurg sy beste of swakste werk doen. Dis 'n plek waar ons, met die toestemming van die gehoor, hulle op reis neem. Ons vertel stories oor die lewe en die dood, en soms is dit nog ernstiger as dit. Ons hou 'n spieël vir die gemeenskap op en wat terugstaar, is nie altyd mooi nie. Of ons ooit ernstig opgeneem word, is 'n debat wat vir 'n baie lang tyd sal voort sal woed.

    Die dag as die curtain call vir my - arm maar baie famous - aanbreek; as my gordyn sak (soos Willem Wikkelspies immers sê: "Die wêreld is ma' net 'n verhoog en ons is 'n klomp akteurs wat verskyn en verdwyn") - wanneer daai uur aanbreek, hoop ek om na 'n kunstenaarshemel toe te gaan. Dáár gaan niemand dink ek was 'n bliksem op aarde wat net wou kla en aanval nie. Niemand gaan dink ek was antiswart, anti-ANC of antiregering nie. Daar gaan hulle verstaan dat ek wragtig nie net alles kon aanvaar in die naam van demokrasie nie. Dat ek nie kon maak asof wat hier voor my gebeur het, nie saak gemaak het nie. Ek kon mos wragtig nie my bek hou as een groepie mense ten koste van ander hulselwers verryk nie. As daar skielik binne 'n dekade swart miljoenêrs en biljoenêrs soos springmielies opskiet en nie een van hulle uitvinders is wat iets ontdek het om die 21ste eeu 'n beter tydvak te maak nie. As jy multimiljoenêr kan word deur selfs net vir een jaar aan die hoof, en soms net in die diens van, Melk-hom, Vervoer-hom of Myn-hom te staan. Moes ek my bek hou as jy kastig miljoene rande spandeer op die kunste en wat jy aan die einde van die dag het, is gelukkige, gesubsidieerde burokrate in fancy huise en karre? En na miljoene van die kunstebegroting sit jy nog steeds nie met 'n drama, 'n musical, 'n skildery, 'n film of 'n televisiereeks nie. Net happy fatcats. Jetsetters.

    Moes ek my bek hou toe Afrikaanse koerante en radiostasies bogenoemde goed wil hoor want dit het hulle laat goed voel oor die verlede? In die dae toe hulle stasies en koerante se dag- en weekblaaie soos Nasionale Party-traktaatjies geklink het? Moes ek my computer afsit? Moes ek gemaak het asof dit nie bestaan nie? Maar ek het dan getoyi-toyi, gestruggle, die boodskap tot in Amerika uitgedra. Ek het dan luid gesing "Nkosi Sikilele". Vryheid kom einde ten laaste in ons land. My kruisie het ek vir dieselfde comrades gemaak. Wat moes ek sê, skryf, skep toe ek besef "Amandla Ngawethu" sit nie kos op jou tafel nie? Nie 'n dak oor jou kop nie? Gee jou nie 'n job nie? Kruisig jou op daaiselfde kruisies? So waaroor sal my teater gaan?

    By die onlangse programaankondiging (launch) van Aardklop in Johannesburg praat Marguerite Robinson van die teater as haar kerk. In baie opsigte is dit presies wat die teater is. In sy ouditorium kom sy gemeentes sit. Groot is die afwagting vir wat daar vir hulle opgedis gaan word en afhangende van wie skep, bepaal dit hoeveel wel gaan aansit en geniet. Ek glo teater moet iets aan jou dóén, anders is dit nutteloos. Almal verwag ás pastoor Anthony "Speedo" Wilson kerk gaan hou, gaan opskep, gaan dit doemprofesieë wees wat die nuwe stelsel gaan aanval. Daar is baie mense wat daarvan hou. Hier het hulle 'n idioot - of so dink hulle - wat al die goed sê en skryf wat húlle graag sal wil sê of skryf, maar nie die guts het om te doen nie. Graag sal hulle vir net een dag uit hul polities korrekte gatkruipery wil ontsnap en nie net in hulle binnekamers of geslote vriendekringe nie, net een keer, ten aanhore van almal, sê wat hulle regtig wil sê. Ek is mos die doos wat dít waag. Ek is mos te onnosel om te besef dat ek myself in die voet skiet om hierdie goed - drama na drama - uit te kraam en op dieselfde trant voort te borduur. Dat ek te onnosel is om te besef dat die comrades baie kleinserig is en nie 'n sin vir humor het nie. Dat daar sekere dinge is waarmee jy nie gekskeer nie. Dat vryheid van spraak nie regtig bestaan nie. Want vryheid van spraak is veronderstel om presies dit te wees. VRY OM TE Sê WAT JY WIL. MAAK NIE SAAK TEEN OF VIR WIE NIE. Nie gedeeltelik of voorwaardelik vry nie - maar om die reg te hê om te sê wat jy wil. Om regtig vry te wees. Jy mag nie saamstem nie, maar jy moet baklei, met alles binne jou, sodat ek en almal die reg sal hê om te sê wat ons wil. NOU WORD WAT JY SÊ OF SKRYF EERS GEMEET AAN 'N KRITERIUM WAT SÊ DIT MAG NIE HAATSPRAAK WEES NIE. Watse kak is dit? Of het die klomp nog nie gehoor van "Sticks and stones will break my bones but words will never hurt me!" nie? Wat moet ek sê?

    Die Boere het nie van ons gehou nie. Of het hulle ons dalk gehaat? Moet wees as hulle 'n stelsel soos Apartheid nooit bevraagteken of aangeval het nie. Hulle't maar net van sy voordele gebruik gemaak en selfs daardeur welvarend geraak. Hulle het ons maar altyd net verdra. Jy was net goed genoeg om hulle huise skoon te maak, hulle kos te kook, hulle kinders groot te maak - 'n ogie oor hulle mees waardevolle besittings te hou - solank jy net na vyfuur saans terugfok lokasie toe. Maar wee o wee as jy gedink het jy is goed genoeg om saam met hom skool te gaan, langs hom te bly, saam met hom sport te speel, sy opsiener of selfs baas te wees. Te droom dat jy goed genoeg vir sy dogter is. Daa' maak hulle jou vrek! Dit het net tien jaar geneem en al dié klomp rassiste het soos mis voor die son verdwyn. Jy kan vandag 'n klip 'n duisend kilometer in enige rigting gooi. Jy sal nie een van daai vorige rassiste raakgooi nie. Want hulle bestaan nie meer nie en sommige beweer hulle het NOOIT bestaan nie. Of is diskriminasie nou slimmer? Meer subtiel? Met al dié elemente van natuurlike protagoniste en antagoniste, waaroor sal my teater gaan? Want dís my wérklikheid.

    Die vraag is: Is ek, Anthony "Speedo" Wilson, dan nou nie betjoins nie? Waarom bly ek nie by die suksesresepte van my stukke soos Die Afspringers of Marabastad-Kas-Kenades nie? Waarom sal ek nou juis 'n stuk soos Bushie! Jy's op jou eie skryf? As ek die titel kan parafraseer, vir dié wat nie weet nie: BRUINMAN! JY'S OP JOU EIE. Waarom val ek die nuwe bedeling aan? Dis dan juis die nuwe bedeling, die ANC, wat ons daai vryhede en waarborge gegee het. Is dit nou nie onnosel nie?

    Nie heeltemal nie. Want sien: EK STEM ANC. EK STEM NIE ALTYD SAAM NIE. Ek het nog nooit die ANC aangeval nie. Ek het nog altyd die mense wat verantwoordelik daarvoor was om regstellende aksie of swart bemagtiging toe te pas, aangeval. Dit is hulle wat die skurke in my dramas is. Dit is juis hulle wat óns - Bruin/Kleurling/KhoiSan/AfrikaanseSwartes - boelie. Hulle is die new kids on the block. Die nuwe bestuurders. Die nuwe burokrate wat óns boelie, want jy kan die wittes nie raak nie. Hulle sit nog steeds in topbestuur, met die ekonomiese mag, al die resources, die know-how, en gebruik juis regstellende aksie om gat te kruip by die swartes. Nie ons nie. Die regte swartes. Die coconuts het hulselwers alreeds baie goed en strategies geplaas. Dis juis hierdie new kids on the block wat verantwoordelik is vir die grootste polarisasie in die land. Wat maak dat ons verpleegsters, dokters en onderwysers weghol agter ponde en dollars aan. En as ek dit in Bushie! Jy's op jou eie sê, dan is dit juis die new kids wat kwaad en opgewonde raak.

    Maar waaroor sal ek dan skryf? Dié is die realiteit wat my elke oggend in die gesig staar.

    My nuwe drama Skurke! gaan 'n klomp mense nog meer die bliksem in maak. Hier is die skurke ons onderwysstelsel. 'n Stelsel wat onderwysers magteloos voor 'n klomp kinders laat. 'n Stelsel wat nie net vir kinders regte gee nie, maar wat onderwysers se regte wegraap en hulle magteloos laat voor 'n klomp boewe innie jungle ... innie township. Dan sê ek ook nie alle kinders op skool is boewe nie, maar gaan kyk maar na ons geskiedenis. Meester was Meester gewees en hy is met die nodige respek behandel omdat hy die meester was. Dit het op skool goed gegaan want jy het gedoen wat van jou verwag is. As jy dit nie doen nie, het jy pak gekry. As jy droogmaak, kry jy pak. Geen diskussie, geen argument, geen bespreking. Jy buk en vat jou drie. Dit klink asof ek sê dis reg om kinders te slaan. Nee dit is nie! Maar, 'n pak op sy tyd is soms net die regte medisyne. Dit is terloops hoogs gekwalifiseerde mense - soms ook ouers - wat die pak uitdeel. Waarom sit skole menige dae met tot tien onderwysers wat af is weens stres? Dit het nie in my dae gebeur nie, want toe was kinders nog kinders - nie grootmense in wording nie. Drama was beperk tot drie van die bestes. Vandag is die kinders self die drama en ons, die ouers, die vervaardigers. Dis wat township-teater so opwindend maak.

    So waaroor sal ek skryf?

    Die hele lewe in die township is een moeviese epiese drama. Jy hoef nie te sit en storietjies uit te dink nie. Dit speel daagliks hier voor jou af.

    Deesdae kuier ek met my Ontwikkelingsteater in verskillende townships. Glo my, jy kan Eersterust, in die ooste van Pretoria waar ek vandaan kom, net so transponeer na Hawston. Dís waar ek verlede jaar Perlemoen, my Ghoen gemaak het. Of jy kan dit transponeer na Vredendal-Noord, waar ek saam met die Vredendal Dramavereniging Nyl vannie Weskus geskryf het.

    Ontwikkeling lê my baie na aan die hart en dis presies wat ek doen: ontwikkeling. Teater is my erns en dit sal dit altyd bly. Ek bemagtig ons mense deur middel van die kunste. Dit is 'n taak wat groot deernis, liefde en geduld verg.

    Deesdae kuier daar ook ander in die townships en hulle kom ook kastig ontwikkelingsteater doen. Die probleem is dat sommige nie die nodige respek vir ons mense het nie. Dit lyk asof dit net om den brode gaan. Hul produksies weerspieël dit. Jy kry net nie ernstige drama van die paar wat tydelik kom vertoef nie. Is dit omdat hulle dink ons mense is sosiale wesens wat sing, langarm dans, rugby speel en suip? Is ons nie mense met diepte nie? Het ons geen opinies, geen visie of geen wêreldbeskouing nie?

    Ek het gedink Hennie van Greunen se 45-Grade was slim aanmekaar gesit. Hy't meer as een dissipline ineengeflans en eers ná 'n tweede besigtiging kon ek dit waardeer. Die eerste keer het ek te veel verwag. Te veel gemeet en gepas. Maar Hennie van Greunen se 45-grade is 'n kunswerk in vergelyking met Charles Fourie se Tussen Hemel en Aarde.

    Elke produksie en regisseur is veronderstel om ons kinders - ONSE KINDERS!!! - beter toneelspelers te maak. Jy's veronderstel om by elke regisseur iets te leer. Jy wil nie net plaaslike gehore beïndruk nie, maar die werklike teaterpraktisyn. Dit is waar jou geleenthede vandaan gaan kom. Charlize Theron het 'n tantrum in Afrikaans in 'n bank in Amerika gegooi en kyk waar is sy nou! Dustin Hoffman het nie eers hoërskool klaar gemaak nie. Sean Connery het nie opleiding gehad nie. Marius Weyers moes toneelspeel want sy vriend wou die kameraman wees.

    So wat sê jy vir ons kinders? Jy sê vir hulle dat hulle kan deel uitmaak van daai groepie mense wat Shakespeare "Noble Thespians" noem. Hoë ideale, maar dit is moontlik. Dit gaan harde werk en deursettingsvermoë kos, maar dit is binne jou bereik. Nie: "Kom ons hou lekker konsert. Maak soos julle altyd maak. Wees die jollie Hotnots. Niemand gaan julle tog ernstig opneem nie …" Nie dit nie. Dit is waarmee ek worstel en dit is waarop ek ons kinders wil voorberei.

    Wie is ek om te besluit of jy dit "het" of dit nie "het" nie. Gee hom die kans - die bal is per slot van rekening in sy court. Maar dan moet jy hom die gereedskap gee - hom inspireer. Jy moenie vir hom sê: "Ag moenie worrie nie. Maak meer guy!" (maw "skeer meer gek") nie.

    Hannes Horne, Louis van Niekerk en Carel Trichardt het ook in die ou dae ontwikkelingsteater in Eersterust gedoen. Toe Apartheid nog hoogty gevier het. Toe sommige mense nog gedink het hulle gaan vir ewig regeer. Vir dié menere het dit egter nooit oor geld gegaan nie, want hulle is nooit daarvoor betaal nie. Teater het hulle baie na aan die hart gelê en dit het oor die kuns gegaan. Hulle het ons opgelei en ons het dit verniet gekry. Sommige moes ten duurste onder die menere studeer. Daar is nie in die koerante hieroor verslag gedoen nie. Die menere het niks mileage daaruit gekry nie. Hulle het ook nooit daaroor gepraat nie. Ek dink soms bring ek hulle in die verleentheid om dit by geleenthede soos dié te noem. Oom Breytie het meer vir teater en vir ons gedoen as waarvan mense bewus is. Hy was die een wat TRUK sy wit spelers verlof laat neem het sodat Louis met ons produksies kon doen.

    Dis die einste Louis van Niekerk wat gemaak het dat ons vir Wilna Snyman haat lank voor Danie Odendaal aan 'n Madel gedink het. Ons doen Kanna Hy kô hystoe vir TRUK en Vivian Solomons speel Kanna en Wilna Snyman Makiet. Nou, daar's nie 'n groter rol ooit vir 'n bruinvrou geskryf as Makiet nie en dit word deur 'n witvrou in ons eerste professionele produksie gespeel. Die dag toe Wilna in daai repetisielokaal instap, kon jy die atmosfeer met 'n mes sny. Niemand het met haar gepraat nie en ons doen net ons job. Daar is nie 'n ander Makiet vir ons as Mamma Dot, Dot Feldman, nie. Maar Wilna doen ook net haar job. Ons begin repeteer en ons bekke hang oop vir wat die vrou, die WITVROU, met die rol maak. Jy kan Wilna se konsentrasie en spel met die hand aanraak. Sy is 'n studie in wat toneelspel behoort te wees. Sy is meer kleurling as wat ons ooit kan wees. Sy laat my soos 'n witman voel wat try om coloured te wees. Ons het almal so een vir een met haar begin praat. Ons wou weet hoe sy dit doen. Vir die eerste keer sien ons die praktiese uitvoering van 'n dramarol wat universeel en in al sy dimensies vergestalt word. En dit deel Wilna met ons. Was ons nie arrogant toe Louis sê ons sal op Wilna se vlak moet kom nie. Waa' gesien. 'n Witvrou ons out-bushie? Nooit! "Makiet is vir my nie 'n bruinvrou nie, maar 'n vrou wat ten spyte van alles wat met haar gebeur, glo dat die Here 'n uitkoms sal stuur," vertel Wilna oor haar benadering tot een van die grootste rolle in die Afrikaanse teater. Haar rolmodel? Haar skoonma.

    So leer ons toe.

    Noudat ek geleer het, waaroor sal ek skryf? Man, die koerante en die townships lê vol. Die stemme gaan op en jy moet luister.

    Die stemme in ons plekke raak nou net te veel. Daar is net te veel van my mense wat sê: Hy het nie die job gekry nie omdat sy van nie met drie konsonante begin nie. Hy is nie swart genoeg nie. As Bruin/Kleurling/Khoi/AfrikaanseSwarte val hy nie onder Black Empowerment of Affirmative Action nie. Waarom los ek nie dié soort van scenario's nie en kruip liewers "in style" gat? Ek kan mos die drama ván my lewe - nie óór nie, ván my lewe - skryf. Net die regte mense dom maak, en sorg dat niemand my tegniek agterkom nie. Jy speel toneel op elk en enige gebied. Mark time, wag jou kans af in die wings. En wie weet - ek kon dalk al in die parlement gesit het. As die vorige politieke vyand dit nou doen, waartoe is ons as kunstenaars nie in staat nie? Ek kan doen wat 'n klomp Kaas-en-Wyndrinkers van die struggle nou doen. Hulle is SWART!!! Al kan hy nie twee woorde in Xhosa of Sotho sê nie. Het in 'n dekade nie eers twee probeer leer nie. As dit nie vir ons nuwe volkslied was nie, sou hy geen woord in dié tale geken het nie. Regte coconuts. Sy middel bly maar wit.

    Ek kan dit nou maar eenmaal net nie doen nie.

    As ek toneelspeel, dan is dit presies dit. Toneelspéél - met die klem op spéél. Maar as ek skryf dan gaan dit oor 'n waarheid, 'n probleem, 'n euwel, 'n onreg, 'n gebeurtelikheid - of dan net oor 'n mooi storie - soms waar, soms fiktief. As townshipskrywer gaan dit nie net oor kuns nie. Dit kan nie net 'n verbeeldingsvlug wees nie. Want in die township is daar fokkol om jou oor te verbeel. Jy verbeel jou jy vang die Lotto, maar jy skryf nie daaroor nie. Jy skryf oor onse werklikheid, onse waarheid. Soms in sy brutaliteit, in sy eenvoud, maar ook in sy mooi. Jy skryf per slot van rekening nie net óór nie, maar vanúit 'n bepaalde gemeenskap. Jy kan nie anders nie. Sommige dialoog, omstandighede en gebeurtlikhede kom net so uit die monde van jou kieserskorps, werklike mense. As jy praat van 'n gemeenskap dan bedoel jy 'N Gemeenskap! Mense wat deur apartheid ingehok is: daar het 'n samehorigheidsgevoel ontstaan in al ons soort gebiede. Julle ken mekaar immers baie goed. Jy word nou hulle dekodeerder. Dui rigting aan. Lees die tekens. Interpreteer! Bevraagteken! Val aan! Want teater is nie 'n demokrasie nie. Dit is kreatief outokraties. Kuns was nog nooit veronderstel om "nice" te wees nie. Dit ook, maar bowenal moet dit éérlik wees. Al waardeer hulle in die township nie jou selfopgelegde taak nie. Maar doen net iets waaroor TV gaande raak of die koerante oor skryf, dan is ek sommer jou kollega se buurman. Ons bly mos innie township.

    Ek gee nie om om juis deur my eerlike opinie as kunstenaar op tone te trap nie. Al kom ek soms kontroversieel voor, is dit juis om reaksie uit te lok, debat aan die gang te sit. Ek word dan in feesgidse aangegee as die "bekende" en "soms omstrede" akteur Anthony Wilson. Mense kry lekker as ek die nuwe stelsel so aanval. Dit klink asof ek terugverlang na die dae van apartheid. Ek moes baie hard op my kop geval het of ek moes in die aanpassingsklasse gewees het om terug te verlang na die dae van apartheid. As 51-jarige het ek apartheid in al sy felheid ervaar. Ek het nie van hom gehoor of gelees nie. Ek het hom aan my bas gevoel. As kunstenaar gaan jy eerlik om met jou gegewens en as mense dit sien - dat jy hulle bykom - kan jy niks aan daai persepsies doen nie. In dramas moet daar per slot van rekening protagoniste en antagoniste wees. Ek sê weer: dit gaan nie oor nice wees nie, dit gaan oor eerlikheid. Oor geregtigheid. Iemand het eendag gesê: Wanneer die profeet na die sterre wys, dan kyk die idioot na sy vinger. Dit is verbasend hoe baie mense na die vinger kyk.

    Die kunstafereel in Suid Afrika sien daar anders uit. In net tien jaar het dit drasties verander. Die woord tafereel roep beelde van skildering beskrywend op, maar dit oorskat die situasie so 'n bietjie. Wat toneel betref, het dit heeltemal verdwyn. Weg is die dae toe jy twaalf Afrikaanse en twaalf Engelse dramas per jaar by TRUK, KRUIK of SUKOVS kon gaan sien. As dit nie vir die kunstefeeste was nie, sou baie kunstenaars soos ons van die honger vrek. Wat anders is daar? Televisie is gefok, tensy jy in 'n soapie speel. Daar is 'n swarte, Generations. Daar is 'n Afrikaanse, 7de Laan, en daar is 'n Engelse, Isidingo, so almal is happy.

    Ons openbare uitsaaier maak asof Afrikaans op televisie 'n vergunning en nie 'n reg is nie. Gee vir die klomp Afrikaanses nuus om sewe-uur, gee vir hulle 7de Laan, Geraas, een of ander blonde rubbish, Noot vir Noot, en dan sê jy vir hulle sharap! Dis niks - jy sorg dat die hele SABC-raad swart is en jy vind niks daarmee verkeerd nie. Moenie vir my die argument gee - soos nou die dag in die een of ander koerant - en sê: "Toe die SABC-raad net uit wittes bestaan het, het niemand daaroor gekla nie. Die Boere het buitendien nooit gesê hulle is 'n demokrasie nie."

    Ek kan mos nou waaragtig nie oor ander goed skryf as dinge in die land so daar uitsien nie. Ek kan ook nie iets anders sê as dat die feeste wit is nie. Dit word wit bedryf en gedryf. Dis maklik om te kla en te sê dis te wit. Maar hoe nou gemaak as daar nie inskrywings uit ons geledere kom nie? Ek hol ook nie koerante toe as my voorstel, soos verlede jaar deur Aardklop, afgeskiet word nie. Ek baklei met die bestuur. One-on-One. En ek aanvaar nie flou verskonings nie. Ja! Ons is die kwotaspelers. Daar om die demografie bietjie meer verteenwoordigend te laat uitsien. SO WHAT! Ek gaan deelneem want die kuns is my erns. Ek dink nie Karen Meiring, Marguerite Robinson of Attie Kamper sit met duistere agendas en sê: "Kom ons sluit die niewittes uit" nie. Maar as jy van buite skreeu, dan gaan dit so lyk. Ek luister na die teaterpraktisyn, nie na die galery nie.

    Die vraag is egter: Wat maak ek met en oor my eie mense - soms vriende - wat fees na fees sê hulle het nie geld om vertonings by te woon nie? Dat as hy moet kies tussen 'n teaterkaartjie van R50 en brood en melk, dan koop hy die brood en melk. Ja. Ons sal die armes altyd by ons hê. Maar die argument hou ook nie meer water nie. Want jy sit op die fees in 'n kroeg, Die Hoenderkop, of by die Struiskombuis. Dan sit my mense daar en ryg die een bier na die ander in. Dan sit my eie bra's en hulle koop die een Jack Daniels na die ander. Ryg hulle sommer so in asof dit met die "water en ligte"-slip gekom het. En as jy vra: "Het hy nie jou show kom kyk nie?" trek hy net skouers op of sê nee. Hy kom kyk ook nie, al gee jy hom 'n complimentary. Dit sal ons egter nie laat afskrik of ophou nie, want die kuns is óf in jou bloed óf dit is nie. 'n Volk sonder kuns is armer daaraan toe: totally gebogger!







    *Anthony Wilson is 'n bekende akteur, regisseur, vervaardiger en skrywer. Hy is veral nou betrokke by opvoedkundige sowel as industriële teater. Hy het al verskeie toekennings ontvang, onder meer 'n Artes vir die regie van Paul C Venter se Onder Engele. Hy dien op verskeie kunsteforums en -rade. By vanjaar se Suidoosterfees by Pentech op 24 en 25 September is hy betrokke by verskeie produksies, wat Nyl vannie Weskus insluit.



    LitNet 22 September

    Have your say! To comment on this piece write to webvoet@litnet.co.za, and become a part of our interactive opinion page.

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

    boontoe / to the top


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.