Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Die Alchemis

Die seun se naam was Santiago. Dit was al skemer toe hy met sy skape by die verlate ou kerk aankom. Die kerk se dak het lankal al inmekaargestort, en waar die sakristie eens was, het daar nou ’n reuse wildevyeboom gegroei.
       Hy besluit om die nag daar deur te bring. Hy jaag sy skape in en sit planke voor die verrinneweerde hek om te keer dat hulle in die nag wegdwaal. Daar was nie wolwe in die area nie, maar een van sy skape het eenmaal in die nag weggeloop en dit het die seun ’n hele dag geneem om hom weer te vind.
       Hy vee die vloer skoon met sy baadjie en gaan lê plat op die grond, met sy kop op die boek wat hy pas klaar gelees het. Hy dink daaraan dat hy dikker boeke moet begin lees: hulle hou langer, en hulle maak gemakliker kussings.
       Dis nog donker toe hy wakker word, en hy kan die sterre deur die stukkende dak sien loer. Hy wou eintlik ’n bietjie langer geslaap het, maar hy het weer wakker geword voor die einde van sy droom. Dieselfde droom wat hy laasweek gehad het.
       Hy staan op en begin die skape wat nog slaap, wakker maak. Hy het begin agterkom dat die meeste van sy skape begin roer wanneer hy wakker word. Dit was amper asof daar ’n dieper, onverklaarbare band tussen hom en hulle was — hy lei hulle nou al vir twee jaar deur die platteland op soek na kos en water. “Hulle is al so gewoond aan my dat hulle my roetine ken,” dink hy hardop. En dan besef hy skielik dat dit net sowel hy kan wees wat gewoond geraak het aan húlle roetine.
       Maar daar was ’n paar skape wat langer gevat het om wakker te word as die ander, en dié se name roep hy, terwyl hy hulle versigtig wakker maak met sy herderstaf. Hy het nog altyd geglo dat sy skape hom verstaan wanneer hy met hulle praat. Soms het hy vir hulle stukkies uit sy gunsteling boeke voorgelees, en soms het hy hulle vertel van die eensaamheid of die vreugde van ’n skaapwagter in die veld. Ander kere het hy hulle vertel wat hy gesien het in die dorpies waardeur hulle getrek het.
       Maar die laaste paar dae het hy net met hulle gepraat oor één ding: die meisie, die dogter van ’n handelaar in ’n dorpie omtrent vier dae van waar hulle nou was. Hy was nog net een keer vantevore op hierdie dorp, en dit was ’n jaar gelede. Die handelaar het ’n negosiewinkel op die dorp gehad, en hy het altyd daarop aangedring dat die skape onder sy toesig geskeer word, sodat die skaapskeerders hom nie kon indoen nie. ’n Vriend van die seun het hom van die winkel vertel en hy het toe sy skape soontoe geneem.

***

“Ek het wol om te verkoop,” het die seun aan die handelaar gesê.
       Die winkel was baie besig, en die man het hom gevra om later die middag terug te kom. Hy het op die trappies buite die winkel gaan sit, en ’n boek uit sy sak gehaal.
       “Ek het nie geweet skaapwagters kan lees nie,” het ’n meisiestem agter hom gesê.
       Die meisie se voorkoms was tipies van daardie streek van Andalusië, met golwende swart hare, en oë wat vaagweg aan die Moorse vegters van lank gelede herinner het.
       “Wel, ek leer gewoonlik meer by my skape as uit boeke,” het hy geantwoord, en so het hulle begin gesels. In die volgende twee uur het sy hom vertel dat sy die winkeleienaar se dogter is, en sy het gepraat oor die lewe op die dorp, waar elke dag dieselfde was as die vorige. Die skaapwagter het haar vertel van die Andalusiese platteland, en haar op hoogte gebring van die nuus van die ander dorpies waar hy aangedoen het. Dit was lekker om ’n slag met iemand anders as sy skape te gesels.
       “Hoe het jy leer lees?” wou die meisie weet.
       “Soos almal,” het hy geantwoord. “In die skool.”
       “Wel, as jy weet hoe om te lees, hoekom is jy dan maar net ’n skaapwagter?”
       Hy het vaagweg iets gemompel, sonder om regtig haar vraag te beantwoord. Hy het geweet dat sy nooit sou verstaan nie. Hy het haar meer vertel van sy reise, en haar helder Moorse oë het plek-plek gerek van vrees en verbasing. Soos die tyd aangestap het, het die seun begin wens dat die dag nooit sou verbygaan nie. Hy het gehoop dat haar pa so besig sou wees dat hy hom vir drie dae laat wag. Hy het ’n gevoel gehad wat hy nog nooit vantevore gehad het nie — die begeerte om vir altyd op een plek te bly. Met die meisie met die gitswart hare, sou sy lewe nooit weer dieselfde wees nie.
       Maar uiteindelik het die handelaar gekom, en die seun gevra om vier skape te skeer. Hy het Santiago vir die wol betaal en hom gevra om die volgende jaar terug te kom.

***

En nou is dit nog net vier dae voordat hy weer op dieselfde dorp sal wees. Hy is opgewonde, maar terselfdertyd onseker: miskien het die meisie hom intussen vergeet. Hy was maar net een van baie skaapwagters wat deur die dorp getrek het om wol te verkoop.
       “Dit maak nie saak nie,” praat hy met sy skape. “Ek ken ander meisies op ander plekke.”
Maar diep in sy hart weet hy dat dit wel saak maak. En hy weet dat skaapwagters, soos matrose en handelaars wat baie reis, altyd iewers ’n dorp vind met iemand wat hulle laat vergeet van die vreugdes van ’n sorgelose reisigersbestaan.
       Die dag het begin breek en die skaapwagter jaag sy skape aan in die rigting van die son. Die skape hoef nooit enige besluite te neem nie, dink hy. Miskien is dit hoekom hulle altyd naby aan my bly.
       Al waaraan die skape ooit dink, is kos en water. En solank hy weet waar om die beste weivelde in Andalusië te vind, sal hulle sy vriende bly. Ja, hulle dae was almal dieselfde, met die soms oneindige lang ure tussen sonop en sononder; en hulle het nog nooit in hulle kort lewens ’n boek gelees nie, en nie verstaan wanneer die seun hulle vertel het wat hy in die stede gesien het nie. Hulle was tevrede solank hulle kos en water gehad het, en het in ruil daarvoor mildelik gegee van hul wol, geselskap en — elke nou en dan — hul vleis.
       As ek vandag in ’n monster verander en besluit om hulle een vir een dood te maak, sal hulle dit eers agterkom as die meeste van hulle klaar dood is, dink hy. Hulle vertrou my omdat ek hulle gedurig versorg, en hulle het vergeet hoe om hulle eie instinkte te vertrou.
       Sy eie gedagtes verbaas hom. Miskien het dit gespook in die vervalle ou kerkgebou waarin die vyeboom gegroei het. Dit het gemaak dat hy nou al twee keer dieselfde droom gehad het, en dat hy kwaad is vir sy getroue skape. Hy neem ’n slukkie van die wyn wat van die vorige aand oorgebly het en trek sy baadjie stywer om sy lyf. Hy weet dat dit oor ’n paar uur, wanneer die son op sy skerpste is, so warm sal wees dat hy en sy skape nie verder sal kan trek nie, en sal moet rus. Dit was die tyd van die dag wanneer almal in Spanje in die somer geslaap het. Dit het dan so warm gebly tot sononder, en hy moes heeltyd sy baadjie saamdra. Maar net toe hy wil kla oor die gewig van die baadjie, onthou hy dat dit hierdie einste baadjie is wat hom beskerm teen die vroeë oggendkoue.
       Ons moet voorbereid wees op verandering, dink hy, en hy is weer dankbaar vir die gewig en warmte van die baadjie.
       Die baadjie het ’n doel gehad, net soos die seun. Sy doel in die lewe was om te reis, en na twee jaar van trek deur die Andalusiese landskap, het hy al die stede in die streek geken. Hy het al reeds gedink hoe hy, met sy besoek aan die handelaar se dogter, vir haar gaan verduidelik hoe dit gekom het dat ’n doodgewone skaapwagter kon lees. Dat hy in ’n kloosterskool was totdat hy 16 jaar oud was. Sy ouers wou hê dat hy ’n priester word — en sodoende ’n bron van groot trots vir ’n gewone plaasgesin. Hulle moes hard werk bloot om, soos die skape, kos en water te hê. Hy het Latyn, Spaans en teologie gestudeer. Maar van kleins af wou hy nog altyd die wêreld verken, en dit was vir hom baie belangriker as om te leer van God en van die mensdom se sonde. Een middag, tydens ’n besoek aan sy familie, het hy die moed bymekaargeskraap om vir sy pa te sê dat hy nie ’n priester wou word nie. Dat hy eerder wou reis.

***


Back to the Paulo Coelho interview
boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.