RiemTelegram - warm boekenuusArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Oor ’n Afrikaanse boekwinkel, die Orange-prys, Agony Aunt en meer

Die Booker-prys se jaarlikse prysgeld het opgeskuif van £20 000 na £50 000 (ongeveer R800 000). Die ses skrywers wat op die kortlys verskyn, sal nou ook £2 500 in plaas van £1 000 huis toe neem. Hierdie verhoging maak die Booker-prys die grootste literêre akkolade in Brittanje. Vorige wenners voel glo dis ’n disgrace dat die verhoging nie vroeër gekom het nie.

***

Star Wars II: Attack of the Clones open op 16 Mei 2002 in Amerika. ’n Personeelfirma in Chicago het bereken dat nagenoeg 2,6 miljoen Amerikaners daardie dag van hulle werk sal wegbly om dié fliek te gaan kyk. Dit kom neer op ’n $319 miljoen-verlies vir die Amerikaanse ekonomie. Die enigste troos is dat dit darem ietwat minder is as die 5,7 miljoen wat stokkiesgedraai het in 1999 met die opening van Star Wars, Episode I, The Phantom Menace.

***

Uiteindelik sal Kaapse lesers ’n behoorlike Afrikaanse boekwinkel tot hulle beskikking hê. Nicol Stassen, die bestuurder van die uitgewery en boekwinkelgroep Protea Boekehuis, open op 1 Junie 2002 ’n winkel op Stellenbosch. Stassen bedryf reeds met groot welslae vier takke in Pretoria en Potchefstroom. Die Stellenbosch-tak sal bestuur word deur die digter en boekkenner Louis Esterhuizen. Protea Boekehuis publiseer al die afgelope drie jaar werke van skrywers soos Piet van Rooyen, Marlise Joubert, PJ Haasbroek en Barend Toerien. Volgens Stassen verkoop veral die digbundels baie goed en sal daar vanjaar ’n verdere 20 digbundels verskyn, onder meer deur Joan Hambidge. Wat ’n snaakse konsep: ’n uitgewer wat boeke publiseer én verkoop kry.

***

Michael Jackson gaan binnekort sy lyf regisseur hou. Volgens die BBC gaan Jackson saam met Mel Gibson se produksiemaatskappy, Icon Productions, die filmweergawe van Jennings Michael Burch se roman They Cage the Animals at Night aanpak. Die boek is die ware verhaal van Burch se dae as weeskind in pleegsorg. Bryan Michael Stoller, mederegisseur van die projek, sê Jackson assosieer sterk met die boek, omdat hy homself nog altyd as ’n weeskind beskou het, aangesien die eise van roem hom nie toegelaat het om werklik ’n kind te kon wees nie. Gelukkig weet ons almal dat hy jong vriende het om op te maak vir die verlore jare. It’s never too late to have a happy childhood …

***

’n Moerige speurder, Oxford, blokkiesraaisels, bier, opera en ’n Jaguar Mk II. Opgesom: Inspector Morse. Dié skepping van die Britse skrywer Colin Dexter was dertien jaar lank te sien op Britse TV, later ook op SABC TV. In Februarie vanjaar is akteur John Thaw, wat die rol van Morse vertolk het, aan keelkanker oorlede. Die finale episode van die reeks is egter nou eers voltrek. Die klassieke, dieprooi 42 jaar oue Jaguar is pas vir £53 000 aan ’n anonieme koper verkoop. Die koper beplan om die motor te hou vir plesierritte nou en dan.

***

Ernest Hemingway se 23-boek-oeuvre gaan binnekort as elektroniese boeke op die Internet beskikbaar wees. Die uitgewershuis Simon and Schuster, wat al 75 jaar lank die eksklusiewe regte op Hemingway se werke behou, het gesê: “This is an important first step in creating a complete, scholarly electronic library for Hemingway, as well as bringing our classic backlist into the new era of digital publishing.” Net jammer hulle is so twee jaar laat. Die e-boek-fenomeen het grotendeels gekom en gegaan. Media-reuse Random House en AOL Time Warner het beide hulle e-boek-divisies gesluit en skrywer Stephan King het na sy mislukte e-boek The Plant te kenne gegee dat Internetgebruikers die “konsentrasievermoë van ’n sprinkaan” het.

***

Daar was die tragedie. Toe kom die opera en die musiekblyspel. Binnekort nou ook die ballet. Peter Schaufuss, voormalige hoofdanser van die New York City- en Bolsjoi-balletgeselskappe, het ’n ballet geskep, Diana - the Princess, wat deur sy Deense geselskap opgevoer sal word. Schaufuss onderhandel glo met ’n Britse popgroep wat die musiek sal verskaf. Ek dink ’n mens noem dit die popularisering van kuns.

***

Die bekende kortverhaalskryfster Riana Scheepers het ’n nuwe vorm van fiksie aangepak. Sy hou deesdae haar lyf Agony Aunt. Haar rubriek vir hulpbehoewendes, “Dr Adrie”, kan weekliks in die Huisgenoot gelees word. Dit is nog onseker of die Huisgenoot-redaksie ook plek vir Dr Allan Boesak gaan inruim.

***

Die oorblywende lede van die R ’n B-groep TLC het aangekondig hulle gaan voortgaan as ’n groep. Dit kom nadat die derde lid van die groep, Lisa “Left Eye” Lopes, in ’n motorongeluk in Honduras oorlede is. Rozonda “Chilli” Thomas en Tionne “T-Boz” Watkins reik later vanjaar die groep se vierde album uit.

***

Die Orange-prys vir fiksie, ’n literêre prys wat uitsluitlik aan vroueskrywers gaan, se kortlys is bekend gemaak. Anna Burns (No Bones), Helen Dunmore (The Siege), Maggie Gee (The White Family), Chloe Hooper (A Child’s Book of True Crime), Ann Patchett (Bel Canto) en Sarah Waters (Fingersmith) ding vanjaar mee vir die £30 000-prys. Die gunsteling, Helen Dunmore, was die eerste wenner van die prys in 1996.

***

Dit is ’n skande dat dit van Nederland afhang om Afrikaanse skrywers te bekroon. Aldus Prof Vernon February. February het hierdie kommentaar gelewer tydens die oorhandiging van die eerste C Louis Leipoldt-prys aan Dr John Kannemeyer by die Clanwilliam-fees vanjaar. Die prys word toegeken vir die beste essay of verhandeling oor ’n Afrikaanse skrywer. Ironies genoeg het Kannemeyer kort voor February se uitlating in sy toespraak die gehoor meegedeel watter pryse (Suid-Afrikaans, natuurlik) hy alreeds in sy roemryke loopbaan ingepalm het, maar hy het gesê dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hom vir sy “totale oeuvre die vorstelike som van R500” gegee het.(Ons weet almal wat ’n liefde vir geld aan die Springbokrugbyspan gedoen het.) Kannemeyer is bekroon vir sy verhandeling Uys Krige en die Suid-Afrikaanse politiek. Geïnteresseerdes kan die verhandeling gaan lees in Kannemeyer se biografie oor Krige, Die Goue Seun. Die lewe en werk van Uys Krige (Tafelberg, 2002).

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.