Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Zen en ontspanning

Johann Sôhô Rossouw, Zen-monnik en dissipel van meester Roland Yuno Rech

Vroeg in Etienne van Heerden se roman In stede van die liefde bevind die hoofkarakter, Christian Lemmer, hom in ‘n spannende situasie:

Hy haal nou diep asem en probeer die spanning uit sy bors wegdink. Met sy wil dreineer hy die bloeddruk uit die dam tussen sy ribbes. Diep in en stadig uit; ruit effe oopdraai. Hierdie naweek moet hy meer uitvind oor die jogaklasse wat naweke op Coetzenburg aangebied word. Christine moet ook gaan, alhoewel hy die idee van ‘n kruisbeensittery op ‘n besige Saterdagoggend tog effe gek vind (p 19).

Joga is verwant aan zazen, die kern van die praktyk van Zen, waar jy ook kruisbeen sit. Heelwat mense wat navraag doen oor zazen in die Zen-dojo hier in Durbanville, sê: “Ek het iets nodig om my te laat ontspan.” So loop ‘n mens ook dikwels by mense of in die media die idee raak dat zazen ‘n goeie manier is om te ontspan, iets waarmee jy so ‘n bietjie van die besige wêreld vergeet terwyl jy jou gees leegmaak en suiwer.

Hierdie idee het niks met die praktyk van Zen te doen nie. Zazen is nie ‘n tegniek of ‘n metode nie. Dit is allermins iets wat jy doen om een of ander salige staat te bereik (of suiwer te word!).

Die rede waarom soveel mense vandag aan spanning ly, is juis dat hulle geestelike sorg beskou as net nog iets wat ‘n mens tussen al die ander aktiwiteite van jou besige lewe moet inpas, amper soos party mense af en toe vir ‘n naweek weggaan. As dít jou benadering tot die lewe is, gaan jy nie net knaend die slagoffer van selfgeskepte spanning bly nie, maar sal jy ook nooit by die werklikheid kom nie.

En tog is dit so dat ‘n meer ontspanne lewe dikwels een van die vrugte van zazen is! Hoe moet ons hierdie oënskynlike teenstrydigheid verstaan?

Die teenstrydigheid word opgeklaar as ons in die eerste plek verstaan dat spanning die gevolg is van ‘n gaping tussen dit waarmee ek besig is en dit waarmee ek in my kop besig is: om een ding te doen en ‘n ander te dink. Dit manifesteer byvoorbeeld wanneer jy gedurig dink aan wat nog alles gedoen moet word, in plaas van om daaraan te dink wanneer jy dit doen.

Die gaping tussen die dink en die doen ontstaan wanneer ons ons opvattings oor die werklikheid, oor ons lewe, oor onsself vir die totale werklikheid begin aansien en uiteindelik volkome volgens illusies handel. Dit wil nie sê dat illusies as sodanig sleg is nie, of dat ons illusieloos kan lewe nie: hoe helder die maan is, hang ook af van hoe donker die nag is.

Die probleem ontstaan egter wanneer ons ons opvattings vir die totale werklikheid begin aansien en kort voor lank besig is om met al ons energie ons illusies in die werklikheid te verander: “Ek is eintlik ‘n miskende akademikus, en daarom moet ek ‘n akademiese pos kry”; “Ek is eintlik ‘n miskende skrywer, en daarom moet ek my boek gepubliseer kry”; “Ek is nie toegewyd genoeg aan my werk nie, en al is dit die verkeerde werk vir my, moet ek net nog harder probeer om werkstevrede te wees”; “Ek is nie seker genoeg nie, en daarom moet ek nog meer geld maak.” En so begin ons ‘n deel van die waarheid oor onsself vir die volle waarheid aansien, en moet ons lewens uiteindelik met groot inspanning en verbetenheid omgebuig word tot dit hierdie valse prentjie verwesenlik. Uiteindelik is ons in ‘n eindelose staat van spanning gedompel …

Wat zazen doen, is om deur hierdie illusies te sny en my op ‘n eenvoudige en kragtige wyse terug te neem na die eintlike werklikheid. In hierdie bewuswording kan ek die werklikheid en myself sien vir die prosesse wat dit is, soos dit nou is, en dienooreenkomstig begin dink, doen en praat. Zazen is om myself in lyn te bring met die kosmiese orde, en met God, en om my gepaste plek in die wêreld te vind. Dan beliggaam ek nie meer wat ek dink ek moet nie, maar wat ek is.

Dan verstaan ek ook dat zazen nie maar iets is wat tussendeur ingepas word nie, maar die voorwaarde van alle ander dinge waarmee ek besig is. Dan is zazen nie ‘n tydjie wat ek op ‘n “besige Saterdagoggend” afknyp nie, maar die herstel van my verhouding met die tyd self, sodat die besigwees verander na wees. Zazen is my brug na die werklikheid hier en nou, sodat ek trefseker deur die dag kan gaan, sekuur in die Meer-as-ek wat my begelei.

Dit wil nie sê dat ek nooit weer spanning of illusies sal hê nie (die grootste illusie wat ‘n mens kan hê), maar wel dat ek hierdie dinge met insig kan hanteer.


* Zazen vind elke weeksoggend van 07:30 tot 08:30 en elke Saterdagoggend van 10:30 tot 12:00 in die Durbanville Zen-dojo plaas. Inleiding tot zazen Saterdagoggende om 10:00. Vir meer inligting, kontak Johann by soho2@lantic.net, of by 083 459 6364.




LitNet: 07 Februarie 2006

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top

terug na vorige rubrieke


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.